Ekonomiese groei binne die ANC-alliansie feitlik onmoontlik

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Die verrassende aankondiging van minister Tito Mboweni oor bepaalde beplanning om die ekonomie weer te stimuleer, moet nie net uit ‘n ekonomiese hoek beredeneer word nie. Dit kan so wees dat sekere aspekte wat hy noem, inderdaad vir die land goed kan wees. Sy opmerkings oor sowel produktiwiteit as om die uitvoere te verhoog, kan nie negatief gesien word nie. Reeds het die diepliggende verskille in die regerende alliansie skerp na vore gekom en is dit duidelik dat die ANC-alliansie inderdaad hulself lamlê om te kan regeer.

Ondanks hoe goed Mboweni se aankondigings ook al is, is die werklikheid van Suid-Afrika dat dit nie kan slaag nie. Die rede is dat dit op die wankelrige en uiters onstabiele omgewing wat die ANC-alliansievennote oor ‘n lang tyd reeds gevestig het, gebaseer is. Alvorens Mboweni, met wat goeie voorstelle sou kon wees, iets ter tafel kan lê, is daar ‘n paar aspekte wat hy eers deeglik kennis van moet neem.

  • Die beleidsonsekerheid in die breë wat die alliansie deurlopend uitstraal, skep nie die vertroue wat nodig is om beleggers en entrepreneurs aan te moedig om wel ekonomies op so ’n skaal betrokke te raak, dat die basiese fondament van ekonomiese groei korrek geïmplementeer sal word nie. Die ANC-alliansie behoort onomwonde vir die wêreld te vertel, en ook te wys in die wetgewing wat hulle skep, dat hul sosialisme en kommunisme in totaliteit verwerp. Internasionale beleggers ondersteun eenvoudig nie hierdie uitgediende ideologie nie.
  • Voorts behoort die ANC-alliansie openlik en duidelik te verklaar dat die beginsel van privaat besitreg volledig ondersteun en in die reg beskerm word en toe te laat dat markkragte besitreg reguleer. Daarmee saam behoort die beleid van onteiening sonder vergoeding gestaak word. Dit is gedoem tot mislukking – vir sowel die land as vir sy mense. Indien hulle daarmee voortgaan, is die ANC-alliansie aandadig aan die steeds groeiende werkloosheid en armoede wat jaarliks onder hul regering al groter word. Dit is inderdaad die ANC en sy bedmaats wat die armstes van armes se toekoms steel.
  • Die beste ekonomiese voorstelle denkbaar kan slegs in ‘n stabiele omgewing volhoubaar ingespan word. Dit sluit in ‘n veilige omgewing wat misdaadvry is. Die strugglekultuur wat deur die ANC geskep is, is een van vernietiging en opeising van alles sonder om self te skep en te bou. Die bed wat die ANC-alliansie gemaak het, is waarin hulle nou slaap.
  • Die ANC moet besef dat hy saam met sy vennote nie ʼn beter lewe vir almal gaan verseker nie. Die meulsteen van die SAKP hou hulle gevange en verhoed hulle om die regte ekonomies-gerigte beleidsrigtings daar te stel. Daarteenoor is hul ander vennoot, naamlik Cosatu, totaal irrasioneel in die rol wat hulle moet en kan speel. Hulle misbruik die werkers vir hul eie politieke posisionering en plaas elke werker se toekoms daagliks op die spel.
  • Die vakbonde sal vinnig moet leer dat rykdom nie iets is wat maar vanself bestaan nie, maar deur beproefde en gesonde ekonomiese beleid geskep moet word. Rykdom word geskep en nie herverdeel nie. Dit kan net verdeel word totdat daar nie meer rykdom oor is nie. Soos in vorige bekende gevalle, gaan die benadering van herverdeling uiteindelik ernstige armoede en verontmensliking teweegbring. Want nie net het mense nie ʼn inkomste nie, maar sit hulle ook sonder werk wat ten diepste die mens se waarde uitbeeld.
  • Indien die arbeidsfaktor, deur hul alewige gestaak en vernielsug, vir die bedryf van winsgewende en doeltreffende besighede die grootste hindernis begin raak, is hulle eintlik self die oorsaak dat hul geleenthede in die toekoms al hoe meer beperk gaan word. Die Vierde Industriële Rewolusie wag vir niemand nie, maar sal deur nuwe en verbeterde tegnologie ʼn groter doeltreffendheid vir elke besigheid beskikbaar stel.
  • Die ANC-alliansie behoort hul beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie te staak en gebruikmaak van die beste kundigheid wat nog in die land oorbly. Die ANC-alliansie fokus die meeste van hul energie daarop om wit mense te onderdruk. Dit is juis daardie mense wat hulle onderdruk wat saam met die swart kundige mense op groot skaal die land verlaat, want duidelik skep hulle nie vir hulle ‘n geleentheid om ‘n toekoms vir hulself en hul kinders te bewerkstellig nie.

