‘Ekwiteitswet’ blatant ideologies

(Foto: Shutterstock)

Tot onlangs is daar van werkgewers verwag om binne hul werksplekke ‘teikens’ vir ‘gelyke indiensneming’ te bepaal en vir die arbeidsdepartement voor te lê. Met president Cyril Ramaphosa se bekragtiging op 12 April van die wysigingswet op gelyke indiensneming, het die arbeidsminister voorts die mag om die teikens námens besighede te bepaal.

Dit kom na arbeidsminister Thulas Nxesi in 2021 vir ʼn ‘meer aggressiewe’ regstellendeaksie-regime gepleit het.

Die nuwe wet beperk hoegenaamd nie die minister se diskresie nie. Hy kan ‘teikens’ – raskwotas – vir enige ekonomiese sektor en streek bepaal en differensieer na sy eie smaak. Besighede wat nie die minister se bepaling nakom nie word heeltemal van staatstenders uitgesluit.

Dit is nie verbasend dat mnr. Nxesi die nasionale ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party is nie, aangesien hierdie wysigings die regering se agenda van sentrale ekonomiese beplanning na ʼn nuwe vlak neem.

Die Engelse naam van die wet – die Employment Equity Act – het nie ʼn gemaklike Afrikaanse vertaling nie. ‘Wet op gelyke indiensneming’ insinueer gelykheid, en ‘wet op billike indiensneming’ insinueer regverdigheid. Eintlik het die ‘ekwiteitswet’ min met gelykheid óf billikheid te doen.

Die vroeë Engelse howe van equity is op die been gebring om toegang tot geregtigheid aan diegene te verleen wat dit nie maklik in die gemenereghowe kon vind nie, gegewe onder andere komplekse prosesreg. Equity het met die idee van regverdigheid gehandel. Maar in Suid-Afrika het ekwiteitsreg niks daarmee te doen nie – die wet onder sprake moet eerder as sinonimies met ideologiese ras-essensialisme en -uitsluiting geag word.

Konstitusionalisme en ideologie in die reg

Dit was ter verwagte dat die reg sou gebruik word as ʼn stuk gereedskap vir sosiale-ingenieurswese toe die samelewing eeue gelede besluit het om wetgewing, wat die gemenereg mag verplaas, as ʼn legitieme vorm van sivielreg te erken. Gemenereg is die reg (veral afgelei uit die antieke Romeinse regsisteem) wat oor eeue heen, deur gewoonte en praktyk, erken word as bindend.

Maar wetgewing is niks meer of minder as die gekodifiseerde menings van politici wat in die reg opgeneem word nie. Nou dat wetgewing, vir argumentsonthalwe, die belangrikste bron van die reg geword het, is die positivistiese idee dat die reg onbesmet, apart van die politiek en moraliteit in sy eie domein staan, slegs ʼn fiksie.

Konstitusionaliste het egter eeue gelede besef dat hierdie realiteit nie heeltemal aanvaar moet word nie. Sekere beperkings was nodig op wat die politieke klas wetgewing voor kon gebruik om te bereik. Om ideologie hééltemal uit te sluit is onmoontlik, maar die reg moet uiteindelik gebruik word vir openbare doeleindes, dit moet die gelyke burgerskap van diegene wat deur die reg gebind word erken, en dit moet slegs in die maatskaplike omgang inmeng tot die mate wat nodig is om ʼn spesifieke onheil te genees.

Rassereg

Apartheidswetgewing het hierdie konstitusionele standaarde heeltemal geïgnoreer, wat heel voorsienbaar in die proses groot ekonomiese skade aangerig het. Maar die demokratiese regering is net so roekeloos besig om regsintegriteit te ondermyn deur die reg te gebruik as ʼn kru instrument om sy ideologiese aspirasies te bereik.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) het die Indeks van Rassereg in Desember 2022 bekend gestel, wat wys dat die Suid-Afrikaanse parlement sedert 1994 ten minste 116 stukke wetgewing aangeneem het wat velkleur ʼn regsrelevante feit hou óf maak.

Sekere kommentators voer steeds aan dat rassereg nodig is om die skade wat apartheid aangerig het te herstel. Hierdie argument is hoegenaamd nie meer in die Suid-Afrikaanse realiteit van toepassing nie. Daar is 13,4 miljoen mense wat formeel werkloos is. Ekwiteitsreg doen vir hulle niks goed nie, en dra eerder by tot die onaantreklike arbeidsomgewing waaraan potensiële werkgewers juis hul blootstelling wil beperk.

