Ekonomiese oorsig: Groter onstabiliteit kan volg

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Adam Jacobs

Samevatting

Gebeure op die geo-politieke front het die afgelope maand onsekerhede meegebring en het finansiёle markte tydelik nadelig geraak. Vrese dat sake op dié gebied verkeerd kan loop, bly ʼn bron van kommer. Aanvalle op die stellings van die Islamietiese Staat (IS) is verskerp na die terreuraanval in Parys en die afskiet van die Russiese kommersiёle vliegtuig in Egipte. Ironies het dié gebeure die gespanne verhouding tussen die Navo-lande en Rusland laat afneem, aangesien daar tans samewerking is om IS se aktiwiteite aan bande te lê. Selfs die neerskiet van ʼn Russiese militêre vliegtuig deur Turkye, het slegs rimpelings van spanning meegebring, hoewel Rusland sanksies teen Turkye ingestel het.

Op ekonomies/finansiёle gebied, is daar vroeё voortekens van meer bestendigheid en verwagtinge dat ʼn beter groeikoers internasionaal sal intree. Dit word beraam op 3,6% vir 2016 teenoor vanjaar se verwagte 3%. In die VSA is die groeikoers vir kw3 opwaarts aangepas na 2,1% teenoor ʼn vorige voorlopige syfer van 1,5%.

Besteding op duursame goedere het met 6,5% toegeneem en besteding op behuising was in Oktober besonder sterk. In die Eurogebied is die sake- en verbruikersvertrouensindeks in November die hoogste die afgelope vier jaar.

China se groeikoers stuur af op 7% vir vanjaar volgens ʼn amptelike verklaring. Die samestelling daarvan het egter beduidend verander vanaf ʼn investeringsgeleide groeikoers na verbruiksbesteding wat die toon aangee. Dit veroorsaak dat kommoditeitspryse steeds baie swak vertoon. Die wêreld wag in spanning om te sien of die Fed in Desember die bankkoers gaan verhoog of nie. Die meeste markdeelnemers verwag wel ʼn verhoging en derhalwe is die gevolge daarvan grootliks reeds verdiskonteer.

Plaaslik is BBP gegewens vir kw3 gepubliseer. Die Reserwebank het die repo-koers die afgelope maand met 0,25 van ʼn persentasiepunt verhoog en die Reserwebank se kwartaalverslag word op 8 Desember vrygestel. Daaruit sal dit blyk in watter mate die wanbalanse in die ekonomie verklein of vergroot het. Ek verwag ʼn groter tekort op die lopende rekening volgens die handelsyfers wat reeds gepubliseer is.

ʼn Belangrike verwikkeling in die komende weke, is die kredietgraderingsinstellings se vrystelling van die land se soewereine kredietaanslag. ʼn Verdere afgradering, wat moontlik is, kan die wisselkoers onder druk plaas en kapitaalmarkrentekoerse laat styg. Die gevolge van so ʼn gebeurtenis is nog nie ten volle in die plaaslike finansiёle markte verdiskonteer nie weens teenstrydige sienings hieroor. Die laer kommoditeitspryse en die droogte gaan die ekonomie volgende jaar baie nadelig raak.

Die BBP verloop

Die verloop van die reёle bruto binnelandse produk, gemeet van k-t-k en seisoenaal aangepas en teen ʼn jaarkoers uitgedruk, toon ʼn styging van 0,7% in kw3 teenoor ʼn daling van 1,5% in kw2. Sektore wat swak gevaar het, was landbou met ʼn daling van 12,6%, mynbou wat 9,8% laer was en die produksie van elektrisiteit-, gas- en watersektore wat met 8,0% afgeneem het. Verbeterings het voorgekom by vervaardiging, wat met 6,2% gestyg het teenoor die 6,3% daling in kw2 en die tersiêre sektore as groep wat met 1,9% gestyg het teenoor ʼn styging van 1,1% in kw2.

Kyk ons egter na die verloop van die BBP teenoor die posisie ʼn jaar tevore, blyk dit dat daar deurgaans ʼn verlangsaming ingetree het. Teen basiese pryse bereken, was die toename in kw1 2,2%, ʼn laer 1,3% in kw2 en 0,9% in kw3. Dit laat ons met ʼn styging van gemiddeld 1,5% oor die eerste drie kwartale. Dit is laer as die toename in die bevolkingsgroeikoers, sodat die BBP per capita ʼn afname toon.

