Ekonomiese oorsig: Geldskepping bly geen waarborg vir ekonomiese groeiresultate

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Adam Jacobs

Money, money, money makes the world go round.” Ons almal ken waarskynlik hierdie liedjie. Dit lyk asof dit ook die filososfie is wat deesdae in ekonomiese en finansiёle beleid wêreldwyd gevolg word.

Die VSA het wel sy QE programme gestaak, maar die land is steeds oorweldig deur likididiteit. Dieselfde gebeur in Japan. Die afgelope maand het die Europese Sentrale Bank verklaar dit gaan voort met die skepping van geld. Dieselfde gebeur in China en ander lande. Dit word gedoen in ʼn poging om vraag te stimuleer wat produksie hopelik kan verhoog en werkloosheid kan teenwerk.

Soos ek verlede maand daarop gewys het, bied geldskepping geen waarborg dat dit wel ekonomiese groeiresultate sal oplewer nie. Die gevaar hieraan verbonde is dat die inflasiekoers kan styg. Bate-inflasie baat grootliks hierby soos wat die afgelope maand gebeur het. Die S&P-500 aandele-indeks in die VSA het met 10,4% gestyg, die Ftse-100 in die VK is 4,8% sterker en die Nikkei-225 het gestyg met 9,6%. Kapitaalmarkrentekoerse het ook laer geneig.

In die laaste week van Oktober is die markte egter “geskok” toe Mev Yellen, hoof van die Federal Reserve System in die VSA, die deur oopgelaat het vir ʼn rentekoersverhogng in Desember. Markdeelnemers het dit nie verwag nie en dit het dit ʼn effense demper op finansiёle markte geplaas.

Dit is wat op die internasionale toneel gebeur. Plaaslik het die minister van  finansies sy medium termyn oorsig oor die staatsfinansies gegee. Die ANC se tweejaarlikse beleidskonferensie het ook die afgelope maand plaasgevind.

Dan was daar die studentebetogings oor die vermindering/afskaffing van universiteitsfooie. Later vandeesmaand word die Bruto Binnelandse Produk (BBP) syfers vir die derde kwartaal van 2015 vrygestel. Voorlopige aanduidings is dat produksie (BBP) swak gevaar het. Handelsyfers vir die derde kwartaal was swakker as vir die vorige kwartaal. Die wisselkoers is aan groot skommelings onderhewig. Die aandelemark het in reaksie op internasionale markte ook skerp gestyg met aansienlike skommelings aan die orde van die dag. Kom ons kyk kortliks hierna.

Die ANC se beleidskonferensie

Normaalweg sê ek nie veel oor politieke partye se beleidsrigting nie. Vanjaar was daar egter ondertone en uitsprake op die ANC, die regerende party in die land, se konferensie wat in die toekoms ʼn wesenlike invloed op die ekonomie sal hê. Dit kom kortliks daarop neer dat sosialisme/kommiunisme nou amptelik as beleid aanvaar is. Aangesien ek geen politieke kundige is nie, wil ek hieroor hierdie enkele opmerking van Dr Frans Cronjé aanhaal soos verwoord in Rapport van 25 Oktober 2015.

“Ten spyte van al die chaos bly die ANC vasbeslote om sy revolusie te voltooi. By hul onlangse beleidskonferensie het pres. Jacob Zuma dit reguit gestel dat dit die doel van sy party is om in Suid-Afrika ʼn kommunistiese diktatuur te skep as die onvermydelike slotsom tot sy Sowjet-geïntegreerde Nasionaal-Demokratiese Revolusie (NDR).

“My kollega dr Anthea Jeffrey het die volgende oor die NDR geskryf: ‘Die NDR bied, volgens die SAKP, die reguitste pad na ʼn sosialistiese en dan kommunistiese toekoms vir Suid-Afrika. Oor die algemeen glo die ANC dat hy nou genoeg beheer oor die polisie, leёr, staatsdiens, regbank, media, sake-ondernemings en ander meningsvormers het om te kan voortgaan met radikale ekonomiese transformasie in hierdie tweede fase van die NDR.”

Ek verwys hierna, aangesien dit uit die aard van die saak baie ernstige nadelige gevolge vir die ekonomie van die land gaan inhou. Ek het reeds voorheen daarop gewys dat die regering ʼn sterk sosialistiese beleidsbenadering het. Nou word dit egter ʼn stap verder gevoer.

Dit beteken dat die regering toenemend gaan inmeng in die dag tot dag besluite oor wat om te produseer, hoeveel, vir wie, waar en moontlik selfs teen watter prys. Die staatsfinansies gaan dan waarskynlik ook toenemend ʼn proses van herverdeling volg.

Nou moet lesers ʼn paar dinge in die nasionale finansies, wat sekere belangrike faktore in die ekonomie ten boek stel, verstaan. Met die BBP wat opgewek word en die nasionale inkomste wat grootliks daardeur bepaal word, kan net een van twee dinge gebeur: dit word bestee of gespaar.

