Ek was ook by die beraad oor sosiale samehorigheid in Kliptown

Lesers het waarskynlik via die media kennis geneem van die beraad oor sosiale samehorigheid (Social Cohesion Summit) wat op 4-5 Julie 2012 in Kliptown, Soweto aangebied is. Die simboliek van die geleentheid, naamlik dat die plek is waar die Vryheidsmanifes (Freedom Charter) in 1955 onderteken is, is baie pertinent onder ons aandag gebring en ek was aanvanklik bekommerd dat dit weer in ’n ANC-propagandasessie sou ontaard. Op die eerste dag was politieke uitsprake deur persone soos president Zuma en van sy ministers, soos die minister van Buitelandse Sake Dlamini-Zuma, en die minister in die presidensie, Collins Chabane, nogal ontstellend en het dit voorgekom ons word weer in kampe ingedeel: ryk en wit aan die een kant en arm en swart aan die ander kant. Soos die dag gevorder het, het daar darem ook stemme van redelikheid na vore gekom, soos van die Nasionale Beplanningskomitee se Joel Netshitenze en Mike Muller. Dit het my hoop gegee dat ons wel dalk iewers met die beraad sou kon kom.

Ek gee hier onder so ’n paar van my indrukke oor die beraad weer:

  • Die plek (Kliptown en spesifiek by die Walter Sisulu-plein) mag wel simbolies wees, maar dit was nie ’n vertoonvenster van effektiewe bestuur nie. Daarvoor was die gebou en die omgewing rondom bloot te vuil, die toilette onvoldoende en onversorg, die kosreëlings ietwat chaoties. Op die tweede dag was die tolkreëlings werklik onbevredigend en dit het mense aan bande gelê om deel te neem.
  • Die mense het uit ’n wye spektrum gekom: van links na regs. Dit was omtrent die plek waar prominente ANC-lede (ek het 14 ministers daar getel) en ander hooggeplaastes sigbaar was en natuurlik ook mense uit ander geledere, soos vakbonde, kultuurgroeperings, organisasies, e.s.m.
  • Die president het die verrigtinge op die eerste oggend vertraag deur meer as ’n uur laat op te daag. Van die beraadgangers was besonder ontsteld hieroor en in die wegbreeksessie waar ek die tweede dag was, is daar sterk kapsie gemaak teen sy manier van doen. Een afgevaardigde het gesê dat hy blatant haar en ander mense se tyd gemors het. As sy betyds kon wees, kon hy dit des te meer wees. Dié opmerking het ’n groot gejuig ontlok wat sprekend is van ’n gesindheid van frustrasie oor ampsdraers se ignoreer van basiese ordentlikheid en stiptelikheid.
  • Ons is die eerste dag behoorlik toegespreek deur dese en gene: van president Zuma; premier Heleen Zille (wat haar toespraak in drie tale gegee het); Bantu Holomisa van die UDM,  verteenwoordigers van die PAC, COPE, IVP, Vryheidsfront Plus, AZAPO, ACDP; ministers Paul Mashitele, Dlamini Zuma, Jeff Radebe, Collins Chabane; vakbond- (COSATU, FEDUSA, NACTU, Solidariteit) en sakeleiers (Stigting vir Menseregte, Erfenisstigting, Legal Resources Centre, e.s.m.). Dit was wel opvallend dat die meerderheid sprekers myns insiens te verteenwoordigend was van die ANC/Regering se denkrigtings en dat talle ander stemme wat daar moes gewees het, soos die ATKV, nie genooi is om die beraad toe te spreek nie. Ek het ’n redelike eensydigheid in die proses ervaar.
  • Toe dr Corné Mulder van die Vryheidsfront Plus gepraat het oor die marginalisering van minderheidsgroepe, is hy deur van die afgevaardigdes uitgelag. Gelukkig het een van die ministers later in ’n sessie gewys op die onverdraagsaamheid wat dit weergee.
  • Die tweede dag se sessies het meer konstruktiewe gesprekke opgelewer en in die sessie waar ek was (oor nasionale identiteit en eenheid aan die hand van taal, kuns en kultuur, godsdiens, waardes, simbole, sport en rekreasie) was daar sprekers wat hulle sterk uitgespreek het oor sake, soos naamsveranderinge, die gebrek aan deurvoer van planne, swak regering, gebrekkige dienslewering, gebrek aan deursigtigheid, die verkwisting van belastingbetalers se geld, en ook ander sake. Ek verneem daar is in die ander sessies ook by tye hard en reguit gepraat oor die nienakom van beloftes.
  • By nabetragting het daar wel ’n duidelike tema na vore gekom: dat daar gepraat moet word met mekaar; dat ons waarlik moet luister na wat ons landgenote sê; dat ons na mekaar sal moet uitreik; dat ons na SuidAfrikanerskap moet strewe (sonder om jou uniekheid prys te gee); dat ons ons diversiteit moet koester, maar ook in die groter belang van die land moet saamsnoer om saam ’n nuwe toekoms te bou. Die openhartigheid van die gesprekke bied hoop en dit het my moed gegee dat ons dalk tog wel êrens kan kom met mekaar, dat ons uiteindelik tog mekaar sal kan respekteer en die vryheid gee om te wees wat ons vir onsself gun.
  • Dit is nog ’n lang pad wat vir ons hiervoor voorlê, maar die begin is ten minste gemaak. Ek sal ook verdere toekomstige geleenthede wil bywoon om daar te illustreer dat Afrikaanssprekers tog ’n konstruktiewe rol in hierdie land te speel het.
  • Vir my persoonlik was dit ’n netwerkgeleentheid wat ek in die belang van Afrikaans kon benut. Ek kon met mense praat met wie ek andersins nie in gesprek sou kon tree nie. Dit is ’n groot wins op sigself.

