En op die hof is daar ook nie te vertroue nie

grondwet-argieffoto-02

Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks van vyf artikels wat deur Malan oor die Grondwet geskryf is. Die artikels sal oor die volgende vyf weke elke Donderdag op Maroela Media gelees kan word.

Goed en wel, dit mag so wees dat grondwetlike bepalings uiteenlopend vertolk kan word en dat die ANC dit kan aanwend om om sy transformasie-ideologie – die nasionaal demokratiese rewolusie (NDR) – deur te voer, maar daar is darem die regstaat se remme en teenwigte (“checks and balances)” wat dit kan verhoed: dinge soos die hoofstuk 9-instellings en die howe – bowenal die hoogste hof van appèl en dan natuurlik die kroonjuweel van die grondwetlike orde, die konstitusionele hof.

Luister dan net na die klinkende woorde van artikel 165(2) wat lui:

“Die howe is onafhanklik en onderworpe slegs aan die Grondwet en die reg, wat hulle onpartydig en sonder vrees, begunstiging of vooroordeel moet toepas.” Buitendien het die howe ’n baie breë jurisdiksie om oor bykans enigiets te beslis. Wanneer die regering en die ANC se program mense se regte ontken, gaan die hof hulle stuit. Die regte is mos gewaarborg.

Daar is inderdaad ook ʼn rits uitsprake wat vir die ANC en die president ʼn klomp verleentheid veroorsaak het. Trouens daar is heel uitgelate hierna verwys as “hamerhoue” wat die hof die ANC sou toedien.

Daar is ten minste vyf uitsprake in die onlangse tyd wat vir vrolike kommentators na sulke hamerhoue mag lyk. Nie een van die uitsprake het egter op transformasie betrekking nie en almal laat die ANC se ideologiese uitgangpunte verbintenisse volkome onaangeraak.

Die ‘hamerhoue’ teen die ANC en die regering

Die eerste vermeende hamerhou was die Nkandla-uitspraak. Die konstitusionele hof het die ANC se koukus in die Nasionale Vergadering en Zuma oor die kole gehaal omdat hulle hul aan die Openbare Beskermer se Nkandla-verslag afgevee het. Dit het egter absoluut niks met die ANC se transformasie-ideologie te doen gehad nie. Dit is onaangeraak gelaat. Bowendien het die uitspraak ook nie die ANC in sy geheel getref nie, want ʼn groot groep anti-Zuma-ondersteuners en ampsdraers van die ANC was juis van mening dat die parlementêre ANC en Zuma verbrou het. Die hof se uitspraak het dus duidelik die anti-Zumafaksie in die ANC versterk.

Die tweede uitspraak, die van die appèlhof oor die regering se besluit om Suid-Afrika uit die Internasionale Strafhof te onttrek, is eweneens nie teen die ANC of transformasie nie. Inteendeel, die ANC het juis ywerig meegedoen om die hof ingestel te kry en op die inisiatief van die ANC was Suid-Afrika een van die eerste state om party tot die statuut van die hof te word. ʼn Faksie van die ANC het later ʼn hartsverandering ondergaan. ʼn Groot deel van die einste ANC bly egter steeds voorstaanders van voorgesette deelname aan die Internasionale Strafhof. Buitendien het die appèlhof ook nie beslis dat die inhoud van die besluit om te onttrek, ongrondwetlik was nie, bloot die wyse waarop die besluit geneem is.

Die derde uitspraak was oor die lasbrief van die Internasionale Strafhof vir die inhegtenisname van die Soedanse president, Omar al-Basjir. Hierdie uitspraak van die hooggeregshof was soortgelyk. Dit is nie teen die ANC as sodanig nie, want ʼn groot deel van die ANC sou juis graag wil hê dat Al-Basjir uitgelewer en vervolg moes word. Die uitspraak het ook glad nie op die transformasie-ideologie betrekking nie.