Spaarfondse is nodig in ʼn moderne ekonomie om investering te finansier. Investering is nodig om nuwe en meer moderne produksiekapasiteit te skep en om ook die nodige infrastruktuur tot stand te bring. Investering lei normaalweg tot hoёr produksie, maar ook tot die verbetering van produktiwiteit, wat nodig is om internasionaal mededingend te wees en dit het ʼn sterk vermenigvuldigereffek in die ekonomie.

ʼn Sosialisties/kommunistiese beleid het groter herverdeling van bestaande bates en inkomste ten doel. Minder besparing volg daarop, soos wat reeds in die RSA voorkom. Dit gee op sy beurt aanleiding tot ʼn laer groeikoers en toenemende werkloosheid. Die boodskappe wat reeds deurkom, is dat die onlangse Nasionale Ontwikkelingsplan van die regerende party, wat elemente van ʼn gesonde ekonomiese beleid bevat, begrawe is.

Maar die saak gaan verder. Toenemende herverdeling beteken dat verbruik deurgaans groter bly as die nasionale inkomste. Per definisie beteken dit ʼn groter tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans. Dit kan oorkom word deur bestaande bates aan buitelanders te verkoop en\of die verkryging van internasionale leningskapitaal, soos wat die geval die afgelope sewe jaar reeds was.

Só ʼn situasie kan egter nie onbepaald voortduur nie en lei mettertyd tot die afgradering van ʼn land se internasionale kredietwaardigheid. Hierop volg die wisselkoers wat bly verswak en die inflasiekoers wat bly styg. Maar soos dr Cronjė in sy artikel dan ook opmerk, “die ekonomiese agteruitgang van Suid-Afrika kwel hulle (die ANC) glad nie.”

Ek wil aan diegene wat nog twyfel oor die voordele van ʼn vrye markekonomie teenoor dié van ʼn sosialistiese/kommunistiese bestel, noem dat ek nog nooit gesien het dat mense wegvlug uit ʼn vryemarkekonomie na ʼn sosialistiese “hemel” soos wat dit voorgehou word nie. Dink maar aan Oos- versus Wes-Duitsland ʼn dekade of twee gelede, Noord- versus Suid-Korea, inwoners wat vlug uit Kuba na die VSA. Dit is ook opmerklik dat sosialistiese regerings doelbewuste maatreёls instel om te keer dat inwoners landuit vlug.

Ons in die RSA, daarenteen, het onder die vorige bedeling, elektriese heinings opgerig en die grense gepatroleer om werksoekers vanuit die res van Afrika en veral Zimbabwe, uit die land te probeer hou.

Wat is dan nodig vir ekonomiese groei en ontwikkeling? In wese verhoogde produktiwiteit en daarmee saam voldoende besparing en vaste investering wat uit die aard van die saak die uitbou en modernisering van infrastruktuur insluit. Tans skiet ons, wat dit betref, reeds ver tekort.

Die staat se finansies

Die minister van finansies het, soos gebruiklik, in Oktober sy mediumtermyn begrotingstoespraak gelewer. Dit sluit ʼn opdatering van die staat se finansies vir die huidige belastingjaar in.

Sy toespraak het nie enige drastiese nuwe voorstelle bevat nie. Dit het wel ʼn redelik donker prentjie van die ekonomie vir die volgende drie jaar geskets. Die ekonomiese groeikoers vir vanjaar is verlaag van die oorspronklke beraming van 2% na 1,5%. Myns insiens gaan dit nader aan 1,2% wees.

Die tekort in die staatsfinansies vir die volgende paar jaar bly onaanvaarbaar groot. Vir die huidige belastingjaar het belastinginkomste sover aan verwagtinge voldoen, maar dit kan swakker neig weens die verwagte laer groeikoers. Uitgawes gaan blykbaar meer wees as waarvoor begroot is, veral weens die feit dat salarisaanpassings vir staatsamptenare meer was as waarvoor die minister aanvanklik gehoop en begroot het.

Dus styg die aandeel van die staat in die ekonomie steeds. Dit benadeel produktiwiteit. Verder kom ontsparing steeds voor, dit wil sê geld word geleen om ʼn deel van die lopende besteding te help finansier. Die staat se skuld styg steeds en daarmee saam ook die rentelas.

Studente betogings

Die land is die afgelope maand geskud deur betogings van studente nadat hoёr studiefooie van ongeveer 10% in die vooruitsig gestel is. Die betogings het later ontaard in eise, nie net dat die verhogings te hoog is nie, maar vir geen verhogings en algehele gratis universiteitsopleiding, soos voorheen deur die regering belowe. Plakkate is gesien wat lui, “weg met kapitalisme” – asof daar so ʼn stelsel bestaan! Wat daarmee bedoel word, is dat die vryemarkstelsel met ʼn sosialisties/kommunistiese stelsel vervang moet word. Ek noem dit, want duidelik was daar ander elemente as bloot studente ook by die betogings aanwesig.

