Emigrasie en die Groot Bou

Deur Ernst van Zyl

Ernst van Zyl.

Jy kan na Switserland gaan waar alles werk, maar daar is geen geleenthede nie. Of jy kan na Suid-Afrika gaan waar niks werk nie, maar waar daar baie geleenthede is. – Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec Bank

Die idee om jou goed te vat en te trek, is diep in die Afrikaner se psige en volksgeheue ingewortel. Ons voorsate het die reis na Afrika weens verskeie redes aangepak, soos beter werksgeleenthede en geloofsvryheid. Sedert hul aankoms is hulle voortdurend deur gevare uit Afrika en later ook uit Europa geteister. Vandag word ons nederige, dapper volk vir die soveelste keer met die migrasievraagstuk gekonfronteer. Bykans elkeen van ons ken ’n vriend, bure of familielid wat die land verlaat het. Ek het al voorheen oor hierdie onderwerp geskryf, omdat hierdie ’n lewendige gesprek is met baie nuanse wat vereis dat ʼn mens innoverend moet dink.

Die harde werklikheid is dat, indien daar nie ’n toekoms in Afrika vir Afrikaners is nie, ons kultuur waarskynlik ongelukkig ook nie ’n toekoms het nie. Ons kultuur en mense is gevorm in die smeltkroes van sukkel en stryd van die vasteland waarna ons onsself vernoem het. Ek het al die voorreg gehad om die lande van my voorouers te besoek, maar ek het nie ten volle daar tuisgevoel nie. Dit voel bykans asof jy ’n ou familiehuis besoek. Jy herken dalk die foto’s teen die mure en jou pa of ma kan vir jou die kamer wys wat op ’n tyd hulle s’n was, maar dit voel nie soos jóú huis nie. Vele Afrikaners vertel dat hulle dit geniet om Europa te besoek, maar dat hulle ná ’n paar weke weer na hul eie land begin hunker.

In sy boek, The mind of South Africa (1991), skryf Allister Sparks dat hy begrip het vir die kulturele angs wat Afrikaners gedurende die laat 1980’s en vroeë 1990’s ervaar het. Sou die eksperiment van ’n nuwe Suid-Afrika nie uitwerk nie, kon hy as Engelse Suid-Afrikaner na enige land in die Anglosfeer emigreer: Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Engeland en dies meer. Daar sal hy relatief tuisvoel in ’n gemeenskap wat sy taal praat en sy waardes, kultuur en Britse erfenis grootliks met hom deel. Vir Afrikaners is hierdie kulturele sprong baie groter. In die buiteland word hulle deur kulturele vreemdelinge omring wat nie hul taal praat, hul kultuur of waardes deel of begrip het vir waarom hulle dit dalk moeilik vind om op die Britse erfenis trots te wees nie. Sommige mense sien kans daarvoor, maar ander, soos generaal Christiaan de Wet, laat hul soos volg daaroor uit: “Ek staan liewer op ’n mishoop te midde van my volk as in die weelderigste paleise tussen vreemdes.”

Omdat ons gaste in ’n vreemde land is, dwing ons waardes ons om te assimileer. Dit is natuurlik wat bedagsame immigrante behoort te doen: Só word hulle deel van hul gasheerland se gemeenskap en neem hulle dié waardes, gebruike en selfs eendag die kulturele identiteit aan. Dit is presies wat die Franse Hugenote wat hierheen gevlug het om van geloofsvervolging te ontsnap, gedoen het. Vandag is die Afrikanerkultuur ryk aan Franse vanne, maar geen Labuschagne of Le Roux praat meer Frans of beskou hulself as Frans nie. Dieselfde kulturele assimilasie is bestem om te gebeur met die afstammelinge van Afrikaners in die buiteland. Hulle kinders gaan grootgemaak word in die tradisies en kultuur van hul nuwe tuisland waarin hul nuwe identiteit gevestig gaan word.

Ek het begrip vir diegene wat kies om eerder te emigreer sodat hul van ʼn regering kan ontsnap wat teen hul kinders diskrimineer omdat hulle wit is, en wat hul gesin in ’n land wil vestig wat nie soos Suid-Afrika deur misdaad en staatsverval geteister word nie. Ek verwyt nie alle emigrante vir hul keuse nie, want ek verstaan wat ’n moeilike een dit is. Ek verwag egter dieselfde begrip van Afrikaners in die buiteland vir mense soos ek wat besluit om te bly en te bou, al gaan dit hier ook hoe skrikwekkend rof.

Nie alle keuses kan in materiële terme uitgedruk of gerasionaliseer word nie. Ons voorouers wat die Kaap tydens die Groot Trek verlaat het, was nie oorwegend arm nie. Die meeste van hulle was welaf boere wat grond besit het en ’n goeie lewenstandaard gehandhaaf het. Vir hulle was die blote idee van verengelsing – wat hul kultuur en taal sou vernietig – en om onder die duim van ’n imperialistiese ryk te leef egter ondenkbaar. Hulle het gekies om die meeste van hul aardse besittings agter te laat en die gevaarlike onbekende in te trek – nie vir groter materiële rykdom of meer veiligheid nie, maar om hul gemeenskap en kultuur van verswelging te red. Hul kinders sou veel veiliger gewees het in die Kaapkolonie met sy beter infrastruktuur en opvoedkundige geleenthede, maar hulle sou moes aanpas en by die visie en tradisies van die Britse Ryk inval. Vir die Voortrekkers was daar sekere dinge in die lewe wat soveel waarde gehad het dat hulle nie ’n prys daarop kon plaas nie. Hul geloof, gemeenskap, taal en kulturele erfenis was vir hulle noodsaaklik vir ’n betekenisvolle lewe en het ’n edele stryd verdien.

