Elke dag ’n Heldedag

Dr. Danie Langner van die FAK wys die helde van die Afrikaanse gemeenskap uit. Foto: Reint Dykema.

Hier volg dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, se volledige toespraak wat hy Donderdag op die Solidariteit Beweging se tweede Toekomsberaad gelewer het. Die Beweging het sy 2030-blyplan tydens die geleentheid by die Choose Life-kerk in Moreletapark, Pretoria bekendgemaak.

My boodskap is eenvoudig, duidelik en ondubbelsinnig: Ek is ’n Afrikaner en ek is trots op my helde.

Dit is so dat Afrikaners vandag vir die soveelste keer in ons geskiedenis in die engtes van ’n bestaanskrisis beland het.

Die geskiedenis wys Afrikaners skrik nie vir krisisse nie. Ons gryp die krisis aan die kraag, kyk hom vierkant in die oë, en gooi hom soos Siembamba in die sloot.

Dit is presies wat ons vandag hier doen.

Ons sê Afrikaners is steeds hier! Ons maak ’n verskil! Ons bou vorentoe!

Daar sal altyd die pessimiste, stoepsitters, agterbankers, diep beswaardes en gehawendes wees wat gelate na die syfers kyk en met lang sugte sê: “Die oormag is te groot; die getalle te min; die planne te klein.”

Dit mag vir sommige waar wees, maar aan kombuistafels met mieliepap en boeretroos, het ons ouers ons geleer: Die een man wat weet wat hy wil, is ’n meerderheid.

En my pa het my geleer die belangrikste graad in die lewe is ’n ruggraat.

Daarvan het ons Afrikaners baie. Ons weet wat ons wil. Daar is staal in ons ruggraat en murg in ons pype. Bring maar die meerderheid!

Baie mense sê ons het nie meer leiers nie.

Ons het iets beter as leiers. Ons het helde.

Duisende en duisende helde. Ongesiene, onbaatsugtige en dikwels ongewaardeerde helde wat elke dag in hul gemeenskappe dien.

Heldhaftigheid het niks te doen met ideologie of ’n politieke standpunt nie. ’n Held is nie ’n ridder op ’n wit perd, ’n koeëlkeerder of ’n vegter wat die skurke die stryd aansê nie.

’n Held is heeltemal iets anders. ’n Held is iemand wat die regte ding op die regte tyd doen.

’n Held is die een wat in ’n krisisoomblik opstaan en sê: Praat julle van my? Is ek die een wat tou opgooi? Is ek die een wat my taal, kultuur en my mense verraai? Oor my dooie liggaam.

’n Heldedaad, skryf Willie Jonker, die lewenslange student van geloofsmoed, is ’n daad waarin die mens homself gee vir iets wat groter as hyself is.

Groter as hyself en groter as die krisis!

Die krisis kan van werkskring tot werkskring, uitdaging tot uitdaging verskil, maar wat in alle gevalle dieselfde bly, sê Jonker, is dat ’n held op die juiste oomblik doen wat gedoen moet word om:

“die krisis af te weer,

en die kwaad te stuit

sodat die beswil van die medemens bevorder kan word.”

Ons helde is:

  • Die Afrikaanse juffrou in die klas wat met penstrepe en woordbeitels die volgende geslag skrywers en digters vorm;
  • Die koorjuffrou wat ’n revue afrig en eerstespanrugbyspelers Totius-psalms laat sing;
  • Die oom en tannie wat die verwaarloosde konsentrasiekampe en Afrikanermonumente in hulle dorp versorg;
  • Die skoolhoof en beheerliggaamlid wat met innoverende planne wêreldklas-skole skep;
  • Die geskiedenisonderwyser wat anderkant die eensydige skoolkurrikulum kinders help om te onderskei tussen feit en fiksie;
  • Die sakeman, ouer, predikant, sekretaresse wat, ten spyte van besige dagboeke, as Voortrekkeroffisiere dien, by ’n plaaslike kultuurorganisasie betrokke raak, Geloftedae en kunstefeeste reël, rande rek en sente omdraai om ons dinamiese en skeppende kultuur in hulle gemeenskap te bevestig.

