Ek sal nie…

Deur Gavin Ludick

Gavin Ludick.

Elvis Blue sê die volgende in sy liedjie “Beloofde Land”:

Ek wil bly in my land, het myself al hier verloor en weer gevind.

Ek wonder watter spoor ek dan nou moet volg, hoe die pad sal lyk as môre kom.

Ek glo steeds in die beloofde land, ek bly staan in jou Afrika-sand,
maar die wind wat eers in die bome was, waai deesdae net deur gebrande gras.

Ek bly steeds ’n dromer, ’n positiewe mens, maar als wat hier gebeur
vat my na ’n donker grens en ek verloor myself daar.
Sal die Here my kom kry? Ek glo so.

Die woorde van hierdie liedjie roer diep in ’n mens se siel en maak heelwat denke los. Denke wat ons dryf en vorm, woorde wat positiwiteit nastreef, maar die realiteit van die huidige tydvak in ons land maak dit moeilik.

Daagliks hou ons die nuus dop, kyk ons na die getalle van die virusgevalle en wag op die regering om leiding te verskaf oor die vlakke van inperking oor wat ons mag en nie mag doen nie. Dit verswelg ons denke en die gevoel van magteloosheid en afhanklikheid is verlammend. Ons geloof en sin vir verantwoordelikheid as Christene om sy liefde en hoop uit te straal, moet ons eintlik dryf. Juis dít moet ons daaglikse doen en late oorheers en ons uitkyk vorm.

As Afrikaners moet ons ons taak en rol in Suid-Afrika aangryp en besef dat ons nie moet wag op die regering om dit vir ons moontlik te maak of toe te laat wanneer dit hulle pas nie. Kom ons neem kennis van die regering se drakoniese maatreëls en uitsprake, maar kom ons kyk verby dit. Óns moet bepaal waarmee ons saamstem en simpatie mee moet hê, maar net so moet ons ook wal gooi en rug styfmaak oor sekere dinge.

Ek sal nie…

Ek sal nie toelaat dat hierdie regering bepaal wie en wat ek is nie. Dit is mý taak en mý taak alleenlik. Hulle sal my nie etiketteer en in ʼn kassie plaas nie. Wie het die reg om vir my kind te sê watter taal sy moet praat, watter geskiedenis hy moet leer en onthou, watter drome hulle mag hê en of sy ʼn plek vir haar voete hier in die Afrika-sand het of nie? Dit kan mos nie aanvaar word dat die terme rassis, kolonialis, gronddief, besoeker, inkommer of wit bevoorregte om ons nekke gehang word en bepaal wie ons is nie!

Wie ons is, word deur onsself bepaal en dit is hoe dit hoort.

Ek sal nie aanvaar dat mense soos Cyril Ramaphosa, Ace Magashule, Nkosazana Dlamini Zuma, Jacob Zuma, Julius Malema, Floyd Shivambu, Andile Mngxitama, Max du Preez, Piet Croucamp, Melanie Verwoerd (om net ’n paar te noem) in beheer staan van my toekoms en vir my sê wie en wat ek is nie. Hierdie is gevaarlike mense wat menings vorm en persepsies skep. Persepsies wat die toekoms bedreig. Persepsies wat onbeperkte skade kan aanrig. Die vlakke van misdaad, skuld aan misdrywe en leuens, plundering en diefstal, oneerlikheid en verskuilde agendas is ongekend. Hierdie mense is in beheer van ons land, hul daaglikse doen en late forseer my lewe in ’n rigting in.

Dit kan mos nie!

Ek sal nie my ore aan radikaal regse mense, wat haat en vrees aanwakker, uitleen nie – ons eie mense wat op die ergste hoop, wat nie kan wag vir grootskaalse konflik en burgeroorlog nie. Net om te kan sê “Ons het julle mos gewaarsku…” Hierdie mense is net so gevaarlik. Kyk maar net na die magdom vals nuus en boodskappe wat versprei word. Stemme wat lieg en bedrieg om paniek te saai, Afrikaanse stemme, Afrikanerstemme… 1 Johannes 4:18 sê die volgende: “Waar liefde is, is daar geen vrees nie…” Natuurlik sien ek die gevaarligte. Natuurlik besef ek dat die Voortrekkers ook vasgehou het aan hul geloof en liefde, maar dat hulle verpletter is as ’n volk. Natuurlik is ek ook bekommerd en bang oor my kind se toekoms, maar dit mag my nie dryf nie.

