…en lei my nie in die rugbyversoeking…

Eben Etzebeth, slot van die Stormers Foto: Yunus Mohammed

Gisteroggend was ek byna laat vir kerk. (Ek weet dat niks tussen jou en jou godsdiens moet staan nie maar partykeer sny ʼn mens dit nogal fyn…) Die rede daarvoor was dat die Cheetahs in ʼn rillerstryd teen die Rebels gewikkel was. Ek was bekommerd dat hulle weer soos verlede week ʼn omstrede strafskop sou afstaan om weer in die doodsnikke van die wedstryd die gety teen hulle te sien draai. Die omgekeerde is toe waar.

Ek staan reeds met my sleutels by die deur (op pad kerk toe), toe die laaste aanslag deur die Cheetahs plaasvind. Alle eer aan Ebersohn wat die gaping geslaan het, maar dit was ʼn spanpoging soos min wat met kaptein Richard Strauss begin is, verder gevoer is deur Ashley Johnson totdat Piet van Zyl se drie in die linkerkantste hoekie die wedstryd vir die Cheetahs beklink het.

Om sout in die wonde te vryf het Goosen die drie vanaf die kantlyn verdoel om die besoekers met 33-26 teen die Rebels te laat seëvier. Ten spyte daarvan dat Johan Goosen ʼn paar skoppe verbrou het, is hy nog steeds een van die mees suksesvolle stelskoppers in die huidige Superreeks. Hy is na my mening een van die jong sterre wat met gemak die Springboktrui in die toekoms oor die kop gaan trek Sy een of twee gapings was meesterlik en sy verspreiding van die bal vinnig, om nie te praat van sy kanonvoet wat die wedstryd in ʼn oogwink 60 meter veldaf na die teenstanders se doellyn kan verskuif nie. Geluk aan ons Cheetah-ondersteuners.

Die Sharks het ook karakter getoon deur van ʼn agterstand van 17-0 terug te kom en die wedstryd teen die heersende kampioene, die Reds van Australië met 27-22 te wen. Die span het werklik getoon waarom hy een van die toonaangewende spanne in die Suid-Afrikaanse been van die kompetisie is. ʼn Gevoelige terugslag het hulle net voor die wedstryd getref toe hulle senter JP Pietersen met ʼn dyspierbesering in die opwarming sodanig beseer is dat hy nie kon opdraf nie. Alhoewel Meyer Bosman ʼn waardige plaasvervanger is, het dit tog ʼn uitwerking op die Sharks gehad.

Geluk aan die Stormers wat van die begin af die skroewe aangedraai het om die hoogs aangeskrewe Blues van Auckland met 27-17 te wen en sodoende ook die Blues van ʼn bonuspunt ontneem het.
Bonuspunte sal oor die lang kompetisie verseker ʼn bepalende rol speel en dit behoort elke verloorspan se doel te wees om alles in sy vermoë te doen om ʼn bonuspunt te behaal.

Wat my opgeval het, is dat die Stormers se jong pak voorspelers hulle stempel op die wedstryd afgedwing het. Frans Malherbe, die jong vaskopstut van die Stormers het met baie meer vertroue as sy 20 jarige ouderdom gespeel en sulke spelers sal dit vorentoe moeilik maak vir ander spanne om die vaste vyf van die Stormers aan te vat. Die slot, Etzebeth, is ook maar net 20 jaar oud, maar speel met die aggressie van ʼn Bakkies Botha op sy beste. Hou hierdie jongeling gerus maar dop.

Die Bulle en die Lions het loslootjies gehad en ons sien uit daarna om hulle volgende week in aksie te sien.

Wat die Varsity-beker betref is dit die laaste rondte voor die uitklopreeks begin. Die kampioenspan sal uit een van vier spanne, naamlik Maties, Tukkies, Pukke of UJ bestaan, maar wat nou belangrik is, is die bepaling van die tuis-halfeindstryde wat vanmiddag se wedstryde nog belangriker as enige vorige wedstryd maak. Dit is nie net finansieel beter om die halfeindstryd voor jou tuisskare te speel nie, maar die sielkundige voordeel van ʼn tuisveld kan nooit uit die oog verloor word nie.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.