In alle redelikheid teenoor Mboweni, die ANC en sy vennote is Suid-Afrika en die toekoms van sy mense se grootste bedreiging. Mens kan net wonder wat dit nog van die kiesers gaan verg alvorens hulle besef dat julle nooit by die punt uitgekom het om te regeer nie, maar slegs geplunder en afgebreek het in die gees van ‘n struggle-beweging.

Indien hulle oor die afgelope 25 jaar dit nie kon regkry om op haas elke terrein – insluitend, maar nie beperk nie tot veiligheid, onderwys, gesondheid, ekonomie, nasionale infrastruktuur en vele ander – die land beter te kon maak nie, spreek dit boekdele. Ten minste twee groeperinge skoliere is teen uiters hoë koste volledig deur die ANC-onderwys stelsel, en steeds is hulle hoegenaamd nie bemagtig vir die toekoms nie. Die beste wat die ANC kan doen, is om die verlede te blameer. Die werklikheid is dat die wêreld die ANC nou sien vir die mislukking wat dit is. Die verval wat Suid-Afrika op elke gebied tans beleef, is ’n ANC-maaksel. Ander lande, wat in erger toestande was, het dit reggekry om binne enkele jare op te staan en hul land en mense op ‘n suksesvolle toekomspad te plaas. Dít, in teenstelling met die ANC wat ‘n funksioneel doeltreffende Suid-Afrika ontvang het en die land op sy knieë gedwing het en ’n verleentheid vir elke burger is.

Ons moet dankbaar wees vir Mboweni se manmoedige poging, maar ongelukkig is dit gedoem tot mislukking gegewe die ANC se bedmaats en die vernietigende beleid wat hulle nastreef – en boonop dít nie eens behoorlik uitvoer nie. Alvorens die ANC-alliansie nie tot orde geroep word en daar ‘n regering saamgestel is wat die land doeltreffend tot voordeel van al sy mense kan regeer nie, sal al die minister se beste bedoelings soos kaf in die wind wegwaai.

Die kundige mense wat in staat is om die ekonomie om te draai indien hulle die geleentheid gegun word, is stadig maar seker besig om ‘n versadigingspunt te bereik. Indien die ANC nog enige verantwoordelikheid kan openbaar, sal hulle besef dat alles in hul vermoë gedoen moet word om die ekonomie op ’n pad van ekonomiese groei te plaas.

Die kortsigtigheid van die ANC om nie die beste mense optimaal aan te wend nie, se prys is reeds onbetaalbaar hoog vir ons land – dalk té hoog. Die geskiedenis gaan die ANC ook oordeel en, wanneer hulle Suid-Afrika tot op die ashoop gedryf het, sal apartheid nie die skuld gegee kan word nie. Die gebrek aan politieke wil en die beleid van kaderontplooiing is hul keuse en het dit uiters negatiewe gevolge soos ons al hoe duideliker en dikwels in die ekonomie raaksien.  Indien ons ons land op ’n wenpad wil plaas – en, mnr. Mboweni, daar is baie wat dit wil doen – dan wil húlle wat gehelp het, ook die nodige erkenning kry vir wie en wat hulle is.

Solank die ANC volhard op sy pad van die vernietiging van minderheidsgroepe, en spesifiek ons as Afrikaners met ons geskiedenis en kultuurerfenisse, gaan mense ʼn al hoe groter weerstand ontwikkel en sal daardie mense wat julle uit die gemors kon red, later net nie meer bereid wees om enige energie aan hierdie land te spandeer nie. Ons sien dit reeds in die enorme getal uiters kundige mense wat maandeliks emigreer.

Die werklikheid is dat Suid-Afrika se inwoners (kiesers en belastingbetalers) iewers in die nabye toekoms gaan besef dat hulle die ANC-alliansie se beleidsrigting  nie verder kan bekostig nie.

Dit is hopelik baie nader as wat julle besef.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pickering ·

Effens teleurgesteld met ´n misleidende titel. Die outeur gee voorstelle oor hoe die ANC moet handel, maar weet self dit gaan nie gebeur nie. Internasionale druk en streng regulasies oor nuwe groen alternatiewe is die enigste lig wat ek sien vir vervalle lande– dus ´n nuwe vorm van kolonialisme waarin plaaslike soewereiniteit ondermyn word indien nie aan protokol voldoen word nie: weier byvoorbeeld om handel te dryf met lande waarin steenkool gebruik word en onvolhoubare infrastuktuur aan die orde van die dag is. Dis tyd dat meer aandag in die media bestee word aan alternatiewe met internasionale druk as aan ´n hoop in ´n onbeholpe ANC.