Die Sassa-uitspraak het die ANC en die onbekwame minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, erg in die verleentheid geplaas omdat hulle so ʼn gemors van die administrasie van die uitbetalings van die maatskaplike toelaes gemaak het. Die uitspraak druis egter hoegenaamd nie teen die ANC se transformasieprojek in nie. Juis nié, want maatskaplike toelaes, en die daaruit voortspruitende sosio-ekonomiese regte vervat in die Grondwet, is juis die regstreekse produk van die ANC se eie aandrang vir die erkenning van dié regte. Dit is ʼn integrale deel van die transformasie-ideologie. Buitendien is maatskaplike toelaes die ANC se enkel belangrikste middel om kiesers te koop en verkiesings te wen. Die hof het met die uitspraak dus nie teen die ANC se transformasie-verbintenisse beslis nie. Inteendeel, die hof het die ANC as’t ware weer na sy eie uitgangspunte teruggebring en gehelp om sy ideologiese samehang te herwin.

Die vyfde uitspraak (van die hooggeregshof) waarin die regering se kerntransaksie met Rusland in die vaarwaters beland het, het slegs betrekking gehad op die feit dat die besluit sonder behoorlike raadpleging geneem is. Dit slaan nie op die inhoud van die besluit nie. Dit staan die regering vry om basies dieselfde besluit weer te neem net solank die tersaaklike prosedures gevolg is – iets waarmee die regering juis tans besig is.

Die hamerhoue teen die regering en die ANC se uitdagers

Maar helaas, naas hierdie uitsprake is daar is ook ʼn ander reeks onlangse uitsprake – ook ten minste vyf – waarin die konstitusionele hof en die appèlhof hulle onomwonde by die ANC en die regering se transformatiewe doelwitte geskaar en korte mette met uitdagers van buite die ideologiese kamp van die regerende elite gemaak het.

Eerstens was daar die konstitusionele hof se uitsprake in AgriSA. In dié saak het die hof beslis dat die ontneming van mineraalregte sonder behoorlike vergoeding in orde is.

Die tweede was die konstitusionele hof se beslissing in die Renate Barnard-saak. Ofskoon Barnard herhaaldelik verreweg die beste kandidaat vir bevordering was, het die hof beslis dat dit heeltemal geregverdig was om haar nie te bevorder nie. Ter wille van rasseverteenwoordigendheid – ʼn kernbeginsel van transformasie – het die hof beslis dat die pos eerder vakant gehou moes word en kon die kranige Barnard nie bevorder word nie. Dié beginsel van die transformasie-ideologie is in latere uitsprake bevestig.

Derdens is daar die sogenaamde Lesufi-saak, vernoem na Phanyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng. Lesufi het in die openbaar verklaar dat hy Afrikaanse skole wil verwoes (“crush”). In die saak het die hof beslis dat gewysigde regulasies wat bevoegdhede aan die LUR eerder as aan die betrokke skole toeken om leerlinge in Gautengse openbare skole te plaas, geregverdig is. Daarmee is die “crush”-pad gebaan.

Vierdens is daar die Pretoria-straatnaam-saak oor die herbenoeming van ʼn aantal van Pretoria se strate. Hier het die hoofregter onder Afrikaners ingeklim. Vanweë Afrikaners se bose geskiedenis het hulle volgens hierdie uitspraak op die keper beskou geen gronde vir aanspraak op kultuurverwante regte nie.

Laastens was daar die uitspraak oor die besluit van die raad van die Vrystaatse Universiteit om in weerwil van ʼn beduidende aanvraag vir Afrikaanse onderrig ʼn eentalig Engelse voertaalbeleid in te voer. Die appèlhof het sy seën daaroor uitgespreek. Hy kan geen fout met die raad se besluit vind nie.

Die verskil

Die sentrale verskil tussen die twee stelle uitsprake is dat die laaste vyf telkens op die een of ander aspek van die ANC se ideologiese program van transformasie betrekking het. Dit het betrekking op die verdeling van eiendom (AgriSA) en op die een of ander aspek van die afdwing van homogenisering, rasseverteenwoordigendheid en eenvormigheid, gepaardgaande met die verwydering van verskeidenheid (Renate Barnard met betrekking tot rasseverteenwoordigendheid; die Lesufi en die Vrystaatse Universiteit-saak met betrekking tot taalverskeidenheid in die onderwys; en die Pretoria-straatnaam-saak met betrekking tot die erkenning van kulturele diversiteit).

In die eerste stel van vyf uitsprake was die ideologiese verbintenisse van die ANC en die regering nie op die spel of op die een of ander manier in geskil nie. Die uitsprake het die ideologie van transformasie gevolglik ongeskonde gelaat.

Die howe, hoe hoër in die hof-rangorde, des te meer, is ideologies met die regering eensgesind. Hulle vertolk die geskiedenis dieselfde en hulle huldig dieselfde ideologiese doelstellings. Die howe en die regerende party (veral een so lank al aan bewind soos die ANC) is dus dele van een en dieselfde regerende elite. Dis ook nie vreemd nie. Dit kom wyd voor. In Suid-Afrika is dit egter sterk op die voorgrond omdat die transformasie-ideologie sulke vyandige implikasies vir minderhede het.

In Suid-Afrika is die publiek – veral die Afrikaanse publiek – egter wysgemaak dat die howe basies volkome onpartydig is en dat daar dus heeltemal op die regbank vertrou kon word om ook die nadele van politieke ideologie te stuit. Dit was deel van die algemene grondwetlike heilsleer oor die plegtige grondwetlike akkoord, die oppermagtige regstaat, verskanste grondwet en gewaarborgde regte.

Hierdie towerwoorde – magiese formules – is oplaas bestanddele van ʼn grondwetlike bygeloof wat ʼn realistiese taksering van die werklike aard van Suid-Afrika se politieke landskap vir baie lank verhoed het.

Jy kan dus heeltemal op die hof vertrou wanneer jou geskil oor ’n nagenoeg nie-ideologiese kwessie gaan. Maar as jy dink dat die hof onpartydig in ’n ideologiese kwessie gaan wees, moet jy jou klaarmaak vir ’n baie onaangename verrassing. Onpartydigheid strek nie so ver nie. Ten aansien daarvan is die howe juis partydig ten gunste van die regerende elite waarvan hulle ’n integrale en gespesialiseerde bestanddeel is.

Wees dus versigtig vir die mooi verhaal oor die onafhanklike en onpartydige regbank. Dit verskaf geen grondwetlike waarborg teen die nadele van die regering se transformasie-ideologie nie. Inteendeel dit regverdig en bevorder dit.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Koos Malan

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

Rupert Ashford ·

Dankie Prof, hierdie bevestig maar net dat die oomblik as iemand se welvaart verskans word deur sy assosiasie met die regerende elite, kan mens nie op hulle reken nie. En hoe slimmer die regerende elite sosialistiese beginsels invoer en toepas en sekere professies afhanklik maak van die staat, hoe groter en sterker raak hierdie groep wat hulle by die regeerders skaar.

JC ·

Baie, baie dankie Professor! Ons het ‘n geveg op hande, hoor. Maar dan was dit mos maar nog altyd so.

Ystervark ·

Daar is mos die ou gesegde: “Reg en geregtigheid is die taal van die sterkste man” of anders gestel: “Reg en geregtgheid word bepaal deur wie die strydwenner is.” Daarom die verskillende interpretasies aan die drogbeeld “demokrasie”.

johnny_walker ·

dit kom van n ou viking gesegde , Might is right , iets wat meeste afrikaners nooit werklik besef nie

Paul ·

Dit is nie ‘n viking-gesegde nie, johnny_walker. Die vikings het in der waarheid gesofistikeerde wette gehad wat juis swakkeres beskerm het.

Jy dink waarskynlik aan die boek “Might is Right” wat deur ‘n Amerikaanse outeur met die skuilnaam “Ragnar Redbeard” geskryf is in 1890. Dis so hele klompie jare ná die vikings…

jaco ·

wanneer gaan hierdie nasionale demokratiese rewolusie eendag klaar wees? dit loop al van 1994 af. En dit het sulke patetiese gevolge. In die lande wat die ANC se mentors in die strugglejare was, was dinge baie anders. die rewolusies het net n paar jaar geduur en daarna was dit lande SONDER die volgende:
beurtkrag
stakings
optogte en vandalisme
Nkandla-tipe paleise vir staatshoofde (dalk n paar uitsonderings hier, maar anyway nie naastenby so weelderig soos Nkandla nie)
Hierdie kommunistiese lande het ook amper almal die doodstraf gehad vir misdade soos moord en verkragting.
Ek gee toe dat christene in hierdie lande vervolg is, maar dit was ‘n klein prys om te betaal vir stelsels wat andersins heel goed gewerk het. selfs vandag is daar nog talle in Rusland en die voormalige Oos-Duitsland wat verlang na die “goeie ou dae”.
Het die ANC dan NIKS by hulle kommunistiese rewolusionêre mentors geleer nie???
Eks seker daarvan manne soos Karl Marx, Lenin en Stalin lag vir die ANC se onbeholpenheid.

