Ek’s ’n Afrikaner – en hier om te bly!

Peter Dutton. Foto: Facebook

Vanjaar se eerste kwartaal is byna verby en dit was al in talle opsigte ’n baie interessante jaar.

Daar is verskeie gebeure wat die dinamiek van die sosio-politieke klimaat in die land beïnvloed. Die verkiesing van Cyril Ramaphosa as leier van die ANC en sy gevolglike inhuldiging as staatspresident het talle implikasies vir die politiek.

Die EFF se gedrag sou altyd verander namate daar verandering in die ANC bewerkstellig is. Hulle is nie ʼn 54%-party soos die ANC nie en ook nie ʼn 27%-party soos die DA nie. Hulle is ʼn 6%-party.

Die EFF se uiteindelike doel, benewens om net te wil breek en die land uiteindelik in armoede en ellende dompel, is dus om saam met iemand te regeer. Die DA het hulle (saam met ander partye) effens langtand aan boord geneem om sodoende op meer plekke te regeer. Die DA het maar gehoop vir die beste, aangesien die land oorwegend aan Zuma-tamheid gely het en hulle gretig was om iewers buite die Wes-Kaap ʼn vastrapplek te kry.

Die koalisies het lankal reeds krake begin toon – soos gesien in die EFF se stempatrone in Mogale City (Krugersdorp) en die EFF se dreigemente om die Gautengse koalisies te verlaat en ook die DA se groot onderonsie met die UDM in die Nelson Mandelabaai Metro (NMM). Julius Malema se dreigement om Athol Trollip, burgemeester van die NMM, se keel af te sny, kan onmoontlik bloot oorgesien word en as dit nie ʼn streep in die sand is nie, dan weet ek nie wat is nie.

Die DA het baie foute, maar hulle is ten minste veel minder korrup as die ANC en dit word bewys van hul rekord van regering oral waar hierdie onderskeie partye regeer. Ondanks al die EFF se geskreeu oor skoon regering en korrupsie, is hulle korrup tot in hul kern (hul leiers is immers oud-ANC-lede en het saam met die ANC uit die trog gevreet toe hulle nog kon) en wil verkieslik saam met ʼn party regeer wat ewe of amper so – of selfs meer – korrup soos hulle is sodat hulle weer gunste en gawes kan ontvang. Dit is nie die DA nie. En met Zuma weg is dit net natuurlik dat die EFF hulle nou by die ANC (wat immers steeds die grootste party is) sal skaar omdat dit hulle dan saam sal kan regeer ná volgende jaar se verkiesing en die EFF-heethoofde dan genoeg hefboomkrag sal hê om poste te kan losslaan.

Verkiesings en sondebokke

Ewenwel, dit bring my by daardie netelige kwessie wat sowat ʼn jaar weg is: Die volgende nasionale verkiesing. Dit plaas baie van die politieke onstuimigheid in konteks. Zuma is weg en daarom moet die DA en EFF nou soek na nuwe sondebokke en kwessies om op die spits te dryf nadat hulle hard baklei het om hom uit die saal te lig. Dis nou so effe ironies dat hulle nou baie van hul hefboomkrag kwyt is kort voor ʼn verkiesing wat daar van die ANC is om op sy baadjie te kry. Die teenoorgestelde blyk nou eerder waar te wees.

Die DA lyk eerlikwaar verward terwyl die EFF kwessies wat buitendien vir die ANC belangrik is, nou harder op die spits wil dryf om opskrifte te haal. Daarom moet dit ons nie verbaas dat Afrikaners, wit boere en Afrikaanse skole nou in die visier beland nie. Dis eintlik heel logies dat die EFF en ANC ons nou sal teiken omdat daar andersins min is vir hulle om oor te roem.

Ek was in Januarie daar toe die EFF en ANC hul optog na die Hoërskool Overvaal gehou het omdat AfriForum ʼn mandaat by die skool gekry het om te help om dit veilig te hou. Aanvanklik was die massas se voetstampende teenwoordigheid nogal intimiderend, maar my voorspelling op daardie dag blyk waar te wees: Die massas sal nie vir ewig by die skool toi-toi nie en as die stof gaan lê, gaan die skool steeds bly staan en dit sal ʼn Afrikaanse skool wees, soos die hof immers daaroor beslis het. En die betogers het toe wel aanbeweeg na hul volgende moles nadat ʼn minderheid gewys het hulle gaan nie bloot boedel oorgee nie.

Daardie geval is simbolies van soveel ander aanslae op ons as gemeenskap: Op ons plase, ons eiendom, ons vaardighede, ons skole, asook ons taal en kultuur. Die aanslae sal kom (wanneer laas het hulle nie gekom nie?) en tans kom hulle in alle hewigheid, maar dit is hoe ons dit hanteer wat saak maak in die groter prentjie van ons voortbestaan in hierdie land. En soos by Overvaal gesien is, hanteer ons dit deur middel van gemeenskapskrag baie doeltreffend, al is dit moeilik en vat dit tyd.

Geen ander tuiste

Baie Afrikaners is geneig om te glo ons is diegene wat verkeerd opgetree het en nou moet ons steeds boete doen daarvoor deur als wat ons het, prys te gee aan mense wat dit buitendien nooit self sou kon opbou nie. Dis tog die evangelie wat die EFF en ANC deurentyd verkondig. Laat ek dit net onomwonde stel: Ons is Afrikaners (Afrika-ners) en ons ken geen ander tuiste nie. Nes soveel ander groepe, volke en lande het ons foute gemaak, maar ons dra geweldig baie by tot hierdie land en ons gaan nie vir ewig jammer sê en weggee nie. En met ons vindingrykheid en kulturele energie sal ons self weer dit opbou wat ons verloor het. Nes ons in die verlede ook met ongekende sukses gedoen het.

Peter Dutton, die Australiese minister van binnelandse sake, se plan om wit Suid-Afrikaanse boere se vertrek na Australië te vergemaklik – asook die Australiese en Britse media se toenemende beriggewing oor plaasmoorde – is ʼn teken van hoe die Weste besig is om toenemend te ontwaak oor die ware situasie in Suid-Afrika en ook hul eie uitdagings – soos grootskaalse immigrasie uit die Derdewêreld – in oënskou te neem. Dutton steur hom bloot nie aan die linkse media se skynheilige kritiek nie en weier om van sy plan af te sien. Sy kommentaar het ook die absurde teenstrydighede in Suid-Afrika ten opsigte van grondhervorming, rassisme en plaasmoorde in die soeklig geplaas. Ek wens ons het steeds sulke ministers in die regering gehad! Dit is uiters positiewe tekens wat soveel moontlikhede vir ons as gemeenskap bied.

So baie soos ek van Dutton en sy plan, gesindheid en moed hou, wil ek egter nie in Australië, Kanada of Nieu-Seeland bly nie – al kan ek. Dis nie omdat ek nie van daardie lande of hul mense hou nie of omdat ek dink my lewe sal makliker in Suid-Afrika wees nie – inteendeel – maar bloot omdat ek glo my plek en rol is hier – aan die suidpunt van Afrika. Dit is hier waar die Here my geplaas het en niemand – nie die EFF, ANC of wie ook al – sal my as Afrikaner hier wegjaag of my toekoms bepaal nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ʼn entrepreneur, sake-konsultant en onafhanklike politieke kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Daleen van Rooyen ·

Ek is ook trots Suid Afrikaans. Ons het juis in SA beland agv Christelike verdrukking. Wat se toekoms is hier vir ons kleinkinders. Het nounet na die council meeting in Nelson Mandela baai gekyk op die nuus. Skokkend het nie veel hoop nie. Miskien is dit die Here se manier om ons uitkoms te gee uit hierdie “hell hole” wat ons land op die oomblik is. Dis maar net my meening.

Selfbeskikking ·

As ons besluit om agter te bly sal ons saam moet staan en hard onderhandel vir selfbeskikking, anders gaan ons verseker een vir een verwyder word deur misdaad, verarm word deur diskriminasie. So ons sal regtig nou moet begin praat oor selfbeskikking. Dit is moontlik en ons reg om ons eie sterk land op te bou al is dit n klein droe land, soos Israel. .

Jerry ·

Die wat glo dat hulle n plek en rol in SA het, sal bly en die wat glo dat hulle n plek en rol in die buiteland het, sal emigreer en net soos niemand Eugene sal beinvloed om nie te bly nie, net so sal niemand die wat emigreer beinvloed nie, want as die Here jou in SA plaas, dan plaas hy die wat emigreer in die buiteland. Om van mekaar te verskil en verdeeld te wees het die voordeel dat indien anargie uitbreek, hier of in die buiteland, dat daar Afrikaners gaan wees wie se geslagte gaan sneuwel en die wie se geslagte wat sal oorleef. Daar is diegene wat hulle steur aan die wette en opdragte van God en wat weet dat hulle ongehoorsaamheid jou een of ander tyd inhaal en straf en dan is daar die wat hulle nie daaraan steur nie en dit is dan wanneer die koring van die kaf geskei word. Die verskil tussen my opinie en Eugene se opinie is nie net dat ons die benadering tot oplossings verskillend sien nie, ons sien ook die uitkoms daarvan en die gevolge anders. Die verskil egter is dat Eugene afhanklik is van ledegetalle en hulle geld om sy opinie as lewensvatbaar te kan probeer verdedig, waar my opinie geld vir die wat aangewese is op hulself en instaat is om hulle geliefdes te hervestig in lande waar hulle welkom is, en waar hulle nageslagte die geleenthede sal kry om diep spore te trap.

