Ek is Quinton – staan op teen die dwang om te buig

(Foto: @OfficialCSA/Twitter)

Hoe drakonies kan ʼn werkgewer wees? Jy moet glo wat ék glo. Jy moet dink wat ék dink. Jy moet doen wat ék sê, en jy moet kniel voor dit waarin ék glo. Stel jou voor dit word die Suid-Afrika waarin ons leef. Voor jy by jou werksplek se deur instap, moet jy eers buig voor dít waarin die werkgewer glo. Dit is drakoniese voorskrifte van bo. Dit is Krieket Suid-Afrika (KSA).

Versoening en eenheid sal afgedwing word – versoening, soos hoe ék glo dit moet wees, en eenheid in dit wat ék dink. Doen dan soos ék sê. As jy dit nie glo, dink en doen nie, is jy nie een van ons nie en moet daar van jou ontslae geraak word. Jou glo, dink en doen, en dan ook jy, word weggevat.

Kniel, en as jy nie kniel soos ons sê jy moet kniel nie, is jy ʼn rassis. Jy is boos en die bose moet uitgewis word. Daar is geen ruimte om jou glo te glo, jou dink te dink of jou doen te doen nie.

Die gekniel is nie ʼn onskuldige gebaar nie. Dit is in die Black Lives Matter (BLM)-ideologie gewortel. Dit is nie net ʼn mooi lalaland-idee van liefde en lewe nie. Dit is ʼn harde, linkse, revolusionêre, ontwrigtende ideologie. Dit het selfs meer as ʼn ideologie geword. Dit het ʼn nuwe soort godsdiens geword. Dit troef alles, selfs die Grondwet. Dit is ʼn hoër reg. Jou vryheid van uitdrukking, geloof en selfs godsdiens word vir die BLM-godsdiens geoffer. Die koning vaardig ʼn dekreet uit. Buig en neem aan die godsdienstige ritueel deel – anders word jy in die vuuroond gegooi.

KSA dink sy mag oor spelers is onbeperk. KSA sien homself as gedienstig aan die regerende ideologie en ʼn nuwe, verwronge wêreldgodsdiens. Ironies genoeg is KSA ook slawe. Hulle het hul eie vryheid verloor. KSA se edele opdrag is nou om almal tot sy gevonde radikale godsdiens te bekeer. Kniel of …

Dit is nie ʼn Suid-Afrika wat ek wil hê nie. Dit is juis die tipe Suid-Afrika wat ons moet verhoed. Dit is ʼn gevaarlike Suid-Afrika. Dit is ʼn totalitêre Suid-Afrika.

Hierdie voorval is nie ʼn geringe kwessie nie. Vandag is dit krieket, môre is dit die skool, oormôre is dit jou werk. Vandag is dit Quinton, môre is dit jy. Dwang om die knie te buig, vir wat ook al en hoe ook al, is verkeerd. Dit gaan dus nie net oor Quinton nie, dit gaan oor jou, dit gaan oor my, dit gaan oor ons en ons kinders.

Solidariteit sal enige werknemer wat deur sy of haar werkgewer gedwing word om die knie voor wat ook al te buig, verteenwoordig om hierdie waansin stop te sit. Ons is ook bereid om Quinton of enige ander speler in ʼn geskil met hul werkgewer te verteenwoordig. Geen werknemer mag op so ʼn wyse uit sy of haar regte geboelie word nie.

Dankie Quinton, jy was dapper en het die gekheid van die direktiewe uitgewys. Jy het nie gekniel nie, jy het opgestaan. Jy het jou nie laat dwing nie. Jy het die belangrikheid van die ander Suid-Afrika, waar ons vry is om te glo, te dink en te doen, beklemtoon.

Ek is Quinton.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

VaalDonkie ·

Netso met COVID en die werkgewers wat oormekaar val om die mees drakoniese reels te maak.

Esme ·

Vaal Donkie, jy slaan die spyker op die kop. En almal praat van terugkeer na normaal… Watter normaal nou weer?

piet ·

Groot verskil tussen dit en Covid-maatreels. Hier probeer die werkgewer ‘n bepaalde ideologie op die speler afdwing terwyl die maatskappybeleid vir Covid ingestel word om ‘n gesonder werksplek vir ALMAL te bewerkstellig.

