Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak …

dirk_hermann

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, wat self ʼn oud-SR-voorsitter, raadslid en uittredende visepresident van die konvokasie van die Noordwes-Universiteit (NWU) is, het hierdie ope brief aan prof. Robert Balfour, die NWU se adjunk-visiekansellier vir onderrig en leer geskryf oor sy voorstelle oor die universiteit se taalbeleid:

Geagte prof. Balfour

Ek sien u wil die Potch-kampus Engels maak. Dit is die ou PU vir CHO met die mooi universiteitslied met sy treffende aanhef: “Gebore uit die nag van smaad”. Die nag van smaad was swaarkryjare en die opstaan ná die Anglo-Boereoorlog se puin. Mense het in hul armoede hul sente gegee om die universiteit te bou. Die ontstaan van die Potchefstroomse Universiteitskollege (PUK) was voorwaar ’n wonderdaad.

Waar die PUK uit smart gebou is, word hy toe eenvoudig gevat. Samesmeltings, transformasie en ’n nuwe Suid-Afrika was die redes daarvoor. Nou wil julle selfs die taal vat. Dit gaan nie net die taal wees nie, maar alles rondom die taal.

Dit het begin met die verandering van die naam PU vir CHO. Toe is vir ons gesê net die naam op die hek gaan verander. Die CHO sou van die hek na die hart skuif. Dit was ’n opoffering vir die behoud van Afrikaans. Dit was toe nie waar nie.

Daarna is gesê Afrikaans sal beskerming geniet deur ’n gedesentraliseerde model bestaande uit verskillende kampusse, waarvan elk op sy eie uniek is. Nou is dit ook nie meer waar nie.

Moenie bekommer nie, is toe vir ons gesê. Die PUK sal PUK bly. Nou is die woorde van die akroniem, PUK, verbode woorde.

Elke kampus in hierdie gedesentraliseerde model sou sy eie karakter hê. ’n Gesonde studentelewe, uniek aan elke kampus, sou beskerm word. Ook dit is nie meer so nie.

Tolkdienste van wêreldgehalte sou vir diegene wat in Engels wou studeer, toegang bied. Nou is dit vernederend.

Elke kampus het sy eie korporatiewe kleur gehad, so ontwerp dat dit saam ’n eenheid vorm. Daar word toe, soos telkens vantevore, gekonsulteer. Die meerderheid verwerp toe pers maar pers word die kleur. Niks van wat belowe is, het toe waar geword nie. Alles was prosesse op pad na iets anders.

En nou, nou moet Potch Engels word. Alles wat belowe is, is tot niet. Moenie bekommerd wees nie, sê hulle nou. Daar sal nog ’n plekkie vir Afrikaans wees. Dalk kan daar steeds ’n tolkdiens in Afrikaans beskikbaar gemaak word as dit prakties moontlik is. Studente mag dalk nog met mekaar Afrikaans praat, solank hulle net nie daardeur uitsluit nie.

Beste Professor, die geskiedenis toon dat ook dít nie waar is nie.

Ongelukkig is Engels die voorwaarde vir transformasie. Dit is nie die einde nie, dit is die begin.

Nou volg die eis dat die kurrikulum gedekoloniseer word – en niemand weet nog wat dit behels nie. Ander kampusse wys dat anargisme die instrument is wat gebruik word om dit te eis. Studentelewe gaan verdwyn; koshuise se name gaan verander; en tradisies gaan sneuwel. Meer sentralisering kom. Dié resep is al by ander universiteite getoets.

Radikale transformasie gaan die kodewoord word.

Die slegte nuus vir u is dat die Balfours, al praat hulle Engels, sal moet gaan. Die krokodil wat u voer, gaan u eet. Dit geld ook vir die Van Rensburgs, die Verhoefs, die Venters, die Van der Walts en vir andere. Jy kan meedoen of paai, maar die krokodil se lus is onversadigbaar.

U mag dalk opreg glo dat die NWU ’n gladde oorgang van Afrikaans na Engels gaan maak. Dit is net die taal wat verander. Studente gaan toegerus word vir die wêreld daarbuite en dit deur Engels, die wêreldtaal.

Dit is egter nie net die taal op die hek wat verander nie. Wat gaan verander, is waardes, etiek en kultuur. Die waardes wat by so ’n gedekoloniseerde universiteit oorgedra word waar laboratoriums en biblioteke brand as studente nie hul sin kry nie, is nie die waardes wat studente eendag in die wêreld daarbuite suksesvol sal maak nie.

Professor, u blaas ’n vuur aan sonder om te besef wat deur daardie vuur verteer gaan word.