Reinhardt ·

100% Jerry. My kinders se toekoms gaan blink in die buiteland, nie hier nie. Ek doen aansoek vir werk met al my grade en kry geen bevordering nie, daar was al uitdruklik vir my gese “jammer, ons sou jou wou aanstel maar ongelukkig weet jy mos ons kan nie.”

Spoortjie ·

Net so BY THE WAY, Eugene sit met ‘n DOKTORSGRAAD, en hy is ‘n jong man wat in enige land op enige plek sal werk kry .. so hy skryf dit NIE omdat hy nie kan beweeg nie .. of omdat hy afhanklik is van Afriforum se ledetal nie . maar hy skryf wat in sy hart is .. Ons weet teen die tyd almal jy het weggehardloop en maak nou Suid Afrika en Afriforum en Solidariteit sleg op ELKE LIEWE kommentaarkolom .. As jy Eugene nie ken nie, moet nie aannames maak nie . JY IS VERKEERD!!

Hendrik ·

Ek stem saam maar wat se planne gaan die Solidariteits Beweging saam met ander groepe soos VF+ ens, om soos Flip Buys voorgestel het, te konsentreer en te oorleef sonder om te emigreer. Ek hoor baie mense praat maar niks word werklik gedoen nie. Dit gaan baie moeilik by die werksplek en woonplek met diskriminasie en misdaad vir hierdie beweging se lede. Hoe gaan ons ons hierdie situasie deurleef ? Ek het al reeds plan gemaak en ek wag ongeduldig vir die leiers se planne.

Jane ·

Daar stem ek met jou 100% saam. Ek admireer absoluut VF+ en Afriforum en Solidariteit se pogings om die Wittes te laat probeer oorleef deur na streekdorpe te verhuis . ek wil net weet WANNEER skop dit af? Ons het BAIE MINDER TYD as wat ons dink ons het .. as hulle met grondonteiening begin is jou eiendom niks werd nie, en gaan jy dit nie verkoop kry om jou lewe te red nie .. jy gaan NERENS ‘n heenkome kan vind sonder geld nie, NIE eers in Orania nie . so asb . maak NOU julle planne aan ons ook bekend dat ons solank ons huise in die mark kan sit en begin beweeg . DIE TYD IS NOU !

Gerhard ·

Dit is natuurlik die probleem met Afrikaner organisasies, baie lawaai maar geen rigting en beweging nie. As hulle rigting en beweging gehad het sou ons nie eershoef te praat oor mense wat emigreer nie.

Rooikop ·

Dis presies hoe ek ook voel! Ek bly. Ek veg. Or I’ll die trying!

callie ·

Wel, daar is al 85000 wittes vermoor. Gaan jy wag tot net jy oor is voor jy begin “VEG”.

E.K. die eerste ·

Voel net so. Die eintlike boodskap is (soos bewys by Overvaal skool) byt vas en staan sterk en moenie ge-intimideer voel nie. Die geraasmakers raak moeg en beweeg aan. Ek weet dat misdaad erg is en glo my daar is misdaad oral in die wêreld, korrupsie oral in die wêreld en moet asb nie kom sê ja maar hul doen iets omtrent dit. Gaan lees mooi oral en sien dis ook maar ‘n gekarring. Daar is korrupte polisielede oral ter wêreld. Ek sal ook nie gaan nie, ek is hier gebore en klaar. My kinders kan maklik emigreer, hul is goed geleerd en is gekies vir ‘n assosiasie wat wêreldwyd lede het en werk oorsee waarborg sou jy soek maar hul verkies ook om te bly. Hul is baie gelukkig hier ten spyte van baie negatiewe. Daar is nie iets soos ‘n land van “melk en heuning” elders nie!Dankie vir ‘n mooi en positiewe berig.

Reinhardt ·

Eugene, my sentiment was baie dieselfde as joune vir n lang ruk. Maar kom ons kyk na ons geskiedenis. Ek is n afstemmeling van die Franse Hugenote, my voorvader het Frankryk gevlug om sy lewe te red teen die Katolieke kerk wat alle protestante wou vermoor. Toe maak hy die besluit om Afrika toe te kom, dit gaan toe lekker vir n paar dekades en toe neem die Britte die Kaap oor. Talle Afrikaners het toe maar besluit dit gaan nie deug nie en verlaat toe die Kaap opsoek na groener weivelde, letterlik en figuurlik. Hierdie was immers die voortrekkers. Ek hoef nie vir jou te verduidelik hoe moeilik hulle dit gehad het om n plekkie onder die son te vind nie. En net toe hulle dink alles is nou in orde kom die Britte weer en koloniseer die Transvaal en Vrystaat.

Ek kan aangaan met die storie, maar my punt wat ek probeer maak is dat vir 350 jaar veg ons al vir oorlewing op n kontinent wat ons wil uitspoeg. Wanneer gaan dit end kry? Ek is moeg. Ek wil kan konsentreer op my loopbaan sonder om te vrees my vir, my vrou of my kinders se lewens. Hier is ek n toeris, maak nie saak of ons nou dink ons hoort hier nie. Ek weet nie van jou nie, maar eks nie lus vir n oorlog nie, eks moeg gebaklei. Kom ons gaan soek groener weivelde.