Die styging in universiteitsfooie het ʼn lang en insiggewende agtergrond. Die feit van die saak is daar sal nou geen verhoging van fooie in 2016 wees nie, wat ʼn bykomende finansiёle las van ongeveer R3 miljard vir universiteite gaan beteken. Die bedoeling is dat dié rekening uiteindelik vir die staat sal wees, maar daaroor is nog nie algehele duidelikheid nie. Sou gratis studie wel ingestel word, gaan dit ʼn las vir universiteite en die staat oplewer wat bykans buite bereik sal wees. Soos dit is, verneem ek baie universiteite het reeds groot skuld opgebou en sommiges is reeds tegnies bankrot.

Aangesien studiegelde aan universiteite die afgelope aantal jare aansienlik gestyg het, het hierdie tipe onderrig buite die bereik van baie studente en hulle ouers geraak. Soos bekend het studentegetalle die afgelope aantal jare skerp toegeneem. Die realiteit is dat die hoёr inkomstegroep dit kan bekostig en/of lenings kan bekom om hulle kinders te laat studeer. Vir die heel lae inkomstegroepe is beurse, verskaf deur die staat, beskikbaar. By hierdie groep het getalle dan ook sterk toegeneem. By die middel inkomstegroep was daar egter ʼn afname in studentegetalle omdat dit bloot té duur geword het.

Hoe die probleem nou gehanteer gaan word, bly onseker. ʼn Voorstel dat afgestudeerde studente meer belas moet word om die nodige fondse te voorsien, moet met groot omsigtigheid benader word. Sulke mense verdien immers meer danksy hul opleiding en betaal dus reeds meer belasting, veral aangesien belastingskale progressief toeneem met verhoogde inkomste.

Belasting is reeds hoog, met veral die netto belastinglas wat skerp gestyg het. Verdere verhogings in belasting vir dié groep kan tot versnelde emigrasie lei en kan die land se belastinginkomste en spaarkoers verder laat daal. (Die Laffer-kurwe effek.) Sulke voorstelle moet dus goed deurdink word met al die implikasies wat daarmee saamgaan.

Daar was ook voorstelle vir ʼn sogenaamde welvaartbelasting. Dit bestaan egter reeds weens die progressie in belastingskale, kapitaalwinsbelasting, belasting op diwidende en boedelbelasting.

Dan is daar ook ʼn verskuilde belasting, naamlik die finansiering van swart bevoordeling. Hierdie belasting is ʼn buitebegrotingspos en dus nie sigbaar nie. Die vorige minister van finansies het sowat twee jaar gelede reeds genoem dat ongeveer R650 miljard sedert 1994 hieraan bestee is. Hierdie belasting geskied deur die toewysing van aandele aan sekere groepe wat grootliks vanaf maatskappye, individue en pensioenfondse se aandele bekom is.

Tussen 1996 tot 2006 is bykomende belasting op pensioen- en voorsorgfondse gehef, wat R52 miljard opgelewer het. Dit was belasting op spaargeld. Sou die regering dit wel oorweeg om belasting verder te verhoog, wat ek hoop nie gaan gebeur nie, is die belasting wat die minste skade sou doen, ʼn verhoging in Belasting op Toegevoegde aarde (BTW). Dit is egter hoogs onwaarskynlik. Myns insiens moet huidige besteding ingekort word. Daar is byvoorbeeld veels te veel ministers en adjunk-ministers terwyl die staat se salarisrekening en welsynstoelaes ook weer hersien moet word.

Diverse aangeleenthede

Soos in die res van die wêreld het aandeelpryse in Oktober skerp gefluktueer maar opwaarts geneig. Die algehele indeks het met 7,4% verbeter, die hulpbronne-indeks het met 5,6% gestyg, die finansiёle indeks met 6,5% en die nywerheidsindeks het verbeter met 6,7%. Een van die groot drywers in die mark was die styging in die prys van SABMiller, wat verband hou met die oorname-aanbod van AB. Ander randverskansers het egter ook merkbaar verbeter, soos BATS, Reinet, Richemont en Naspers, grootliks aangevuur deur stygings op buitelandse beurse.

Teen einde Oktober het die gemiddelde prys/verdienste verhouding van die beurs op 19,6 te staan gekom.  Vir die hulpbronnne indeks staan die verhouding op 21,9, vir die finansiёle indeks op 13,1 en vir die nywerheidsindeks op 14,9. Vir al die indekse het die p/v verhouding die afgelope drie maande hoёr geneig, wat daarop dui dat pryse gemiddeld vinniger as verdienste gestyg het. (Sien onderstaande grafiek.)

