Ekonomiese gevolge van oorlog op oliepryse

(Foto: Zbynek Burival/Unsplash)

Deur dr. Sandra Adendorff

Ons is almal diep bekommerd en geskok deur die oorlog wat Rusland in Oekraïne geïnisieer het. Ongelukkig is dit ʼn gebeurtenis wat ons almal op verskeie maniere raak, veral ook op ekonomiese gebied. Indien die oorlog uitgerek word, kan dit die menslike en ekonomiese tragedie net nog verder vererger.

Die narratief is een van toenemende swaarkry vir ons almal; iets wat ons in die huidige ekonomiese klimaat swaarlik kan bekostig. Rusland is benewens die VSA en Saoedi-Arabië die derde grootste verskaffer van olie in die wêreld. Daarbenewens verskaf Rusland ongeveer 40% van natuurlike gasse aan Europa. Die Opul-kartel* het tot dusver ook nie meer as die normale kwota geproduseer nie, wat beteken dat die aanbod beperk is. Dit, gepaardgaande met sanksies teen Rusland se olie- en gasuitvoere, sal nog verdere druk op pryse plaas om te verhoog.

Ongelukkig is energiebronne ʼn belangrike inset vir alle produsente en sal pryse van baie produkte verhoog. Vervoerkoste beslaan op sigself byna 15% van die inflasiemandjie. Daarbenewens sal die petrolprys ook die meeste ander items in die inflasieberekening beïnvloed. Dit beteken dat die inflasiekoers wat teen 5,7% in Januarie reeds naby die boonste punt van die teikenband van 3-6% was, nog verder sal verhoog – veral indien die oorlog ʼn uitgerekte gebeurtenis is.

Die Reserwebank sal dan weereens genoop word om rentekoerse te verhoog; ook in ooreenstemming met ander sentrale banke in die wêreld. Dit sal ieder en elk in Suid-Afrika se finansiële posisie raak en verbruikers wat nou meer vir brandstof betaal, sal dan ook verplig word om hoër rentekoste op hul skuld te betaal. Die staat wat ook in ʼn benarde fiskale posisie is, sal ook meer op staatskuld moet vereffen, wat verdere druk op staatsfinansies sal beteken.

Die groeikoers in reële terme vir die hele jaar (2021) was 4,9% en in die laaste kwartaal van 2021 was dit maar in reële terme (dit wil sê ná inflasie) 1,2%. Die probleem is dat dit te min is om ons uit die verknorsing van toenemende armoede en werkloosheid te help. Addisionele risiko’s soos strukturele probleme in die ekonomie, veral die gebrek aan volhoubare energie, vererger die dilemma.

Ons moet steeds hoopvol wees en bid dat die oorlog spoedig beëindig sal word sodat ons daadwerklik aan ons land kan werk en ons gemeenskap kan opbou. Suid-Afrika het nog glad nie van die sosio-maatskaplike en menslike tragedie van die Covid-19-pandemie herstel nie. Ons kan net vertrou dat die tragedie van ʼn dreigende wêreldoorlog nie sal verwesenlik nie.

Skematies kan die transmissie van ekonomiese gebeure soos volg uitgebeeld word:

(Grafika: Verskaf)

*Opul is die Organisasie van Petroleumuitvoerlande. Die Opul-kartel bestaan uit: Algerië, Angola, Ekwatoriaal-Guinee, Gaboen, Iran, Irak, Koeweit, Libië, Nigerië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Venezuela. Rusland word as ʼn bykomende lid gereken in Opul+.

  • Dr. Sandra Adendorff is ʼn passievolle Akademia-dosent en ʼn kenner op die gebied van ekonomie en internasionale handel.

Verwysing:

  1. Joint IMF-World Bank Group Statement on the war in Ukraine. March 1, 2022. https://www.worldbank.org/en/news/statement/2022/03/01/joint-imf-wbg-statement-on-the-war-in-ukraine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Barend

En daai anti wat al ons reserwes verkoop het sit nog gemaklik.

Groen Ghoen

SASOL en sy aandeelhouers gaan seker ‘n rekordjaar geniet? Teen R21,00 per liter petrol en brandstofverbruik van 14km/liter kos dit R1,50 per km.: Dus ongeveer R3600,00 per maand vir iemand wat elke werksdag tussen Pretoria en Johannesburg met ‘n motor ry. Die regering sal dringend openbare vervoer moet verbeter (Met o.a. lokomotiewe wat onder die kraglyne pas). Die geweldige kostedruk op bykans alle goedere weens ingevoerde brandstofinflasie het die arme verbruiker nou teen die toue.