Stella ·

Stem saam. Ons moet ophou met “ten minste nie korrup nie” “ten minste” dit en dat. As Australië vir my n veilige toekoms sou aanbied, klim ek op die eerste vliegtuig.

Joe Hall ·

Dankie Eugene Brink.
Soos altyd, ‘n artikel wat propvol gefundeerde pitkos is.

Nooit ·

NEE DANKIE< ek waai . ons is ernstig op soek na werk in die buiteland .. kan nie wag om my voete van hierdie godverlate plek af te skud nie .. hoop net dit is vinnig .. ek sal my taal en my familie en alles en almal in SA afskryf en afsweer . ek wil nooit weer met AFRIKA geidentifiseer word nie !!

waco ·

ek is in elk geval te lief vir my taal en kultuur om my nageslag te verengels in een van daardie lande nie. Dankie Dr. Brink baie goed gestel en ek is seker daar is nog baie Boereafrikaners wat soos jy voel.

callie ·

Ek is al 19 jaar in Australie en kuier nog steeds elke naweek in afrikaans en my kinders het nog steeds n wit afrikaner kultuur. Australie was baie goed vir ons en die vryheid wat ons hier beleef kan geld nie koop nie. Hier bly duisende boereafrikaners in Australie.

MTSteyn ·

Interessante skrywe, waarmee meeste lesers heel moontlik sal saamstem.

Waak egter teen stellings ‘soos dat niemand jou sal skuif nie’. Dalk skuif God jou uit Suid-Afrika, en gebruik Hy die bose om dit te doen, soos wat Hy Sy Seun – as ‘n weerlose babatjie – na Egipte geskuif het vir veilige bewaring. Daar is nog vele voorbeelde in Sy Woord waar God mense wegskuif vanuit die bekende, of wat hulle dink hulle s’n is, of behoort te wees.

Voor 1939 het baie Jode gevlug, en baie Jode het trou gesweer aan die Duitsland waar God hulle geplaas het.

Jou moeilike keuses is in jou hande, maar jou lewe in Syne.

Eish ·

Dankie vir n positiewe berig.
Ek wil egter opmerk dat indien u van mening is dat die EFF steeds n 6% party is, dink weer. Die Standardbank arena is onlangs tot kapasiteit gevul en anders dan die ANC, is ondersteuners nie aangery per bus uit ander provinsies nie.
Verder het die huidige geweldadige betogings en grondbesettings feitlik gesinchroniseerd ontstaan, wat bewys is van n defnitiewe organisatoriese element. Die nuusdekking was slegs toegespits op die mees omstrede voorvalle. Die stemvee koek saam om diegene wat die meeste bied.
U moet in ag neem dat daar reeds meer as 600 000 verarmde blankes is in die helhool. Dus sal ek maar versigtig wees om die uitsprake van vasbyt te opper terwyl ek n goeie inkomste verdien en bes moontlik in n veiligheidskompleks bly.
Ons boeties en sussies verarm in haglike omstandighede en betaal in der waarheid namens ons die prys van ons beweerde ” Wit bevoorregting”
Ek kan eerlikwaar my nie indink dat n verarmde mens en n vermoënde dieselfde ingesteldheid oor patriotisme sal hê in die tydsgleuf nie, veral nadat die hele minderheidsgroep gereduseer is tot tweedeklas burgerskap.
Ek loop as ek die geleentheid kry, selfs Rusland toe, want my menswaardigheid is afgetakel in die moeras tot n niksseggende bestaan van ontneemde geleenthede, georkestreer deur n godlose meerderheid wat nie skroom om my mense op die wreedste wyse denkbaar te vermoor nie.

Jerry ·

Spoortjie jy hoef nie namens Eugene te antwoord wanneer die antwoord reeds vervat is in sy skrywe waar hy meld dat hy by die skool was, want die skool het Afri-Forum die mandaat gegee om na die veiligheid van die skool om te sien. Dus le sy sentiment by Afri-Forum en die se lede en die se geld, want sonder geld kan hy mos nie sy rol vervul nie. Daar kan tientalle ooglopende redes wees, let wel nie beskuldigings nie, oor hoekom Afri-Forum ten alle koste sal wil verhoed dat hulle lede emigreer. Ek verwys maar net na een van die baie redes. Nog n rede kan wees om strategies te misluk om ledebelange te beskerm en dit voor te hou as rede vir selfbeskikking en volkstaat en so jou getalle op te stoot. Indien jy nie jou sin kry nie veroorsaak n fight en laat die lede die konflik trotseer en daarvoor het jy ook groot getalle nodig, want wanneer SA die stadium van wetteloosheid en anargie bereik sal die massas nie soos die klein groepie rent n crowd by die skool moeg raak en verdwyn nie. Die wat nie kan of soos Eugene nie wil emigreer nie, se enigste kans om geweld en vervolging in n sosialistiese staat vry te spring is om te versoen, nie om te verwag dat mede Afrikaners hulle lewens moet opoffer vir een of ander selfvernietigings ideologie met snaakse bymotiewe nie.