Hierdie vrees sal ons vernietig en sodoende dieselfde doen as die ANC en sy makkers – bepaal wie ons is.

Ek sal nie met liberale oogklappe aan rondloop en dink dat alles maar is soos dit moet wees nie. Dat ek moet jammer sê oor die verlede. Ek sal nie. Liberale, linksgesindes wat saamstem met rassistiese wette en maatreëls in Suid-Afrika wat my marginaliseer tot ’n tweedeklasburger, wat my laat terugstaan en gelukkig wees met die stukkies kos wat die kripvreters op die grond laat val het. My antwoord is nee!

Ek sal nie misken wat verkeerd was gedurende apartheid nie, maar ek sal ook nie my geskiedenis vergeet nie. Ek sal nie vergeet van name soos Jan van Riebeeck, Gerrit Maritz, Piet Retief, Piet Joubert, Andries Pretorius, Andries Potgieter, Louis Trichardt, Piet Uys, Magrieta Prinsloo, Lang Hans van Rensburg, Paul Kruger, Manie Maritz, Jan Kemp, Christiaan Beyers, Koos de la Rey, Christiaan de Wet en vele meer nie. My kinders moet dit weet en daarvan leer.

Hoe kan ons ooit toelaat dat ons geskiedenis misken en uitgevee word? Ek sal nie!

Ek sal nie aanvaar dat ons Afrikanerleiers nie kan saamwerk en nie om ’n tafel kan sit en planne vir die toekoms maak nie. Waar is die broodnodige samehorigheid en leiding? Hoekom moet egobestuur die belangrikste doel van enige voorsitter wees? Die koning-op-sy-eie-mishoop-idee gaan nog ons ondergang beteken. Ware leierskap sal nou na vore moet kom om ’n nuwe Afrikanernarratief te skep. Nuwe, innoverende en vreeslose planne, drome en toekomsideale is mos nou die prioriteit. ’n Balans tussen droom en doen.

Ons groot leiers moet met mekaar gesels en die daadwerklike besef van die skaal van ons penarie by die horings pak. Ek dink gereeld aan die Voortrekkerleiers en wonder wie nou sal hand opsteek om die leisels op te neem. Wie sal ons tien grootste leiers wees om ’n virtuele trek aan te pak? Na wie sal ons luister en volg? Is hulle dalk reeds besig om dit te doen? Ongetwyfeld, maar daar is nie nou noodwendig die nodige samehorigheid nie. My droom is dat daardie groot leiers nou met mekaar moet praat. Daar is wonderlike inisiatiewe en planne, maar die saamwerkidee ontbreek nog. Ek sal ook nie aanvaar dat dit waar is dat Afrikaners nie kan saamwerk nie, dit is twak. Ons moet dit kan doen, hoe anders dan?

Ek sal nie saamstem dat die ANC-geleide regering en mnr. Ramaphosa met die hantering van die viruskrisis in ons land nou ware leierskap wys nie. Hulle is duidelik besig om hierdie krisis tot hul eie voordeel te gebruik. Die huidige regeringsbestel moet tot ’n val kom. As die ANC hierdie krisistyd, wat reeds begin het lank voor die uitbreek van die Covid-19-pandemie, gaan oorleef, het ons groot moeilikheid. Hulle rasse-ideologie tel skerp momentum op met die Nasionale Demokratiese Rewolusie as die groot dryfveer. Te gereeld word daar verwys na die Vryheidsmanifes oftewel die Freedom Charter, radikale transformasie, die regstel van die koloniale verlede, onteiening sonder vergoeding, ensovoorts. Hierdie is baie duidelike gevaartekens vir wit mense in Suid-Afrika, en uiteindelik vir alle Suid-Afrikaners. Ek sal dit nie miskyk nie. Gaan ons nie leer uit die geskiedenis nie?

Hierdie trajek waarop ons land is, is vernietigend en sal noodwendig ons lewens negatief beïnvloed. Professor André Duvenhage praat van ’n kantelpunt. Is ons nou by so ’n situasie? Dit moet gebeur, ons kan nie toelaat dat die huidige regering polities oorleef nie. Ons ekonomie, infrastruktuur, basiese dienslewering en sosiale kohesie is so te sê vernietig. Dit word alles bestuur deur mense wat gekoppel is aan ongekende misdrywe, misdaad en onbevoegdheid. Die septer word geswaai deur oneerlike en gevaarlike mense. Aanvaar ons dit omdat hulle die beste is wat daar nou is? Nee!

Ek sal nie tevrede wees met die hoë vlak van burgerlike verlamming nie. Dis ons eie mense wat nie deelneem aan die burgerlike samelewing nie en agter hul hoë mure en kortsigtige finansiële veiligheidsnette skerm. Besef ons wat ons voorouers moes opoffer en doen om kerke, skole en monumente te bou? Besef ons die groot werk om Afrikaans as taal gevestig te kry as ’n internasionaal gekrediteerde, wetenskaplike en akademiese taal? Ek sal nie aanvaar hoe ons taal met Engelse tussenwerpsels verkrag word en hoe ons eie Afrikaanssprekendes, sonder om ’n oog te knip, ons kinders in Engelse skole sit nie! Carla Coetzee skryf in ’n berig op Netwerk24 op 21 Februarie 2018: “Afrikaans is die kruik van ons kultuur en die wortels van ons herkoms, maar ook die brug tussen ons verlede, hede en toekoms.”

Ons taal is besig om voor ons oë te verdwyn, besef ons dit? Dien op skoolbeheerliggame, dien op kerkrade, dien op klub- en kultuurverenigings se besture.

Dien, dien, dien!

Dien – nie om gedien te word nie. Gee – nie om te ontvang nie.

Nou is die tyd vir ware diensbaarheid. Dit is ontstellend om te sien hoe ons mense vashou aan gemaklikheid en materialisme. Ja, ons ervaar nou moeilike tye, maar as ons nie gaan leer uit ons verlede en ons voorouers se opofferinge nie, gaan ons nie as ’n volk voortbestaan nie. Ons sal verdwyn in ’n golf van assimilasie en konformisme en bekendstaan as die generasie Afrikaners wat die bal laat val het.

Die bloed wat in ons are druis is Afrikanerbloed, oorlewingsbloed, vegtersbloed, vasbytbloed, leiersbloed, Christenbloed, konserwatiewe bloed, Voortrekkerbloed en pioniersbloed. Ek sal dit nie anders beskryf en glo nie. Nou is die tyd om staal te wys en leiding te neem – leiding wat ’n toekoms vir ons kinders hier in Suid-Afrika moet bou. Daarom is goeie, meelewende en positiewe burgerskap die antwoord. Ook ten voordeel van alle Suid-Afrikaners wat ons sentimente en waardes deel. En hulle ís daar, miljoene van hulle!

Ek sal nie. Ek mag nie. Ek gaan nie. Ek kan nie.

Afrikaner, waar is jy? Afrikanerleier, waar is jy? Rustige, sterk, Godvresende mens, waar is jy? Staan op, steek jou hand in die lug en sê: Hier is ek. Neem verantwoordelikheid. In Jesaja 6:8 staan daar: “Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Wees getrou!

  • Gavin Ludick is ʼn projekbestuurder by die Afrikanerbond.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Colette ·

Stem 100 %. Hier is teveel mense wat nog in die verlede leef. Die verlede is die verlede. As Christene moet ons hande vat en daaraan werk om ‘n beter toekoms vir ons kinders te skep. Dit is wat God van ons verwag, Hy hou nie van hierdie twis, korrupsie en totale chaos wat tans in hierdie land aan die gang is nie.

Riaan ·

Eerste klas! Stem saam. Ons moet ophou luister na stemme wat ons demoraliseer en begin pro-aktief deelneem. Ons moet ons self begin bewus maak van die meganismes wat in plek is, om ons gedurig op ons tone te laat kyk en begin praat daarteen. ‘n Goeie begin is die lesings van Yuri Bezmenov oor hoe ‘n samelewing gemanupileer word deur vêr linkse radikale marxiste. Dit is vrylik op die sosiale media platforms beskikbaar. En dan natuurlik, om altyd terug te kom na die voete die Here en Hom te vra dat Hy ons uit die gemors waarin onsself bevind uit op te trek.

Trotse Boervrou ·

Uitstekend geskryf. Opreg en diep. Trots Suid-Afrikaans. Saam kan ons ‘n pad stap. Ek salueer jou denke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.