Ek was ook een van die 70

Afgevaardigdes wat die gesprek met die ANC bygewoon het. Foto: Gallo Images

Die eerste paragraaf in my vorige blog herhaal ek hier aan as vertrekpunt vir wat ek vandag wil sê:

Afrikaans is nou eenmaal nie vir sissies nie, kan ek getuig. Die weeklikse woelinge rakende Afrikaans maak dat baie mense moeg word vir die ‘stryd’ en hulle dan onttrek, dikwels met ’n gemor en skree van die kantlyn af. Mense wat soos ek by die prosesse oor Afrikaans betrokke is, raak natuurlik ook moeg en soms ook moedeloos, maar ons durf nie moed opgee nie – daar is bloot te veel vir Afrikaans op die spel. Ons taak is om hoop te gee vir Afrikaanssprekendes, hoop dat Afrikaans sal voortbestaan, dat Afrikaans ’n vaste plek in hierdie land het, dat die Afrikaanse gemeenskap onontbeerlik vir die ekonomie van die land is, dat die lede van die Afrikaanse gemeenskap op grond van hulle kundigheid ’n enorme rol speel om die land se prosesse en strukture aan die gang te hou, dat ons nie gaan toelaat dat ons eenkant toe geskuif word nie, dat ons hier is om te bly.

Ek verwys in die besonder na die volgende sin uit die paragraaf hier bo: “dat die lede van die Afrikaanse gemeenskap op grond van hulle kundigheid ’n enorme rol speel om die land se prosesse en strukture aan die gang te hou”.

Dit is om hierdie rede dat ek op 8 Mei 2012 een van die ‘groep van 70’ was (soos die media ons gou gedoop het’) wat in gesprek getree het met senior bestuurslede van die ANC. Uit ’n paar oorde is ons gekritiseer omdat ons met die ANC praat, omdat ‘hulle rekord van prestasie en lewering so swak is’. En dan praat ek nie eens van die ‘nakom van beloftes’ by vorige geleenthede nie. Is dit dan rede om so ’n geleentheid te laat verby gaan?

Ek glo van nee. Ek praat graag met enigeen wat oor Afrikaans en die Afrikaanse gemeenskap met my wil praat – juis omdat ek dit doen, is ek onlangs ’n ‘taalprostituut’ genoem (nogal deur ’n goeie vriend!). Dit is ’n etiket waaroor ek nie te sleg voel nie. Ek probeer ten minste geleenthede vir my taal skep en staan nie van die kantlyn en kritiseer die hele tyd nie. Ek en Michael le Cordeur van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is al maande ‘agter die skerms’ besig met gesprekke met senior ANC-besluitnemers oor hoe die voorgestelde taalwet die vrese van Afrikaanssprekendes kan besweer. Die feit dat ons dit gedoen het met oortuiging en integriteit, het wel daartoe bygedra dat in ANC- en regeringsgeledere daar belangrike aanpassings gekom het waarmee ons as gemeenskap kan saamleef. Ons is teleurgestel dat ons voorstel van vier in plaas van drie tale nie aanvaar is nie, maar ons gaan aanhou om dit te probeer regstel. Dit is tog ’n konkrete bewys dat positiewe gespreksdeelname wel ’n uitwerking kan hê op die uitkoms van prosesse.

Die 19 Afrikaanse en Afrikanerorganisasies het inderdaad ’n breë spektrum ingesluit: van kerklike kringe tot landbou-, kultuur-, taal- en wetenskapskringe. In die laasgenoemde verband was ek daar as die voorsitter van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. In my spreekbeurt van drie minute het ek die volgende gesê:

  • Afrikaans het ’n diverse sprekersgemeenskap – moet ons nie in blokkies gaan sit soos “Afrikaners” vs. die res nie. Ons is ’n inklusiewe gemeenskap en kyk so na ons.
  • Ons verwelkom die versekering dat SA aan almal behoort wat hier bly.
  • Ons is hier om te bly. Ons gaan nêrens nie.
  • Ons wil deel van die oplossing wees – en nie net as deel van die probleem beskou word nie.
  • Ons maak ons beste bydraes in die taal (Afrikaans) wat ons die naaste aan die hart lê.
  • Gun ons daardie reg en dan sal julle sien hóé groot ons bydraes werklik is.
  • Ek bied die gesamentlike akademiese en wetenskaplike kundigheid van die bykans 1 000 lede van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns aan in die belang van die oplos van die talle probleme wat daar in SA is: ’n onderpresterende onderwys- en opleidingstelsel, ’n vervallende gesondheidsorgstelsel, ooglopende korrupsie, misdaad, die grondkwessie, sekuriteitskrisisse, gebrekkige dienslewering, verval in munisipaliteite, ens. Met die oog hierop het ek werksgroepe voorgestel van kundiges uit die aanwesiges organisasies wat gewillig is om te help om dit aan te pak. Hierdie voorstel is ook so aanvaar.
  • Ons kan help om dit op te los, maar betrek ons net by die proses om die oplossings te bedink en in werking te stel.