Die jaar-oo-jaar styging in die arbeidseenheidskoste het in kw3 versnel van 6,4% in kw2 tot 6,9%. Daarenteen het die bruto bedryfsurplus verlangsaam tot ʼn jaar-op-jaar styging van slegs 0,3% teenoor 2,1% in kw2 en 7,0% in 2014. Hierdie daling in die bruto bedryfsurplus is hoofsaaklik te wyte aan ʼn daling in landbou van 22,0%, 8,9% in mynboue en 6,4% in fabirekswese. Laasgenoemde ten spyte van ʼn styging in produksie van 1,6% jaar-op-jaar.

Ek verwag dat die besteding in kw3 steeds vinniger as die toename in die BBP en die BNI sou verloop het, wat grootliks tot ʼn verwagte groter tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans gelei het.

In die lig van die wanbalanse tussen besteding en inkomste, saam met die swakker wisselkoers en moontlike rentekoersstygings in die VSA, is dit verstaanbaar dat die Reserwebank die bankkoers met 0,25 van ʼn persentasiepunt verhoog het. Die verhoging het ten doel om besteding marginaal in te kort en meer in lyn te bring met toenames in inkomstes. Dit is belangrik om hierdie sein uit te stuur na die kredietgraderingsinstellings as ʼn bydraende beleidsboodskap om ʼn verdere afgradering te probeer teenwerk. Weliswaar het dit nie verhoed dat die wisselkoers onder verdere druk gekom het nie, maar die vraag is egter wat sou die wisselkoers gedoen het as die repo-koers nie verhoog is nie.

Die droogte en kommoditeitspryse

Teen die voorafgaande agtergrond van gebeure in die ekonomie word die land geteister deur ʼn ernstige droogte wat veral landbouproduksie nadelig raak. Dit kan egter met verloop van tyd ook ander bedrywe nadelig beïnvloed. Daarby kan dit lei tot voedselprysstygings wat huishoudings mag noop om minder op ander produkte te bestee. Dit kan ook besparing verminder en/of mense verplig om hul spaargeld te gebruik en/of lei tot ʼn styging in skuldvlakke.

Hiermee saam ondervind die land, wat ʼn groot uitvoerder van mynbouprodukte is, dat die vraag verswak en kommoditeitspryse het skerp gedaal en toon nog geen teken van ʼn ommeswaai nie. Wat die $-pryse betref, lyk die situasie tans as volg:

Verloop van kommoditeitspryse in VSA$

Kommoditeit                    Afgelope jaar              Afgelope maand

Ru-olie                              -38,19%                              -9,48%

Goud                                -11,34%                               -7,41%

Koper                               -30,60%                               -10,50%

Platinum                           -31,38%                               -15,16%

Silwer                                -13,28%                               -9,37%

Palladium                          -31,98%                              -18,76%

Steenkool                          -22,46%                              -11,22%

Ystererts                            -34,91%                                -5,34%

Die rimpeleffek van die verloop van gebeure in die landbou en mynbou kan bepaal word deur die inset-uitset tabel van 2012, die jongste wat beskikbaar is, te gebruik. Dit toon die struktuur van die ekonomie aan, verander baie min van jaar-tot-jaar en verander ook geleidelik oor die verloop van jare onder normale omstandighede.

In die jaar 2012 het landbou 51,9% van hulle totale verkope aan ander sektore in die ekonomie gelewer vir verdere verwerking. Die grootste hiervan is gelewer aan fabriekswese vir die verdere verwerking van landbou produkte. Dit beloop ongeveer 38%. Maar dan het sowat 33% van totale verkope direk aan huishoudings gegaan. Ongeveer 1% van produksie is uitgevoer terwyl invoer sowat 0,5% van die vraag na landbouprodukte bevredig het. Die gevolge van laer produksie en stygende pryse kan dus baie belangrik wees weens die landbou se skakelingseffekte en dit kan ook lei tot laer uitvoer en hoёr invoer.

Maar dan kan dit die plattelandse gebiede, veral in die noordelike provinsies en KwaZulu-Natal, ook baie nadelig raak. Baie plattelandse dorpe is by uitstek afhanklik van die landbou as ʼn verskaffer van produkte en werksgeleenthede, aankoop van insette in die produksieproses en vir diensbedrywe aan die landbou.

