Ekonomiese oorsig: Moontlikhede van ’n beter groeikoers

ekonomie-stockfoto-02

Foto: Pexels/Pixabay.com

Deur Adam Jacobs

Aan die begin van ʼn nuwe kalenderjaar is daar nog nie veel inligting beskikbaar wat nuwe lig op ekonomiese en finansiële gebeure werp nie. Die SA Reserwebank het die repo-koers onveranderd gelaat. Inligting oor die verloop van die ekonomie in kw4 en die jaar 2016 sal eers teen die einde van Februarie/begin Maart beskikbaar wees. Dan is daar die minister van finansies se jaarlikse begrotingsrede, wat op 22 Februarie aangebied word. Belastingverhogings moet verwag word. Kredietgraderingsagentskappe het die afgelope tyd geluide gemaak wat kommer wek oor die land en die regering se kredietwaardigheid, wat later vanjaar bekendgemaak word. Dan is daar die plaaslike politiek, waaroor ek liewers geen opinie sal uitspreek nie, maar wat die ekonomie wesenlik kan beïnvloed.

Internasionaal is die belangrikste verwikkelinge geleë op die gebied van die politiek. Die VK sal nog aankondig of dit ʼn vinnige of geleidelike onttrekking uit die euro-sone gaan volg. Dan het die nuut verkose president van die VSA die leisels oorgeneem en is daar onsekerheid oor wat hy gaan doen. Daar is ook binnekort verkiesings in sekere euro-lande, wat tot nuwe koalisies en ekonomiese beleidsbesluite kan lei. Daarby ook moet ons rentekoersstygings in die VSA te wagte wees. In China is skuldvlakke dwarsoor die ekonomie hoog. Verder moet hul besoedelingsvraagstuk nou dringend aandag kry. Dit alles maak vooruitsigte vir die jaar 2017 redelik onseker, veral vir ʼn klein oop ekonomie, soos dié van die RSA, wat wesenlik deur buitelandse gebeure geraak kan word.

Soos verlede jaar gaan ek dus in hierdie maandoorsig die klem op ʼn besondere aspek plaas en aantoon hoe gebeure in die ekonomie en finansiële market, daardeur geraak word. Die onderwerp wat vanjaar behandel gaan word, handel oor die sakesiklus.

Die sakesiklus

Verlede jaar, in die Februarie-oorsig, het ek sekere ekonomiese begrippe behandel en faktore aangeroer wat die ekonomie meer op die langtermyn beïnvloed en dus as struktuuraangeleenthede beskou kan word, wat ekonomiese groei en ontwikkeling raak. Hierteenoor kan die sakesiklus meer gesien word as gebeure wat die ekonomie op die mediumtermyn raak en veral vir sakebeplanning van besondere belang is. Natuuurlik is daar die sogenaamde Kondratief-siklusse wat, myns insiens, nie werklik sakesiklusse verteenwoordig nie, maar meer struktuuraspekte is wat van tyd tot tyd voorkom, sonder vaste reëlmaat en baie belangrik kan wees. Dink maar aan die boekdrukkuns, die ontwikkeling van die stoomenjin en ander meganiese aandryfkonsepte, die instelling van die vervoerband in die fabriekswese en soortgelyke gebeure.

Wat ek in gedagte het, is om  die verloop van die sakesiklus, wat gewoonlik oor ʼn paar jaar strek, onder die vergrootglas te plaas. Dit is ʼn verskynsel waarin ekonomiese aktiwiteite vir ʼn tyd versnel en dan weer verlangsaam. Wat is die drywers daaragter en wat gebeur oor die verloop van so ʼn siklus? Daarby gaan ek my eie ervaring op die gebied bywerk, wat ek oor die verloop van baie jare waargeneem het.

Allereers dan, hoe lyk die verloop van die meevallende sakesiklus sedert 1960.

ekonomiese-oorsig-2017-02-01

Grafika: Verskaf.