Uit die terugvoer uit ANC-kringe word hierdie benadering verwelkom. Dr Mathews Phosa het aan die einde ook gesê dat hulle van hierdie aanbod (en ook van ander organisasies s’n) gebruik gaan maak in die toekoms. Dit is tog vordering, of nie? Die belofte om elke ses maande te praat (en die erkenning dat die ANC die Afrikaanssprekendes sedert 1994 afgeskeep het) is tog ook vordering omdat ons werk met mense en veral met die gesindhede van mense.

Kom ons gee dit ’n kans en eers as dit dalk (weer?) niks oplewer nie, dan kan ons ook deel van die koor van protes word. Tot dan praat en doen ek vir Afrikaans wat ek kan binne die kringe wat ek kan beïnvloed. As dit my ’n taalprostituut maak, dan is dit in orde so.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Wannie Carstens

Prof. Wannie Carstens is direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, voorsitter van die Suid-Afrikaans Akademie vir Wetenskap en Kuns en waarnemende ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalraad; en betrokke by meerdere ander organisasies ter bevordering van Afrikaans.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herman Fyfer ·

Geagte prof. Carstens,ek waardeer dit geweldig dat u veg vir Afrikaans vanuit u stoel agter die lessenaar maar ongelukkig werk dit nie so met die ANC nie. Solidariteit weet al teen die tyd hoe die ANC regering se koppe werk en dit is die rede hoekom hulle wegbly,want dit is tydmors.Ek kannie onthou dat ek u of enige van die ander persone in die groep van sewentig, met n plakkaat in die hand, in die strate gesien het besig om die Afrikaner se saak te stel nie.Ek hoop u en die ander 69 persone het n aftrek order geteken om Afri- forum se finansieele kostes te help dek wanneer hulle veg vir ons toekoms in die howe.Hoeveel keer het u al kos gaan uit deel by arm Afrikaners in plakkerskampe rondom Pretoria en hulle elende eerste hands aanskou!Praat help nie meer nie,dade maak wel n verskil soos wat Solidariteit al talle kere bewys het.
Ons is moeg vir witboortjie Afrikaners wat net wil praat en nie hul hande wil vuilmaak nie.U weet netso goed soos ek dat indien ons die maatskaplike probleme in die land wil oplos moet daar kundige Afrikaners in die poste aangestel word.
Ek hoop ten harte u en die ander 69 persone se aftrek orders om aan Solidariteit te behoort is geteken en dat u Sondag sal kos uitdeel by behoeftige Afrikaners.Indien daar dan nog tyd is sal dit ook waardeer word indien u sal help om n paar skooltassies te skenk of te pak. Dit is die verskil tussen doen en praat,so ek hoop om n paar van die 70 praters se gesigte by die howe te sien wanneer daar gedoen word vir die Afrikaner.
Weskus groete
Herman Fyfer

Mike ·

Herman ek kan net met jou saamstem. Jy weet wat hierdie politici nie verstaan nie is dat die mense op die grond, verandering in sy daaglikse bestaan wil sien. Hierdie skrywe van Wannie Carstens beteken vir die mense in die plakkerskamp NIKS. Afrikaner politici wil ons bly wysmaak dat jy ‘n olifant (ANC) met ‘n veertjie kan omslaan. Dit kan nie gebeur nie en dit sal ook nie gebeur nie en dit is hoekom baie afrikaner nie meer belangstel in die politiek nie en eerder die land verlaat.

Ander afrikaners het besluit ‘n volkstaat is ‘n beter opsie en dit is ook wat ek dink. Die taal geelwortel wat voor die neuse van afrikaners gehou word om deel te neem aan die politieke prosesse dra nie meer water nie. As jy na die geval kyk waar ‘n dagmoeder en ‘n vyf maande oue baba wreed vermoor is, wat sou die taal of enige onderhandeling van 70 afrikaner politici haar of die baba gehelp het?

Ek dink nie dat politici soos Wannie Carstens die werklikheid van afrika politiek verstaan nie. Suid Afrika neem al hoe meer die politieke styl van die Zimbabwe’s en die Kongo’s aan en dit kan net vinniger vorder as jy die duisende vlugtelinge oor ons grens in ag neem, en wat nog boonop hier ‘n beter lewe op ‘n skinkbord aangebied word. In afrika is die sterkste die leier en die swakere word getrap. Tot sover is op die afrikaner getrap want sy swak leiers probeer met petisies ‘n ANC regering oortuig, iets wat natuurlik vir die swartman niks beteken nie.

Nee wat Wannie Carstens julle leuenstoel politici oortuig die afrikaner nie meer nie, om deel te bly van ‘n glyende staat sal die afrikaner net langer vat om weer te herstel tot waar hy was voor die NP hulle van hulle internasionale reg op selfbeskikking gestroop het. Die vry afrikaner kan iets wys wat hulle uit niks opgebou het soos Orania, al wat julle kan wys is ‘n mislukkende staat waaraan julle vasklou vir eie aansien.

Mike ·

Ek moet darem net by my skrywe byvoeg dat ek meer respek het vir ‘n Oranier wat die werklikheid kan insien en wat bereid is om sy moue op te rol. As jy Wannie Carstens logiese antwoorde soek op afrikaner probleme en werklikheids politiek wil bedryf lees Sebastiaan Biehl se skrywes hier. Dit is wat die afrikaner op die ou einde sal red uit sy NP gemaakte verknorsing en nie petisies of verkiesings nie.

H J Bester ·

Ek stem saam met prof Wannie, gesprek en nogmaals gesprek was nog altyd heilsaam en dra by tot wedersydse begrip en verstaan van mekaar. Dankie vir jou onvermoeide ywer vir die saak van Afrikaans.

Ek woon in ‘n buurland waar Afrikaans nie amptelike status geniet nie, maar nogtans gedy danksy die uitreik van die Afrikaners na anderstaliges wie behae daarin vind om Afrikaans te gebruik en dit as ‘n alternatiewe taal gebruik. Die bevordering van Afrikaans, ten spyte van vele ongunstige faktore, is tog moontlik.

Aan Mike, ten spyte van jou kritiek teenoor prof Wannie Carsten oor sy keuse om steeds gesprek te voer ongeag die oënskynlike vermorsing van tyd, net ‘n vriendelike teregwysing daarop dat die vestiging van ‘n volkstaat net moontlik is by wyse van onderhandeling. Met wie gaan daar onderhandel word ?

Mike ·

H J gesprekke wat tot dusver gevoer is met die ANC van voor nog 94 het geen invloed gehad op die duisende moorde op afrikaners in SA sedert 94 nie. Dit het ook geen invloed gehad op die huidige aftakeling van ons kultuurgoedere of ons taal nie. Die ANC het ‘n slim plan waarvoor afrikaner politici al vir jare swig en dit is om net aan te hou praat en die afrikaner valse hoop te gee.

Die afrikaanse taal alleen gaan nie die afrikaner red van uitwissing of totale ondergang nie, dit is die maklikke pad om te kies as jy die afrikaner aan jou kant wil hê. Al bly daar een afrikaner in SA oor sal die taal gepraat word, wat belangrik is is om te sorg dat daar meer as een afrikaner oorbly sodat die taal en sy kultuur kan gedy. Op hierdie staduim gaan die aanslag op die afrikaner voort met moorde, grondeienaarskap, skole, uitwissing van kultuur ens. Dit sal alleenlik gestop kan word met selfbeskikking en op geen ander manier nie. Wannie Carstens en die DA se beleid is natuurlik nie selfbeskikking nie.

Daar sal natuurlik onderhandelinge met die regering moet plaasvind oor selfbeskikking, dit is tog logies maar waaroor wil Wannie Carstens onderhandel, oor taal. Wat sal Wannie Carstens vir die duisende afrikaners wil sê wat al sedert 1994 in SA vermoor is jammer maar die taal is belangrikker as jou lewe? Die afrikaner stel nie meer in hierdie tipe nuttelose gepratery belang nie, hulle soek ‘n langtermyn oplossing en hulle reg op selfbeskikking. Die probleem in afrikaner geledere is, hulle het nie sterk leiers wat die ANC kan aanvat oor dit wat regtig saak maak nie, dit is asof hulle bang is vir die ANC regme.

