Ekonomiese oorsig: VSA se bankkoers onveranderd en die impak op SA

rand-ekonomie-suid-afrika

Argieffoto.

Adam Jacobs

Die VSA se Federale Reserweraad het besluit om die bankkoers onveranderd te laat. Die hoofrede is dat die inflasiekoers steeds laag bly en min tekens van versnelling toon.

Die VSA se ekonomie bly matig verbeter met veral besteding op privaat verbruik wat die toon aangee. Markdeelnemers is verdeeld of die bankkoers vanjaar nog verhoog sal word. Sommiges meen dat dit selfs vir lank nog geen styging sal toon nie.

In Sjina bevestig jongste statistiek dat die ekonomiese groeikoers verlangsaam. Dit het ’n aansienlik negatiewe uitwerking op kommoditeitspryse met volume-aanvraag wat ook aan die taan is.

Vrese dat die VSA se rentekoerse kan styg, saam met die gebeure in Sjina, lewer groot onsekerheid vir veral die ontwikkelende lande. Hierdie groep lande is uiters kwesbaar vir kapitaaluitvloei tesame met ’n verswakking in hul lopende rekening van die betalingsbalans. Die vooruitsigte vir Afrika is dan ook deurlopend minder gunstig. Wat veral kommer wek, is dat Afrika se buitelandse skuldvlakke weer aan die toeneem is nadat dit aanvanklik grootliks afgeskryf is en redelik in beheer gebly het weens gunstige kommoditeitspryse.

Die IMf verwag vir vanjaar ’n gemiddelde groeikoers vir die wêreldekonomie van 3% met effens beter vooruitsigte vir 2016.

Plaaslik het die Reserwebank statistieke vrygestel vir kw2 rakende binnelandse besteding, die betalingbalans en diverse ander inligting. Statistieke rakende die verloop van die ekonomie in kw3 is tans nog karig, maar dit lyk nie bemoedigend nie. Groot nuus is die blykbare oorname van SABMiller deur Anheuser-Busch, ’n Amerikaanse bierbrouer.

Internasionale gebeure

Die hooffokus bly op wat die VSA se Reserwebank gaan doen rakende die bankkoers en verloop van sake in Sjina. In hierdie oorsig gaan ek die klem laat val op verwikkelinge in die VSA synde die grootste ekonomie internasionaal. Dit is hier waar die grootste onsekerheid bestaan oor wat kan gebeur met ekonomiese groei, die inflasiekoers, die wisselkoers en rentekoerse.

Die gebeure in 2008/2009 wat tot ’n ernstige insinking in die VSA se ekonomie gelei het, saam met vrese dat dié land en dus ook die wêreld, resessie- of selfs depressietoestande kon ervaar, het meegebring dat maatreёls ingestel is om so iets te verhoed. Lesse geleer uit die depressiejare in die tydperk 1929 tot 1932 het handig te pas gekom. ’n Gebrek aan ekonomiese groei, stygende werkloosheid en lae of selfs negatiewe inflasiekoerse, werk negatief in op inwoners se gemoedstoestand. Hul optrede vererger gewoonlik die situasie omdat besteding ingekort word en negatiewe inflasiekoerse hulle ook aanmoedig om dit te doen, aangesien later meer goedere en dienste met dieselfde bedrag geld aangekoop kan word. Sodoende spaar inwoners die land in ’n resessie in.

Die wêreld, met die VSA aan die spits, het gevolglik ’n ruim monetêre beleid gevolg wat neerkom op aansienlike geldskepping met baie lae rentekoerse wat daarmee saamgaan. Soos reeds voorheen vermeld, is daar in die VSA sowat $3,5 triljoen geld geskep – grootliks vir die regering. Dit het bekend gestaan as die “Quantitative Easing”- of QE-programme.

Aanvanklik het die ekonomie traag daarop gereageer. Dit is ’n bekende feit dat monetêre beleid meer effektief is om besteding te rem as te “stoot”. Geleidelik egter het vertroue teruggekeer en is besteding aangemoedig deur die lae rentekoerse. Gevolglik is die QE-programme gestaak, maar die VSA se ekonomie bly steeds deurtrek met baie geld en lae rentekoerse. Té veel likiditeit kan egter ook baie gevaarlik wees. Die probleem is dat dit slegs ’n klimaat kan skep vir besteding, en dus groei, maar stadig posvat. Dit kan egter ook lei tot hernude prysstygings van goedere en dienste. Tot dusver het dit grootliks aanleiding gegee tot bate-inflasie. Immers, die pryse van aandele wat deel uitmaak van die S&P-500-indeks in die VSA, het in die tydperk 6 Maart 2009 tot 17Julie 2015, van 683 tot 2 127, oftewel met 211% gestyg – dit in ’n tydperk toe die ekonomie nie waffers gevaar het nie. Daarby het kapitaalmarkbates ook goed gevaar weens lae en selfs laer rentekoerse in sekere lande. Om dus te beweer dat volop geld en lae rentekoerse nie tot hernude inflasie gelei het nie, is deels waar. Sover wel nog nie vir die pryse van goedere en dienste in die VSA nie.

Daar moet egter ook kennis gedra word van ’n aantal gunstige faktore wat tot dusver bygedra het dat die inflasiekoers in die VSA nie versnel het nie. So byvoorbeeld het die VSA$ in die tydperk 29 April 2011 tot 13 Maart vanjaar met byna 30% in waarde teenooor die DM versterk en min of meer in dieselfde tydperk met meer as 50% teenooor die jen. Op ’n gemiddelde grondslag het die wisselkoers aansienlik gestyg en sodoende ingevoerde inflasie aan bande help lê. Voorts was daar die skerp afname in die prys van ru-olie wat vanaf einde April 2011 tot hede met 60% gedaal het. Ook het daar die laaste paar jaar aansienlike produktiwiteitstygings voorgekom weens doelbewuste optrede, maar ook omdat daar aanvanklik heelwat onderbenutte kapasiteit voorgekom het. Namate beter besetting verkry is, het dit vaste kostestygings per eenheid produk of diens in bedwang help hou. Ná 2009 was daar groot werkloosheid en ook dit het bygedra tot stadige stygings in loonkoste. Dit is dus in geheel belangrike faktore wat meegehelp het dat inflasie lank laag kon bly en selfs vir aansienlik langer as wat die normale ervaring is.

Nou is die vraag: Vir hoe lank kan prysstygings vir goedere en dienste laag bly? Die voordele wat voorgaande faktore gebied het, is geleidelik besig om uit te werk – daar word dus nie nuwe momentum aan ’n lae inflasiekoers verleen nie. So byvoorbeeld daal die olieprys nie verder nie en kan kommoditeitspryse verbeter namate minder mededingende produsente produksie inkort of bankrot speel. Ook kan lone per eenheid produksie gelewer, begin styg. Inderwaarheid, die jongste inligting dui daarop dat die inflasiekoers effens begin versnel het. Weliswaar, jaar-op-jaar beskou, steeds onder die 2%-kerf, wat as nul inflasie gesien word weens kwaliteitsverbeterings. Dit sal my egter nie verbaas indien die inflasiekoers in komende maande bly versnel nie. Dit plaas die Fed voor ’n belangrike keuse of rentekoers gelig moet word of nie. Weer eens gesien in die lig van die lang sloeringstydperk wat bestaan voordat sodanige optredes effektief begin raak om inflasie te bekamp. Dit plaas myns insiens ’n vraagteken oor sekere sienings dat die inflasiekoers en dus rentekoerse in die VSA vir lank nog laag gaan bly. Laasgenoemde ook omdat kapitaalmarkrentekoerse kan styg indien die regering na die privaat kapitaalmark moet gaan om lenings te bekom, in die lig daarvan dat nuwe fondse nie meer vanuit QE-programme verkry word nie.

Plaaslike gebeure

Om ’n basis te kry vir ’n bespreking van die ekonomie, gaan allereers na tersaaklike statistieke vanuit die Reserwebank se jongste kwartaalblad gekyk word.