John ·

Die’ reeks diepsinnige ontledings moet ‘n skoon en wit riem onder die hart van die ANC wees en sal beslis in toekomstige hofsake aangehaal word as bewys van ‘n deurtastende onafhanklike grondwet-ontleding wat terselfdertyd die magteloosheid van die kaalgestroopte wit Afrikaanssprekendes ontbloot met geen regte en onderskraging nie buiten vir ditjies en datjies en natuurlik net indien die regter in ‘n lawwe bui is. Wat stel ons prof nou voor? Moet die bewerige en selfvoldane ou ooms ‘weer gaan praat’ en smeek vir ‘n draaistrategie wat alle skade en skande in trurat sal plaas of moet ons al die kaartjies opkoop vir die besetting van Mars siende dat ons al gewoond begin raak aan die te min suurstof langs die borrelende giftige rioelaflope in ons glo wederregtelik en tydelik-besette woonbuurtes?

Therese van Schalkwyk ·

Wie verskil met hierdie deeglike uiteensetting sal met sy eie skaduwee ook stry.

Puik artikel!

Die reeks uitsprake waarna verwys word, maak dit duidelik dat daar van onpartydigheid geen sprake is wanneer dit die regering van die dag nie pas nie.

Henry ·

My vorige poging word nie geplaas nie, maar…
Ek sekondeer Therese se “…Puik artikel!…”
:-)

Andre ·

Uitstekende skrywe. Om dit ook te ondersteun, kyk na die Regter Siraj Desai en regter president van Wes-Kaap John Hlophe se geskiedenis waar hulle ingedrang was, wie hulle beskerm en hulle vinnige opgang. Die toekoms is donker met ons “onafhanklike regsbank”. Dink bietjie wie stel die persone aan?

Eish ·

Ek wonder hoeveel van ons besef die implikasie van wat prof. Malan hier neergepen het? Dis was soos doodstyding vir my. Wat staan dan in die ANC se pad om al sy duistere Ideologiese doelwitte te bereik? My optimisme vir die land loop op sy rims.

Frans C ·

Laat ons nugter oor die saak dink en erken dat die stemgeregtig kiesers in die belangrikste van alle referendums drooggemaak het en op loop geneem is met allerhande praatjies van burgeroorlog ens.
Die NP-leierskap het geknak onder ‘n felle terroriste aanslag wat daartoe gelei het dat
talle gekant teen die oorgawe van die weermag in die pad gesteek het.Dit was welbekend dat oorlede President Mandela vir die ou SAW so bang was as die ‘duiwel vir ‘n slypsteen.

Maar ons kan nie die geskiedenis omdraai nie,geskiedenis is eenmalig. Wat ons wel kan doen , is om saam te staan en mekaar se sienswyses minder af te kraak.Ondersteun dus organisasies wat Afrikanerbelange bevorder al stem jy ook nie altyd met hul optrede saam nie.

Hoe meer verdeeld-hoe makliker vir die ANC om sy doelwitte te verwesentlik.Moenie
dat geskiedenisskrywers 500 jaar vorentoe verwys na ”n wit volk wat eenmaal aan die Suid punt van Afrika gewoon het.

Eish ·

My gevolgtrekking ook. Ek het nog steeds skok na ek die berig gelees het. Drink nou anti depressante so jy smarties eet!

Coenraad ·

Die artikel suggereer dat geregtigheid moontlik kan seëvier in nie-ideologiese sake. Dit is eintlik meer ‘n wens as realiteit, sou ek sê, want in baie sake waar ‘n witte teenoor ‘n swarte staan, verander bloot die kleurskema dit in ‘n ideologies-gedrewe geding.

Neels ·

Die probleem is dat die ouens wat destyds nee gestem het, hordes swart werkers gehad het wat vir hulle op plase gewerk het. Niks het verander nie want hulle het hulle nog steeds so nodig. Niemand het hulle toe ernstig opgeneem oor ‘n volkstaat nie en niemand neem hulle nou ernstig op nie. Hulle wil die volkstaat en die volkie hê om die werk te doen. Daarom respekteer ek net die ouens in Orania. Hulle doen ten minste wat hulle sê. Kom self reg.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.