Buitelanders is dikwels verward oor die idee van emigrasie wat in Suid-Afrika so sterk is. In baie lande is daar nie juis só ’n emigrasie-ingesteldheid nie. Wanneer dinge daar begin moeilik gaan, rol hulle die moue op en maak dit reg. Gelukkig is ons ook stadig maar seker besig om ’n toekomsgerigte boukultuur onder Suid-Afrikaners, en spesifiek Afrikaners, te vestig. Die Solidariteit Beweging se slagspreuk is “Ons bou om te bly”. Dit is nie slegs woorde nie; dit vind inslag deur ons dade. Sol-Tech, Akademia, ’n ongeëwenaarde buurt- en plaaswagnetwerk by AfriForum, die AfriForum Teater, Wolkskool, Helpende Hand, ’n privaatvervolgingseenheid en vele meer is voorbeelde van woorde wat in dade omgeskakel is.

Ek put ongelooflike betekenis, vervulling en trots daaruit om ’n pionier in die oplossingsbedryf te wees waarvan AfriForum ’n baanbreker is. Hier werk ons aan praktiese oplossings vir probleme waarmee ons in suidelike Afrika worstel. Die koers wat die meeste Westerse lande tans inslaan, is ’n gevaarlike een en ongelukkig sien ek ver-Suid-Afrikaansing en soortgelyke verval op hul pad vorentoe. Flip Buys sê: “In Suid-Afrika het die toekoms reeds gebeur; dit is net oneweredig oor die land versprei.” Ek sou daarby aansluit: In lande soos Suid-Afrika het die toekoms reeds gebeur, dit is slegs oneweredig oor die wêreld versprei. Westerse lande gaan nog eendag vele lesse uit die aksies wat ons nou ervaar, leer.

Daar sal altyd Afrikaners wees wat net eenvoudig nie kan of wil emigreer nie. Ons sal moet standpunt inneem en almal duidelik laat verstaan dat ons hier is om te bly. As jy dit nie gaan doen nie, sal jou kinders of kleinkinders dit moet doen. Liewer jy as hulle. As jy reeds geëmigreer het, gaan ek nie vir jou sê dat jy die verkeerde besluit geneem het nie; ek respekteer daardie diep persoonlike keuse. Ons wat verkies om in Suid-Afrika te bly, sal wel jou gebede, ondersteuning en begrip waardeer. Vir dié wat kies om te bly en te bou: Kry gemoedsrus uit die feit dat daar duisende nes jy is. Kom ons smee ons kragte in geloof en gemeenskap saam soos ons voorvaders, en hou moed dat daar wel ʼn uitkoms vir ons gegee sal word in hierdie land waarvoor ons so onblusbaar lief is. Elke boom wat ons plant, elke instelling wat ons bou, elke buurtwag wat ons stig – dit is elkeen boustene in die fondasie van ’n toekoms vir ons kultuur en nageslag – vry, veilig en voorspoedig aan die suidelike punt van Afrika.

  • Ernst van Zyl is veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum. Hy is medeaanbieder van die Podlitiek-podsending, bied die Afrikaanse podsending, “In alle Ernst”, aan en het ’n kanaal vir politieke kommentaar en onderhoude op YouTube. Ernst plaas gewoonlik bydraes op Twitter en YouTube onder sy skuilnaam Conscious Caracal.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marius

Welgestel daar Ernst. Watookal jou keuse mag wees jy het geen ander keuse as om dan vrede te maak met jou keuse en voluit te werk vir die verwesentliking van jou drome nie. Selfs al is jy onsuksesvol sal jou stryd altyd edel bly.

Hendrik

Ja nee Ernst ons weet hoe hard is dit om ‘n gemeenskap te bou en nog steeds bou daaraan. Ons wag nou net vir al die meningsvormers om die daad by hulle woord te sit en te kom help bou. Ons wag vir jullle en ons is nie ver nie. Die hemelruim is mooi hier.

Jasper

Hoe kan daar ‘n toekoms wees as daar teen huidige benaadeelde minderhede gediskrimineer word gebaseer op velkleur, wie is ons leiers? waar is ons land waar ons taal en geskiedenis respekteer word,ons is net belasting melkoeie in ‘n piesang Republiek gee die Afrikaans sprekende persoon ‘n klein onafhanklike stukkie grond en ons word n magtige nasie,sonder misdaad, korrupsie of rasisme.

annie

Wat ons vergeet is dat Europa soos ons dit ken nie vir altyd was soos dit nou is nie en straks net ‘n duisend jaar of wat voor SA tot stand gekom. Die inwoners kom van oraloor; ‘n mengelmoes van rasse en kulture wat mettertyd ingebed geraak het. Hoekom hou sekere mense aan om te glo Afrikaners is uitlanders. Die meeste swart volke was nomadies en het eers mettertyd tussen die wit trekkerboere gevestig geraak en nie andersom nie. Baie dorpies het eers net wit inwoners gehad met swart Afrikane wat mettertyd opgedaag en betrokke begin raak het. Skryf Afrika… Lees meer »

Robbie

Jy praat van “gaste in ‘n vreemde land”. Wel, hier is ons nou ongewenste bywoners in ‘n vreemde land waar ons gehaat word.