  • Indien van k-t-k, seisoenaal aangepas en teen ’n jaarkoers bereken, na van die syfers gekyk word, is die uitstaande gebeurtenis ’n skerp daling in die reёle bruto binnelandse besteding. Dit het van ’n styging van 2,7% in kw1 na ’n daling van 7,2% in kw2 afgeneem. By inspeksie blyk dit dat die finale vraagkomponente van 1,4% na 1,0% verlangsaam het. Die groot rede vir die daling in die BBB kan toegeskryf word aan ’n skerp afbou van voorrade ten bedrae van R38,9 miljard en ’n daling van R67,3 miljard in die respos. Die daling in voorrade kan ’n eenmalige verskynsel wees, wat sou beteken dat in kw3 die afbou óf aansienlik kleiner kan wees óf dalk selfs kan styg. Die respos is egter ’n probleem waarna ek in ’n vorige oorsig reeds verwys het. Dit volg op ’n daling vir die jaar 2014 van R51,6 miljard. Dit is die verskil in berekening van die BBP soos deur Stats gedoen, vanaf die produksie- en inkomekant en dié van die SARB, wat dit doen vanaf die bestedingskant. As Stats se berekeninge reg is, dan is die BBP soos gepubliseer die meer korrekte weergawe. As die SARB se berekening reg is, dan moet die BBP beter lyk. Hieraan sal aandag gegee moet word, want verkeerde syfers kan verkeerde besluitneming beteken.
  • Nietemin, die daling in die BBB het grootliks tot gevolg gehad dat die invoerrekening in kw2 met 6,3% gedaal het ná ’n styging van 15,8% in kw1. Daarby het uitvoer met 14,3% gestyg, volgend op 10,7% in kw1. Dit kan toegeskryf word aan die hervatting van werk ná stakings terwyl die meer mededingende wisselkoers waarskynlik ook ’n rol gespeel het. Die BNI het in kw2 met 1,3% gedaal in ooreenstemming met die daling in die BBP.
  • Die daling in invoer en beter uitvoersyfers het daartoe gelei dat die handelsrekening van die betalingsbalans in kw2 vir die eerste keer in ’n lang tydperk ’n surplus van R14 miljard getoon het. Dit wil egter voorkom asof hierdie verbetering in die handelsrekening van korte duur sal wees, aangesien die onaangepaste handelsyfers vir Julie en Augustus ’n tekort van R11,1 miljard toon, teenoor ’n surplus van R9 miljard in kw2. Die tekort op die inkome- en diensterekening het soos verwag, vergroot tot R138 miljard vanaf R117 miljard die vorige kwartaal. Nietemin het die lopenderekening-tekort, relatief tot die BBP, vanaf 4,7% in kw1 tot 3,1% in kw2 verklein. Aanduidings is egter dat die tekort in kw3 weer kan toeneem.
  • Sou die syfers j-o-j beskou word, dan blyk dit dat finale vraag in kw2 versnel het vanaf 1,0% tot 1,3%. Privaat verbruiksbesteding het van 1,6% tot 1,7% gestyg terwyl bruto binnelandse vaste investering, wat in kw1 gedaal het, tot 1,3% in kw2 toegeneem het. Laasgenoemde was egter veral die geval weens ’n lae basissyfer wat ’n jaar tevore negatief was.

Die verloop van sake vir kw3 lyk nie belowend nie. Inligting sover vrygestel, is skraps. In die eerste twee maande van die kwartaal het verkope van elektrisiteit verder gedaal. Dit bly ’n redelik goeie aanduiding van aktiwiteitsvlakke. Daarby het die wisselkoers verswak. Vir die kwartaal was die geweegde gemiddelde verswakking sowat 9%. Belangrike kommoditeitspryse in VSA$-terme, soos goud, het met 5% gedaal terwyl die platinumprys met meer as 15% getuimel het. Gelukkig het die prys van ru-olie ook gedaal, maar dit sal nie vergoed vir dalings in pryse van kommoditeite nie. Volume verkope van kommoditeite is ook onder druk. Vandaar dan ook die handelsrekening se tekort wat weer styg. Die leidende aanwyser van die sakesiklus ondersteun die swakker neigings. Die jongste syfer gaan wel net tot Junie, maar dit voorspel wat verwag kan word in komende maande. In kw2 het die leidende aanwyser met 2% verswak. Die verkope van nuwe passasiersvoertuie neig ook swakker. In September was die daling 9% teenoor ’n jaar tevore. Verkope van nuwe handelsvoertuie toon dieselfde neiging. Uitvoer van motors bly sover egter belowend. In Julie was daar ’n verbetering in die volume van fabrieksproduksie, maar dit was die gevolg van ’n meting op ’n baie lae basis die vorige jaar. Toerismesyfers wat in kw2 verswak het, het in kw3 dié neiging voortgesit. In die lig van hierdie tendense, tesame met ’n inflasiekoers wat effens verlangsaam het, en die Fed se besluit om sy verdiskonteringskoers onveranderd te laat, het die Reserwebank besluit om ook die repo-koers onveranderd op 6% te hou. Sou die Fed besluit om sy verdiskonteringskoers te verhoog, sal beide plaaslike kapitaalmarkkoerse styg en waarskynlik dan ook die repo-koers.

’n Laaste saak gaan oor die moontlike verkoop van SABMiller aan die Amerikaanse bierbrouer Anheuser-Busch. SABMiller is ’n groot maatskappy wat ongeveer 10% van die wêreld se bier produseer. Dit is wel ’n buitelandse geregistreerde maatskappy waarin Suid-Afrikaanse belange sowat 10% verteenwoordig. SABMiller se markkapitalisasie op die JEB is sowat 12% van die totale markkapitalisasie. Dit verteenwoordig ongeveer R130 miljard gewaardeer teen ’n prys van R750 per aandeel.

Sou AB ’n kontantaanbod maak vir die aandele van SABMiller, soos wat die verwagtinge is, en dit beloop R850 per aandeel soos wat die bespiegeling in die mark is, styg die markkapitalisasiebedrag tot byna R150 miljard. Dit is die bedrag geld wat die land kan invloei vanuit die buiteland. Dit kan tot gevolg hê dat die wisselkoers kan versterk, hoewel dit eenmalig en tydelik kan wees. Immers, daarna sal SA inwoners geen diwidende meer vanuit die buiteland ontvang nie. Daar kan ook ’n meevaller vir die skatkis wees weens kapitaalwinsbelasting wat deur sommige instansies betaal sal moet word. Hopelik sal so ’n meevaller vir die skatkis met wysheid aangewend word aangesien dit voortvloei uit ’n bate wat omgeruil word vir kontant. Vir die groter pensioen- en voorsorgfondse in die land kan ’n totale kontant-uitkoop van SABMiller-aandele probleme skep in dié sin dat daar reeds nie genoeg groot maatskappye is waarin hulle kan belê nie. Die regering sal dit dan moet oorweeg om die persentasie van 25% van fondse wat in die buiteland belê mag word, te verhoog.

In September het buitelandse beurse laer geneig. Die S&P-500 indeks in die VSA daal met 4,5%, die Ftse met 3% en die Nikkei met 8%. Die totale indeks van die JEB styg egter met 0,2% nieteenstaande die feit dat die hulpbronne-indeks met byna 12% verswak het. SABMiller se aandeelprys het van R615,50 teen einde Augustus tot R780,00 soos aan die einde van September gestyg – ’n toename van 26,7%. Sou die styging van SABMiller se prys uit die indeks verwyder word, blyk dit dat die res van die mark in September ’n daling van 3,4% beleef het. Verder was daar, sover dit genoteerde aandele betref, ’n afgeleide klein winsdaling in September gebaseer op historiese winste. Sou die vertoning van buitelandse aandele wat plaaslik verhandel, wat onder meer weens die swakker wisselkoers goed vertoon, buite rekening gelaat word, blyk dit dat plaaslike genoteerde maatskappye, gemiddeld beskou, glad nie ’n gelukkige tyd beleef nie.

  • Adam Jacobs is ‘n onafhanklike ekonoom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Geldsake, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.