Dat sal nie verbasend wees, nou dat die wet op gelyke indiensneming só gewysig is, indien sakelui (sonder uitsondering dúúr) maniere gaan probeer vind om die impak van die wet op hulle besighede te verminder nie. Dit is nog meer waarskynlik dat die wysigingswet se enigste goeie bepaling – wat werkgewers met minder as 50 werknemers vrystel van die wet se rassistiese vereistes – mildelik gebruik sal word, wat vele besighede se indiensnemingspotentiaal vir altyd tot 49 staf sal beperk.

Die probleem met die wet is nie bloot dat dit dieselfde raskategorieë wat in die bevolkingsregistrasiewet van 1950 geproklameer is vandag in die Suid-Afrikaanse reg lewend (en florerend) hou nie. Inderdaad, in ʼn vrye mark kan sommige besighede heel moontlik tussen werknemers en voornemende werknemers diskrimineer op grond van ras, en as hulle hulself op hierdie manier in ʼn mededingende ekonomie wil belemmer, is dit hul las om te dra.

Die probleem is dat die wet nie-kommersiële oorwegings in die kommersiële besluitnemingsproses inblaas. Menslikehulpbronbeamptes, wat daarop gefokus behoort te wees om kandidate slegs op grond van hul bekwaamheid en versoenbaarheid met maatskappykultuur te oorweeg, moet ook die ideologie van die ANC implementeer.

Verteenwoordigendheid uitsluitlik ideologies

Ekwiteitsreg doen slegs één ding, en dit is uitsluitlik ideologies van aard: dit verhoog ‘verteenwoordigendheid’.

Daar is geen goeie of objektiewe rede om te veronderstel dat enige sosio-ekonomiese verskynsel, soos ʼn arbeidsmag, die rassesamestelling van die samelewing moet weerspieël nie. Dit is ʼn geheel en al arbitrêre doel om na te streef wat slegs betekenis kry wanneer dit vanuit ʼn bepaalde ideologiese perspektief benader word. Verteenwoordigendheid verhoog nie welvaart nie, dit verruil bloot een persoon van ʼn bepaalde ras met ʼn persoon van ʼn ander ras.

Die oënskynlike ‘sielkundige’ voordele van verteenwoordigendheid word ook nie in Suid-Afrika prakties bevestig nie. Die regering is geheel en al rasgewys ‘verteenwoordigend’ en hierdie feit alleen het niks gedoen om Suid-Afrikaanse burgers se wantroue en persepsie van korrupsie in die regering te verminder nie.

Trouens, bitter min Suid-Afrikaanse burgers beskou verteenwoordigendheid as een van die twee kwessies wat topprioriteite vir die regering behoort te wees.

ʼn IRR-opname van 2022 het gevind dat slegs sowat 3% van swart Suid-Afrikaanse burgers swart ekonomiese bemagtiging noem, en hoogstens 2% noem rasse-ongelykheid (wat nie verwar moet word met die stryd teen armoede nie) en die bekamping van rassisme as een van die top twee kwessies. In ʼn ekstrapoleerbare vraag oor die seleksie van sportspanne, meen ʼn volle 91% van swart Suid-Afrikaanse burgers dat aanstellings uitsluitlik op grond van ‘meriete en vermoë’ gemaak moet word en nie in die naam van rasseverteenwoordiging nie.

Hierdie demografies verteenwoordigende opname het 607 Suid-Afrikaanse burgers met ʼn foutmarge van 5% ingesluit.

Oorspronklik was equity bedoel om verligting te bied vir die onregverdige toepassing van die reg. Vandag verteenwoordig die ekwiteitsreg in Suid-Afrika een van die mees onregverdige gebiede van die reg. Dit word afgedwing sonder duidelike openbare steun, en dit dra aansienlik by tot die ekonomiese verwoesting wat gelaat word in die nasleep van die regering se ideologiese ambisie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Martin van Staden

Martin van Staden is beleidshoof van die Vryemarkstigting.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

So as ek as ‘n privaat maatskappy nie sake met die staat WIL doen nie kan ek ook nie aanstel wie ek wil nie? Wat verstaan hulle nie onder PRIVAAT nie? En wie wil nog met die staat besigheid doen? Hulle betaal nie en jy staan die kans om by bedrog en korrupsie ingesleep te word!

Erika ·

Maw dit is Ras voor keur en Politieke agendas wat bevorder moet word ten koste van Bevoegtheid /Beginsels/Ondervinding natuurlik onder dekmantel van Mag van die Wysigings Wet wat sogenaamde reverdigheid verteenwoordig

Heinrich ·

Indien die ANC en sy comrades dit beter kon doen sou ek met blydskap sê “go for it!”, maar om van ‘n land wat die beste ekonomie/infrastruktuur ens in Afrika gehad het aan ‘n mislukte ideologie vas te klou terwyl almal kan sien dat alles uitmekaar val, gaan my verstand te bowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.