Sommer So ·

Ek stem saam Piet. Nie naastenby dieselfde. Deur die werksplek veiliger te probeer maak kan nie vergelyk word met hierdie nie

Mercia ·

Nee piet…..dit is nie ANDERS nie. Dit is PRESIES DIESELFDE. Dit is die verpligting om jou individuele vryheid van keuse oor te gee aan díe instansies wat namens jou besluit wat jy moet dink, moet sê, moet doen, moet in jou lyf insit. Instansies soos die BLM’s en WGO’s en CDC’s. En wanneer dit uitloop op net ‘n keuse hê tussen werk hê en werkloos wees, is dit lankal níe meer gekoppel aan jou welstand nie aangesien dit reeds bewys het die ingeëntes kan nog steeds die oningeëntes aansteek. So daar is geen “sogenaamde gevaar” wat die oningeëntes inhou vir die ingeëntes nie. Eintlik is dit dan andersom volgens die uitsprake van die “voordele” van die inenting…..wat jou mos keer om gehospitaliseer te word of dood te gaan.
Die hele lewe bestaan uit risiko’s en mense word daagliks toegelaat om te besluit hoe hulle dit gaan
bestuur…….so hierdie behoort geensins anders te wees nie.

Petrus Klipkop ·

Baie goed gestel VaalDonkie. Dwang is dwang. Ek is geensins teen die jab nie, inteendeel, ek dink dit is baie goed wanneer iemand ‘n behoorlike, ingeligte risikobepaling doen en daarvolgens besluit om te spuit of nie. Ek beskou dit egter as tweegesigagtig wanneer een vorm van dwang ondersteun word, maar ‘n ander vorm van dwang nie. Waar is die konsekwentheid wanneer een sportowerheid se dwangmaatreëls (bv. tennis) gesteun word, en ‘n ander sportliggaam (krieket) se dwangmaatreëls veroordeel word? Ek beklemtoon: Dit gaan nie oor die jab of oor kniebuig of oor dit of oor dat nie, dit gaan oor dwang en die weghou van lewensmiddele wanneer (verantwoordelike) vrye wil of vrye denke beoefen word.
Jesus self dwing niemand nie, en Hy huil baie lang trane wanneer Hy die gevolge moet aanskou. Hy openbaar Sy karakter deur Sy Woord en trek mense aan na Hom toe, maar die keuse bly elke individu s’n. Wie dink die mens dan is ons deur ons wil op ander af te dwing, en dan lekker te kry as ander ly?

VaalDonkie ·

Dankie Petrus. Ja ek voel dieselfde. Ek het eintlik aanvanklik nie veel probleme gehad met die ou prikkie kry nie. Maar hoe harder hulle druk, hoe duideliker word dit dat hier meer aangaan as net ‘n virus onder beheer kry. Die virus bestaan, en die mRNA-terapie help so effe. Maar eintlik is dit maar net ‘n baksteen wat gebruik word om ‘n tronk rondom ons te bou. En die ergste van alles is, die regering wil ons werkgewers die tronkbewaarders maak. En hulle is BAIE entoesiasties om die rol te vervul.

Renier ·

KSA en elke ander unie wat húlle twak op jou wil afdwing behoort eenvoudig geboikot word. Vir Quinton de Kock: “Bravo!” en RESPEK!

Dries ·

Amen. En. Amen. Stem volkome saam. Ek kniel net voor my Heilige God. KSA het vir hulle n lat gepluk wat hulle blou en dik gaan foeter. Verdwyn net met julle kommunistiese houding en rassisme.

MCL ·

Boikot politiek…. En bring God in jou huis. Respek aan Quinton. Almal moet teen die gedrag opstaan.

melW ·

My God is myne, ek sal nie buig voor “idols” nie. Seëninge vir jou Quinton.

Abraham ·

Die ondersteuners van BLM is die werklike rassiste. Rassime teen blankes. De Kock het standpunt ingeneem teen die soort rassime. Hy verdien respek daarvoor. slefs al doen hy die kniel ding ‘n volgende keer, want al doen hy dit sal almal weet hy doen dit om ‘n inkomste te verdien en nie omdat hy daarin glo of daarmee saamstem nie. Sy punt is gemaak.
Netso het al die ander persone wat onderdanig was aan KSA se besluit en die beamptes wat so sonder beraadslaging daartoe toegestem, het hulle punt gemaak. Die ware rassiste.

Esme ·

Apartheid is dood – lank lewe Apartheid, danksy ons Regering wat bewus is van die KSA reelings.

Francois ·

Met baie respek vir Solidariteit, is daar nog vele organisasies, prokureurs en kundiges wat n werknemer wat nie Covid inenting om watter rede ookal te neem nie, sal bystaan in sy gesprekke /stryd teen n werkgewer wat hulle daarin wil boelie. Hulle is egter eers bereid om te help wanneer die persoon op pad CCMA toe is en reeds trauma ervaar het om man alleen sy werkgewer se kenners soos hulpbronbestuurder, Beroepsveiligheid- en ander regskenners op elke-manier te probeer oortuig van sy standpunte. Dan is daar al vele slapelose nagte deur eggenote, gesinne, vriende en familie agter die rug oor die moontlikheid van aflegging.

Sommer So ·

Ek dink nie die twee is verwant nie. Jy kan nie ’n werknemer dwing om in iets te glo nie. So in prinsiep, ja, jy kan nie iemand dwing om ’n inenting te kry nie. Die probleem kom egter dat die persoon se keuse om nie ingeënt te word, die kollegas direk beïnvloed. Dit is soos enige ander werksplek gesondheid- en veiligheids reël

Mercia ·

Hoe beinvloed dit die kollegas Sommer So? As die kollega’s ingeënt is hou hulle dan nie die gevaar in vir die oningeëntes nie? Siende dat ons daagliks gevoer word met die rympie dat ingeëntes steeds die virus kan kry en versprei maar self beskerm is teen hospitalisasie en dood. So ek verstaan regtig nie waarom die ingeëntes bang is vir die oningeëntes nie en elke moontlike dreigement en vorm van intimidasie probeer om ‘n naald in hulle arms gedruk te kry nie?
Is dit nie dan die oningeënte wat die “risiko” loop nie ? En is hy nie geregtig om sy eie risikobestuur te doen nie?

Corne ·

Nee wat, ek is lankal klaar met enige sport soort wat die knieë buig oor die een of ander politieke of BLM agenda . Lank al nie meer ‘n TV vir die sport manupilasie nie, sit al selfs die radio af as daar die een of ander sport kommentaar is. Is mos my eie keuse wat ek wil hoor.

Mamba ·

Woord van bemoediging vir Quinton…
GEEN beperking kan MY STOP nie, sê die HERE. Ek is met JOU, oral waar jy mag heengaan. NIKS of niemand kan my GUNS oor jou blokkeer nie. Ek sal jou vyande OMSEIL. As hulle jou op een plek probeer TOESTEEK, sal jou voordeel op TIEN ander plekke deurbreek. Die SLAGYSTERS wat hulle vir jou gestel het, sal hulleself in GEVANG word. Wat hulle ten kwade bedoel het, sal Ek ten GOEDE vir jou omswaai. Aanskou MY radikale GUNS en VOORSIENING … My SORG en BESKERMING. Amen en amen

Esme ·

Danksy Francois Pienaar en Graeme Smith is ‘n presedent geskep oor BLM. Wat van plaasboer lewens wat vermoor word? My standpunt is egter dat gehoor gegee is aan ‘n eksperimentele vaksien wat afgedreig word, daarna volg BLM en almal wat nie saamstem nie, staan Regerings tee. Hierdie is nie ‘n nuwe tendens nie, maar in my onmiddelike omgewing was daar lang toue vir ‘n vaksien – die meerderheid moet gerespekteer word – hetsy dit dmv BLM, ‘n vaksien wat binne my vriendekring verwoesting gesaai het. Ek glo steeds dat ons leiers, nee, eerder ons President, direk vir die chaos verantwoordelik gehou moet word. Waarheen het leierskap verdwyn? CR, hierdie is Afrika – ons is ‘n diverse land, staan op en spreek jouself uit of is jy bang jou inkomste uit die buiteland sal opdroog?

Richard ·

Hoekom kyk julle krieket? Ek het lankal opgehou. Die dag wat politiek uitgehaal word, sal ek weer kyk. Eintlik, nee. Ek sal nooit weer kyk nie. Ek gee nou regtig nie meer om wat die onbevoegde kommuniste maak nie.

Rupert Ashford ·

Bravo Dirk. #IamQuinton. Dit is een ding om standpunt in te neem teen rassisme, maar ‘n totaal ander storie om ‘n beweging wat self se hulle is op Marxistiese beginsels gebou en beywer hulle onder andere vir die vernietiging van die tradisionele gesin en hulle simboliek te ondersteun. En dit in reaksie op ‘n dwelmdeurdrenkte krimineel wat die polisie se saak so moeilik as moontlik probeer maak het en toe in die proses dood is. Kan nie buig nie.

