Ekonomiese vooruitsig: SA in ekonomiese gat en blootgestel

Andre Cilliers is die direkteur en wisselkoersrisiko-strateeg by TreasuryONE. Foto: Verskaf.

Andre Cilliers, direkteur en wisselkoersrisiko-strateeg by TreasuryONE, gee ʼn ekonomiese oorsig en verduidelik wat Maroela Media se lesers van die wisselkoers oor die volgende drie maande kan verwag:

Internasionale gebeure

Die grootste enkele gebeurtenis en impak op ontluikende markte is tans die koronavirus en die impak daarvan op die ekonomiese groeiverwagting vir China.

Die Chinese ekonomie is die tweede grootste ekonomie in die wêreld en een van die grootste verbruikers van kommoditeite afkomstig uit mynbou asook die oliebedryf.

’n Direkte impak is dus moontlik op pryse van die kommoditeite en lande met groot afhanklikheid hiervan sal dus meer vatbaar wees vir die negatiewe impak. Suid-Afrika val in dié kategorie. China is ’n belangrike rolspeler in die vervaardigingsbedryf wat (oor die meeste bedrywe) ’n groot impak het op die verskaffing van produkte soos, onder meer, motoronderdele, selfone, elektroniese toerusting, tekstiel, ensovoorts. Met baie fabrieke wat gesluit is, kan dit wêreldwyd tot tekorte lei en ’n verdere impak hê op aanverwante bedrywe in ander lande. Wêreldgroei kan hierdeur dus baie negatief geraak word en die situasie moet fyn dopgehou word.

Hierdie faktore sal direkte impak hê op hoe beleggers na lande en veral na ontluikende markte kyk en sal beter rentekoerse in die lande nie die enigste faktor wees nie – dit sal ’n verdere impak hê op plaaslike bestedingspatrone en die gevolglike impak op staatsinkomste. Die risiko van negatiewe groei is spesifiek baie negatief vir Suid-Afrika wat staatmaak op wêreldgroei om ons ekonomie ’n hupstoot te gee.

Ons afhanklikheid van China is dus ’n bron van kommer.

Ander faktore wat ’n verdere rol speel in die internasionale ekonomie, is ekonomiese groei in die VSA en verandering in hul rentekoerse. Laer wêreldgroei sal in die VSA ’n impak hê en kan rentekoerse laer laat neig wat weer positief inwerk op ontluikende markte, Brexit wat nou in werking is en die bedinging van nuwe ooreenkomste. Die blote feit dat finaliteit hier nou na ’n kant toe kom, kan goed wees vir die Britse ekonomie en handel met Brittanje – nog positiewe punt vir Suid-Afrika.

Dus, ’n internasionale skaal van wigte en teenwigte, maar in my opinie geswaai na die negatiewe.

Plaaslike gebeure

Op die kort termyn het ons die opening van die parlement, die staatsrede en kort daarna die begroting, en tussen die twee gebeure verwag ons aankondigings oor Eskom, die SAL en ander staatsondernemings – veral die befondsing daarvan met moontlik pensioengeld, wat baie negatief is. Kort hierna verwag ons ’n aankondiging of verklaring deur Moody’s ten opsigte van Suid-Afrika se kredietgradering.

Een ander belangrike aangeleentheid waaroor duidelikheid verkry moet word, is die gesprek oor grondonteiening sonder vergoeding.

Kortom, daar is verskeie kwessies in Suid-Afrika wat tans ons ekonomie tot stilstand dwing en beleggersvertroue (plaaslik en internasionaal) aan bande lê.

Ons benodig sowel die plaaslike besigheidsbedryf as internasionale rolspelers om vaste langtermynbeleggings in Suid-Afrika te maak ten einde ons uit die finansiële gat waarin ons verkeer, te help. Die huidige gespartel laat ons net dieper in die gat val en neem kosbare tyd en energie op.

Vanuit ons plaaslike situasie lyk die prentjie dus donker en enige internasionale gebeure wat ons negatief raak, stuur ons verder in ʼn tydperk wat beskryf kan word as ʼn soort ekonomiese beurtkrag.

Ons kan dus in die volgende maande baie onbestendigheid in wisselkoerse sien en vlakke van so hoog as R15,80, of selfs tot R16,00 teen die dollar sien, terwyl die rand aan die ander kant net so maklik weer na R14,50 kan daal.

Daar sal dus geleenthede vir beide uitvoerders en invoerders wees en die groot vraag sal bly: Wanneer moet aksie geneem word?

Hier moet gesonde risikobestuursbeginsels in ag geneem word asook termynpunte wat óf verdien óf betaal word as gevolg van dekking.

Baie belangrik is die vlakke waarteen ’n besigheid winsgewend bedryf word en waarteen inkomste beskerm kan word. Daar kan dus baie spekulatief opgetree word en daarmee saam die hoë risiko van verandering aanvaar of, as alternatief, risikobestuur toepas.

  • Andre se loopbaan in tesourie het in 1983 begin. Hy het uitgebreide kennis op die gebied van wisselkoersrisikobestuur opgedoen in beide die bankwese en korporatiewe omgewing. Vir die afgelope 15 jaar van sy loopbaan in die bankwese was Andre die hoof van ‘n Duitse internasionale bank se tesourieafdeling. Andre het in 2008 deel van die TreasuryONE-span geword en is ‘n gereelde spreker op televisie en radio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae