En toe slaan die Christene die pastoor!

Die 7de Laan-akteur Ben Kruger en TJ Maré van Nelspruit Community Forum (NCF) as die boemelaar

Die 7de Laan-akteur Ben Kruger en TJ Maré van Nelspruit Community Forum (NCF) as die boemelaar

Jesus het gesê, ek was honger, en julle het my iets gegee om te eet; ek was dors, en julle het my iets gegee om te drink; ek was ‘n vreemdeling, en julle het my gehuisves; ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee; siek, in die tronk . . . vir sover julle dit aan een van die geringstes gedoen het, het julle dit aan my gedoen.

Dinge het amper lelik skeef geloop toe Pastoor TJ Marais en akteur Ben Kruger iets hiervan by ‘n partytjie van Innibos probeer uitbeeld het. Die pastoor het hom as boemelaar vermom en is onder andere deur van die gaste met die vuis geslaan.

Van die ooggetuies meen dat dit nie die feit was dat hy soos ‘n boemelaar gelyk het wat hulle ontstel het nie, maar dat hy hom begin help het aan van die mense se wyn (dit sou my ook ontstel het – afhangende natuurlik van hoeveel wyn daar was).

Die hele storie het toe uiteindelik goed uitgewerk na die gaskunstenaar hom met ‘n koek gegooi het, en “die bruin verhoog-grimering waarmee Marais homself vermom, begin afkom het”. Mense het tot hulle groot verligting ontdek dat die boemelaar toe al die tyd ‘n gewone blanke pastoor is – en die ander ou ‘n net ‘n akteur in 7de Laan. Die wyndrinkery uit ander se glase was toe al die tyd deel van die boemelaar-act.

Die Nelspruit-gemeenskapsforum het uitstekende blootstelling gekry (daar was selfs ‘n artikel in Sondag se Rapport), mense het skenkings gemaak aan die pastoor se projek – selfs van die vuisslaners – en die haweloses het lekker geëet aan al die kos wat oorgebly het na die partytjie. En om alles te kroon is ‘n klompie mense gedwing tot ernstige introspeksie – ‘n mens slaan nie sommer net ‘n boemelaar nie, al drink hy jou wyn!

Daar is ‘n paar verskille tussen die pastoor se vermomming as boemelaar en wat Jesus in Matt 25:31-46 gesê en self gedemonstreer het (Jesus het byvoorbeeld die wyn méér gemaak, nie minder nie).

Daar is ook ooreenkomste: Mense het Jesus ook op sy baadjie getrakseer, hy is ook verkeerdelik geoordeel op sy voorkoms. Die godsdienstige leiers (Fariseërs, priesterhoofde . . .) sou verkies dat God eerder in ‘n boek of ‘n tempel of ‘n tradisie bly, as om in die vermomming van ‘n gewone mens tussen hulle rond te loop. Mense het Jesus ook in ‘n stadium “’n vraat en ‘n wynsuiper” genoem (Matt 11:19).

Of die boemelaar-pastoor hom nou aan die wyn gehelp het of nie, die feit is: mense, ook kerkmense, behandel ‘n pastoor of ‘n akteur (selfs ‘n akteur uit 7de Laan) oor die algemeen met meer respek as ‘n boemelaar.

Iemand het eenkeer gesê ons moet die straatveër in die oggend groet asof hy/sy Bill Gates is. Jesus het dit veel verder gevat. Hy het gesê God kom na ons toe, nie deur die beste van die armes nie, maar deur die GERINGSTES! Let’s face it, almal wil daai arm outjie wat goed lyk en mooi in skakel help, maar die geringstes van hulle…

Die hele petalje wys ook dat mense eerder praat oor armoede, en selfs geld insamel vir armes, as om te kuier met hulle.

Shane Claiborne het gesê: “The problem is not that we don’t care about the poor, the problem is that we don’t know the poor.”

Beeldmateriaal van die voorval is deur Laevelder op YouTube gelaai:
http://youtu.be/PO_woVbBt_w

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Eugene Steyn ·

Is dit nie steel as iemand iets wat aan ‘n ander persoon behoort vat nie?