Rubber ·

Sommiges het dit al in 94 besef. Feit is al hoe minder voorheen bevoordeeldes is steeds bevoordeeldes. Die belastingbetalers word al hoe minder en ons is reeds daar, ‘n derde wêreldse landjie op ‘n piesangskil op pad na Kongo, Mali en CAR standaarde.

Ellende ·

Ongelukkig is dié Afrika, rede, redelikheid en gesonde oordeel ontbreek. Hier leer ons net op die harde manier (totdat alles ineengestort het en ons besnotterd en wangevoed toue staan agter die UN kostrok vir ‘n sak meel) dat rykdom geskep word, nie herverdeel of onteien word nie. Dat suksesse eweredig is aan insette. Helaas, is dit reeds te laat vir SA want die ANC se ‘train to nowhere’ het nie remme nie.

Frik ·

Dan is daar nog mense wat reken SA sal nooit so laag daal as Zimbabwe nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Al wat ek sien is “behoort”…..maar verder niks.

Jimmy ·

Nasionale Tesourie het hierdie plannetjie saamgeflans om Moodys te paai. Dit was selfs ‘n verrassing vir die ANC. Ander staatsdepartemente se bydra wissel van zero tot gering. Vroeg volgende jaar sal daar weer ‘n nuwe plan wees.

Leonard de Lange ·

‘Too many chiefs and to little indians’
ALMAL wil baas wees & solank as moontlik, So Min as Moontlik Doen

Lou ·

Goeie skrywe en opsomming van wat besig is om te gebeur en hoe die ANC verantwoordelik is vir SA se ondergang. Maar ek is bevrees dit help niks want die paar in die ANC wat kan lees en enige begrip toon is so “hoog” op die Sosialistiese Idiologie dwelm dat hulle al giggelende oor die afgrond gaan stort saam met die arme klomp wat nie kan of wil emigreer nie

humor ·

Bennie van Zyl jy het hom nou gese soos hy moet gese word. Vertaal tog hierdie skrywe en deel dit op die banke van parlementslede uit. Hulle sal dit wel verstaan maar tog ook nie wil luister nie.. Die beste is stel dit beskikbaar aan skoolkinders miskien baat vir die toekoms.

HEVW ·

Die regering se situasie is meer benard as wat enige een van ons besef. Daar is n gesegde wat se :Glo in jou self en jy sal oorwin.” Hierdie klomp glo in hulself alhoewel hul versekerd is dat dit sal misluk. Hoe kan jy so n iemand uit so n donker put uithelp. ONMOONTLIK!!!!!!! Pickering ek hou van dit wat jy se indien hierdie internasionale lande net nie Indie en China is nie.

KrokodilBotha ·

Die ANC kyk na Sjina vir raad. Alles moet eers afgebreek word, dan volgens hulle blueprint opgebou word. Wys my enige demokrasie hier. Tot die DA het hulle ondersteuning gegee met afbreek …… regstellende aksie , ensv. En kyk daar sit die DA ook nou met n geld probleem. Kry vir jou n vooraad spring mielies, en geniet die toekoms. Hoe meer wilde planne en aksies hoe verder maak hulle hul name pawpaw .

ChrisE ·

Ek kan dit nie verstaan nie. Dit gaan my verstand te bowe. Besef die mense in die land nie in watse gevaarlike situasie ons onsself in bevind nie. Die land se mense, ekonomie, veiligheid, daaglikse welstand is in die hande van ‘n klein bende van ongeveer ses lede se onbevoegde, onkapabele, ongeletterde, ongesofistikeerde persone. Die parlement is “window dressing” Luthuli Huis is onheilsnes. Ek weet nie waar die NUK van die bende sit nie. Ek glo nie een van hulle is bevoeg nie. Straatbendes, rampokkery en boewery ja, maar staatsbestuur aikôna.

Kallie ·

Dit het al baie gebeur oor die hele wêreld. Dekades daarna word die bendes uitgeskop, meestal met geweld. Maar dan is die skade reeds gedoen. Gewone mense is die slagoffers. Die beste oplossing is om die ekonomie baie vroeg tot stilstand te bring. Daar sal finansiële opofferings wees, maar dis beter as lewensverliese in ‘n latere stadium.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.