Dus: Kom ons gee die proses ’n kans om te ontwikkel en eers as dit dalk niks oplewer nie, dan kan ons ook deel van die koor van protes word.

Klik hier om die dokument(e) van die beraad te lees.

 

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Wannie Carstens

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

H J Bester ·

Alhoewel die Kliptown-beraad maar net weer die oorwig na die een kant toe gehad het en eensydigheid duidelik aanwesig was, moet enige geleentheid tot gesprek nooit gering geskat word nie. Daar is is niks so heilsaam soos gesprek nie en alhoewel dit soms nutteloos voorkom en daar blyk nie begrip te wees vir wedersydse standpunte nie, lewer dit tog na alles positiewe resultate. Die alternatief is konflik en spanning wat net groter raak en self kan lei tot geweld.

Hou dus aan Prof Wannie met gesprek en gebruik elke geleentheid om dit te voer. Telkemale word saadjies van begrip vir standpunte gekweek wat uitmond in sodanige verstaan van mekaar dat ruime geskep vir mekaar geskep word.

Ebert ·

Daar is ‘n paar interessante opmerkings in die skrywe wat my opval.

Eerstens die toestand van Kliptown. Hierdie wieg van die ANC toon duidelik aan watter prioriteite die beginsels van orde, netheid, estetiese voorkoms en funksionaliteit vir die regering is. Die wyse waarop hy sy heimat hanteer spreek boekdele van die toekoms wat hy vir die land inhou. Oor 50 jaar gaan die land onder meerderheidsbeheer Kliptown verteenwoordig, want Kliptown verteenwoordig dit wat belangrik is.

Tweedens die stryd van menings. Dit is inderdaad bemoedigend dat die Nasionale Beplanningskomitee ‘n stem van redelikheid verteenwoordig. Wat neerdrukkend is dat daardie komitee gevorm is om Trevor Manuel besig te hou terwyl dit oor geen uitvoerende vermoë beskik nie. Dit is die presidensie en ministeries soos Buitelandse Sake wat oor die begrotings beskik wat uiteindelik die land vorm.

Derdens die onverdraagsaamheid jeens minderhede. Die voorstel om ‘n ministerie vir minderhede tot stand te bring is konstruktief en in lyn met die beste internasionale praktyke waar lande soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada en die Europese Unie hulpbronne opsy plaas om seker te maak dat minderhede inspraak in hul belange geniet. Dat die voorstel afgelag is teken ‘n prentjie wat dit duidelik stel: minderhede is op hulself aangewese en kan nie simpatie van die regering verwag nie.

Vierdens die beginsel van praat. Dit is bemoedigend dat daar geleenthede vir praat is, asook dat daar redelike stemme is (al is daardie stemme impotent). Dit gee ten minste vir diegene met ‘n voorkeur vir praat iets om hulle mee besig te hou. Die Afrikanisering van Suid-Afrika sal te midde van goeie dialoog plaasvind. Tog; deur te praat word gemoedere kalm gehou en radikale optrede vertraag.

Wat leer ek hieruit? Praat is baie belangrik, want dit skep die ruimte vir doeners om te kan bou, maar die nood was nog nooit groter as nou om moue op te rol en te help bou aan die instellings wat my en my nageslag se Afrikaanse toekoms in bewaring gaan neem nie.

Watter instellings is die instellings wat hulle beywer vir minderheidsregte? My lys is waarskynlik nie volledig nie, maar die prominentste lede van hierdie beweging onder Afrikaners is die Solidariteitbeweging (groeiend – ‘n doener), die Orania Beweging (groeiend – ‘n doener), die FAK (besig om weer sy voete te vind – van prater na doener), die Voortrekkermonument en Erfenisstigting (‘n doener), die Vryheidsfront Plus (‘n prater) en onafhanklike Afrikaanse skole met die BCVO as vernaamste rolspeler (groeiend).

Daar is ook die organisasies wat poog om die verlies van aansien van Afrikaans te stem. Hulle sluit in die Voortrekkers (doeners), die Afrikanerbond (praters), die ATKV (doen vakansie-oorde en praat), die Afrikaanse Taalraad (praters), die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (doeners) en Afrikaanse Kerke (doeners).

In hierdie opgaaf lyk dit of Afrikaans baie beter daaraan toe is as ander minderhede reg oor die wêreld heen. Daar mag nou op ons getrap word, maar ons gaan nie stil lê nie en ons is reeds besig om vir ons ‘n toekoms uit te kap. Hierin lê my toekomshoop.

In hierdie stryd – die stryd van die opkomende geslag – is ons self, ander minderhede in Suid-Afrika, simpatieke groepe buite Suid-Afrika en verantwoordelike regerings (wat ongelukkig Suid-Afrika sin uitsluit) ons belangrikste bondgenote. Soos Gary Player dit gestel het (my eie woorde): Hoe meer ek doen, hoe groter word my geluk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.