Voorgaande grafiek toon dat elke siklus uniek is. In sommige gevalle is die opswaaifase lank en in ander tye redelik kort. So ook wat die afswaaifases betref. In sommige gevalle is die verbetering in die ekonomie stewig en in andere matig met ook soortgelyke waarnemings tydens afswaaifases. Om hierdie rede kan daar nie veralgemeen word nie want elke volle siklus, d w s ʼn op- en afswaaifase, het sy eie karakter en word gedryf deur buitelandse en binnelandse gebeure veral in die onmiddelike voorafgaande tydperk.

En tog is daar ook sekere faktore wat gereeld in elke siklus tot ʼn mindere of meerdere mate waargeneem word. Dit is hierop wat ek die klem wil plaas en wat ek met u wil behandel. Dit is dan ook grootliks gebaseer op my eie waarnemings oor die verloop van sowat 50 jaar.

Ek wil so ʼn enkele volle siklus graag aan u bekendstel in die hieropvolgende grafiek wat ek vir u saamgestel het.

Volgens die algemene siening van die sakesiklus, sal slegs verwys word na die opswaaifase, die boonste draaipunt, die afswaaifase en dan die onderste draaipunt. My ervaring het egter geleer dat beide die twee fases in ʼn eerste en tweede been opgedeel moet word, aangesien veral die finansiële markte totaal verskillend reageer in hierdie fases as wat die reële ekonomie verloop. Kom ons kyk vervolgens daarna.

ekonomiese-oorsig-2017-02-02

Grafika: Verskaf.

As vetrekpunt begin ek by die onderste draaipunt van die sakesiklus. Gewoonlik is daar ʼn hele aantal gebeure wat die draaipunt vooruitgaan. Die belangrikste hiervan is dat die groot Westerse ekonomieë reeds hulle onderste draaipunte bereik het en dat ʼn sterker internasionale vraag na veral ʼn land soos die RSA se kommoditeite voorkom. Deur die betalingsbalans ontstaan daar dus ʼn impuls in die RSA ekonomie. In die proses het daar gewoonlik ʼn beter balans tussen binnelandse besteding en die nasionale inkome ontstaan, wat tot ʼn sterker wisselkoers, laer inflasie en ook laer rentekoerse aanleiding gee. Laasgenoemde lei daartoe dat reële privaatverbruiksbesteding verbeter, aangespoor deur ʼn styging in die vraag na bankkrediet. ʼn Hele aantal faktore, wat onderling geskakel is, gee dus aanleiding tot die draaipunt.

Die lys van sake wat normaalweg, in ʼn meerdere of mindere mate, waargeneem kan word tydens die eerste been van die opswaai, is die volgende.

  • Uitvoer van goedere neem toe.
  • Invoer is steeds relatief laag, want daar is surplus produksiekapasiteite in die ekonomie en gevolglik is masjinerie-invoere min.
  • Die lopende rekening van die betalingsbalans verbeter en kan selfs surplusse toon.
  • Die wisselkoers neig sterker.
  • Rentekoerse daal verder of bly relatief laag.
  • Die inflasiekoers daal of stabiliseer op laer koerstoenamevlakke.
  • Belastingkoerse kan selfs verlaag of bly onveranderd. Belastinginkomste kan egter begin styg.
  • Hoër verkoops- en produksievolumes tree in.
  • Maatskappye is baie vloeibaar weens verbeterde kontantvloeie en steeds relatief lae vaste investering wat voorkom.
  • ʼn Relatief swak vraag na bankkrediet kom voor, maar ʼn styging in die vraag na bankkrediet deur individue kan wel plaasvind.