As daar na ʼn efffens langer termyn gekyk word, van Desember tot Oktober, blyk dit dat vir die totale indeks, die gemiddelde verdienste per aandeel met 2,4% gedaal het, terwyl die totale indekspryse met 9,9% gestyg het. Die gaping tussen pryse en verdienste, albei op ʼn indeksbasis bereken, is tans dan ook die hoogste sedert 1994.

Uiteraard dra die swak vertoning van mynbou tot hierdie hoё p/v verhouding by, terwyl die goeie vertoning van die randverskansers ook die syfer beïnvloed. Die realiteit is egter dat die SA ekonomie nie goed vertoon nie en dat winste onder druk kom en in die komende jaar swakker kan vaar. Die rand-verskanste aandele self is ook duur. So byvoorbeeld is die p/v verhouding van Naspers ongeveer 109, dié van Bats 22,4 en Richemont 34,0. Uit die aard van die saak sal die p/e van SABMiller hoog wees, sowat 35, weens die aanbod van AB om die aandele te koop.

Ekonomiese-oorsig-November

Grafika: Verskaf.

Die leidende aanwyser van die sakesiklus bly laer neig. In die tydperk Desember 2014 tot Augustus vanjaar het dit reeds met 4,9% verswak.

Handelsyfers, onaangesuiwerd, vir die derde kwartaal van 2015 toon ʼn tekort van R12,1 miljard. In die tweede kwartaal was daar ʼn oorskot van R9,0 miljard. Die tekort vir die derde kwartaal was egter kleiner as dié van ʼn jaar tevore. Daar kan verwag word dat die tekort op die lopende rekening vir die derde kwartaal, seisoenaal aangepas en teen ʼn jaarkoers bereken, aansienlik groter as in die tweede kwartaal gaan wees.

Verkope van elektrisiteit het in die derde kwartaal verder gedaal. Die afname was jaar-op-jaar 3,6% en van kwartaal-tot-kwartaal teen ʼn jaarkoers 10%. Dit dui op trae ekonomiese toestande. Die aankopebestuurdersindeks vir fabriekswese bly onder die perk van 50, wat dui op laer produksie. Na verwagting sal verdienstes uit toerisme in die derde kwartaal swak wees. Verkope van nuwe motors daal, maar reёle kleinhandelsverkope het bo verwagting goed gevaar. Kommoditeitspryse, in VSA$ gemeet, bly laag. Dan is daar die huidige droogtetoestande, wat, as dit vir ʼn geruime tyd nog sou voortduur, die ekonomie nog ʼn aansienlike knou sal toedien.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonoom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Koos ·

‘n Heel insiggewende artikel. Ek dink die beste opsie gegewe die kommunistiese risiko is om eers jou kapitaal uit die land te kry en dan jou gesin.

Wicus ·

Ongelukkig kan gewone mense dit nie bekostig nie en jy sal bereid moet wees om jou identiteit prys te gee. Jy stel ook jou moeilikheid met paar jaar uit, Europa se probleme is oppad,die VSA is binnekort iets van die verlede.

Ons het eintlik net een opsie, hier moet ons die rug begin styf maak en doen wat gedoen moet word!

willem ·

Ek wens net eendag dat FW en sy maatjies saam met oom Max en die res van die politieke korrekte spul net eendag sal kan erken dat hulle hulle wel verkeerd was. Ons word altyd vertel dat ons ‘n fobie het oor Kommunisme en dat selfs die Grensoorlog nie ‘n geveg teen Kommunisme was nie. Wat nou, nou dat die Kommunistiese oorname planne direk uit die perd se bek kom. Is dit nogsteeds ons verbeelding?

Wicus ·

Willem stem so saam met jou, maar ek twyfel of dit ooit sal gebeur. FW en kie se verweer sal wees ons het die beste grondwet in die wêreld, daar is wigte en teenwigte, hy het ‘n bloedbad voorkom (ons bloei nou net stadiger en pynliker), ons moet deelneem aan die bestel en ophou kla, en en …..

Dit is ongelukkig so dat mens sien wat jy glo. Hou vas broer, hier kom harde tye.

Renier ·

Kommunisme/sosialisme (sosiale demokrasie) is al lankal reeds amptelike regeringsbeleid in die weste. Jy kan nie ‘n vrye mark hê as daar nie ‘n vrye mark vir geld is nie. As iemand jou goedsmoeds die produk van jou harde werk kan ontneem deur enetjies en nulletjies in ‘n rekenaar in te tik nie. Dis absurd om voor te gee dat die ANC soveel erger is as wat in die weste aangaan! Die weste ry op die golf van die verlede wat hulle in beheer van hierdie korrupte geldstelsel geplaas het. Dit het niks met vrye-mark ekonomie te doen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.