Ek gaan egter nee sê. Ek gaan in geen onduidelike taal nie, nee sê. Afrikaanse sprekers is moeg vir leuens. Eers het die Grondwet ons beskerm. Toe kom die Kovsie-uitspraak. Kovsies, Tukkies, Maties. Talle beloftes en daar het niks van gekom nie.

Potchefstroom – die laaste plek waar Afrikaans as tersiêre taal in ’n openbare ruimte primêr gebruik word – is al wat oor was.

Nou wil julle dit ook wegneem. Dit plaas Afrikaans op die kampus in die laaste loopgraaf. Iets wat ’n geveg verdien. Dit het nou groter geword as die NWU. Dit gaan nou oor ’n taal wat veg vir die oorlewing van haar hoërorde- akademiese funksie wat oor ’n tydperk van 100 jaar ontwikkel is. Dit is te duur om net te laat gaan en julle het nie die reg om dit te doen nie.

  • Klik hier om jou stem by die mense te voeg wat nee sê vir ’n Engelse PUK.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Jerry ·

“Julle het nie die reg om dit te doen nie”. Die magshebbers van die tyd het inteendeel die reg om radikaal te transformeer in alle fasette van die samelewing waar ongelykheid dmv bevoorregting van n minderheidsgroep bestaan. Hierdie sogenaamde “reg” bestaan en behoort aan die wat die politieke mag het. Dit is die realiteit van gelykmaking en hoe meer n mens teen die prikkels skop hoe feller raak die aanslag. Julle inslag teen die aanslag kan nooit effektief wees wanneer julle julself telkemale in die swakker posisie bevind. Bewerkstellig eers jou posisie as onaanvegbaar voordat jy die magshebbers die stryd aanse. Die Afrikaner kan nie bekostig om aan te hou verloor nie, dit laat ons swak lyk en gee die aanslag teen die belange van die Afrikaner momentum.

Oud PUK ·

Ek verstaan Dan Kgwadi het wit studente die amfi laat verlaat (en dus uitgesluit) by ‘n sessie wat hy gedurende die verwelkoming gehad het – kan iemand bevestig?

Dit lyk my die gesindheid onder die NWU personeel is nou ‘elke man vir homself’ en posisioneer hulle nou om sonder sprak of sprook in te val onder die ‘nuwe bedeling’. Die boodskap oor die transformasie is skynbaar – “Pas in of ‘sek”

PW ·

In die kol Dirk. Ek het reeds my stem by julle s’n gevoeg. As Oud-Puk voel ek gebelgd deur die Universiteit se ruggraatlose optrede, om die minste te sê.

Eish ·

“Iets wat n geveg verdien.”
Nou het jul my aandag.
Die Simson opsie!

MJL ·

Nou wonder ek hoekom sou tolkdienste net vir die Engelse vernederend wees? Hoekom sou dit enigsins vernederend wees?

Elizabeth ·

Ek het dit al dikwels gesê: as alle Afrikaanse individue en besighede wat die PUK befonds, dreig om hulle befondsing te staak (en dit ook doen) as die PUK Engels word, wil ek graag sien wie die geagte Bestuur se salarisse, bonusse en ander voordele gaan betaal! Ook prof. Balfour s’n.

Patriot ·

Weet jy, ek dink dat sommige mense bitterlik jaloers is. Jaloers is op wat die Afrikaner al vermag het. Ons het gekom in 1652 ja, baie het gevlug hierheen met die Franse Rewolusie. Hier was niks. Ons het `n nedersetting begin en ontwikkeling gebring. Toekom die Engelse, en die Groot Trek volg, die oorlog, konsentrasie kampe en afgebrande plase. Ons het opgestaan, weer begin. Depressie gehad. Tog het ons taal en volk gegroei. Nooit gestagneer nie. Ons taal ontwikkel elke dag soos tegnologie vorder. Ons skep nuwe woorde, en vergeet nooit die oues. Nou kom afgunstiges en wil dit vat. Hier kom `n taal, kultuur, geskiedenis en land rewolusie, want ons kan ook maar net so lank stilbly !

Basson ·

Korrek Patriot, dis is inderdaad ‘n drastiese verarming en ‘n agteruit-boerdery van die standaard wat ons deur baie opofferings op vele terreine bereik het.

Casper Labuschagne ·

Dankie hiervoor Mnr Herman. Die eintlike agenda is egter nie om die kampus soseer Engels te maak nie, as wat dit is om elke sweempie van Afrikaans en herkoms en kultuur van die Afrikaner uit te vee nie.

