Ekonomiese oorsig: Groeikoers en begrotingsrede

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

  • Die artikel is ‘n verwerkte weergawe van Adam Jacobs, ‘n onafhanklike ekonoom, se nuusbrief. Lees die volledige nuusbrief hier.

In hierdie oorsig word aandag gegee aan die ekonomiese groeikoers- gegewens vir 2015 en die minister van finansies se begrotingsrede vir die jaar 2016/’17.

Tersaaklike ekonomiese agtergrondsinligting

  • Ekonomiese groei, gemeet aan BBP was swakker in 2015 vergeleke met 2014. Die reële groei van bruto binnelandse produk vir 2015 het 1,3% beloop teenoor die 1,5% van 2014.
  • Negatiewe groei vir 2015 is aangeteken deur landbou, met minus 8,4% (droogte het hier ʼn groot rol gespeel), en die elektrisiteit-, gas- en watersektore, minus 1,0%.
  • Mynwese het in 2015 effens beter vertoon en met 3,0% gestyg teenoor 2014 se daling van 1,6% wat gedeeltelik weens stakings voorgekom het.
  • Daar was slegs 0,1% groei in vervaardiging in 2015 teenoor 2014.

Inflasie van verbruikerspryse

Die VPI-inflasiekoers het in Januarie versnel tot 6,2% teenoor die 5,2% styging van Desember. Dat die inflasiekoers in die maande wat kom aansienlik kan versnel, blyk daaruit dat die produksieprysindeks ʼn styging getoon het en die rand verder teenoor ander geldeenhede verswak het.

  • Pryse van landbouprodukte het skerp vanaf 5,2% in September verlede jaar tot 23,6% in Januarie toegeneem.
  • Daarby was die geweegde gemiddelde waarde van die rand wisselkoers in Januarie vanjaar 24% swakker as ʼn jaar tevore en 15% laer as in Oktober.

Die begroting van 2016

Die begrotingsrede vir die jaar 2016/’17 se sentrale tema is wat gedoen moet word om ʼn verdere kredietafgradering van die regering, en ook van die land, tot rommelkredietstatus te verhoed. Was die begroting suksesvol hierin?

Aan die hand van ʼn voorbeeld ʼn poging tot ʼn antwoord. Gestel ʼn boer pas vir 20 jaar lank roofbou op sy plaas toe. Sy plaas se produksievermoë word daardeur sodanig verswak het dat daar feitlik niks meer geproduseer kan word nie. Sal die boer verdere krediet van sy af bank kry? Die antwoord is sekerlik nee!

Die huidige toedrag van sake in die ekonomie kan hiermee vergelyk word. Vir die afgelope 20 jaar word ʼn oorwegend sosialistiese beleid gevolg, waar klem word op herverdeling geplaas is en die produksiekant van die ekonomie word geleidelik verswak is. Die ekonomie is in effek geplunder om allerlei populistiese oogmerke te bevredig, ten einde die kiesers tevrede te hou en die regerende politici te bevoordeel

Hoe het die proses van ekonomiese verswakking verloop?

Die plundering van die ekonomie het wyle pres. Nelson Mandela se openingstoespraak in die parlement begin. Die nuwe regering se beleidsrigtinge is uitgespel. Dit was ʼn sosialisties-ingestelde uitspraak wat heelwat onrealistiese beloftes bevat het. In kort het dit gesê, die regering sal alles voorsien! Dit het natuurlik vele verwagtinge en latere eise van die staatskas na vorige gebring.

Hierdie beskouing het neerslag gevind in onder meer die RDP-program en die Gear-program. In die “Reconstruction and Development Programme” was die klem sterk op staatsbesteding. Die ekonomie het na ʼn aanvanklike kort periode van euforie weens ʼn hupstoot van staatsbeding, uiteindelik nie na wense presteer nie – dit ten spyte van die opheffing van finansiële sanksies in die 90’s.

Vroeg in 1996 is die RDP-program vervang met die “Growth, Employment and Redistribution Strategy”, oftewel Gear. Met Gear is ekonomiese groei skynbaar eerste geplaas. In vergelyking met ander staatsprogramme was Gear meer redelik, maar helaas, die voorvereistes om dit te kon laat slaag, het nie ingepas by die owerheid se omvattende mikpunte vir herverdeling nie.

Die beleid van swart bevoordeling was so prominent in regerende politici se denke dat kundigheid vir verteenwoordigendheid verruil is. By menigte instellings waar rasseverteenwoordigendheid die oorheersende waarde geword het, is infrastruktuur deur onbekwaamheid verwaarloos. Dink byvoorbeeld aan die huidige elektrisiteitsinfrastruktuur wat nie voldoende onderhou is nie, en die impak daarvan op produksie.

Net soos roofbou op plase langtermynvolhoubaarheid vir kort-termyn gewin verruil is die ekonomie vir korttermyn politiese gewin geplunder. Die werklikheid het die staat nou ingehaal. Kommer is deur graderingsagentskappe uitgespreek oor die land se vermoë om te produseer (gemeet aan BBP-groei) tans so swak is. Daarby is nasionale inkomstes ook onder druk.

Sulke elemente word deur kredietgraderingsagentskappe aan die hand van die veral die regering se vermoë om sy skuld te kan betaal oorweeg. Daar moet nou iets daadwerkliks gedoen word om beleggers en die agentskappe te oortuig dat nodige veranderinge gemaak gaan word om groei aan te wakker en staatsbesteding te beperk.

By gebrek hieraan is bykans geen ander gevolg as ʼn verdere afgradering moontlik nie. Indien ʼn afgradering sou geskied, sal die regering tot by ʼn vlak van sub-beleggingsgraad daal, wat met ernstige meegaande gevolge vir die staat se finansies en die kredietwaardigheid van alle instellings inhou.

Die proses van ekonomiese roofbou is egter ver gevorder. Daar is geen mens op aarde, hoe knap ook al, wat die proses van plaaslike ekonomiese verval oornag kan omkeer nie. Die regrukproses moet verder as blote fiskale beleid gaan. As vertrekpunt moet die hele sosialistiese bestel omgekeer word. Daarvan is nog niks gesien nie. Inteendeel, ʼn week voor die begrotingrede, is ʼn wet aanvaar wat dit vir die regering moontlik maak om eiendom vir laer as markwaarde te annekseer.

Verder is dit duidelik gestel in die begroting dat die regering steeds maatskaplike besteding en ander projekte as ʼn prioriteit beskou. ʼn Groot terugrol van staatsbesteding is dus onwaarskynlik. Op die oomblik blyk dit dat staatsdiensvergoeding, aangepas vir inflasie, ook nie werklik sal daal nie. Daar is verder min aanduidings dat die omvang van staatsinstellings in die ekonomie deur privatisering werklik verklein sal word.

Die ekonomiese roofbou duur dus voort, al dan teen ʼn effens stadiger koers. Dit ondergrawe op sigself die groeivooruitsigte wat vir die kredietgraderingsagentskappe en beleggers so belangrik is. Die groot vraag is dan of die kredietgraderingsagentskappe tevrede sal wees met die begroting en die beplande verminderings van uitgawes wat beoog word. Ons sal maar moet wag en sien.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Johann ·

Dit beteken kortliks dat ons land se ABS -remme ingegee het. Die afdraand is te kwaai om te stop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.