Ek het gestem van lank voor 94 af, ek het deelgeneem waar ek kon, en wat het ek vandag daarvoor gekry, ‘n ellendige land waaruit afrikaners vlug en ander uitgemoor word. Die rede vir hierdie situasie is swak leierskap van Dr Verwoerd al af. Nou kom hierdie mense wat hulleself leiers noem en hulle wil hê ek moet aanhou stem om te onderhandel oor taal asof dit al is wat nog oor is om oor te onderhandel. Nee dankie! Selfbeskikking of niks sodat ons weer dit wat ons reg is kan terugkry.

H J Bester ·

Mike, jou en die volkstaat-voorstanders se vuurdoop lê voor dié dag wanneer julle begin onderhandel oor die vestiging van die volkstaat want dit sal nie plaasvind in ‘n baas-kneg verhouding nie. Dit sal taaie en sielswroegende onderhandelinge wees wat baie energie, insig en geduld sal verg. Moontlik sal die waarde van ‘n Wannie Carstens se eertydse gesprekke asook vele ander gesprekke wat op ander vlakke plaasgevind het, besef word.

Dit is vir my duidelik dat jy nog nooit werklik gesprek gevoer of onderhandel het met andersdenkendes of anderskleuriges met die bedoeling om voordeel vir jouself te beding nie. Wanneer jy in so ‘n situasie kom, sal jy besef dat jy ‘n gans ander benadering sal moet kweek. Begin reeds nou om gesprek te voer of te onderhandel want dit sal jou taak, wanneer meer gewigte sake aan die orde kom, makliker maak.

My raad is beskeie maar ek vertrou jy volg dit van harte. – ek spreek uit harde ervaring.
Voorspoed Mike.

Mike ·

H J ek lei af uit jou skrywe dat jy nie ‘n voorstander is van selfbeskikking nie. Onderhandeling sal nie plaasvind vanuit ‘n “baas kneg” verhouding nie, die onderhandelaars sal hoogs inteligente mense wees wat deeglik bewus is van die internasionale vereistes vir selfbeskikking en ook die SA grondwet wat daarvoor voorsiening maak, iets wat jy nie uit die oog moet verloor nie.

Op hierdie staduim word daar reeds met internasionale bondgenote vir die afrikaner se saak gesprek gevoer op ‘n informele basis, iets wat sekerlik nie almal van bewus is nie. Wat ook belangrik is soos ek reeds genoem het, is dat die SA grondwet wat ook deur die ANC respekteer moet word voorsiening maak vir selfbeskikking. Ek verstaan dus nie hoe jy kan verwys na ‘n “baas kneg” verhouding nie.

H J ek verstaan hoe afrika dink en doen ek het ookal self baie met hulle te doen gehad, maar selfbeskikking soos deur die VN bepaal is ‘n reg en nie ‘n voorreg nie, dit kan nie van ‘n organisasie soos die ANC afgesmeek word nie. Dit gaan sekerlik nog tot ‘n baie netelige saak binne SA ontwikkel en die ANC kan dit laat ontaard in ‘n rassistiese debat wat die moontlikheid het om geweldadig te raak, of hulle kan die SA grondwet en die internasionale volkereg in ag neem en dit vreedsaam oplos.

Dit gaan hier oor vryheid waaroor baie volke wereldwyd bereid is om oorlog te maak. As jy die huidige vlaag moorde op blankes in SA in ag neem kan een insident die land in ‘n kruitvat verander. Jy praat self van hoe moeilik dit is om met afrikane te onderhandel, wel dit is hoekom ons selfbeskikking alleenlik as die oplossing sien as aanhoudende vrugtelose gesprekke. Maar dit is nie alleen wooroor ons eis gaan nie, dit gaan suiwer oor ons reg op onvoorwaardelikke selfbeskikking in ‘n eie grondgebied.

Vir my is die logiese oplossing vir SA se politieke probleme, die afrikaner en ander volke se reg om hulleself te regeer. Ek verwag dat daar in die toekoms nog baie probleme op die politieke terrein op SA wag, wat nou gebeur is maar net die begin.

H J Bester ·

Mike, sou ek ‘n Suid-Afrikaanse burger wees en met inagneming van die huidige situasie ingevolge waarvan die blankes en in besonder die Afrikaner redelik ernstige verguising van die ANC-regering verduur, sou ek ook smag na selfbeskikking. Hier in Namibië waar ek woon, is selfbeskikking net nie moontlik nie maar gelukkig verduur ons ook nie naastenby dieselfde mate van emosionele uitputting as ons volksgenote in Suid-Afrika nie. Dit net terloops.

