Ekonomiese vryheid is goed vir elke Suid-Afrikaner

Deur Chris Hattingh

chris-hattingh

Chris Hattingh van die Vryemarkstigting. Foto: Verskaf.

Elke jaar publiseer die Kanadese Fraser Instituut hul Ekonomiese Vryheid van die Wêreld (EVW)-indeks. In die 2019-weergawe van die indeks sit Suid-Afrika op die 101ste rang, uit ‘n totaal van 162 lande. Ons hoogste posisie was 47ste, in die jaar 2000. Dus het ons geval met 54 plekke. Dit klink miskien na abstrakte nommers: Wat het ekonomiese vryheid eintlik te doen met mense se daaglikse lewens?

Die antwoord lê in mense se alledaagse keuses en besluite. Hoe minder ekonomiese vryheid ons het (en SA ís op die pad van al hoe minder vryheid) hoe meer daal beleggings, is daar minder werkgeleenthede, en hoe duurder raak dienste en goedere soos kos en petrol. Die oplossings vir baie van ons probleme lê in die EVW, as ons dit net wil toepas.

Die grootte van die regering, regsstruktuur en eiendomsreg, beskerming van geldwaarde, vryheid om op internasionale vlak te handel, en die regulering van krediet, arbeid en besigheid is die vyf studiegebiede van die EVW. Met data van bronne soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank meet Fraser verskeie lande se vlakke van ekonomiese vryheid. As ‘n land, byvoorbeeld, sterker privaat eiendomsregte het, kry daardie land ’n beter punt ten opsigte van eiendomsreg.

Die Suid-Afrikaanse regering is tans besig met ’n magdom planne en beleide wat al hoe meer van ons persoonlike en ekonomiese vryhede wegneem. Onteiening van eiendom sonder vergoeding (OSV) en die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is die twee grootste voorbeelde van kruipende sosialisme in Sui-Afrika, en die groei van die staat se beheer oor ons lewens.

Maar dit is nie die enigste kontemporêre voorbeelde van kommerwekkende staatsingrypings in die privaat lewe nie. Suid-Afrika is een van die hoogsbelaste lande in die wêreld. As besighede en individue meer belas word, het hulle minder rede om te groei en of om te belê. As hulle meer produktief is en wins maak, word hulle gestraf vir hul sukses.

Elke ander week is daar nuus dat die regering ’n nuwe ekonomiese ingryping oorweeg. Hul bedoelings is miskien goed. Hulle wil armer mense help deur middel van sosiale dienste en welsynbetalings. Maar sulke skemas is eenvoudig nie volhoubaar op die lang termyn nie. Suid-Afrika se beskikbare poel van belastingbetalers word elke jaar kleiner. Inderdaad lees ons gereeld van mense wat groener weivelde buite Suid-Afrika gaan soek. Minder belastingbetalers beteken dat die regering minder geld het om te spandeer op al hul sosiale planne. In plaas daarvan om mense aan te moedig om hier te bly, maak die regering dit by die dag moeiliker vir mense om hier te werk, te belê, en om hul toekoms te bou. As die regering ernstig is oor hoër ekonomiese groei, kan hulle dadelik belasting verminder. Dit is een maklike, vinnige stap wat mense sal aanmoedig om hier te bly en te werk. Laer belasting moedig mense aan om meer te produseer en die resultaat kan hoër totale belastinginname beteken.

Die regering kan dit ook veel makliker maak vir besighede om mense aan te stel. Die Nasionale Minimumloon (NML), wat vroeër vanjaar wet geword het, maak dit nog duurder vir klein besighede om winsgewend te wees en al hul kostes te dek. Dit val glad nie binne die behoorlike, gepaste rol van die staat om vir mense te bepaal vir hoeveel geld hulle mag werk nie. Sulke ooreenkomste moet tussen potensiële werknemers en potensiële werkgewers onderhandel word. Sodra die staat inmeng in sulke private sake is mense nie meer vry om hul eie besluite met hul eie tyd en vaardighede te maak nie. Die NML maak dit minder aanloklik vir besighede om meer werknemers aan te stel. In stede daarvan om ’n onekonomiese minimumloon te betaal, sal die besighede eenvoudig werknemers afdank of groot dele van hul produksiestelsel laat rus op rekenaars en ander outomatiese toestelle. Die NML, wat bedoel is om werknemers te beskerm teen “uitbuiting”, het verseker dat daar maand ná maand meer mense gaan aansluit by Suid-Afrika se 10 miljoen werkloses.

