Ekonomiese oorsig oor 2018: Die jaar van Ramaforie 

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

2018 in ʼn paar grafieke

2018 was ʼn moeilike jaar vol verreikende politieke gebeurtenisse. Vanweë omstrede beleidsverwikkelinge gaan dié jaar nog lank sy stempel op Suid-Afrika se ekonomie afdruk.

Hierdie artikel bekyk die ekonomie in 2018 uit ʼn paar hoeke deur middel van ʼn paar grafieke en kommentare. Die fokus val op die aanvanklike Cyril Ramaphosa-euforie (oftewel Ramaforie) wat deur oudpres. Jacob Zuma se bedanking en Ramaphosa se aanstelling ontlok is. Daarna, in gedeelte twee, word die denkbare impak van president Ramaphosa se klaarblyklike projek om die ANC-regering se geloofwaardigheid te herstel, beskou.

Groot verandering

2018 het die val van beleërde voormalige president Zuma gesien en die opkoms van president Ramaphosa. Vanweë jare en jare van die Zuma-era se skandes, is dit natuurlik baie verstaanbaar dat die Ramaphosa-aanstelling met ʼn vloedgolf van sogenaamde Ramaforie (Ramaphosa-euforie) verwelkom is.

Ná jare van bykans ongebreidelde gunsbejag, korrupsie en regime-onsekerheid, was daar ʼn groot slaak van verligting toe iemand soos Ramaphosa oorgeneem het. Veral gegewe dat dit, immers, Ramaphosa “die sakeman” was – maar hoe diep strek die impak van Ramaforie werklik?

Die verandering van ʼn skandalige Zuma-regime na ʼn Ramaphosa-administrasie wat hard werk om ʼn beter beeld vir die ANC-regering te skep is ook belangrik om van kennis te neem. Die uiteinde daarvan is waarskynlik dat, indien Ramaphosa in sy projek slaag, diegene wat nie saamstem met die ANC se ekonomiese en ander beleide nie, meer gesofistikeerd sal moet wees in hul kritiek. Meer hieroor in deel twee van dié artikel.

2018 – op die keper beskou

Op die keper beskou kan 2018 gesien word as ʼn stryd tussen die harde werklikhede van skadelike beleidsvoorstelle en oorregulering – soos voorgestel en voortgesit – wat nou behoorlik wortelskiet teenoor die Ramaphosa-administrasie se veldtog om die staat en die ANC se beeld te herstel en uit te bou.

In dié opsig was daar waarskynlik niemand beter as Ramaphosa om die projek te dryf nie. Hoewel baie dinge natuurlik ʼn rol speel by wisselkoersbewegings, het die rand op sigself goed in aanloop tot Zuma se bedanking en Ramaphosa se aanstelling gereageer.

Die volgende grafiek illustreer die hupstoot wat die rand laat in 2017 tot vroeg 2018 gekry het. Ná die staatsrede het dinge natuurlik minder rand-rooskleurig geraak.

sakeliga-2018-randwisselkoers-in-2017-2018

Grafika: Verskaf.

Verbruikersvertroue het die hoogte ingeskiet

Buiten die by rand, word Ramaforie waarskynlik die heel beste in die eerste kwartaal se syfers oor verbruikersvertroue gesien. Die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) se indeks hieronder wys duidelik hoe verbruikersvertroue in die eerste kwartaal van 2018 die hoogte in geskiet het – selfs hoër as die vorige post-1994 hoogtepunt in 2007 voor die groot finansiële krisis!

Sedertdien het die vlak van verbruikersvertroue weer teruggesak, maar bly steeds in die indeks se positiewe terrein. Ramaphosa het duidelik aan die begin van sy termyn groot vertroue ingeboesem.

sakeliga-2018-beo-indeks-van-verbruikersvertroue

Grafika: Verskaf.