Kyk ons na die struktuur van mynwese, blyk dit dat sowat 38% van produksie as insette aan sektore in die RSA verskaf word vir verdere verwerking, terwyl sowat 50% van produksie uitgevoer word. Invoer beloop ongeveer 15% van aanvraag wat hoofsaaklik ru-olie verteenwoordig. In teendeel met die landbou waar die koste van aankope vir verdere verwerking kan styg, is dit nie hier die geval nie. Die groot probleem vir die land is sy betalingsbalans. Gegewe die prysdalings soos aangetoon in die voorgaande tabel, is die ruilvoet onder druk. Die land is armer en die bevolking sal gevolglik daarby moet aanpas. Daar kan nie maar net met besteding voortgegaan word soos normaalweg nie. Sou ons die realiteite probeer ignoreer en nie aanpas by die laer inkome nie, sal die wisselkoers dramaties verder daal. Dan kan die  inflasiekoers versnel, wat reёle besteding in elk geval sal inkort. Dit is die outomatiese stabiliseerders in die ekonomie wat sal intree.

Intussen het pryse van kommoditeitsaandele op die JEB die afgelope jaar skerp dalings getoon ten spyte van die swakker wisselkoers. In die tydperk Julie 2014 tot November vanjaar, daal die kommoditeitsindeks met 52%. In die afgelope maand alleen was die daling 18%.

In beide die landbou en die mynbou moet die vraag ook gestel word hoeveel produsente hierdie situasie gaan oorleef? Hoe daar dus ook na die saak gekyk word, is dit duidelik dat die land vir jare die wonde van die verwikkelinge soos geskets, gaan ervaar.

Kredietgradering

Die gevolge van die verswakte ekonomie, plus die tekort aan elektrisiteit en inploffing van die infrastruktuur op vele gebiede, tesame met opgehoopte tekorte en skuld van owerheids- en semi-owerheidsliggame, word natvererger deur die droogte en laer kommoditeitspryse. Dit is nodeloos om daarop te wys dat dit die land se kredietgradering, wat reeds op die punt van afgradering na nie-kredietwaardig staan, wel tot dié vlak kan verlaag. Dit sal ʼn bykomende ekstra skok vir die ekonomie wees.

Om dit kortliks te stel, ʼn afgradering tot nie-kredietwaardig kan tot ʼn verdere verswakking van die wisselkoers lei. ʼn Versnelling van die inflasiekoers is dan feitlik ʼn gegewe. Volgende kan beide kapitaalmark- en geldmarkrentekoerse styg. Dit kan ook lei tot groter tekorte op die staat se rekeninge, wat belasting- en tariefverhogings kan meebring. Dit kan ook die daling in lewenstandaarde vererger en toenemende werkloosheid veroorsaak. Selfs die “voordeel” wat ʼn swakker wisselkoers in die internasionale handel bied, kan nie ten volle benut word nie, gegewe die tekort aan elektrisiteit en moontlike water tekorte.

Groter onstabiliteit kan hierop volg.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonoom.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Johann Marx ·

Adam Jacobs behoort nou ‘n opvolg artikel te skryf om te pas by hierdie een…..wat net heeltyd verduidelik “waarom” en “hoekom” en “as”. Nou moet hy ‘n artikel skryf oor “WAT” gedoen moet word om hierdie tendense om te keer………..en hoe ons hierdie armsalige volkie aan die Suid Punt van Afrika gaan motiveer om dit te implementer…tot voordeel van ons almal. Eintlik kon hierdie artikel baie korter geskryf word om die “probleem” van Suid Afrika uit te spel: Hopeloos teveel mense kry hopeloos teveel geld vir hopeloos te min werk……en ek is nie eers ‘n ekonoom nie!!!!

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Johann

Ons het ʼn paar maande gelede toestemming by Adam Jacobs gekry om sy maandelikse ekonomiese oorsig te plaas.

Hy het reeds verskeie kere geskryf oor oplossings vir Suid-Afrika se ekonomiese onstabiliteit en hoe dit verhoed kan word. Sien asseblief die vloeitabel hierby ingesluit.

Adam het ook sowat twintig 20 jaar gelede al by Absa ʼn artikel geskryf, naamlik “Voorvereistes vir ekonomiese groei”, wat opgevolg is met nog ʼn artikel, “Produktiwiteit: Sleutel tot welvaart”. Die artikels is al drie keer herdruk.

Esté Meyer Jansen
Namens
Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.