Ekonomiese oorsig: Onrus op kampusse knou ekonomie

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Deur Adam Jacobs

Opsomming van belangrikste gebeure

Trae ekonomiese groeikoerse en wisselvalligheid in veral die finansiële markte, bly die uitstaande kenmerk op die internasionale toneel. Groeikoerse vir Afrika-lande is die afgelope tyd ook aansienlik laer aangepas. Ruim likiditeit bly egter van krag met abnormale lae rentekoerse veral wat kapitaalmarkrentekoerse betref.

Die tien jaar staatseffektekoers in Duitsland beloop tans -0,12% en in Switserland -0,60%. Die aanduidings is dat ekonomiese groei in veral die VSA geleidelik verbeter. Die hersiene 2de kw se groeisyfer is dan ook hoër aangepas. Daar is ʼn vurige debat daaroor of die Fed sy koers vir banke moet verhoog en aanduidings is dat dit wel vóór die einde van die jaar kan gebeur. Uiteraard vind die verkiesing in die VSA binnekort plaas en so ʼn stap sal waarskynlik eers daarná plaasvind. Die uitslag van die verkiesing self kan ʼn uitwerking op veral die finansiële markte hê, soos wat gesien is na die Brexit-uitslag in die VK.

Plaaslik is die Reserwebank se kwartaaloorsig vrygestel. Gegewens hieruit, tesame met ander jongste neigings, word in die meegaande tabel getoon en sal nie verder bespreek word nie. Wat ek egter wil uitwys, is dat die wisselkoers van die rand die afgelope kwartaal skerp gefluktueer het. Soos aan die einde van elke week gemeet, het dit op 20/6/2016 op R13,72 per VSA$1 gestaan, toe verswak tot R14,47 op 2/9/2016 om daarna geleidelik weer te versterk tot R13,71 op 30/9/2016. Die fluktuasie is ook teenoor ander belangrike geldeenhede waargeneem. Aankope van valuta om die SABMiller transaksie te betaal, kon die afgelope maand ook tot die versterking bygedra het.

ʼn Verdere insiggewende verwikkeling is dat die Tesourie aangekondig het dat dit ʼn $3 miljard buitelandse effekteplasing gedoen het teen ʼn koeponkoers van 4,3% vir ʼn 12 jaar effek en 5% vir ʼn 30 jaar effek. (Dit kon ook tot die versterking van die rand wisselkoers bygedra het.) Die skuld is dus in $ en rente moet in $ aan houers daarvan betaal word. Dit vergelyk met ʼn koers van VSA-effekte met ʼn 10 jaar looptyd van 1,59%.

Ons kan net spekuleer oor die bedoeling hiervan. Is daar vrese dat die land se kredietwaardigheid verlaag gaan word en buitelande lenings dus duurder gaan word, of probeer ons die indruk skep die land se internasionale kredietwaardigheid word deur die mark as “gunstig” beskou, gesien die goeie ondersteuning wat verkry is?

Die feit van die saak is dat die lenings op die oog af “goedkoop” bekom is, maar dat dit uiteindelik duur lenings kan wees bereken in rand, indien die wisselkoers merkbaar sou verswak. Die risikopremie wat betaal is vir die 12 jaar effek, blyk sowat 3,7% te wees. Die risiko verbonde aan hierdie lenings berus by ons en nie by buitelanders nie, aangesien dit in $ terugbetaalbaar is.

Die internasionale ru-olieprys neig hoër nadat olie produserende lande blykbaar ooreengekom het om produksie in te kort. Dit moet in gedagte gehou word dat die vraag na ru-olie prys-onelasties is, wat beteken ʼn relatief klein inkorting van produksie kan tot ʼn meer as proposionele persentasie  toename in die prys lei. Die prys van ligte ru-olie het dan ook van $43,03 op 16/9/2016 tot $48,24, oftewel met 12,1%, op 30/9/2016 gestyg.

Studente betogings

Die studente betogings en meegaande onrus en vernielsug op die land se kampussse is ʼn bron van kommer.

Nie alleen lei dit tot groot skade aan eiendom van universiteite nie, maar private bates kom ook van tyd tot tyd in gedrang. Daarby gaan opleidingstyd verlore vir studente wat wil studeer en hul studies voltooi. Normaalweg word opleiding van die jeug  beskou as die beste belegging wat ʼn land kan maak. Dit blyk tans egter nie die geval  in die RSA te wees nie. Skolastiese resultate, gemiddeld beoordeel en wel wetend dat daar uitsonderings is, is immers swak en die slaagsyfer op die land se universiteite is laag. Daarby daal die kwaliteit van ons akademiese instellings volgens internasionale vergelykings.