… en handelstoestande

Verbruikersvertroue is ongelukkig nooit die volledige prentjie nie. Ander maatstawwe, soos byvoorbeeld ETM Macro Advisors se indeks van handelstoestande, wat breër as verbruikersvertroue peil, dui daarop dat die Ramaforie-oplewing oor 2018 nie sterk genoeg volhou is nie ten opsigte van sakevertroue en indekse oor aankopebestuurders (PMIs).

Ten spyte van Ramaforie, volgens ETM se indeks hieronder, is SA nog nie naastenby op koers vir soortgelyke sterk handelstoestande van voor 2008 nie – trouens, die verbeterende toestande vroeg in 2018 is nie volhou nie.

Hierdie toedrag van sake is miskien ʼn goeie prentjie van die breër tendens in 2018, waar toestande effe beter voorkom as vantevore, maar nog geensins genoeg versterk om die huidige ekonomiese krisis om te keer nie. Om dit te doen, moet sulke indekse eintlik deur die neutraal breek (5 in die grafiek hieronder) en daarna aanhou versterk vir ʼn hele aantal kwartale.

sakeliga-2018-indeks-van-handelstoestande

Grafika: Verskaf.

BBP

Die groei in bruto binnelandse produk was traag in K1 en K2 van 2018 waar ʼn “tegniese resessie” waargeneem is. In K3 het die groeikoers versterk, maar, gemeet selfs aan die koerse van net voor 2015, is die groeikoers nog baie benard.

In die breë gesien, was die BBP-resessie van 2018 eintlik maar ʼn kleiner storie in die groter prentjie van die afgelope jare se ekonomiese agteruitgang, veral wanneer dinge soos BBP-groei per capita, werkloosheid en indiensnemings beskou word.

Baie meer moet op die BBP-front gebeur om die ekonomie by ʼn gesonde plek te bring.

sakeliga-2018-bbp-groeikoers

Grafika: Verskaf.

Werkloosheid en indiensneming

sakeliga-2018-etm-macro-advisors-se-saamgestelde-arbeidsmarkindeks

Grafika: Verskaf.

Die data oor die arbeidsmark wat die Sakeliga dophou, dui daarop dat Ramaforie ook nog nie werklik vir werkers gebaat het nie.

sakeliga-2018-werkloosheid-bly-hoog

Grafika: Verskaf.

Werkloosheidsyfers staan steeds hemelhoog, terwyl ETM Macro Advisors se omvattende saamgestelde arbeidsmarkindeks se laaste meting die swakste syfer sedert die finansiële krisis van 2007/08 aandui.

sakeliga-2018-groei-in-indiensneming

Grafika: Verskaf.

Hierdie toedrag van sake word ook deur die swak groei in indiensneming bevestig.

Ramaforie-boodskap het nog nie privaat vaste belegging bereik nie …

sakeliga-2018-bruto-vaste-kapitaalvorming-bly-traag

Grafika: Verskaf.

Vaste investering in die privaat sektor, ʼn maatstaf wat die Sakeliga as een van die beste maatstawwe vir die ekonomie se werklike gesondheid beskou, bly nog uiters traag. Privaat vaste belegging boer volgens die voorlopige BBP-syfers eintlik, ondanks Ramaforie, agteruit in K2 en K3 van 2018.

sakeliga-2018-groei-in-vaste-belegging-in-privaat-sektor

Grafika: Verskaf.

Slotsom

Na Ramaphosa se aanstelling vroeg in 2018, het die publiek op beter gehoop. Dit is duidelik weerspieël in die rand se aanvanklike bewegings en die uitsonderlike versterking in verbruikersvertroue. Hierdie vertroue het nie sterk deurgevloei na verskeie “harder” ekonomiese metings nie.

Deur 2018 het die Ramaphosa-administrasie hard daaraan gewerk om die ANC-regering se geloofwaardigheid te poets, maar daarby is roekelose en ingrypende beleidsvoorstelle, veral oor onteiening sonder vergoeding, gemaak.

Die volgende gedeelte sal Ramaphosa se 2018-herstelprogram in meer besonderhede beskou.

  • Met groot dank aan Russell Lamberti van ETM Macro Advisors vir sy insette tot hierdie artikel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers, Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.