Ek is ʼn Sasol-werker, want ek staan op

Dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van die vakbond Solidariteit.. (Foto: Maroela Media)

Vandag is ek ʼn Sasol-werker. Ek het ʼn blou oorpak aan en ek sê ook: “Genoeg is genoeg”. Ek staan ook op en sê ek is moeg om uitgesluit te word op grond van my ras. Ek werk nie fisiek by Sasol nie, maar vandag is ek in my hart ʼn Sasol-werker.

Sasol-werkers beleef die afgelope tyd een van die grofste vorme van rasuitsluiting. Dié maatskappy het ʼn nuwe personeelaandeleskema, naamlik Khanyisa, begin.

Wit werkers word uitgesluit uit hierdie skema. Hulle waarde word nie bereken aan die hand van hul lojaliteit, produktiwiteit of bydrae nie, maar aan die hand van hul ras.

ʼn Wit werker van Sasol wat dertig jaar diens by dié maatskappy het, sal geen aandele ontvang nie, maar ʼn jong swart werker wat drie maande daar werk, sal aandele ter waarde van R500 000 ontvang.

Sasol doen dit, want hulle wil bemagtigingspunte hê. Die waarde van die werknemers word dus met ʼn sakrekenaar bepaal. Sasol-werkers word tot syfers gereduseer.

Hierdie Sasol-werkers het dit egter nie aanvaar nie. Op ses massavergaderings wat die afgelope tyd plaasgevind het, het hulle gesê: “Genoeg is genoeg”. Hulle het opgestaan vir hul trots en waardigheid.

ʼn Individu of gemeenskap wat sy trots verloor, verloor sy betekenis en sin vir sy toekoms. Gewone mans in blou oorpakke het een vir een opgestaan. Hulle het gepraat oor die toekoms, hul kinders, oor woede en magteloosheid, oor vervreemding en vernedering, maar hulle het gesê hulle gaan nie omrol nie.

Gewone mans in blou oorpakke het diep politieke insig getoon. Vir hulle is emigrasie nie ʼn opsie nie. Hulle het nie ʼn alternatief nie, en daarom is omrol nie ʼn opsie nie, maar die bou van ʼn toekoms is wel.

Hulle het ʼn besluit geneem wat vreemd vir hul is. Die reaksie was oorweldigend; die oorgrote meerderheid het in ʼn referendum besluit om te staak. Hulle het besluit om iets te doen wat nog nooit voorheen in Suid-Afrika gedoen is nie. Wit werkers wat staak teen rasuitsluiting. Hulle doen iets wat min van ons nog gedoen het. Hulle gaan nie net om ʼn braaivleisvuur kla nie; hulle gaan opstaan – teen ʼn prys.

Ek het al die massavergaderings bygewoon en toegespreek. Ek moes die werkers motiveer, maar toe motiveer die manne met die blou oorpakke mý.

Baie van die situasies wat hulle beleef, beleef baie van ons. Ons beleef vervreemding en uitsluiting. Ons beleef ontkenning en ʼn aanslag op ons trots en waardigheid. Ons kan moedeloos bly, versink in magteloosheid, hoop en trots verloor, en om braaivleisvure kla.

Ek word eerder ʼn Sasol-werker en ek staan op. Ek sê: “Genoeg is genoeg”. Ek praat eerder oor my kinders en die toekoms. Ek doen eerder iets, want emigrasie is nie vir my ʼn toekoms nie.

Kom ons steun die Sasol-werkers in groot getalle. Besoek Solidariteit se webwerf en vul ʼn kort ondersteuningsvorm in. Ons gaan al die vorms aan hulle oorhandig sodat hulle kan weet ons is aan hul kant en hulle het ons steun. Hulle staan nie net op vir hulself nie, maar ook vir óns.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

christa ·

hoekom werk blankes nog hoegenaamd by Sasol. As die wittes bedank sal ons kyk hoe hulle dan funksioneer. Een spul bedrog sal plaasvind.

Frik du Toit ·

Dit sal jou verbaas om te weet dat die plek nou reeds soos ‘n nazi kamp bestuur word. Baie ‘shortcuts’ word gevat om profyt te maximise. Soos byvoorbeeld die Lugbesoedeling wat limiete vyf keer meer ooskry, want “dit gaan te veel kos om die ou plant op nuwe standaard te kry. Mense se eerste 8 ure oortyd word betaal teen slegs 0.524% waar dit eintlik 1.5% moet wees.

Huh ·

Christa, hoe nou? Moet alle blankes wat daar werk net hul goed vat en loop? Dit in n land waar daar mos werk om elke hoek en draai is! Gaan jy help om na hulle gesinne om te sien?Nee, ons moet bietjie dink voor ons sulke stellings maak!

Celtis Africana ·

Baie sterkte met die nywerheidsaksie.
Mag dit blyk dat die blanke werkers werklik onontbeerlike sleutelposisies bekleë en dus die reus tot stiltstand dwing.
Genoeg is werklik genoeg!

Michelle ·

Gaan jy vir die 1000e blankes werk gee met medies, behuising en pensioen wanneer hulle ophou daar werk?

Lindtjies ·

En die CEO het dit duidelik gemaak dat die blanke werkers nie daardie aandele gaan kry nie. Dit pla hom nie juis nie want hy kry ‘n astrnomiese salaris. Hy weet nie van op die broodlyn leef nie. ‘n Vorige CEO het dan ‘n tien miljoen rand se bonus gekry. Bly maar ‘n bitter pil om te sluk.

Daan Erasmus ·

Daar moet. Maar Solidariteit weier om dit te doen. Daar moet ‘n staking fonds gestig word. Daar moet ‘n deel van die miljoene wat Solidariteit in ledegeld ontvang in ‘n staking fonds gestort word. Haal dit aan en daar heers ‘n doodse stilte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.