Hendrik ·

Elke keer as daar iets dreigends gebeur (grondgrype of so iets) verloor ons ‘n groep mense na die buiteland. ‘n Fabriek maak toe of ‘n plaas word verkoop/verval na ‘n plaasmoord. Alles beweeg ons vanaf die staatverval senario waar die land tans is na anargie wat die IRR voorspel in hulle senarios. Erens moet ons nou definitief eits begin doen.

NZder ·

Ek en my man en twee kinders bly nou al 13 jaar in New Zealand. Ons het onlangs NZ Burgerskap aanvaar en kyk nie een dag terug nie! Ons praat nog steeds ons taal en sal altyd trots Suid-Afrikaans wees, maar NZ in nou ons tuisland. Ons praat Afrikaans by die huis en sommer by die werk ook! Ek is ‘n Rekenmeester by ‘n groot Internasionale maatskappy en uit my departement se totaal van 7 staf is 4 Suid-Afrikaners.. Een ding waaroor ek spyt is… ons moes vroeër padgevat het!

ek sê WEER ·

Reinhardt, jy moet onthou jy gaan, waar jy ookal gaan dan OOK ‘n “vreemdeling” wees en wie weet sal jou nasate dieselfde moet deurgaan as ons hier! Of maak dit nie saak solank jy net nou en hier okay gaan wees? Daar is ook grondhervorming in Australië ! So waar jy ookal heen padgee, daar is altyd iemand wat gaan voel jy hoort nie eintlik daar of jou nageslag dan. So ja, julle mag dink dis beter êrens anders maar ek is tevrede hier. Ek is hier met ‘n doel geplaas en hier bly ek. Onlangs ‘n program oor NZ gesien waar hul baie snedig was oor Suid Afrikaners wat so saamkoek in ‘n sekere area en dink hulle is nog S Afrikaners ens. So…pasop dalk word jul nou verdra, maar wat wag in die toekoms? Julle dink jul doen dit vir jul kinders en kleinkinders maar wie sê die wiel het nie ook daar dan gedraai en is hulle weer die onwelkomes!

Reinhardt ·

Die groot verskil is daar mag ek dalk ook n vreemdeling wees, maar my lewe is nie in gevaar nie, my regte is nie in gevaar nie. Ek sal baie eerder onwelkom voel as wat ek vrees vir my lewe, ons kan nie eers in die aand gaan stap om die blok nie.

Al ons skole en universiteite is besig om te verengels, ek praat engels by die werk en slegs afrikaans by die huis en met vriende. Dan kan ek dit mos maar netsowel in n eerstewereld land doen. Ek verstaan nie hoekom almal alewig dink dat ons nie wel bewus is van die probleme in ander lande ook nie, maar om te se daar gaan dit net so erg soos hier… oh hel nee, daar is nie n vergelyking nie. Dan praat ek nog nie eers van al die werksgeleenthede wat ek in n ander land gaan kry nie.

Los daai mentaliteit van “ek is hier geplaas.” Dit is nonsens, jy is toevallig hier gebore omdat jou ouers toevallig hier bly omdat jou voorvader toevallig hiernatoe migreer het.

Elize Oliver ·

Natuurlik besluit elke mens maar self oor prioriteite in die lewe. Indien die weerloosheid van geen selfbeskikkingsreg op enige lewensterrein in Suid Afrika, ‘n nastreefbare toekoms vir iemand inhou, is dit beslis goed om in die Afrika idioom en droom te bly. Om te skuif ontneem jou nie van Afrikaner wees nie, inteendeel verskerp dit ‘n dankbaarheid om deel van ‘n era te kon wees waarin dié kultuur gedy het en is daar ‘n kosbare bron van waardes om die uitdagende proses van immigrasie te bestuur. As daar die kleinste kans is om te skuif, gryp dit en indien nie, skep met alle erns self die kans. Moenie met valse sentiment teruggehou word van ‘n geleentheid om net weer normaal te leef nie. Jy kan ‘n Afrikaner wees en jy hoef nie te bly nie.

