Ek sê, watse Afrikaans wil djý praat?

Dr. Danny Titus (Foto: Verskaf/ATKV)

Die afsterwe van dr. Danny Titus is begroet met ’n stortvloed huldebetuigings. Die reaksies het veral om twee elemente van sy loopbaan gedraai: Sy geveg vir wat hy gesien het as geregtigheid vir almal, en sy rol om Afrikaans te bevorder.

Ek het nooit ’n vreeslike probleem met Titus gehad nie; hy vermoedelik wel met my, want in sy jonger jare het hy hom ’n hele paar keer in die openbaar en agter die skerms negatief oor my skryfsels uitgelaat. Ek het uiteraard nie daarvan gehou nie, maar ek het nooit daarop geantwoord nie. Titus het immers uit ’n ander agtergrond as ek gekom, en dit het noodwendig gemaak dat ons minstens deels anders na sake gekyk het.

Ek wil ewenwel vandag fokus op iets waaroor ek en Titus saamgestem het. Dit is dat Afrikaans ’n inklusiewe taal is, en nie die eksklusiewe besit van die wit Afrikaners nie.

Afrikaans behoort aan álmal wat hom praat en liefhet, ongeag velkleur, etnisiteit, geslag of politieke oortuiging. Afrikaans is groter as enige enkele groep, met inbegrip van die Afrikaners.

Moet geen fout maak nie: Ek kom uit ’n gematig-konserwatiewe Afrikanerhuis, en ek is dus ’n trotse Afrikaner wat geen ekskuus daarvoor vra nie. Maar my identiteit as Afrikaner is nie die alfa en omega van my bestaan nie; daar is ook ander aspekte wat relevant is.

Ek is byvoorbeeld ’n lid van die manlike geslag (heteroseksueel), asook – wat eintlik die allerbelangrikste is – Christen. Ek het ’n broertjie dood aan ekstremisme, aan idees wat één aspek van die lewe tot die enigste belangrike verhef en alle ander óf ontken óf onderbeklemtoon.

Dié gematigdheid bring mee dat ’n mens ook die posisie van Afrikaans realisties moet bekyk.

Afrikaans is tans onder groot druk. Dit beweeg langsamerhand na ’n situasie wat ewe nypend kan word as die jare onmiddellik ná die Anglo-Boereoorlog.

Destyds het ons voorouers Afrikaans doelbewus gebruik as middel om hul mense polities, ekonomies en kultureel te mobiliseer. In die lig van die absolute eksistensiële krisis waarin hulle destyds verkeer het, was dit ’n begryplike keuse.

Met die voordeel van agternakennis het dit egter ook ’n nadeel gehad: Ons mense het die taal eksklusief vir die Afrikanervolk geannekseer. Die feit dat dit ook die moedertaal van verreweg die meeste bruin mense (en selfs enkele swart mense) was, was vir die Afrikaners min of meer ’n irrelevante toevalligheid.

Nou ja, as historikus is dit nie my taak om te veroordeel nie; wel om te verkláár. Die feit dat ons Afrikaans vir onsself geannekseer het, het nie gehelp om die bruin mense as bondgenote vir die taal te wen nie.

En, laat ons eerlik wees, die rassevooroordeel waarmee die meeste Afrikaners na hul bruin taalgenote gekyk het, was ook vir die verwydering verantwoordelik.

Natuurlik is daar ook ’n ander kant van die munt. Die Suid-Afrikaanse Engelssprekendes (en hul politieke tuiste, die destydse Verenigde Party of VP) het hul bes gedoen om die spook van slawerny lewend te hou. Selfs in 1948 nog het VP-pamflette beweer die Nasionale Party sal slawerny weer terugbring as hy die verkiesing wen.

Bowendien het talle bruin leiers indertyd maar alte graag verengels en neergesien op Afrikaans. In reaksie op die beplanning van ’n bruin Afrikaanse kunstefees in die vroeë jare veertig het enkele bruin intellektuele geredeneer dat Engels ’n wêreldliteratuur het, terwyl Afrikaans slegs die produk van ’n aantal heethoofde is. As die bruin mense té Afrikaans word, sal hulle “just as backward as the backveld” word.

Tog kon Afrikaans onder die bruin mense oorleef. In die jare sewentig en tagtig is die bruin radikale stryd teen apartheid grotendeels deur middel van dié taal gevoer.

Die punt is dat Afrikaans al die bondgenote kan gebruik wat hy nodig het – en dit sluit die bruin mense ook in, soos Danny Titus se lewe illustreer. Laat ons dan maar op verskeie terreine onderling verskil; ook die Afrikaners is immers onder mekaar berugte dwarstrekkers.

Op die punt van die taal behoort ons mekaar te kan vind, al moet ons in die proses dan maar mekaar se anderse benadering aanvaar en verdra.

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Hier wil ek ewenwel ’n belangrike nuanse beklemtoon. Die vraag is naamlik hoe ons na Kaaps moet kyk.

Is Kaaps ’n Afrikaanse variant wat ewe geldig is as Standaardafrikaans, of is dit ’n aparte taal?