Die verlies in terme van rand en sent vir die land is ook enorm, gesien in die lig van die groot belegging wat reeds in universiteite gemaak is en die lopende koste wat daarmee gepaard gaan. Daar is dus ʼn onderbenutting van bestaande bates. Hieroor wil ek nie verder kommentaar lewer nie, aangesien die massa media hieroor berig.

Wat my opgeval het en wat nog nie die nodige aandag gekry het nie, is dat daar benewens die normale plakkate wat gratis onderrig eis, ook plakkate voorkom wat lui: “Away with capitalism.” Dit dui aan dat daar meer agter hierdie betogings skuil as wat algemeen besef word.

Nie dat daar werklik iets soos ʼn kapitalitiese stelsel bestaan nie, maar wel ʼn vryemarkstelsel en ʼn sosialistiese bestel. Daar word duidelik betoog vir ʼn sosialistiese beste.

Die onderliggende aanname en verwagting is dat alles dan gratis sal wees, met die veronderstelling dat die staat individue en maatskappye maar meer sal belas, geld sal leen of skep of op watter ander wyse daaraan gedink word om aan hierdie “alles-gratis-bestel” te voldoen.

Daar bestaan egter nie iets soos ʼn “gratis ete” nie, soos prof. Milton Friedman al jare gelede op wys het. Die ekonomiese gevolge hieraan verbonde is duidelik ʼn saak wat nie begryp word nie en waarna in elk geval, blykbaar nie eers geluister wil word nie.

In die lig hiervan wil ek die beleidsvoorkeure van ʼn tipiese sosialistiese bestel versus dié van ʼn vrye mark kortliks behandel aan die hand van inligting uit Economic policy in our time, geskryf deur agt vooraanstaande internasionale ekonome. In hierdie werk word die beleidsvoorkeure van sosialiste teenoor vryemark denkers, wat hulle die konserwatiewes noem, onder meer behandel.

Die outeurs het die beleidsvoorkeure gerangskik van dominant tot minder belangrik. Die belangrikste beleidsvoorkeure van die sosialiste, soos internasionaal waargeneem, strek van volle indiensneming, groter herverdeling van inkomste tot vermindering van werksure en kollektiewe behoeftes.

Hiermee kan mens nie noodwendig fout vind nie, veral nie sover dit die ideaal van volle indiensneming betref nie. Oor hoe dit moet geskied om die optimale resultate op die lang duur  te bereik, bestaan uiteraard groot verskille.

Aangeleenthede wat nie hoog op die prioriteitslys van sosialiste verskyn nie, is prysstabiliteit of bekamping van inflasie, die bevordering van internasionale mededinging en die beskerming van die betalingsbalans, wat uiteraard die beskerming van die wisselkoers insluit. Dit beteken dat produktiwiteit ook nie ʼn hoë prioriteit is nie, soos ek persoonlik by geleentheid moes hoor.

Hierteenoor stel diegene wat die werking van ʼn vryemarkstelsel verkies, prysstabiliteit as ʼn belangrike prioriteit. Versterking van die betalingsbalans, ʼn oop ekonomie en dus produktiwiteitsgroei, is belangrik. Daarop sal volg dat die land internasionaal mededingend is en dus die uitbreiding van produksie en volle indiensneming. Doelbewuste herverdeling van inkomste en ʼn vermindering in werksure is laag op die prioriteitslys.

Die verskille in beleid wat gevolg word, kom sterk na vore uit hierdie prioriteitslys van die twee kampe. Diegene wat ʼn vrye mark voorstaan, se benadering kan beskou word as een van “kom ons kry die ekonomie op ʼn gesonde basis en gevolglik sal produksie toeneem, lewenstandaarde sal styg, indiensneming sal toeneem en inkomsteverskille sal krimp”.

Die sosialiste wil die proses omdraai. Die huidige regering en nou ook ʼn beduidende deel van die studente, is duidelik in die kamp van die sosialiste se sienswyses. Ons is reeds opgesaal met swak ekonomiese groei, groot tekorte op die lopende rekening van die betalingsbalans, ʼn swak spaar- en investeringsposisie, met werkloosheid wat hoog is en styg en ʼn al hoe groter wordende inkomstegaping.

Hierdie probleem sal duidelik nie opgelos word deur voort te gaan met ʼn sosialistiese beleid soos wat van die betogende studente voorstaan nie. Dit verbaas mens dan ook nie dat mnr Ramaphosa onlangs verklaar het dat “…maatskaplike kohesie en voorspoed slegs bereik word wannneer die vrugte van demokrasie gelykop verdeel word onder diegene wat in ʼn siklus van armoede vasgevang is.” Met so ʼn uitlating kan daar geen twyfel bestaan oor die regering se beleid nie.