Gerhard ·

Soms voel dit vir my wannneer dinge sleg begin gaan in die Nuwe Suid-Afrika dan gee dit vir vir sommige mense die geleentheid om Bittereinder kompetisie te hou. Ek kan nog hier uithou, kyk hoe oulik is ek. So effens soos Sondae vir sommige mense ‘n geleentheid gee om golf te speel of iets. Dapper uitsprake gaan nie die Afrikaner red nie, net soos dit nie Overvaal gered het nie. Die selfde hof wat bepaal het dit kan Afrikaans bly GAAN eendag bepaal dit moet Engels word. Punt einde. As Afrikaner organisasies nie baie vinnig rigting begin kry en spoed begin optel in ‘n rigting waar daar wel ‘n toekoms is nie is die Afrikaner gedoem. Daar is net een antwoord, selfbeskikking en dit is al antwoord.

Eugene Brink ·

Vriende, baie dankie vir julle kommentaar. Ek neem kennis van almal en dis interessant om die reaksies te lees. Natuurlik verkwalik ek niemand wat iewers elders gaan bly nie. Trouens, ek het vriende en familie wat baie gelukkig elders is en dit is reg so. Ons almal bly steeds vriende en bly verwant aanmekaar al is ons ver uitmekaar.

Maar om Afrikaners wat in Suid-Afrika wil bly van goed soos ‘n “valse sentiment” te beskuldig, is verregaande. Dit insinueer dat ons almal wat ten gunste is van ‘n lewe hier onder ‘n totale wanindruk verkeer. En om te dink als is bloot toevallig en dat almal wat (glo toevallig) in Suid-Afrika woon en hier ‘n toekoms wil skep, nie roepingsgedrewe is of moet wees nie, is ewe verregaande. Dan kan mens ook na als veralgemeen en dink alles in die lewe is bloot toevallig. Gelukkig glo ek nie in sulke ‘n drogredenasies nie.

Die feit is die kinders van eerstegenerasie-emigrante gaan in Engels grootword en nie meer werklik Afrikaners wees nie al praat hulle ouers nog Afrikaans. Afrikaans en Afrikaners as groep gaan nie in Nieu-Seeland oorleef en gedy nie. Ek is deeglik bewus van die risiko’s in die land omdat ek elke dag daarmee werk en help om iets daaraan te doen. Tog het ek baie hoop en my lewe is uitdagend, maar nie abnormaal nie. Ek glo ook in ‘n groter doel as om net my individuele gemak te verseker. Groete, Eugene

Awie Opperman ·

Goeiedag Eugene, baie dankie vir jou geloof in God se plan, vaderlandsliefde, pligsbesef, entoesiasme en jou skrywe. Ek deel jou sentiment in elke opsig. Ek het die wêreld se respek vir alles wat die VF+, solidariteit en afriforum alliansie doen vir ons volk. Daar is wel twee kwessies wat ek graag wil byvoeg en of jou insig oor kry. Eerstens wil ek hoor of jy dink dat daar ‘n moontlikheid is om ‘n organisasie te stig wat uitsluitlik ten doel het om namens die Boer/Afrikaner/Engelse Afrikaner volk te praat, daar is mynsinsiens te veel organisasies met te uiteenlopende standpunte, maar daar is geeneen wat al 5 miljoen van ons se stem verteenwoordig nie. Geen ledegelde (ek sal ‘n skenking maak en is seker daar sal nog mense wees), geen verskuilde politieke agendas, geen linkse of regse politieke orientering, slegs ‘n volksmond. Alle besluite per duidelik verwoorde elektroniese referendum en jy kan aan enige ander organisasie ook behoort. My tweede punt sal hierna volg. Groete

Awie Opperman ·

My tweede punt handel oor gebeurlikheidsbeplanning. Die sogenaamde wat as scenarios en die nie-onderhandelbare kwessies waar ons die streep moet trek en standpunt moet inneem. Ons gebrek aan betekenisvolle georganiseerde reaksie gun beweegruimte vir en lui tot arrogansie van rasistiese en ekstremistiese groepe. Soms is stilbly ‘n antwoord, maar binne die Afrika konteks kan dit baie maklik as swakheid gesien word. Ek is bewus van sommige groepe volksgenote se gebeurlikheidsbeplanning, maar daar is geen vir ons hele volk waarvan ek bewus is nie. Daar is ook ‘n groot kiesers groep wat jy buite rekening gelaat het, die groep wie se steun aan enige politieke party ‘n demokratiese oorwinning kan besorg, dis die huidige stemregtiges wat verkies om nie te stem nie en by wie ookal hulle aanklank vind kan baie vinnig ‘n enorme impak op ons huidige politieke omgewing hê. Ons mag dalk in baie gewapende konflikte geseevier het, maar ons het die propaganda oorlog verloor. Daar is al heelwat leuens vertel in en oor Suid-Afrika, maar sekerlik een van die grootstes is dat daar ‘n homogene swart bevolking bestaan wie in vrede saamgewoon het voordat ons voorouers hier aangeland het. Daar is swart bevolkingsgroepe wat die Boer/Afrikaner/Engelse Afrikaners goedgesind is en ons moet die propaganda wat verkondig word regstel met verwysing na akkurate geskiedkundige gebeure wat tans ontken word. Ons het vriende waarvan ons nie tans bewus is nie, en ons moet hulle onsersteuning kry en gebruik.