Hierdie eerste been dui ʼn verbetering in die ekonomie aan, maar daar is nog nie “vuurwerke” waarneembaar nie. Dit kom voor in die tweede been van die opswaaifase wanneer die volgende faktore waarneembaar is:

  • Verkope- en produksievolumes styg verder en versnel selfs.
  • Volle benutting van produksiekapasiteite kom redelik algemeen voor.
  • Indiensneming styg.
  • Voorraadvlakke neem toe, want bestellings vergroot aangesien dit langer neem om aflewerings te bekom.
  • Vaste investering styg merkbaar vinniger.
  • Daar is nou ʼn sterk vraag na bankkrediet.
  • Winste styg skerp.
  • Groot optimisme en onrealistiese ooroptimisme is soms waarneembaar.
  • Invoer van goedere styg skerp – veral invoer van masjinerie en toerusting.
  • Uitvoer verlangsaam en kan selfs begin daal omdat dit meer betalend is om die plaaslike mark te voorsien en internasionale ekonomieë hulle boonste draaipunte kon bereik het.
  • Die tekort op die lopende rekening van die betalingsbalans styg skerp.
  • Die wisselkoers neig gewoonlik swakker.
  • Rentekoerse styg.
  • Die inflasiekoers versnel.

Voorgaande gebeure lei nou daartoe dat die boonste draaipunt van die sakesiklus intree, want die gebeure waarna verwys is, koel die aanvraag af. Nou betree die ekonomie die eerste been van die afswaaifase en die volgende word waargeneem:

  • Verbruiksbesteding neig swakker – veral duursame verbruiksbesteding
  • Laer benutting van produksiekapasiteit begin voorkom, omdat aanvraag swakker neig maar vaste investering steeds voorkom wat tot nuwe bykomende kapasiteite aanleiding gee.
  • Voorraadvlakke styg nou skerp, want verbruiksbesteding verlangsaam.
  • Maatskappywinste begin onder druk kom en verswak selfs – veral in die duursame goedere mark.
  • Invoer is steeds hoog weens voorrade en masijinerie wat bestel is en afgelewer word.
  • Uitvoer vertoon swak weens swakker internasionale vraag.
  • Die tekort op die lopende rekening neig groter of ʼn surplus verander in ʼn tekort.
  • Die wisselkoers verswak.
  • Daar is steeds ʼn sterk vraag na bankkrediet want beide individue en maatskappye se kontantvloei is onder druk.
  • Rentekoerse styg verder.
  • Die inflasiekoers bly hoog.
  • Die getal insolvensies en likwidasies neem toe.

In die algemeen verswak toestande en pessimime styg. Nou tree die volgende fase na vore, naamlik die tweede been van die afswaai. In hierdie fase word gewoonlik gesê saketoestande sal nooit weer verbeter nie – dus groot en wydverspreide pessimisme word waargeneem. Dit is verby met ons! Regtig? Kom ons kyk wat gebeur.

  • Plaaslike aanvraag daal verder en produksievolumes bly laag.
  • Kapasiteitsbenutting daal.
  • Voorrade word afgewerk na laer vlakke.
  • Vaste investering daal.
  • Maatskappywinste daal verder en afdankings van personeel kom voor.
  • Invoer daal skerp.
  • Uitvoer begin beter neig weens sterker internasionale aanvraag en sakelui wat buitelandse markte ontgin.
  • Die saldo op die lopende rekening verbeter en kan selfs ʼn oorskot toon.
  • Die wisselkoers stabiliseer en kan sterker neig.
  • Oorhoofs beskou, is daar is ʼn swak vraag na bankkrediet.
  • Rentekoerse daal.
  • Die inflasiekoers verlangsaam.
  • Insolvensies en likwidasies neem steeds toe.
  • Groot pessimisme is waarneembaar.

Hierdie tweede been van die afswaai kan tereg as die wintermaande in die ekonomie beskou word. Maar let op, soos in die winter na 21 Junie elke jaar, begin die dae langer raak, hoewel dit steeds winter is. Bome begin bot. In die ekonomie is die botsels die lopende rekeningsaldo wat begin verbeter, die wisselkoers wat beter vertoon, die inflasiekoers wat verlangsaam en rentekoerse wat daal. In die ekonomie begin die outomatiese stabiliseerders dus intree, wat dan die pad voorberei sodat die onderste draaipunt bereik word.

