En wat hierna?

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Korona het die wêreld getref soos weinig dinge in die geskiedenis dit nog ooit reggekry het. ‘n Wêreld wat oor tyd heen met bepaalde strukture en stelsels, bepaalde magsblokke en spanning ontwikkel het. Daarmee saam ook presterende lande teenoor sukkelende lande. Lande wat in baie gevalle die vrugte pluk van hul politici en beleid se maaksel. Suid-Afrika is nie ‘n uitsondering nie. Die kragte wat orden en keuses oordeel, het voor die virus gewerk en doen dit steeds.

Wanneer ons na die ekonomie kyk, is daar bepaalde ekonomiese beginsels wat dinge rig en deurlopend evalueer. Vir die doel hiervan gaan ons daarna verwys as die markkragbeginsel of die markkragte. Die effektiewe ekonomiese funksionering van enige instansie – en vir die dieselfde argument lande (regerings) – is onderworpe daaraan.

Ekonomiese resultate word verkry deur die bestuur van die produksiefaktore naamlik ondernemerskap, kapitaal, grondstowwe en arbeid. Tegnologie en meganisasie word deesdae ook hierby gevoeg. Elkeen van hierdie faktore moet in ‘n bepaalde sinergie – met een doel, naamlik om wins te maak of dan om die begroting te laat klop – aangewend word. Dit beteken daar moet ekonomiese groei plaasvind om in lande voorsiening te maak vir groeiende bevolkings, en in besighede word dit gedryf deur die winsmotief.

Ekonomiese groei is nie iets wat net aangekondig kan word nie. Dit is ‘n hele proses om daarby uit te kom. Sekere voorvereistes en voorwaardes is noodsaaklik om die proses aan die gang te sit. Indien daardie aspekte nie aanwesig is nie, kan aankondiging ná aankondiging gemaak word om groei te verkondig, maar sal dit ongelukkig nie realiseer nie.

Die volgende tabel is ‘n samevatting van die aspekte wat die markkragte as bepalend beskou – indien reg toegepas – om by ekonomiese groei uit te kom. ‘n Saak wat vir die pad vorentoe van kardinale belang gaan wees. Enige politieke besluit behoort inderdaad getoets te word teen die invloed daarvan op ekonomiese groei. Indien dit nie die vertroue skep vir, ter voorbeeld, beleggings nie, moet dit herbesin word.

Elke persoon kan self besluit in hoe ‘n mate Suid-Afrika daarin slaag om wel die regte dinge te doen om by ekonomiese groei uit te kom. Gegewe die ekonomiese beleidsomgewing waarbinne ons vasgevang sit, gaan dit baie moeilik wees om die stelling: “… en wat hierna …” positiewe substansie te kan gee. As die ANC nie onder hierdie omstandighede kan besef dat hul beleid nie werk en dat hulle amper ‘n 180 grade-ommekeer sal moet doen om die ekonomie te kan red nie, weet ek nie wat hulle tot rasionaliteit sal beweeg nie. Hulle het nou die kans om op te hou struggle met ‘n ideologie wat alleenlik gedryf word en eerder te begin regeer waar die ekonomie voorop gestel word. Net die tyd sal leer, alhoewel ek ernstige bedenkinge het of hulle enigsins hul aard en karakter kan verander.

Die prys van Covid-19 is reeds hoog in menselewens. Maar die volle impak vir die toekoms is nog ‘n groot onbekende in dié verband. Die ekonomiese- en sosio-maatskaplike gevolge begin reeds wys, terwyl die werklike impak daarvan nog voorlê. Die noodwendige verhoogde misdaad wat reeds sy kop begin uitsteek, bring sy eie uitdagings.

Ons beleef dat besighede reeds by die punt gekom het waar hulle verklaar dat hulle aan die einde van hul pad gekom het. Die versteuring van die ekonomiese aktiwiteite wat as ’n gevolg van die inperking plaasgevind het en steeds plaasvind, se gevolge sal baie moeilik bepaal kan word. Die toestand van ons ekonomie nog voordat die virus toegeslaan het, was reeds kritiek. Die direkte en indirekte verlies aan werksgeleenthede, gegewe ons reeds uitermate hoë werkloosheidsvlak en armoede, sal nie eens na behore verreken kan word nie.

Die informele arbeidsmark kry reeds baie seer en laat baie mense sonder die vermoë om kos te kry. Dit is maar een aspek van die ekonomiese aktiwiteite wat ‘n groot negatiwiteit teweeg bring. In alle sektore kan die prys wat net eenvoudig te duur is, verreken word.

Alvorens die inperking begin het, was TLU SA se duidelike standpunt in die taakgroep van minister Thoko Didiza, dat ons land nie kan bekostig dat die vloei van voedsel versteur word nie. Die informele sektor benut ongeveer 30% van alle kos en dit word op ‘n verskeidenheid maniere tot by hulle gebring. Die inperkingsregulasies het grootliks die krane daar toegemaak en ons sit reeds met honger mense. Honger mense maak hul eie reëls om voedsel te kry en nie die virus of enige SAPD-teenwoordigheid sal hulle keer nie.

Die ANC skep inderdaad die teelaarde vir grootskaalse onrus. Daar word kwansuis kospakkies belowe, wat reeds bewys is as hoegenaamd nie voldoende nie – dit is nou indien dit wel op grondvlak uitkom en nie deur korrupsie langs die pad op kaders se tafels beland het nie.

Die kompleksiteit van die waardeketting word duidelik nie in regeringskringe besef nie.

Die hoeveelheid aspekte wat benodig word om landbou in produksie te hou, strek baie wyd. Die kleinste koeëllaer wat breek, kan ‘n hele stroopproses tot stilstand dwing indien die part nie verkry kan word nie. Stap in die gange by enige koöperasie of hardewarewinkel en ervaar dat dit maar enkele aspekte is wat ‘n boer op ongevraagde tye dringend nodig het.

Dit word betreur dat amptenare iewers saam met die minister gereken het dat hulle die nodige insig het oor wat die noodsaaklike goed is wat nodig is om landbouprodukte te produseer. Daar kan nie op die een kant versoek word dat boere moet aanhou produseer en dan aan die ander kant word dit vir hulle bykans onmoontlik gemaak om ongehinderd te kan voortgaan met hul dagtaak nie.

Een groot realiteit wat duidelik na vore gekom het, is die feit dat baie SAPD-lede nie in staat is om hierdie regulasies met insig te kan toepas nie. Dit veroorsaak onnodige spanning en misverstande op grondvlak. Die mense wat juis in hierdie tyd veronderstel is om hul uiters ondankbare werk te moet verrig, word erg gekontamineer deur die enkelinge wat hulself uit die situasie probeer verryk en ‘n vendetta voer teen enigiemand wat in hul pad kom. Dit raak ‘n ope vraag of die SAPD opgewasse genoeg is, oor die voldoende integriteit beskik en die regte opleiding het om hul taak op grondvlak na behore uit te voer.

Die regering het in die oë van die meerderheid mense die regte ding gedoen om die inperking af te kondig. Terugskouend – wat uiteraard altyd die maklikste is om wys voor te kom – blyk dit of die volle implikasie gegewe Suid-Afrika se bevolkingsamestelling en -verspreiding nie behoorlik verreken is nie. Inperkingsmaatreëls kan bykans onmoontlik toegepas word in sekere omstandighede. Soos ook uitgewys, is baie klem daarop gelê dat voedsel se vloei nie belemmer moet word nie. Ongelukkig het hulle nie daarin geslaag nie. Hulle moet besef hulle werk met mense wat moet eet en nie robotte wat onbeperk gereguleer kan word nie.

Suid-Afrika, soos hy nou daar uitsien, is ons werklikheid. Ons kan aanhou om die realiteite uit te wys (en dit moet ons ook doen) en dan daarby volstaan, of ons kan iets begin doen aan hierdie werklikheid.

Eerstens besef ons by die dag dat die regering en sy meganismes baie beperkte vermoëns het om die ekonomiese ramp waarin ons reeds is, en wat net gaan vergroot, te kan hanteer. Dit gaan absoluut van die privaat sektor afhang in hoe ‘n mate die ekonomie weer gaan kop optel. Die vraag is of die regering se swak beleidsomgewing, sy korrupsie en onvermoë in dienslewering grootliks aan kaderontplooiing toe te skryf, die beweegruimte gaan laat om wel positiewe insette te kan akkommodeer.

Op die kort termyn ervaar ons dat heelwat instellings – hetsy op plaaslike vlak, maar ook op ‘n breër basis – groot werk doen om die onmiddellike voedselnood te probeer verlig. Die staat het ook hul Solidarity Fund (baie verwarrend met die Solidariteit Beweging) gestig, waarin groot bedrae geld reeds betaal is. Die vloei van fondse daaruit word bevraagteken en groot onsekerheid oor die deursigtigheid daarvan heers reeds.

Dalk is die aangewese ding om te doen, om daardie instelling waarmee elkeen gemaklik is omdat daar nie vrae bestaan oor die integriteit van die instelling nie, te ondersteun om sodoende seker te maak dat hulp wel realiseer soos wat dit bedoel word.

Ons pad vorentoe is gesaai met baie dubbeltjies en ons gaan vir baie lank vorentoe gewis nie maklike antwoorde kry nie. Wat ons nou gaan dra, is ons geloof en ook met watter ingesteldheid daar na vele huidige en toekomstige knelpunte gekyk gaan word.

‘n Positiewe en begronde ingesteldheid is wat vir ons die nodige antwoorde gaan bring. Om die vraag “…en wat hierna?” te beantwoord, is nie maklik nie. Ons kan nie werklik weet hoe dinge nog gaan ontsluit nie. Wat ons wel weet, is dat ons kultuuropdrag uit die Woord toekomsgerig is om te bou en te skep. Dit is ons verantwoordelikheid en met dit in gedagte kan en moet ons bou, ongeag ‘n ANC-regering.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Jaco

Ons het iemand soos die ou Mugabe, die Mugabe van voor die jaar 2000, in SA nodig. Hy het die opposisie ZAPU gedwing om met die regerende ZANU saam te smelt en so 90% van die parlement beheer. Enige politieke oproer en ook enige misdaad is dadelik vasgevat deur die polisie en die weermag. Wet en orde het geseëvier. Die vryemarkstelsel is behou en Mugabe se ooreenkoms met die wit mense was “you stay out of politics while I take care of you”. Dit alles het gewerk. Die Zim dollar was sterker as die SA Rand. Petrol en klomp ander… Lees meer »