Ek is nie ʼn versiering nie, meneer

iphone-handsak-vrouDeur Jahni Cowley

Ek vergeet normaalweg om my kersboom af te slaan wanneer Kersfees verby is.  Ek is een van daardie skuldiges wat teen die middel van die jaar, nadat die boompie en ornamente al meer as een keer afgestof is, besluit ons nou maar net sowel deurdruk Desember toe, ons is mos nou halfpad.  Uiteraard gaan dit daardie tyd van die jaar nie meer oor die simboliek van Kersfees nie, maar oor die mooigeit.  Die ornamente en versierings is mooi om na te kyk, of so verskoon ek my administratiewe gebrekkigheid, terwyl ek na al die mooi, blink goedjies kyk.

Ons versier ons daaglikse lewens omdat dit lekkerder is om na iets moois as iets lelik te kyk.  Ons sit grimering aan (voordat ons dalk die kinders, bure of man skrikmaak), ons sit oorbelle aan.  Ons hang skilderye en ander kunswerke op.  Sommige van ons het selfs porseleinhonde en toiletpapier-poppies, maar dis moontlik ʼn artikel vir ʼn ander dag.  Die feit bly staan die lewelose goedjies maak ons alledaagse bietjie meer buitengewoon en daarmee is ook niks fout nie.

Dit raak wel ʼn probleem wanneer ʼn lewelose versiering met ʼn lewendige mens verwar word.  Normaalweg is daardie mens ʼn vrou en blykbaar word selfs in 2016 nog van vroue as versiering gebruik gemaak.  Lewendige vroue, nie karton-uitknipsels nie.  Die idee is problematies en die rede is baie eenvoudig:  ʼn versiering is ʼn mooi, dooie ding.  ʼn Versiering het nie gevoelens en ambisie en drome nie.  ʼn Versiering is eendimensioneel en sal nooit meer as ʼn versiering wees nie.  ʼn Kersfees-blinkertjie sal nooit ʼn dokter of ʼn omgewingsaktivis wees nie, dis ʼn voldwonge onmoontlikheid.

ʼn Vrou is nie ʼn versiering nie, ʼn vrou is ʼn mens.  ʼn Mens het gevoelens en ambisie en drome.  Ja, daardie mens mag dalk verpak wees as iets baie moois en baie blink en daardie mens helder waarskynlik elke vertrek op wanneer sy instap, maar dit mag nooit haar enigste rol en funksie wees nie.

Ons kniehalter onsself as mensdom deur die helfte van ons spesie tot die uiterlike te reduseer.  As ons sukses wil behaal, wat die definisie van sukses ookal vir elkeen van ons beteken, durf ons nie meer aan mense as versiering dink nie en durf vroue ook nie aan hulself as blote versiering dink nie.  Ons durf ook nie stilbly wanneer ons mense sien wat in hierdie verstokte denkrigting verval nie.  Ons skuld onsself meer en ons skuld ons dogters en seuns meer as dit.  Hoe leer ons hulle om hul drome te volg en die wêreld te verander, sonder om hulle los te maak van stereotipes?  Dis bloot nie moontlik nie.

Ek is beslis nie ʼn versiering nie, meneer.  Ek is volbloed mens, met gevoelens, ambisie en drome wat niks uit te waai het met die feit dat ek mooi lyk nie.  My binnekant is wat saakmaak en ek sal nie kwyn tot ʼn kersboom-blinkertjie nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.