Die feit dat die Afrikaner, as etniese groep, via die Freedom Front Plus reeds deur die UNPO (Unrepresented Nations & Peoples Organisation) erkenning geniet, is reeds beduidend maar moet onthou word dat die UNPO tans sowat 47 groepe wêreldwyd verteenwoordig. Elkeen van hierdie groepe se omstandighede is in ‘n groot mate uniek en verg intensiewe aandag en moet in alle gevalle by wyse van onderhandelinge bygelê word. En alhoewel daar wel sukses behaal is met selfbeskikking vir enkele groepe, is dit ‘n langsame proses.

Laastens is dit ook so dat getallekonsentrasie in een gebied ‘n voorvereiste vir ‘n selfbeskikking of’t wel ‘n tuisland is want regte van ‘n minderheid moet ook deur die minderheid self geimplementeer kan word in ‘n geografiese gebied. Tans is die Afrikaners versprei oor die ganse RSA en kan Orania hoegenaamde nie geklassifiseer word as ‘n getallekonsentrasie nie. Verder sal die voorgestelde tuisland wat groot gedeeltes van die Noord- en Weskaap tot teen die Weskus insluit, onderhandel moet word.

Ek volstaan met wat ek voorheen vermeld het naamlik dat onderhandelinge tydsaam en sielswroegend gaan wees maar dat daar gewis geen ander metode tot selfverwesenliking is nie. Om dus nou reeds ‘n aggressiewe en aanvallende houding in te neem teenoor die landsregering en selfs Afrikaners wie nog nie heeltemal ingekoop het in die gedagte van selfbeskikking, kan fataal wees en die hele poging verongeluk. Groot geduld sal aan die dag gelê meot word. Maar belangrikste, en dis waarskynlik die grootste uitdaging, is om die Afrikaners saamgesnoer te kry. Werk dus eers hieraan en is die res dalk moontlik makliker.

Voorspoed met enige aksie.

Mike ·

HJ ek is bly jy besef dat die enigste opsie vir die afrikaner om te oorleef is om oor sy eie toekoms te kan besluit. Net jammer die DA waarvan Wannie Carstens lid is besef dit nie, en dit maak ook dat die proses om selfbeskikking te kan bereik ‘n lang en uitgerekte proses kan raak. Die DA kan nog heel waarskynlik die proses probeer kelder omdat dit hulle blanke ledetal kan raak. Die DA reageer nie graag op skrywes wat handel oor afrikaner selfbeskikking nie, dit is hoekom W Carstens nie hierop sal reageer nie.

Dit is dan ook waar die aanvallende houding jeens hierdie mense vandaan kom. Afrikaners raak in toenemende mate frustreerd met die toestand in SA, veral met die toenemende moorde soms op babas en bejaardes. Die ANC regime kan dalk die selfbesluitnemings-proses vertraag deur ‘n afsydige houding maar dat hulle dit kan stop is nie eers ter sprake nie.

Ek glo natuurlik dat al hoe meer afrikaners aan die einde van die dag sal besef dat daar geen ander opsie as selfbeskikking is nie maar dit sal nog ‘n paar jaar duur veral met ‘n onvriendelikke media wat net op sensasie gerig is. Dit maak dit vir my ‘n uitdaging om afrikaners oor hulle internasionale reg in te lig en hulle daarop te wys dat selfbeskikking vir hulle kinders ‘n toekoms bied.

Dit is dan waarom ek ook Wannie Carstens sal aanvat omrede hulle nie ‘n langtermyn plan aan die afrikaner bied nie. Die DA en ook ander afrikaner organisasies wil op ‘n eenvoudige manier die afrikaner aan hulle kant kry deur die regering te probeer teengaan met die verandering aan straatname of dorpsname of die afrikaanse taal, wel daar is talle straatname in Pretoria reeds verander. Wat ek probeer sê is, wat help dit as die straatnaam nie verander word nie maar die mense wat daarin of daar naby woon word uitgemoor? Wat help dit hulle bly in ‘n straat met ‘n afrikaanse naam maar hulle kinders het geen toekoms in die land nie?

Wat help dit om derduisende rande aan hofsake te bestee om ‘n straatnaam te behou terwyl daar honderde afrikaner kindertjies in die aande met ‘n honger magie gaan slaap, en dan word die straatnaam in elk geval verander.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.