Die Suid-Afrikaanse regering moet ophou met die foutiewe aanname dat méér staatsbeheer ons probleme gaan oplos. Elke persoon moet vry wees om hom-/haarself op te bou en op te trek uit armoede. Die staat kan daar wees vir diegene wat regtig niks het nie, maar staatsingryping moet nooit ’n vaste reël wees nie.

Die antwoorde lê in die EVW: Mense vaar aansienlik beter in lande waar hulle meer ekonomiese vryheid het. Vir hoe lank gaan ons regering aanhou om die pad van staatsbeheer te volg en dieselfde foute te maak?

  • Chris Hattingh is ’n navorser van die Vryemarkstigting. Hy het ʼn MPhil in Business Ethics aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Hy is die skrywer van gepubliseerde artikels wat fokus op verbruikersregte, ekonomiese vryheid, ongelykheid en individuele vryheid.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Arak ·

Hierdie regering wil almal afhanklik hê van SASSA, want dan kan hulle almal beheer, al krepeer almal. Daar is niks goed aan hierdie vreeslike belastings nie, nie eers die bedoelings is goed nie. Ons word in die grond in belas op alles. Die probleem is ook verder dat almal nie ewe swaar aan die las dra nie, sekeres moet baie harder dra aan die las as ander. Ek kan nie sien dat hierdie onewe las, baie langer gedra gaan word nie, en die eintlik vraag is, hoe kan mens die las verbreek? Is die etol wanbetaling nie dalk die eerste tekens van ‘n algehele belastingverset nie?

Feite ·

Die ANC volg n pad van ideologiese staatsbeheer en sal vir ontsettend baie redes nie daarvan afwyk nie. Net soos die euforie van die rugby wereldbeker vir die oomblik geld, so ook geld die ekonomiese vryheid wat Suid Afrikaners op die oomblik kan vertroetel. Beide die rugby en ekonomiese vryheid euforie sal in die nabye toekoms iets van die verlede wees, tensy iets drasties die ANC tref en vernietig!

Gert ·

Die probleem is dat lui mense altyd hou van die idee dat die hardwerkendes forseer word om hulle swaarverdiende geld te deel met die luies. Daarom stem hulle altyd vir sosialistiese partye. Hulle dink nooit so ver om te besef dat die hardwerkendes kan padgee nie, dan het hulle nog minder vooruitsigte as voorheen.

Walter ·

Dit gaan erger word vriend, dit gaan erger word. Die ANC wil en sal alles en almal met ‘n ysterklou beheer.

Kosie Kramer ·

Indien een van die EVW-kriteria “vryheid om op internasionale vlak te handel” is, word dit in aanmerking geneem vir lande soos Rusland en China, waarteen Amerika en die EU sanksies bedryf?

andre ·

Oortuig die 10 miljoen werkloses om vir ‘n VRYEMARK politieke party te stem omdat dit hulle kanse vir indiensneming sal verbeter.

As werkloses daarin slaag om die kommunistiese vakbonde se ‘houvas’ op die ANC regering te verbreek … dan sal die SA ekonomie begin groei.

… en dwing Soweto (wanbetalers) om hulle eie elektrisiteit te betaal! Dan sal Eskom regkom!

Eddie ·

Chris , mag ek verskil , Ekonomiese Vryheid is nie net goed nie , maar uiters noodsaaklik !
Laat ons terug kyk na die dertiger jare toe die Suid Afrikaners in dieselfde boodjie was en nou is daar beter geleenthede en tegnologie tot ons beskikking om dinge te doen !
Laat ons ekonome en ingeneurs die planne op die tafel gooi en laat ons veral die ekonomiese platteland mobiliseer en benut ! Ons kan ‘n verskil maak !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.