’n Mens sien dit oral in Europa en noem dit maar die littekens van die twee wêreldoorloë waardeur Europa in die vorige eeu gegaan het. Daar is die museums in Pole en elders wat eens Nazi-konsentrasiekampe was, die huis in Amsterdam waar Anne Frank haar bekende dagboek geskryf het, die honderde koperplaatjies ingemessel op die sypaadjies voor geboue in verskeie lande waar Jode gewoon het voor hulle na die gaskamers weggevoer is.
En, oral in Frankryk, België en Nederland: die rye en rye grafte waar gesneuwelde soldate begrawe is, en waar monumente vir hulle opgerig en jaarliks gedenkdienste gehou word. Ek was onlangs in die Ardenne, die toneel van verwoesting waar duisende Geallieerde Troepe en Duitse soldate gesneuwel het. En naby Maastricht is daar selfs ’n begraafplaas vol Amerikaanse soldate.
Al die gevalle soldate het een ding in gemeen: hulle het nie gekies om op die slagveld te sterf nie; hulle is deur politici opgeroep om mekaar met kanonne, gewere en vliegtuie te bestook. Ekself het een keer gesien hoe Japannese weduwees hartstogtelik huil voor ’n muur waarop die name van hul kamikazevlieëniers uitgebeitel is.
Dis natuurlik waar dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf, en in Suid-Afrika se geval probeer herskryf. Laat ek dit duidelik maak: Suid-Afrika se soldate het nie die grensoorlog verloor nie, maar die politieke oorlog.
Ek het my weermagopleiding as vrywilliger by die Leergimnasium gedoen toe dit nog op Voortrekkerhoogte was. Later jare het ek as offisier aangesluit en redakteur van Paratus, die weermagtydskrif, geword. Ek is nie skaam daaroor nie, al is daar sommige van my landgenote wat die horries kry as hulle vermoed mense sal agterkom dat hulle ook in die weermag was. So het bekende politici wat by Paratus diensplig gedoen het, my gevra om nie bekend te maak dat hulle daar was nie. Net so is daar bekende politici wat as lede van die Kanariesanggroep grensdiens vrygespring het.
Maar ek wil skryf oor die manne wat as tieners, pas uit die skool, geen keuse gehad het as om front toe te gaan nie. Hulle is opgeroep en grens toe gestuur. Jong seuns het daar dinge gesien waaroor hulle vandag nog nie wil praat nie en my eie broer het daarna as dokter geëmigreer.
Niemand huldig hul bydrae en dié wat hul lewens verloor het, se nagedagtenis nie. Hulle word deur diegene wat vandag hul posisies in die samelewing te danke het aan die feit dat die Russe nooit sover as die Suid-Afrikaanse grens gekom het nie, uitgekryt as verdedigers van apartheid. Dit is natuurlik ’n brutale liegstorie, Suid-Afrika is vandag vol van mense (veral akademici en oneerlike joernaliste) wat, om hul eie basse te beskerm, die onwaarheid die wêreld instuur. Net so min as wat Julius Malema gesien het wat op die grens aangaan, het baie van die selfaangestelde vegters teen apartheid gesien wat gebeur het.
Die polisie was getaak om apartheid in Suid-Afrika te verdedig en die Weermag om die grense te beskerm. Die Russe was inderdaad ’n bedreiging: in 1986 het ek, toe as diplomaat in ’n kelderverdieping van ’n hotel in Londen, ’n Russiese diplomaat in die oë gekyk en gevra wat die Russe se plan met Suid-Afrika was. Hulle wou Kaapstad as ’n strategiese plek bereik om die seeroete om die Kaap te beheer, het hy gesê.
Toe val die Berlynse muur en die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA) onttrek sy steun (en geld) van Suid-Afrika omdat die Russe nie meer ’n bedreiging was nie. Van my vriende in die weermag sê hulle het gelê en wag voor die ligte van Luanda om in te val toe die bevel kom om terug te trek. Nou ja, die CIA en Amerika het ’n ou laai om vriende in die steek te laat. Jonas Savimbi (oftewel Spyker), leier van Unita, se wegkruipplek is byvoorbeeld aan sy vyande bekend gemaak toe hy geweier het om oor te gee. Hy is uitgehaal.