Die probleem met ʼn beleid van sosialisme is dat dit té min aandag gee aan die bevordering van die produksiekant van die ekonomie. Voorstaanders daarvan reken dat grootskaalse herverdeling van inkomste die probleem van armoede sal oplos. Dit doen dit wel in ʼn mate in die heel korttermyn, maar dit is nie volhoubaar nie.

Die skade wat dit dit veroorsaak aan die onderliggende kragte wat produksie moet opwek, word feitlik geheel en al misken. Die resultate van sodanige optredes is egter veelvoudig. Kyk maar na wat in Zimbabwe aangaan. In Kuba gaan dit maar beroerd en so ook in Noord-Korea, terwyl Suid-Korea, wat ʼn vryemarkstelsel toepas, heel beter vaar en inwoners se welvaart styg.

Ek het ook onlangs ʼn artikel op die webblad van Bloomberg raakgeloop onder die opskrif: “Hugo Chávez’s dream is dead.” Ek haal ʼn enkele paragraaf aan om te toon wat die uiteinde van sulke beleide is. “Venezuela, with its crashing oil prices and alarming shortages, appears on the brink of political upheaval. The overturning of leftist populism – sweeping across commodity-dependent South America from Argentine to Brazil to Peru – seems on its way here.”

Dan wil ek daarop wys dat in ʼn Suid-Amerikaanse land soos Chili, wat ook baie afhanklik van grondstowwe is, maar ʼn vryemarkbeleid volg, die situasie darem aansienlik beter is.

Maar om terug te kom na die studentebetogings.

Natuurlik het studiegelde by universiteite die afgelope tyd skerp gestyg en word dit feitlik onbekostigbaar vir middelinkomste gesinne. Daarom neem studentegetalle, volgens inligting, in diè inkomste groep aansienlik af. Die oorsaak van die probleem moet egter verstaan word, naamlik swak ekonomiese groei met ʼn trae toename in belasting, nieteenstaande ʼn deurlopende verhoging daarvan.

Dan is daar ʼn skerp toename in studentegetalle, waarvan ʼn groot persentasie se skolastiese onderbou so swak is, dat hulle nooit die mas by universiteite sal opkom nie. Dit verhoog egter kostes.

Waar die studente betogings gaan eindig en hoe dit gaan eindig, is tans onseker. Wat wel seker is, is dat die vernielsug waarmee dit gepaardgaan nie verder geduld kan word nie. Wat ook besef moet word, is dat die sosialistiese beleid van die regering, met meegaande swak produktiwiteit, korrupsie en vermorsing van fondse, die hoofoorsaak hiervoor is.

Dit is te betwyfel of ons egter binnekort ʼn beleidsverandering gaan sien. Dit beteken maar dat die SA-ekonomie sy slakkegang sal voortsit en dat die land se internasionale mededingsvermoë deurentyd kan verswak, uiteraard aangehelp deur swak opgeleide jeugdiges.

Uiteindelik sal die beskikbaarheid van buitelandse valuta so laag wees dat dit noodwendig om oorbruggingshulp by die IMF sal moet aanklop. Dit kan tot ʼn verandering in beleid lei, aangesien die IMF dit as voorvereiste vir hulp sal stel.

Intussen moet die skade herstel word en nóg die regering nóg universiteite het tans die nodige fondse om dit te doen. Uiteraard sal dit uiteindelik lei tot belastingverhogings. Myns insiens sal ʼn styging in die algemene verkoopbelasting die minste verdere skade aan die ekonomie doen.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonoom.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

humor ·

Ramaphosa predik dit wat hy nie bereid is na te kom nie. Is hy bereid om sy skatte onder die armstrate van die bevolking te verdeel. Ook is hy onverdraagsaam teenoor onproduktiwiteit wat sy persoonlike sake aangaan. Daar verkies hy die bes kundiges wat toegewyd produseer.

John ·

Die grootste probleem waarmee ons sit tov leierskap in die land, is dat daar in regeringskringe, tans die sterkste parlementere groep, niemand is wat president Zuma se plek kan inneem nie, wat net verlangs ‘n beter opsie sou kon wees nie. Almal in die ANC het hierdie uitermate arrogante houding en geeneen wil wegbeweeg van die sosialistiese sienwyse nie. Die’ maksimum “grab-“mentaliteit by die meerderheid in ons land en onderpresteerders wat “alles verniet” met die minimum inspanning nagejaag, terwyl hulle nie ‘n snars weet hoe ekonomiese ontwikkeling en werkskepping werk nie, is die doodskoot vir ons land.

Christo ·

Dankie vir n baie insiggewende artikel. Kan ons nie meer van hierdie kenner hoor asseblief

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.