Ek is ʼn burger van God se ryk

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Ons leef in stresvolle tye in hierdie sonskynland van ons. Die tragiese wyse waarop Suid-Afrikaners vermoor en verinneweer word, dreig om ʼn totale sonsverduistering te veroorsaak. Daar is ʼn swaarmoedigheid in die gemoed.

Hartseer gemeng met woede oor die blatante ongeregtigheid pols in my binneste.

Swart Maandag was nog nie eens verby nie toe ʼn volgende plaasmoord deel word van die onverkwiklike statistieke. Sedertdien was daar verskeie plaasmoorde, tesame met die daaglikse kwota van kapings, inbrake, verkragting, ensovoorts – om nie eens van staatskaping te praat nie.

ʼn Mens is bekommerd, diep bekommerd.

Dit is mense wat deur hierdie goed geraak word.

Vir baie van ons is bogenoemde nie meer ʼn teoretiese moontlikheid nie, maar ʼn pynlike ervaring aan eie lyf.

As gelowige is dit by tye baie uitdagend om te onderskei hoe die Here wil hê ʼn mens, gegewe die provokasie, moet optree. Ek moet myself gedurig aan ʼn aantal realiteite herinner sodat ek nie koers verloor en die vlaktes inhardloop nie.

  • Ek is ʼn burger van God se Koninkryk op aarde. Daardie Koninkryk verteenwoordig ʼn hemelse alternatief op die gebrokenheid van hierdie wêreld. Die Koninkryk word gekenmerk aan ʼn aantal strategiese waardes wat ek moet onderhou en waaraan ek moet vashou as ek ernstig is oor my burgerskap. Daar is baie mense wat nie vertroud is met daardie waardes nie. Op geloofwaardige wyse moet ek dit nie net verkondig nie, maar ook vergestalt. Matteus 6:10: … laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.
  • Daar is die wêreldse manier en God se manier. Die twee staan meer dikwels lynreg teenoor mekaar. Terwyl die ongelowige wêreld met die kategorieë van terug betaal, wraak neem en vergelding werk, word ons geroep om anders op te tree. Ons loop die pad van vergiffenis, verdraagsaamheid en vrede. Galasiërs 5:17: Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.
  • As Koninkryksburger is ek bewus van die verteenwoordigende aard van daardie Goddelike samelewingsverband. Geloof in Christus is die enigste voorwaarde vir insluiting en in ons land is daar miljoene mense van ʼn verskeidenheid agtergronde wat vashou aan die belydenis aangaande Christus. Ek is aan hulle verbind en hulle aan my, en ons aan die Here van die heelal. Galasiërs 3:28: Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
  • Daar is mense wat met my daardie unieke spasie deel, maar wat hul eie verwysingsraamwerk het wat nie noodwendig met myne ooreenstem nie. Ons eenheid lê in ons verstaan van die Messias-koning as Verlosser van die wêreld. Ons vier dit en maak moeite om dit te beleef. Efesiërs 4:3: Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
  • Voordat en selfs nadat ons burgers van God se alternatief geword het, kon ons teenoor mekaar gesondig en oortree het. Dit is nie moeilik om daarvoor vergiffenis te vra nie, selfs meer as een keer. Kolossense 3:13: Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
  • As burger van daardie ruimte in Christus weet ek dat die enigste oplossing vir die problematiek van ons dag geestelik van aard is. Dit het ten diepste met ʼn hartsverandering te doen. Die verandering kom waar die Evangelie in Gees en in Waarheid gepredik word. Dit is die mandaat van alle kinders van die Here. Met betrekking tot hierdie opdrag soek ons mekaar op en ondersteun ons mekaar. Esegiël 11:19: Ek sal hulle ʼn ander hart gee en ʼn nuwe gees onder hulle laat posvat, Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ʼn hart van vleis gee.
  • Omdat ek my mede-Koninkryksburger se belange op die hart dra, spreek ek my ondubbelsinnig uit waar selfsugtige en korrupte mense hulle willens en wetens te na kom. Ek organiseer en protesteer luidkeels teen die eksponente van die koninkryk van duisternis wat skaamteloos ander verarm en besteel. Ek durf nie stilbly nie. Matteus 10:26: Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie.
  • Juis omdat ek die gesindheid van Christus het, steek ek ʼn helpende hand uit na almal wat swaarkry – in die mate waarin ek dit kan doen. Ek kyk na nood soos Jesus daarna kyk en doen iets daadwerkliks daaraan. Lukas 10:33: Maar ʼn Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.
  • Ek weet dit is nie maklik nie en dat sommige mense krities mag wees oor my oortuiging. Te midde daarvan hou so ʼn ingesteldheid my op koers en verdwaal ek nie iewers in menslike wysheid nie. Spreuke 3:5: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie.