Dít is wat ons helde doen.

Ander kan ons vlae stryk, die note van ons liedere stilmaak, ons kultuursimbole tot argiewe verban, maar die simboliese krag van ons helde se diensbaarheid kan niemand ontken nie.

Hulle diensbaarheid simboliseer Afrikaners se selfstaan, deursettingsvermoë en kreatiwiteit.

  • Ons helde verstaan wat N.J. van der Merwe, ’n konsentrasiekampkind van die ABO, bedoel wanneer hy Afrikaners se kultuurtaak beskryf “as die stryd van individu en gemeenskap om hulself te wees, vir hulself te dink en eie selfstandigheid te handhaaf”.
  • Ons helde soek nie voortdurend sondaars in die verlede nie, maar los vandag se probleme op met voorposdenke, voortreflike dade en uitnemende prestasies.
  • Ons helde is nie op die paviljoen om te juig of van die kantlyn aan te moedig nie. Hulle is op die veld, sweet in die Afrikason, weet van inspan, en beste gee. Dit is hoe ons die wedloop wen.
  • Ons helde verstaan die beslissingspunt tussen breek en bou. Hulle weier om ons taal en kultuurtaak aan ’n staat te delegeer wat graag belowe, maar self nie weet hoe of wat om te doen nie.
  • Mooi woorde en vleitaal oortuig nie ons helde nie. Vir hulle is beloftes dade.
  • Ons helde is nederige mense.
  • Ons helde is kan-mense.
  • Ons helde weet wanneer Afrikaners beledig en verneder word, maak dit ons nie onseker of bang nie. Dit maak ons sterker.
  • Politieke en rasboelies laat ons nie tou opgooi of moed verloor nie.

Dit motiveer ons om harder te werk.

Dit motiveer ons om te wees wie ons is.

Om iemand reguit in die oë te kyk en te sê wie jy is, om nie skaam of ontkennend te leef nie, om identiteit te erken, is nie meerderwaardig of eksklusief nie.

Dit is trots met selfrespek. Daarom kan ons ook ander se taal, kultuur en erfenis respekteer.

Oom Paul se verjaarsdag is lankal nie meer ’n amptelike heldedag nie. Dit maak nie saak nie, want ons helde werk 365 dae.

In ’n tyd van afbreek en selfsug, middelmatigheid en korrupsie is elke dag se eerlike werk ’n heldedag en elke daad van diensbaarheid ’n heldedaad.

Ons salueer ons helde in die klaskamer, op die preekstoel, in die raadsaal, in die plaaslike gemeenskap, en orals waar hand en verstand ploeg en dink vir ’n betekenisvolle oes.

Sonder jul geloof, jul liefde, jul dienswerk, jul saamstaan sal ons nie kan bou nie.

Dit skep hoop vir die toekoms.

Jul geloof en moed, jul beitel en bou, is ons geslag se toekomsbou.

Oom, tannie, meneer, juffrou, vriend, vriendin uit die hart uit, dankie vir wat julle doen.

Ons is trots op ons helde!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Danie Langner

Dr. Danie Langner is besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

BenDons ·

Dankie vir vandag se boodskap.
Ek is en bly ‘n trotse Afrikaner en eer elke ons Voorouers. Ek weet dat ons sal weer wen en ons bestaan verseker en dit in ons wonderlikke taal Afrikaans.

Pierre Crous ·

Volksgenote, Landsgenote, Burghers!!! Ek is ook trots op ons Volks helde van vervloeë tye, maar ons moet nou na nuwe helde soek en kyk wat vir ons kinders en nageslagte gaan ten baat wees, helde wie NOU alles insit en opoffer vir onse Volk!!!! Stem oplyn vir VVA/ULA Sesseerings beweging om hul n Volksmandaat te verleën vir n blinker toekoms!!

Disselboom ·

Verwys dit nou na die teoloog Willie Jonker van Rustenburg-verklaring 1990, aangeprys deur Desmond Tutu, verskoning vra en sondes bely oor apartheid en so aan? Weet nou nie of sy soort heldemoed en volharding om die kerk te verlaag na sosiale geregtigheidsforum ‘n goeie voorbeeld is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.