Francois ·

Dankie Eugene!
Ek bly saam met jou hier. Ek dink afrikaners wat oorsee bly moet eerder hulle monde hou. Hulle weet net so min soos ons wat more in hulle nuwe “veilige landjie” gaan gebeur. Die wereld verander baie vinnig en baie maklik, is een vd lesse v geskiedenis. Ek het self al baie getoer en gewerk in die buiteland. Ek bly hier want ek is n Afrikaner. Ons sal toekomstige uitdagings oorleef en ook weer floreer. Westerse lande se toekoms is afdraende want die 3de wereld emmigreer almal soentoe. Nog n geskiedenisles is, wat vandag bo is, is more onder en andersom. Ons het nie illusies oor die uitdagings hier nie, netso moet uitlanders ook nie illusies hê oor hulle sekulêre regerings nie.

ek sê WEER ·

Reinhardt – bedaar. Ek bly want ek is gelukkig hier. Lees mooi wat ek sê – jy gaan dalk nou okay wees daar maar in die toekoms..jou nageslag waaroor jy dan nou juis wil emigreer? Onthou dan as die “locals” in opstand kom daar oor die inkommers hul werk gevat en grond “gevat” het gaan presies dieselfde as hier gebeur. Ek het nooit geskryf dit gaan net so erg soos hier nie, my punt is steeds daar gebeur net soveel slegte dinge in ander lande, daar is net soveel korrupte polisie en politici ens. Ek gaan stap voor 6 soggens – ons bly buite die stad – megt my een hond aan ‘n leiband (sy sal sekerlik my probeer beskerm maar sal nie TE veel kan doen as daar gewere ens betrokke is nie). In die winter is dit nog donker en ek stap verby heelwat SWART MANS op pad werk toe en ek groet elke een elke oggend. Daar is een, so rasta-rige ou wat my eers vir ‘n week skeef gekyk het en ek het bly groet en na die week het ek een oggend vir hom geglimlag en gesê “even if you don’t greet me, I will still greet you” en van die volgende dag roep hy al van ver af ‘n groet. Ek is nooit bang nie. As dit my tyd is is dit my tyd – hier of waar ookal. My “attitude” bly dieselfde, dis my land ook hierdie en ek is positief.

Peet ·

Julle emigrante wat so wyd en suid verkondig hoe lekker julle bly, het julle al gesien hoe maklik word mense uitgeskop wat vir die staat van jou nuwe land `n las word. Families of gesinslede , kinders is al uitgeskop agv siekets wat n las vir die staat is. Onthou ook julle sal altyd die titel van emigrant dra, al word jy n landsburger.Ek dink in elk geval julle is n spul wat weghardloop en julle verskonings waavan daar baie is, is `n pot snert.

Kanada ·

Ek bly maar my kinders is oppad – twee ingenieurs & geoloog wie nie kans sien om hulle en hulle kinders se toekoms hier te bou. Hulle wil vorentoe beweeg en nie vassit in SA se rassistiese en diskriminasie / onderdrukking van minderhede nie.
Baie duur prys wat ons nou moet betaal met die dat mens se gesinne as’t ware opgebreek en verstrooi word.

Jerry ·

Kanada, jy en jou kinders sal nie terugkyk of spyt wees nie. Die kinders pas vinnig aan en wanneer hulle goed gevestig is kan jy hulle altyd volg. Hulle sal net n cellfoon en skype oproep ver wees en met hulle geldeenheid kan hulle lekker 2 keer n jaar vir jou kom kuier.

Veritas ·

Jerry, ek neem aan dat jy reeds die raad, wat jy so kwistig uitdeel, self gevolg en geëmigreer het. Waarom is dit vir jou so belangrik dat ander jou raad moet volg? Is dit omdat jy opreg omgee vir jou gewese volksgenote of wil jy netnie aan jouself erken dat jy nie die moed gehad het om vir jou gewese vaderland te veg nie? Geniet jou lewe daar waar jy ookal is en los ons bittereinders aan ons eie lot oor. Ek ken jou nie maar die afleiding, wat ek maak, is dat jy nie werklik gelukkig is in die plek waar jy nou is nie. Jy mis jou mense en hul tradisies en jou taal en dit is hoekom jy Maroelamedia se artikels lees.

Cornelia ·

Baie dankie Dr. Brink. Dankie vir u getuienis van hoop en geloof wat die Here eer. U inspireer. Dankie. Dit is so dat die van u wat ‘n geleentheid elders wil benut omdat u ook die gepaste kwalifikasies het, nie veroordeel word nie. Gaan. Die wat weet dat hulle ook kan gaan maar ‘n roeping het om te bly: aan die Here sê ons dankie. Ps 27: 12 – 14

emiel ·

In ‘n onlangse meningspeiling op Media34 se Afrikaanse portaal, het 85% lesers gestem dat hulle Australië toe sou emmigreer as hul kon. Ek kan goed hul punt insien. God het tog nie vir jou en jou kinders geskape en gedoem om soos ‘n potplant in ‘n vyandige omgewing voort te sukkel om te oorleef nie.