Die harde werklikheid is dat ‘n offer gemaak moet word aan die gedierte van populisme om hul dors na vergelding te bevredig. En daardie bloedoffer is Afrikaans, die minderheidsregte van Afrikaners en die grond van hoofsaaklik Afrikanerboere. So ‘n offer mag sekerlik nog ‘n dekade se bestendigheid verseker vir die geldmag om in SA te belê en geld te maak. Ons minderheid, ons taal, kultuur en eiendom is heeltemal so besteebaar as pionne op hierdie skaakbord waar Ramaphosa die skuiwe maak en waar die geldmagte wat hom so ruim befonds die toutjies trek.

Ons stryd sal vorentoe gaan om blote oorlewing oor die kort termyn en ons voortebestaan oor die lang termyn.

Ek sou bitter graag eerder wil hoor dat iemand sê, ek is verkeerd – maar dit hoor ek glad nie.

Mike Olwagen ·

Het die DA enigsinds hierteen teenstand gebied?
Stuur hulle ook in hulle se peetjie in. Afrikaners moet hulleself begin vertrou en ophou om agter “vreemdelinge” aan te hardloop. Dis van “liggelowigheid” dat ons nou in hierdie posisie is. Die grootste klomp snert wat ek nog gehoor het is. “Jy is ‘n draadsitter” as jy nie nie stem nie. Jy stem uit beginsel nie as deel van getalle soos die DA wil he jy moet wees nie. As jy stem moet jy die uitslag aanvaar. As jy nie stem nie gaan dit nie die uitslag verander nie maar ten minste verkrag jy nie jou gewete in die proses nie. Hou op om agter vreenmdelinge aan te hardloop. Hou op om net ‘n nommer te wees. Weerhou jou stem dis jou demokratiese reg. What will happen in this country will happen….Jou stem gaan dit nie keer nie!

Boerboel ·

Jy hoef nie vir die DA te stem nie, hulle gebruik ons net, maar jy kan VF plus stem. Dit is beter om vir n klein te stem wat jou belange op die hart dra as om buite stemming te bly. As jy nie stem nie mag jy nie kla nie. Dis ons plig om te stem vir ons belange. As nie een party jou belange op die hart dra nie hoef jy nie te stem nie, maar met ons kiesstelsel tel elke stem.

Casper Labuschagne ·

@Mike, Die DA se stilte in die proses rondom die val van Afrikaans, is oorverdowend. In my ondervinding is dit egter haas onmoontlik om persone wat DA stem te oorreed dat hulle fouteer, as hulle eers daardie bloukoeldrank van die DA kultus gedrink het “dat die DA vir SA gaan red van die ANC,” is dit verby.

Cornelius Frylinck ·

Ek is ‘n student by die NWU en ek voel dat Potch kampus net so afdraende sal gaan soos die ander kampusse het as Afrikaans weggevat word. Die Afrikaanse studente kyk mooi na die kampus en volg die reëls omdat hulle weet dat daar geen ander plek is wat in Afrikaans klasse gee nie. Daar is baie Engelse kampusse so los net die een vir ons Afrikaans!

Reti ·

Ek het op Tuks geswot maar my kinders Pukke toe gestuur, so ook baie van my vriende wat in Pretoria, o ekskuus Tswane, geswot het. Vit Afrikaans. Nou gaan ek ook my voet neersit. Genoeg is genoeg. Ek sal my ToiToi skoene aantrek met al my tools wat nodig is. My politieke korrektheid neem nou ook die wyk. Nee wat. Demmit.

Siek en sat ·

Sal maar soos hulle maak. Toi toi en verniel tot ons ons sin kry. If you cant beat them join them.

Henko Pienaar ·

Hierdie gaan suiwer net oor die Afrikaner se identieit af te breek. Val die taal en kultuur van die jeug aan. Die jeug het geen identiteit nie en jy het hulle oorwin. Dit is die plan van hulle. Hulle wil ons heeltemal afbreek en alles wat ons het vernietig.

Erhard ·

Nou hoe stel jy voor bewerkstellig ons daardie onaanvegbare posisie?

Jan Booysen ·

As ʼn oud Kovsies weet ek hoe dit voel as jou UV en howe besluit dat jou taal nie meer op die kampus gebruik gaan word nie – ontstig verslae, woedend en gestroop ens ens. Net ʼn vraag, het dit nie miskien tyd geword om eerder al ons kragte, tyd en geld daaraan bestee om Akademia en Soltech uit te bou toe die beste en grootste Afrikaanse akademiese instellings in die RSA nie? Want soos genoem is NWU die laaste Afrikaanse UV maar vir hoe lank. Ek weet dit is seker ʼn teer saak maar ek is oortuig daarvan dat so ‘n aksie oorweldigende positiewe reaksies en bydraes sal ontlok en dit buite die dampkring van die anti-afrikaanse faksies in ons samelewing wat om elke hoek en draai Afrikaans wil te na kom, sal plaasvind. Kom ons gebruik alles wat ons het om ons eie uit te bou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.