 Het ek daarmee gesê dat misdadigers – alle misdadigers sonder uitsondering – nie aan die pen moet ry nie?

Uiteraard nie.

Romeine 13:4: … want die owerheid is ʼn dienaar van God tot jou beswil. Maar as jy kwaad doen, het jy rede om bang te wees, want die owerheid het nie verniet die reg om te straf nie. Hy is immers ook hierin die dienaar van God dat hy die kwaaddoener moet straf.

Mag hulle hul verantwoordelikheid in dié verband nakom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

jan_alleman ·

dit is my ondervinding in die lewe dat die Here nie n regverdige man te na kom nie , baie huil oor hulle lot maar wie kan die Here in die oe kyk en homself regverdig dat hy sy lot nie verdien nie ? as jy skelm is dan laat God jou oor aan ander skelms maar n regverdige word deur die Here beskerm
in my lewe het ek altyd probeer om nie mense uit te buit nie , maar baie het my uitgebuit , vandag gaan dit met hulle swaar terwyl ek relatief maklik deur die lewe gaan , so ek kan nie se God was blind nie , dit wat my toekom het ek gekry , dit betref die goeie en die slegte dinge

Daan ·

Jan alleman, dis ‘n baie waar ding wat jy sê. Ek stem saam met jou.

Eish ·

Sowaar nè!
Psalm 14:3
” Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. ”
Romeine 3:10
” soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.”
Wat n getuienis sal dit wees indien jy uitreik na hul wat jou uitgebuit het en hul help. Eerder as om jou te verlekker daarin dat die wiel gedraai het. Moenie ander in boksies sit, voor jy nie n paar myl in hul skoene geloop het nie.
Dis juis vir diegene wat Yeshua gesterf het, die wat gesond is, het nie n dokter nodig nie. Hy het gekom vir die verlore skape van die huis van Israel. Mattheus 15:24

Mien ·

Laat ‘n mens dink en laat my ook besef hoeveel ek as Christen nog moet groei. Regverdig, nee. ‘n Sondaar, ja wat genadiglik vrygekoop is deur die bloed van Jesus Christus.

Sarel Strydom ·

1) ” Vader vergeef ons sonde soos ons die vergewe wat teen ons sondig” Hoeveel van ons kan hierdie gebed in opregtheid bid? Gevaarlik indien ons dit nie kan doen nie. 2) Eendag weer gekla oor die regering toe die vraag aan my gestel was: Het jy vandag vir hulle gebid?

Jerome De Kock ·

dit gaan nie oor regverdigheid nie, dit het niks daarmee te doen nie. die vraag is hoe behandel die boer sy werkers……..meeste moorde is die werkers wat die plaasboer doodmaak. die ander is inbrekers en verkragters.
die boere moet hul huise beskerm deur diefwering op te sit. Sluit jou deur as jy by die huis uitgaan, sodat die boewe nie maklik kan inkom nie. dra jou vuurwapen ten alle tye saam met jou op jou plaas. leer jou vrou skiet ensovoorts ensovoorts

Marius ·

Die Hebreerskrywer bemoedig hulle deur vir hulle te sê dat te midde van vervolging hulle blymoedig was al was hulle besittings geplunder. Heb 10:34 “Want julle het ook saam met my gevoel in my boeie, en julle het die berowing van julle goed met blydskap aanvaar, omdat julle geweet het dat julle in julself ‘n beter en blywende besitting in die hemele het.” Ons geveg is so dikwels gesentreer op aardse besittings dat ons vergeet ons is vrygekoop vir baie meer as dit.. Al word ons goed geplunder moet ons die blymoedigheid hê soos wat kinders van God behoort te hê te midde van omstandighede.

Adele ·

Wow!!! Wat ‘n pragtige samevstting van hoe ons as Christene moet reageer op die massas moorde, verkragtings en onregverdigheid wat almal onder gebuk gaan tans in hierdie mooi land van ons. Ek wonder waar is die klomp mense wat my so uitgehaal het elke keer as ek gese het dat ons die moordenaars moet vergewe, want ons geveg is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose in die lug?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.