Maar vandag is daar ʼn hele generasie mans wat verbitter is. Anders as die Amerikaners, Engelse of selfs Duitsers en Japannese, is daar niemand wat na hul belange omsien nie. Duisende is werkloos, hulle het geen behandeling vir posttraumatiese stres gekry nie, en word deurgaans vertel hoe onwelkom hulle in die land van hulle geboorte is. En voor in die koor is ’n klompie “kommentators” wat te lekker saam met die nuwe polities korrektes sing.
Daar is ook die ANC se eie “militêre veterane” wat nooit aan die bosoorlog deelgeneem het nie: manne soos Carl Niehaus. As hy daar was, sou hy seker net twee keer ’n koeël gehoor het: die eerste keer toe die koeël by hom verby is en die tweede keer toe hy by die koeël verby is.
Waarop die “ou toppies”, soos daar dikwels na hulle verwys word, wel aanspraak kan maak, is dat hulle binne twee jaar van kinders in mans verander het. Ek het saam met ’n groep valskermsoldate in die grensgebied gehardloop en was ongelooflik trots op die kaliber manne wat daar was. Ek was nooit in ʼn skermutseling met die vyand nie, maar daar was duisende wat wel was.
En nou sorg niemand vir hulle nie.
Ek salueer hulle en ek is nie bang om dit te sê nie!
Ek is hoendervleis.
Daar is vandag nog baie van die ouer manne wat swaar dra aan pynlike herinneringe.
Cuito Cuanavale 1988
Awesome en sad Selle tyd. Iets wat ek beleef het maar nie weer sal doen nie.
Ons ou toppies sal die klomp in vandag se weermag nog steeds ore aansit.
Dankie Tienie. Ek dink baie van daai ou toppies het dit nog.
Dankie Tienie!
van n mede-oud soldaat wat ‘daar was’
Ek salueer hulle ook!!!!
Ek was so deel van dit .
My pa en my broer was deel van dit en ek het as skoolkind by 1 Mil Voortrekkerhoogte gedurende vakansies as ‘n nursie gewerk.
Het baie gesien en die outjies kon nie wag om terug te gaan Grens toe nie.
Hulle was so so dapper- outjies met rugraat en integriteit.
En ek salueer jou!
Dankie vir die Waarheid.
EK SALUEER HULLE! MY PA IS EEN VAN HULLE.
MANNE VAN KARAKTER!
Dankie Tienie, great artikel al is daar die wat dit nie wil hoor nie. Ek was ook daar – Hooper Feb ’88 tot Julie ’88. En ek is soos jy ongelooflik trots om deel te gewees het van ‘n fantastiese weermag – 12 de sterkste in die wereld in die ’80’s. Beste en slegste dae van my lewe. Sal dit weer doen as ek kon kies.
Ek is trots daarop om in die ou SAW te gedien het en ek vra NIE! om verskoning nie!
ek is ‘n trotse weermag & sap veteraan, het letsels wat die storie vertel en mag ek elkeen salueer wat daar was!
dankie Tienie :-)
SALUUT MEDE VETERAAN
Ek dink Kaapstad sal nou beter af wees onder Putin se beheer.
Ek was soms maar ‘n “naaf” soldaat, maar ek het die hele storie nl. grensdiens, kampe ens. gedoen. Vandag vra ek om verskoning vir van my bevelvoerders as ek soms negatief was en nie die toekomstige wanorde (wat ons vandag ervaar) kon voorsien nie. Dus, in terugbeskouing en met die wete van vandag se gemors, moes ek 100 x meer gemotiveerd gewees het daardie tyd!!