Lesers moenie van my ’n neerhalende houding oor Kaaps verwag nie. ’n Eeu gelede was die Engelssprekendes se monumentale minagting vir Afrikaans – wat toe vir die eerste keer as geskrewe taal ontwikkel het – verskriklik.

Afrikaans het dit oorleef en gedy. Uiteindelik het hy een van net vier tale geword wat in die 20ste eeu van patois tot volwaardige literatuur- en wetenskapstaal ontwikkel het. Die ander is Hebreeus, Maleis en Hindi. Volgens enige standaard is dit ’n enorme prestasie.

Met dié insig in die agterkop sou jy ’n fout maak om Kaaps met dieselfde minagting te bejeën as waarmee Afrikaans ’n eeu gelede bekyk is. Maar as ek byvoorbeeld Nathan Trantraal se rubriek in Rapport probeer lees, moet ek verskriklike moeite doen om dit te verstaan.

En dan het ek dit nie eens slegs oor die horde Engelse woorde wat daarin gebruik word nie. Dit lyk vir my eweseer na ’n aparte taal as wat Afrikaans nie meer Nederlands is nie.

Uiteindelik sal die sprekers van Kaaps moet besluit of dié taal – soos tans – ’n soort kuriositeit sal bly wat periodiek sy opwagting in die media maak, en of hulle die politieke wil en intellektuele kapitaal het om dit tot ’n volledige literatuur- en wetenskapstaal te ontwikkel.

Hulle sal terselfdertyd moet besluit of ’n keuse vir Kaaps outomaties ’n keuse teen Standaardafrikaans is.

’n Mens sou ook anders na die saak kon kyk. Sekere taalgeleerdes meen Afrikaans moet geherstandaardiseer word om ook vir Kaaps voorsiening te maak.

Ek sien nie hoe dit kan gebeur sonder om Standaardafrikaans onherroeplik van karakter te laat verander nie. Standaardafrikaans en Kaaps is aansienlik verder van mekaar as byvoorbeeld die Standaardnederlands wat in Nederland en Vlaandere gepraat word. Dus kan Nederlandstalige taalkenners veel makliker voorsiening maak vir die punte waar die Vlaminge van hul noordelike taalgenote afwyk sonder om die taal se karakter te verander.

Laat ons die bruin mense as Afrikaanse bondgenote aanvaar. Maar kom ons gee hulle ook die vryheid om liefs die pad van Kaaps in te slaan. Dis húl keuse. Mý keuse is vir die taal waarmee ek grootgeword het – Standaardafrikaans.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johannes

Leopold, ek stem saam met jou: Kaapspraters kan met Kaaps handel soos hulle wil. Maar daar is ‘n belangrike aspek waarby jy nie uitkom nie. Daar rus ‘n dure verpligting op diegene wat soos ek en jy kant vir Standaardafrikaans kies om dit sover moontlik van onnodige Engelse woorde te suiwer. Tans word taalsuiwerheid deur geen Afrikaansinstansie bevorder nie. Dit lyk asof jy ook hierdie onderwerp doelbewus vermy. Taalsuiwerheid is myns insiens van deurslaggewende belang vir die voortbestaan van Afrikaans as ‘n taal uit eie reg; ‘n taal wat duidelik van Engels onderskeibaar is.

Manie

Ek gee nie om dat mense Afrikaans verskillend praat of uitspreek nie, solank dit Afrikaans is en skollietaal nie as Afrikaans gesien word nie.

Marthinus

Johannes, geen taal is 100% suiwer nie. Geen spreker en/of skrywer, of dit nou Dawid van die Psalms, Cicero of William Shakespeare is, het grammaties korrek geskryf en gepraat nie. Engels het baie woorde vanuit Frans oorgeneem, en die Engels van die 16de en 17de eeu klink baie na Afrikaans. Ek weet nie of Engels deur `n instansie bevorder word nie, maar dit is vandag die taal met die grootste corpus, en groei – juis omdat die gebruikers nie gedurig binne riglyne gehou word nie. Toegegee, wanneer op hoë vlak gewerk word, is die standaard baie hoog. Ek het in… Lees meer »

Andrew

Jammer maar as Afrikaans net in die huis gepraat gaan word, en dit nog in gebroke Engels, dan gaan Afrikaans uitsterf of eerder n weergawe van engels word met n paar woorde soos lekka bygevoeg. Geen taal behoort aan een volk of persoon, maar die wat die taal leef en uitleef besit sy dialek. Amerika en Engeland het hul eie taal ontwikkeling maar nie een besit die taal. Die punt bly dat daar n groepering is wat nie die dialek van die huidige hoostroof Afrikaans (binnelanders ens ) , kaapse afrikaans beoefen nie. Omdat literatuur en ander tegniese ontwikkling deur… Lees meer »

Frans

As jy ‘n taal verwyder uit al die rigtinggewende instansies van skool tot in die parliament,soos die ANC dit tans doen dan bly net ‘n spreektaal oor wat dan verwater tot niks meer as ‘n mengelmoes van tale.

Dit is dus belangrik dat Afrikaanssprekende mense hul koopkrag rig op die besighede wat nog bereid is om ‘n mens in Afrikaans te bedien en nie slawe van Engels word nie.