So herhaal die proses, in breë trekke, homself in die ekonomie byna soos die seisoensskommelings in die natuur. Na die wintermaande in die ekonomie, volg die lente en hoogsomer met baie vrugte om dan maar weer oor te gaan in die herfsmaande. Diegene wat in die hoogsomertydperk in die ekonomie voldoende reserwes opbou, sal die wintermaande kan deursien en nie deel van die statistiek word, wat sy neerslag vind in stygende insolvensies en likwidasies.

Vervolgens net ʼn paar grafieke van vele, dat voorgaande patroon hom redelik gereeld herhaal. Allereers, hoe vertoon winste oor die verloop van die sakesiklus.

ekonomiese-oorsig-2017-02-03

Grafika: Verskaf.

Soos gemerk sal word, styg winste skerp tydens die opswaaifases, om maar net weer skerp te daal. Dit geld veral vir maatskappye wat duursame produkte vervaardig en bemark. Die uitermate groot styging in winste in 1973 en 1980, was grootliks die gevolg van die               $-goudprys wat toe baie skerp gestyg het. Daarna het ʼn regstelling gevolg en winste het skerp verswak. In 2015 het winste letterlik gedaal – iets wat selde gebeur.

Hoe verloop die verhouding tussen besteding en inkomste?

Die volgende grafiek toon aan dat besteding tydens opswaaifases vinniger styg as inkomste. Hierop volg dat die lopende rekening van die betalingsbalans, wat die spieëlbeeld daarvan is, verswak. Teen die middel van ʼn afswaaifase draai die proses gewoonlik om. Uit die grafiek blyk dit dat dit tans weer die geval is, indien dit nie ontwrig word deur een of ander eksterne faktor nie. As sulke eksterne versteurings nie sou voorkom nie, kan verwag word dat rentekoerse teen die einde van 2017 kan begin daal, omdat die inflasiekoers kan verlangsaam weens, onder andere, ʼn versterking van die wisselkoers. Soos sake tans staan, wil dit dus voorkom asof die RSA-ekonomie die tweede been van die sakesiklus betree het. Inderwaarheid, die leidende aanwyser van die sakesiklus toon die afgelope tyd ʼn verbetering. Internasionaal word ook ʼn effens beter groeikoers as in 2016 voorsien.

ekonomiese-oorsig-2017-02-04

Grafika: Verskaf.

Die laaste grafiek het ek verlede maand ook gewys. Dit dui aan hoe aandeelpryse oor die verloop van ʼn sakesiklus verloop. Onthou, aandeelpryse word gedryf deur winste en winste het ʼn sekere verloop oor die siklus soos verduidelik is. (Let daarop dat die y-as ʼn logaritmeskaal toon.) Kyk veral  na die verdienstelyn. In die jare 1990 tot 1993, ʼn afswaaifase, het dit sywaarts verloop. Toe het dit in die jare 1993 tot 1996 versnel, om daarna weer te verlangsaam.

ekonomiese-oorsig-2017-02-05

Grafika: Verskaf.

In die jare 2000 tot 2004 het dit min gestyg en toe daana in die tweede been merkbaar versnel. Die afgelope twee jaar neig ook beursgenoteerde aandele se winste gemiddeld swakker. Die ander aspek wat duidelik na vore tree, is dat markdeelnemers verwagte winsstyging vooruit verdiskonteer soos blyk uit die verloop van beurspryse.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonoom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

John ·

Adam, ons winter kom vroeg vanjaar. Die blare val al en in Februarie hier so by die 10e knyp die eerste swartryp. Die akademie soos ons ken en die boekdrukkuns is geskiedenis en die stoomenjin staan in die ou museum se skuur, verroes en vol stof. Dit gaan ‘n koue winter wees… en die sneeubal gaan afrol en rol en van alles in sy pad kleingeld maak… So voorspel die skilpad in my tuin…

Pietman ·

‘n styging in kommoditeitspryse behoort SA weer ‘n hupstoot te gee. Afgesien van die siklus patroon kan daar dalk iets struktureels met SA skort. Daardie “iets” is vaste investering .Maatskappye is nie baie lus om hier te belê nie.

Magda Mitri ·

Sal graag wil weet wie is die 2 Elite groepe wat SA beheer

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.