Ek salueer Almal wat daar was en geveg het vir ons land en die soldate wat lewe verloor het in die geveg. Dis die soldate wat gemaak het dat ons saans tot laat kon rond ry met ons fietse en sonder vrees kon buite speel. Ons ouers maak nie bang kinders groot. Wees trots
En op die ou einde is alles op ‘n skinkbord sonder enige waarborge prys gegee.Ek was gedurende my 9 maande lank voor die bosoorlog in Potch,Pietersburg en Middelburg
se kampe en daarna by talle verpligte maandlange kampe.Laaste een in die duine en bosse van Lake Sibaya
Kom jy terug hoor jy net van die en die wat bevorder is.Al wat ek opskrif wil plaas,dat die ouens wat die ou SAW uitgebou het tot wat dit was beter mense is as die wat dit afgebreek het tot vandag, wat nie eers bendegeweld, moord en doodslag in die Wes Kaap onder beheer kan bring nie.
Ek was daar en dit was die beste tyd van my lewe.
Ek sou nie juis Carl Niehaus n “Man”noem nie…
Baie dankie vir hierdie berig!!!!
Presies geskryf .
Spyker op die kop, dankie. Daar was inderdaad ‘n totale aanslag en dis net die ANC se geluk dat die Berlynse muur op daardie stadum geval het, gevolglik kon hulle vlugvoetig ‘in naam (maar nie in wese)’ verander van ‘n terroriste org na ‘n ‘mense-regte’ org.
Ek was ook “daar”, maar indien ek nou na die land kyk dan was dit ‘n vermorsing van tyd en geld, om nie eers van duisende jong mans se lewens te praat nie. Wat het verkeerd geloop dat ons lewendes nou in hierdie gemors is? Nooit ooit sal ek weer vir hiedie land ‘n goeie woord hê nie, vergeet nog van “lewe en sterwe” vir die ashoop.
Was ook daar en met trots ons land en al sy mense gedie. Salueer ook mede oud SAW lede en vir jou Tienie vir die waarheid.
Tienie, van ‘n kanondonkie tiffie wat ook daar was, en wat trots op my vlag en vervalle land en volk is, baie dankie.
Dit wat jy vreesloos sê word baie waardeer.
Saluut.
Ek het ook diensplig gedoen, maar was nooit grens toe nie. Ek wil ook elkeen wat wel daar was salueer. Julle was ysters
Dankie vir die artikel, Tienie. Ek het my diensplig in 1984/85 gedoen by 2 Spesiale Diensbataljon in Zeerust. Grensdiens by 10 Pantser in Oshakati. Ek is trots om te kon gedien het in een van die beste en mees gedissiplineerde weermagte wat daar was. Ek salueer my mede makkers van daai tyd. Ons sal nooit vergeet nie!
Dankie vir hierdie skrywe. Ek het n broer wat grens toe was en deur genade van Bo veilig terug gekom het.
Ek salueer elkeen wat sy lewe vir ons daar op die spel geplaas het
Ek was van ’86 tot ’89 daar…is n jakkalskop (mil inl) , was vir my n geweldige eer en n voorreg …maar is soos jy se……vergete.
Hoe kan enigiemand wat daar was skaam wees vir wat ons gedoen het ?? Ek was n trotse Infanteris (S/Sers) wat trots was om my land te kon dien in n weermag wat die agting van die wereld gehad het…nie hierdie patetiese verskoning van “struggle hero’s” wat nog redelik onlangs deur kinders met gewere bo in Afrika verneder is nie. Die spul het nie die vermoee om n put-toilet te beveilig van kakkerlakke nie.
My man was van die eerste troepe in Angola in 1975. Hy was in pantserkorps.Elandkar drywer. Hulle dienstyd is destyds met maand verleng net voor eerste 18 maande en daarna 2 jaar diensplig ingestel is. Dit was swaar tyd vir my en my seun alleen sonder hom. My seun het vir hom “oom” gese toe hy terugkom. Ons het in Tsumeb gebly en daagliks met die oorlog te doen gekry. Soveel boere is deur terroriste vermoor. Hulle het selfs deur ons erf gehardloop in die nag dat ons hulle spore die volgende dag gekry het. Die ratels wat patrolie in die dorp gery het se soekligte het ons wakker gemaak. Ek sal dit nooit vergeet nie.
Ek salueer hulle ook
7 Suid Afrikaanse Infantrie Bataljon
Trots dienspligtige
Bravo Tienie vir jou moed om die waarheid te vertel. Ek was ook deel van ons vegters teen die kommunistiese aanslag en ons weet presies wat die ware geskiedenis van hierdie land is. Maar almal durf nie daaroor skryf of praat nie.
