Ekonomiese Codesa is doodgebore

Al meer meningsvormers reken dat ons ʼn “ekonomiese Codesa”, of Coecsa, vir Suid-Afrika nodig het. Die ekonomie gaan deur moeilike tye, terwyl werkloosheid en armoede ons grootste sosiale vraagstukke bly. Onder sulke omstandighede bevraagteken mense die huidige bestel en trek radikale en lawwe idees – soos nasionalisering ‒ baie aandag.

Openingseremonie van die eerste Konvensie vir 'n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa/Codesa), 1991. Foto: Graeme Williams

Die idee van ʼn Coecsa is om ʼn gemeenskaplike ekonomiese middelgrond tussen strydende belangegroepe en ideologieë in die land te vind en om dit op die een of ander manier te formaliseer – miskien in ʼn soort handves van ekonomiese regte. Baie soos hoe ons gedurende die 1990’s uiteindelik ʼn nuwe politieke bestel vir SA onderhandel het. Alhoewel ek ten gunste van so ʼn voorstel is, is ek maar skepties of ons veel gaan bereik omdat die rolspelers wat in hierdie geval sal deelneem en tot ʼn vergelyk moet kom waarskynlikheid die verkeerde rolspelers sal wees.

Die deelnemers in die Coecsa sal sekerlik die regering, georganiseerde arbeid, besigheid en die gemeenskap insluit. Buiten die gemeenskap, wat in elk geval ʼn losse, ongeorganiseerde belangegroep is, het die ander drie partye ʼn gevestigde belang om die huidige stand van sake te handhaaf. Beide georganiseerde arbeid en groot besigheid word tans grootliks teen kompetisie vanaf kleiner besighede en ongeorganiseerde arbeid en die werkloses ‘beskerm’ terwyl die regering meestal doelloos ronddobber en grootliks deur georganiseerde arbeid en ander interne belangegroepe voorgeskryf word.

Ek sê dat georganiseerde arbeid en besigheid grootliks ‘beskerm’ word deur die huidige stand van sake, want streng en beperkende arbeidswetgewing beperk kompetisie tussen georganiseerde werkers en ongeorganiseerde werkers en werkloses. Die primêre doel van ʼn vakbond is reeds om sy werkers teen die werkloses te beskerm en georganiseerde arbeid sal sekerlik nie tot veranderings instem waar hulle huidige sterk posisie ondermyn kan word nie.

Verder is groot besigheid in ʼn soortgelyke gemaklike posisie met die huidige stand van sake. Heelwat wetgewing en voorskrifte maak dit moeilik vir klein besighede om van die grond te kom en ʼn bestaan te maak, wat daarop neerkom dat groter besighede teen kompetisie van kleiner besighede ‘beskerm’ word. Die regering is grootliks in interne struwelinge gewikkel en is meer daarop ingestel om die regerende elite te beskerm as om werklike leierskap te verskaf. Die gevolg is dat diegene wat werklik ʼn nuwe bedeling nodig het, nie eers gehoor gaan word nie!

Dit lyk dus vir my asof gevestigde belange gaan verhoed dat ʼn Coecsa ʼn werklikheid gaan word – Coecsa is waarskynlik gedoem tot mislukking.

Nietemin, as ekonoom het ek dit goedgedink om ʼn lys ‘eerste-orde’ ekonomiese regte saam te stel. ʼn Lys ‘tweede-orde’ regte wat verband hou met makro-ekonomiese beleid lê nog ver in die verskiet. Hier’s my lys eerste-orde ekonomiese regte wat as basis behoort te dien in ʼn handves van ekonomiese regte:

  1. Die reg om eiendom te besit.
  2. Die reg om handel te dryf.
  3. Die reg om enige beroep te beoefen.
  4. Die reg om kontrakte aan te gaan.
  5. Die reg om arbeid te koop en te verkoop.

Die ‘houer’ van bogenoemde regte is in alle gevalle hoofsaaklik die indiwidu, wat impliseer dat groepsregte ondergeskik gestel behoort te word. Natuurlik is geen reg absoluut nie, maar sover moontlik behoort hierdie regte so min as moontlik beperk te word – waarskynlik wensdenkery!

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Dawie Roodt

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

louis.dup ·

Dawie ~

Jou helder beredeneerde artikel snap iets van ‘n grondvoorwaarde nie net van die ekonomie nie, maar van meeste fasette van historiese ontwikkeling – selfs van kinderopvoeding! :  dat die vryheid om te kompeteer meer vrugte dra as die beskerming van elités.

Mooi!

Louis du Plessis

Reint Dykema ·

Goeie rubriek. Die Kodesa sal net daaruit bestaan dat die een groep meer moet gee (myne, banke, boere ens) en die ander groep net wil hê deur nasionalisering, grondhervorming en handveste.  

Anoniem ·

Afgesien van die (goeie) punte uit teorie, sal so ‘n “Coecsa”-forum op
die oomblik baie maklik “gekaap” kan word deur streng sosialiste of deur
Afrika-nasionaliste, wat dit dan as ‘n legitieme platvorm sal kan
gebruik om swak idees deur te voer.

Ek weet nie wat so iets kwalitatief anders sal maak as die situasie wat ons tans het wat beleidsvorming betref nie…

Anoniem ·

Afgesien van die (goeie) punte uit teorie, sal so ‘n “Coecsa”-forum op
die oomblik baie maklik “gekaap” kan word deur streng sosialiste of deur
Afrika-nasionaliste, wat dit dan as ‘n legitieme platvorm sal kan
gebruik om swak idees deur te voer.

Ek weet nie wat so iets kwalitatief anders sal maak as die situasie wat ons tans het wat beleidsvorming betref nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.