Ilze olivier ·

Gee ons net keuses bedoel maak deure oop en visas makliker asb as ons wil gaan ek het twee babatjies ek wil graag probeer om hulle te beskerm en die beste toekoms te gee…. Ek vrees al hoe meer ek wil verseker nie dink dit is hoe ons eendag moet dood gaan nie, rerig waar…

jaco ·

Afriforum en al hulle filiale het saam 450 000 lede. Hulle denkpatroon is Presies dieselfde as die VF-Plus s’n. Maar tog kry die VF-Plus net 160 000 stemme. So iewers is amper 300 000 mense wat dink soos die VF-Plus, maar wegbly van die stembus. Ek glo vas dis wegbly, want mense wat Afriforum en kie en die VF-Plus se denkpatroon huldig, sal NIE vir die DA stem nie. So iewers help ‘n groot klomp konserwatiewe behoudende Afrikaners met hulle wegblystem eintlik lekker om wit Afrikaners en wit mense as geheel in SA se graf te grawe.

John ·

Miskien stem baie mense nie vir die VF+nie weens die tipe leierskap wat die party handhaaf byna soos by ‘n kerkgenootskap of nader aan die politiek, soos die ANC: Geen nuwe bloed word toegelaat nie en die ooms in die bestuur weet alles. So word Orania ook bestuur. ‘n Klompie Afrikaners in die vreemde sal saamstaan, maar koek hulle in hul vaderland saam en die hare waai met die stywenek dominees en wyse gryses wat hoogdrawend die septer wil swaai. Meer mense sal dan juis gly. Regoor die wereld en oor alle tye trek mense om verskeie redes. Die meeste van ons Afrikanerjongmense dink anders oor burgerskap as oumense. Tye verander vinnig. ‘n Wereldoorlog, waarvoor die Pentagon en Navo vreeslik lus is, gaan alle plekke op aarde se atmosfere bederf, borde leegmaak of Afrika nou bloumoord skree of nie of wittes haat of nie. Die dood luister nie na slimpraatjies nie.

Jerry ·

Veritas, daar is een ding waaroor jy reg is en dit is dat jy my nie ken nie. Die res is gebaseer op jou persepsie. Vandag is Goeie Vrydag en n geleentheid vir jou om jou hart te versag sodat jou oe kan oopgaan en jy kan sien dat die skrif teen die muur is en dat jy saam met die forum met jou rug teen die muur staan. Wanneer jy dit kan sien sal jy besef dat jou uitkoms n vreedsame uitkoms moet wees en versoening kan dit vir jou bring. Selfbeskikking en laer trek bied nie uitkoms nie, inteendeel dit laat die Afrikaner uitstaan soos n puisie op n vark se boud wat van die Afrikaner n maklike teiken maak vir die ANC en EFF anargiste. Die anargiste wag net, inteendeel hulle lek hulle lippe af om die wat laer trek te omsingel en te treiter tot in lengte van dae. Onthou die Afrikaner het nie n polisie of weermag nie, die anargiste het wel!Die sekuriteit wat julle op wil staatmaak gaan of vlug of hulle gaan saam met die massas plunder. Diegene wat nie kan emigreer nie en wat nie hulself so blootstel nie het die keuse om te versoen en hulself en hul belange te verskans binne die groter SA samelewing. Hoop hierdie boodskap is duidellik genoeg en dat jy my nou n bietjie beter ken.

Veritas ·

Jerry, dankie vir jou antwoord. Net ‘n enkele punt waar ek heeltemal van jou verskil en dit is die versoen gedeelte. Vir 22 jaar het ons dit probeer maar dit was ‘n eensydige poging. Dit is baie duidelik dat die meerderheid van ons mede landsburgers geensins daarin belangstel nie. Van die witman word verwag om alles prys te gee tot voordeel van die swart bevolking. Daar is egter sekere dinge wat nie onderhandelbaar is nie en dit is: taal, kultuur, gelyke geleenthede en gelykheid voor die reg. Hierdie is dinge wat van ons weggeneem word al is ons burgers van die land. Daar is dus vir ons net twee opsies. Óf ons emigreer óf ons veg vir selfbeskikking. Dié van ons, wat nie wil padgee nie, moet net eenvoudig bymekaar kom en besluit watter roete ons gaan volg om te verseker dat die Afrikaner met sy eie taal, kultuur en waardes behou. Dit behoort nie noodwendig ‘n vryheidsoorlog te wees nie. Verkieslik nie. Ons is geregtig op ons eie land ( In Afrika) en al vat dit twee of dtoe geslagte, ons sal dit kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.