WAT N TROTSE MANIER OM VRYDAG AF TE SLUIT.EK VANG SOMMER NOU NAWEEK PAS.
1 VSK kursus, 36 v, 1966.
Wonder hoeveel van ons maters nog lewe?
Vasbyt
Dankie Makker. Saluut.
(Brother from another Mother.)
Die gemors gaan begin wanneer SA in ‘n oorlog gewikkel is. Die weermag sal vinnig oorrompel word. De gemiddelde ouderdom van die infanteriste is 40 jaar. Geen fikse jong manne om te veg.
Dankie vir hd tydige artikel. Die grensoorlog was op SA afgedwing deur die wêreldorde v destyds……ek was reeds in 1969 op die grens en die laaste keer in 1983…….ek wat belang stel in die wêreldgebeure en -politiek om my, was baie goed op hoogte vd denkklimaat en kragte destyds. Dankie Tienie dat jy die waarheid praat……my dunk v jou het hemelhoog gestyg. Ja ook ek salueer al die manne wat gehelp om wêreldkommunisme in n vieslike slag toegedien het. Ek is net nie so seker dat die Berlynse reeds in die sewentigjare geval het nie.
Baie dankie vir die wonderlike artikel. Ek is trots dat ek die geleentheid gehad het om in Rundu (Sektor 20) my diensplig te kon doen. Ek was aanvanklik daarnatoe gestuur vir ses maande maar het na 2 maande gevra om die res van my diensplig daar te voltooi. Ons was trots om die “browns” te dra en gedissiplineerd. Ongelukkig skaam ek my dood as ek na vandag se “soldate” kyk.
Het self 1977 en 1978 grensdiens gedoen. Baie trots gewees daarop en met trots gedien in ‘n weermag gekenmerk deur dissipliene. Geen rang gedra nie maar met trots en waardigheid gedien.
Ek lees die artikel en voel hoe die warm trane oor my wange loop. Hoe het ons nie gebid vir ons manne op die grens nie. My broer, my verloofde, my swaer. Uit my hart uit baie dankie vir dié skrywe. Ek saluut elke man wat hier lees wat in ons weermag was. Ek is en sal altyd trots wees op julle ysters.
Ek weet nie waarom die weermag alleen opgehemel word in die grensoorlog nie. Niks fout daarmee. As ek reg onthou was die polisielede voor die weermag op die grens. Toe die weermag in toe gepanserde voertuie patrollies gedoen het was ons patrollies gedoen te voet en in ‘n platbak Bedford trok met ‘n ry houtbankies gemonteer. Moes ‘n kollega aan die dood afstaan wat in hinderlaag langs my doodgeskiet is. Nee wat het gereeld grensdiens gedoen vanaf vroeë 1970 tot onttrekking uit Wamboland. Vanaf Ruakana tot in Rhodesië. Om nie te vergeet van Koevoet wat elke dag met die dood gedobbel het nie. Onthou ons ook asb.
Ek was ook betrokke. Opleiding in Bloem en Youngsfield gekry asook verdere opleidingskampe in SWA. Talle jong seuns het ons by die pastorie te Kamanjab besoek en kom se: “Oom Tannie ek is bang.” Ons het bemoedig en ook die telefoon beskikbaar gestel om hul ouers te bel, en ook sommer vir die nooientjie. Ons was die laaste punt voor die vertrek na die grens
Ja, die beste soldate in die wereld. Baie lede en offisiere het met die onverwagse bevel om buite Loanda te ontrek geruk soos hulle huil. Was alles dan tevergeefs. Hulle het dit ervaar as verraad en beleef AS KOSBAAR VESPILDE LEWENS VIR JOU SUID AFRIKA.
Hierdie troep was ook daar, jis dit was darem lekker gewees 1970, panserskool Zeerust Santmajoor Holliday wie kan hom vergeet wat n woderlik ondervinding en nog steeds trots op dit wat ons bereik het, vandag se jongelinge mis iets groot, daar het ons manne geword. Dankie Gen Malan Dankie Mnr PW Botha ons het ons land met eer gedien.