Dirk Mostert ·

Die reenboognasie is ‘n klug. KSA bevorder rassewrywing.

piet ·

Gaan interessant wees om te sien of die storie gaan oorspoel na die Bok-span toe. Ek het so ‘n gevoelte dat ons die kniebuigery op die Bokke se toer gaan sien.

groenboer ·

Ek is bly om te sien De Kock kry soveel ondersteuning en respek vir sy integriteit. Maar nou vra ek my af: gaan ons wat luidkeels verkondig ons ondersteun hom, dieselfde integriteit as hy toon, deur op te hou om SA krieket te kyk of te ondersteun? Of gaan ons sportmalheid die oorhand kry, en De Kock op die ou end nou maar alleen staan, met ‘n vernietigde loopbaan en sogenaamde ondersteuners wat lekker voor hul kassie sit en die Proteas aanmoedig?

Laat ons nou almal ons geld sit waar ons groot monde is. Vir so lank as wat KSA nie hul eie ruggraat kan vind en ‘n standpunt inneem ten die nuwe religie van BLM nie, kyk ek nie weer ‘n Protea-westryd nie, laat staan nog ondersteun die span. Dieselfde geld al ons ander nasionale spanne. En dieslefde geld sommer Nando’s ook.

Ek moet byvoeg: ek het niks daarteen as mense in die openbaar kniel voor die god van hul keuse nie. My problem is nie met die knielers of die knielery self nie, maar met die poging om dit nou op almal af te dwing.

piet ·

Ek sien Quinton het ‘n amptelike verklaring deur KSA uitgereik waarin hy se hy’s jammer oor die misverstand. Hy se die kort kennisgewing wat hulle gedwing het om te buig het hom onkant gevang maar hy is meer as bereid om te buig, hy ondersteun die veldtog. So daar het ons dit nou, Quinton gaan buig. So terloops – interessant dat hy noem dat sy stiefma swart is en dat hy twee bruin half-susters het so hy is baie gevoelig vir rassisme.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Die vraag is wie is jou god: die regering en sy reëls, Black Lives Matter of wat ookal… Of die Skepper van die hemel en die aarde en die res.

Outspoken ·

Well done Quinton! Nie een ras is verhewe bo ‘n ander ras nie. All Lives Matter nie net Black Lives Matter nie. Almal kry swaar. Almal ervaar ekonomiese druk alle rasse kry swaar. Hierdie rasse malheid van die land word aangeblaas deur die Government. Waar is die Rainbow Nation waarvoor daar so geveg is vroeër jare? Nou word swart mense uitgesonder maar hulle is die wat baklei het vir equal rights.
Nou word ander rasse benadeel net omdat hulle vel kleur nie reg is nie.

piet ·

Ook maar versigtig wees om te gou op die wa te spring en die man te prys. Daar maak hy nou ‘n omkeer en se hy was nog altyd ten gunste van die veldltog en sal nou buig om ‘n voorbeeld te stel.

piet ·

Ek dink die probleem het gekom toe CSA sien die ander spanne se spelers buig almal toe lyk ons span sleg omdat sommige buig, ander staan met gebalde vuiste en enkeles het net gestaan. Dit het die indruk geskep dat daar nie eenvormigheid is nie en dat die span verdeeld is. Hoe dit ookal sy, hierdie saak moes VOOR die wereldbeker aangespreek gewees het. Elke keer as ons wereldbeker toe gaan, is daar een of ander issue wat kop uitsteek.

piet ·

Net ‘n kwessie van tyd dan gaan die Bokke ook buig en al die ander sportspanne.

Johan ·

Klink vir my soos n Nazi ritueel. Toe hulle regeer het was dit die ding om te doen . Vanag is die n kriminele oortredeing om die Nazi saluut te doen met rede. Om deel van n bevolking te dien en te verheerlik met minagting vir die regte en voorkeure van ander. Hier woon en lewe kleurlinge, indiers, asiatiese en witmense in die land. Christene buig hul knie net voor GOD. Wie het die reg om vir enigeiemand te dwing om die knie te buig. Basta man!

piet ·

Om een knie te buig is darem bietjie anders as om heeltemal op albei jou kniee te kniel met jou kop afwaarts gekeer in ‘n aanbiddende houding. Die ouens wat kniel aanbid nie iets nie so ek koop nie jou argument nie. Jy sal in elk geval ‘n probleem he met wat hulle ookal doen om BLM te bevorder want jy ondersteun nie BLM nie. Die ouens ondersteun dit egter.

Sylvia ·

Te laat, dié man het die knie gebuig, vreeslik om verskoning gevra, dit is hoekom die “gene” daarmee wegkom wat sulke goed afdwing,

Willem ·

En toe praat geld weer te hard en hy besluit hy sal maar die knie buig voor mammon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.