Elizabeth ·

Jaco, goed geskryf en mooi gestel en sekerlik is baie van dit waar – veral jou tweede laaste paragraaf. Sommer net terloops wil ek darem net sê, hoewel ek nou glad nie aggresief van aard of slanerig van aard is nie, sou ek hoegenaamd nie daarvan hou as ‘n vreemdeling – of hy/sy nou boemelaar, mediese dr, hoof van die kerk, staatspresident of wie ookal is, uit my glas drink nie! Nee wat ga, as kind is mens geleer jy hap nie ander se broodjie of drink uit sy glas/bottel mens kan maklik so siektes oordra, dis bloot onhigiënies! So vir my sou dit grillerig wees en sou ek maar sê die ou snaar moet alles vat, nie net ‘n sluk of so nie! In hierdie geval heilig die doel die middele seker dan in die sin dat mense sal dink voor hul slaan! :)

henk ·

En WIE se die ouens wat die dominee geneuk het is christene? Omdat hy wit is en Afrikaans praat beteken nie noodwendig hy is ‘n christen nie, of is ek nou verkeerd?

Leeutjie ·

My eerste gedagte as so iets met my sou gebeur is om my drankie te gee… ‘n Groot deernis sal by my opwel en ek sal opstaan en hom selfs iets te ete aan te bied. Elke persoon reageer anders en voel ook moontlik dat hul status geraak word deur met iemand op ‘n laer vlak praat. In God se oe is ons almal sy kinders…. Wat ons met ons lewe doen is wat belangrik is. Die dominee wou iets bewys maar in die werklike lewe het ‘n boemelaar ook ‘n hart met ‘n seer wat diep weggebere is en verkeerde keuses gemaak a.g.v. omstandighede.

Abrahim ·

Good Henk . dit is so . In Holy Bybel is kwalifikasie vir Christen wees . Kwalifiseer die mense ? Lees …nie almal . Bybel se van wyn . Spreuke 20:1 Spreuke31;4 n Jong koning se ma leer hom van wyn . Isahiah 5;11 en 22 verse . In ISLAM is miljoene wyn onthouers .teetotallers . Julle het wonderlike Holy Boek maar julle het weggegaan . Gaan iemand grappie maak . Leer weer van wat se jou Holy Bybel , NIE voel lekker , Gebooie .

Sekere man ·

Pastoor . vir n ou geldjie inbring oor n naweek is dit seker nie n slegte een nie , dit kon net nog beter wees as jy meer Schuster ingesit het . Ek moet by se dat jou akteur sou sleg daarvan afgekom het as julle dit probeer het by n RUGBY byeenkoms van een of ander aard .Die manne by die tafel was eintlik nog stadig , voordat ek n Christen geword het sou ek n man lankal uitgehelp het as hy dit sou waag om aan my dop te vat . Pastoor ,Wat van probeer…. ” n Sekere man ” van Lukas 10 ? Ps en Ds en Dr en Pr het almal verby my gery , n Man met n ou vrot kar stop, laai my op en vat my HF Verwoerd toe . Dit was voor Videokameras .

Chrisq ·

Ja lekker. Wys jou net hoe skynheilig die klomp is. Sit in die kerk, maar as dit kom by die goeie dade word dit net daar vergeet!
Ek is goed sonder god(de), dankie

Eugene W Steyn ·

Vriend, dit is duidelik as jy na Suid Afrika en die wêreld se nuusgebeure kyk dat daar twee definitiewe magte aan die werk is: goed en sleg. Hierdie magte is groter as die mens, en ons noem dit God en Satan. Die mens het ‘n vrye wil en kies vir die een of die ander, daar is nie ‘n middeweg nie (net twee opsies).

Ronnie ·

Matteus 25 wat na die “geringstes” verwys is heel waarskynlik eerder ‘n verwysing na Jesus se dissipels wat Hy die wêreld instuur wat nie deur die Fariseërs en hulle bendes erken en versorg word nie as na elke Jan wat op die straat se hoek sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.