Ekonomiese oorsig oor 2018: Die ANC se groter projek

Tom Moyane, voormalige kommissaris van die SAID (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Regeringsherstel – die ANC se groter 2018-projek

Gedurende 2018 het pres. Cyril Ramaphosa se administrasie ʼn ooglopende poging aangewend om die staat se geloofwaardigheid te herstel. Omvangryke kommissies van ondersoek is byvoorbeeld van stapel gestuur, soos die ondersoek oor “staatskaping” en die ondersoek oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Verder is ʼn klompie “gerespekteerde” aanstellings, soos die van Tito Mboweni, as minister van finansies, en die onlangse aanstelling van die nuwe NVG-hoof, gemaak.  Omstrede figure soos Tom Moyane, voormalige hoof van die SAID, is afgedank. Malusi Gigaba het ook bedank, waarskynlik onder druk van die Ramaphosa-kabinet ná die Fireblade-saga.

Selfs voordat Ramaphosa die leisels as president oorgeneem het, is Eskom se raad onder Ramaphosa se leiding verander. Vuyani Jarana, voorheen van Vodacom, is as uitvoerende hoof van die SAL aangestel. Verder was daar ook projekte, soos die Oktober-beraad om beleggings aan te moedig, wat ʼn goeie indruk geskep het.

Sulke besluite het goeie opslae in 2018 gemaak en dit was positief vir Ramaphosa se groter projek en die ANC-regering se beeld. In woord en (soms twyfelagtige) daad, blyk dit dat die Ramaphosa-administrasie duidelik poog is om die chaos van die Zuma-era te beteuel.

Sou Ramaphosa inderdaad daarin slaag om die ANC-regering se beeld te poets, is ʼn oplewing in sekere beleggings, BBP-groei, en ʼn buitelandse vertroue heel waarskynlik.

Hoe lank so ʼn oplewing te midde van die ANC se stewig gevestigde inmengingsbeleide en volharding in radikale ekonomiese transformasie, hoewel a la die Ramaphosa-administrasie,  volhou kan word, is ʼn oop vraag vir nou.

Die feit is dat die Ramaphosa-era in vorm met die Zuma-era kan verskil.

Oudpres. Jacob Zuma was 30 November glad nie op sy stukke toe sy saak tot Mei 2019 uitgestel is nie. Foto: ANA

ʼn Nuwe speelveld?

Prakties gesproke lyk dit sover of die Ramaphosa-era op ʼn nuwe speelveld gaan afspeel as wat tydens die Zuma-era beleef is. Daar is makliker gronde van kritiek op die ANC-regering, soos onder meer korrupsie en growwe wanadministrasie van regeringsinstellings, wat moontlik nie meer so skrynend ná 2018/19 op die tafel sal wees nie. Dit maak dinge baie moeiliker vir daardie drukgroepe wat op hierdie ooglopende probleme gefokus het.

Ramaphosa hoop duidelik om die uitspattige gunsbejag soos die Gupta-staatsplundering en ongebreidelde korrupsie te beteuel. Indien so ʼn herstel in vertroue en minder openlike regeringsgedrewe chaos materialiseer, sal die ANC-regering tyd wen om hul groter projek weer op dreef te kry. Maar hoe lyk daardie projek? En wat is die denkbare uiteindelike nadraai daarvan?

Is ʼn drastiese trajekverandering deur die ANC-regering om beleide (soos BEE, inmenging, en uitermatige burokratiese bevel af te skaal) ʼn redelike verwagting?  Nie volgens die beskikbare gegewens nie. Ook nie in die Sakeliga se ervaring nie.

Die moontlike verskil is dat die Ramaphosa-administrasie, minstens vir die begin van sy termyn – anders as ten tye van die Zuma-jare – met ʼn baie beter politieke handelsmerk kan woeker.

Inmenging word voortgesit

Daar is baie aanduidings dat die ANC se geur van inmenging voortgesit sal word. Selfs tydens die hoogtepunte van “Ramaforie” is talle wette en regulasies deur die regering se hande wat uiteindelik ekonomiese vooruitgang in die wiele sal ry. Trouens, met die aanpor van een van die bewysbare rampspoedigste regeringsbeleide – onteiening sonder vergoeding – het die Ramaphosa-administrasie verder as hul voorgangers gegaan.

Hoewel onteiening ʼn kerntema van 2018 was, is dit nie die enigste skadelike beleidsvoorstel wat in 2018 die lig gesien het nie. Die Nasionale Minimumloonwet is een voorbeeld van ʼn beleid wat sterk deur Ramaphosa aangevoer is. Dit is ʼn beleid wat die Sakeliga om verskeie redes nie as ekonomies bevorderlik beskou nie.

Verder beteken ingrypende voorgestelde wysigings in 2018, onder meer op die Wet op Mededinging, die Wet op Gelyke Indiensneming en die Maatskappyewet, dat die ANC-regering blyk om ʼn nuwe fase van verskerpte ras-en-tel-beleid op die ekonomie af te dwing. Dit beteken, selfs op die mees optimistiese lees van die situasie, dat die ANC-regering nie van plan is om weg te keer van skadelike sosialisties geïnspireerde inmenging by die ekonomie nie.

Hiermee saam moet ons ook die BTW-verhoging in April, die eerste sedert 1993, tesame met die nuwe belasting op suikerverbruik in ag neem. Die BTW-koersverhoging raak natuurlik die meeste verbruikers se sakke, maar ook besighede wat nie dié belasting op verbruikers kan afwentel nie. Op sy beurt het die suikerbelasting ʼn hele bedryf volgens berigte onder enorme druk geplaas.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: ANA

Ramaphosa verander die regering se beeld maar nie ANC-beleid nie

Die ANC sien steeds die oplossing vir SA se probleme in ʼn (te) groot staat, (te) groot burokratiese bevel, en (te) groot regeringsbesteding. Dit druis in teen vrye ondernemerskap en die werking van markte. Daarom sal ANC-beleid aanhou om die ekonomie op ʼn groot skaal terug te hou – wat op sy beurt rykdom- en welvaartskepping sal skaad.

Ramaphosa se ANC is sover ten beste ʼn skynvriend van markvryheid – en beslis ʼn vyand van standvastige privaat eiendomsreg, deregulering en privaat ondernemerskap. 2019 bied dus ʼn gevaarlike moontlikheid: ʼn ANC-regering met ʼn beter handelsmerk wat steeds in die breë volhard met selfs skadeliker beleid as vantevore.

Daar is ʼn kans dat indien sterker vertroue geskep word dit verbeteringe kan voortbring, maar tot watter mate? En hoe sal dit presteer teenoor vergelykbare lande of streke, of selfs die regering se eie mikpunte (soos die 6%‑groeiteiken in die Nasionale Ontwikkelingsplan)?

ʼn Wêreld waarin die ANC steeds sy breër beleid voortsit, maar met ʼn blinker gepoetste openbare beeld handel, verg ʼn ander benadering as die blote korrupsiebeswering tydens die Zuma-jare waarop baie burgerlike instellings hulself berus het.

Die uiteindelike vraag wat dinkskrums en ontleders nou moet oorweeg, is of ʼn Suid-Afrika, geskoei deur ʼn oënskynlik beter bestuurde, minder korrupte ANC, maar wat steeds volgens sosialistiese ekonomiese en maatskaplike beleidsvoorstelle handel, sal kan werk.

  • Met groot dank aan Russell Lamberti van ETM Macro Advisors vir sy insette tot hierdie artikel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae