Entstowwe is belangrik, maar moet vrywillig bly

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging (Foto: Reint Dykema)

In my matriekjaar het die deurklokkie een oggend vroeg gelui. Toe ek die deur oopmaak, staan daar ʼn man met ʼn somber uitdrukking op sy gesig. Hy vra sag of my ouers daar is. Ek nooi hom in en gaan roep my ma. “Hier is ʼn oom wat regtig verdrietig lyk – miskien is iemand dood,” sê ek bekommerd vir haar.

Ná sy vertrek vertel sy my meer. “Oom Joost is ‘n verlangse familielid, maar hy is nie hartseer nie; dis smart wat jy in sy oë sien. Sy dogter is ernstig gestrem as gevolg van polio, en hy neem homself daarvoor kwalik omdat hy geweier het dat sy ingeënt word.”

“Maar hoekom wou hy nie, ons almal is dan vir ʼn hele reeks siektes ingeënt?” vra ek.

“Oom Joost het gesê hy vertrou op die Here, nie op die regering se entstowwe nie,” antwoord sy. “Toe kry sy kind polio en hy beleef al vir jare lank elke dag haar lyding.”

“Maar het iemand nie met hom gepraat nie?” vra ek.

“Ja, Oupa en sy dominee het verskeie kere vir hom gesê die Here voorsien deur wetenskaplikes en dokters en entstowwe. Maar oom Joost het koppig gebly; hy het stories gehoor van mense vir wie dit nie gewerk het nie.”

Redes vir wantroue

Ek dink baie aan hierdie gebeure sedert die Covid-19-pestilensie die wêreld getref het. Destyds was oom Joost die uitsondering; vandag is daar meer “Oom Joosts” wat teen inentings gekant is. Die rede is dat daar talle verskille tussen destyds en vandag is. Baie van dieselfde mense wat vir dekades lank grootgeword het op entstowwe, is vandag daarteen gekant. Die grootste enkele rede is wantroue. Talle mense vertrou net nie meer die owerhede, media, farmaseutiese maatskappye en wêreldleiers nie. Ek deel sommige van hierdie wantroue, omdat baie van hierdie mense Covid verpolitiseer het.

Laat ek verduidelik. In Desember verlede jaar het ek vir die eerste keer van ivermektien gehoor. Ek was aanvanklik verstom toe ʼn vooraanstaande boer en suksesvolle bankier by wie ek gekuier het, dit sterk aanbeveel. “Dis dan vir plaasdiere,” het ek verbaas geredeneer. Namate die tweede golf spoed opgetel het, het ek meer navraag begin doen omdat ons navorsers self met vakansie was. Die uiteenlopende menings in die media het my verwar; ʼn mens het regtig nie geweet wie om te glo nie.

Ek het wel geweet wie om nié te glo nie. Ek glo nie die regering nie, nie die minister van gesondheid nie, ek twyfel oor die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), en ek wonder of die farmaseutiese maatskappye ivermektien moontlik sien as ʼn mededinger vir hulle (komende) entstowwe. Ek vertrou ook nie die Chinese regerende Kommunistiese Party oor die ontstaan van die virus nie.

My hond word toe siek, en ek vra my dogter wat hom veearts toe vat om sy mening te vra. (Die veearts s’n, nie my hond s’n nie!) Hy sê toe ek kan dit gerus gebruik, solank ek net streng by die voorskrifte hou. Dis nou wel nie ʼn “wondermiddel” nie, maar dis die enigste wat daar nou is, het hy laat weet. Daarna maak ek net seker by ʼn apteker wat ek vertrou, en vra vir ʼn doktersvriend ook. Almal stem saam met die Boer, die Bankier, die Veearts, die Apteker en die Dokter. Dis nie ʼn waterdigte oplossing nie, maar dit kan veral met vroeë behandeling help.

Ek kry toe ʼn botteltjie by ʼn boer en vat die voorgeskrewe dosis. Dié aand dink ek oor my besluitnemingsproses. Ek vertrou nie die regering se “Health Products Council” nie, want hulle kantore was tydens die inperkingstyd grootliks toe, en in ons kontak met hulle was ek glad nie beïndruk nie. Ek vertrou nie die ANC-leiers se menings nie, want die meeste is onbevoeg en/of skelm. Ook nie die farmaseutiese maatskappye nie, want dit lyk of hulle net wil geld maak en nie regerings wil kwaad maak deur entstof aan die privaat sektor te verskaf nie. Selfs die media skryf meestal agter die owerhede aan. So kan ek aangaan. Maar ek vertrou my veearts, boerevriende, apteker en dokter. Ek het begin voel dat ek eerder my hond se medisyne sou drink as die regering s’n! Gaandeweg kom daar al hoe meer navorsing na vore, en ons maak en wen hofsake dat medici toegelaat moet word om ivermektien voor te skryf as dit in hul pasiënte se belang is, en ons maak hofsake teen die regering om die privaat sektor toe te laat om entstowwe te koop. My gevolgtrekking is dat dit nie ʼn geval van entstof óf ivermektien is nie, maar albei saam as dit moet.

Politieke agendas

My wantroue in al die instansies wat ek genoem het, spruit veral uit die verpolitisering van die stryd teen Covid-19. Dit het begin by die WGO en talle wêreldleiers se aanvanklike ontkenning van Chinese aandadigheid. Daarna het dit duidelik geword dat veral Westerse wêreldleiers die Covid-19-krisis wil misbruik om hulle politieke agenda te bevorder. Dis nou hulle planne vir ʼn sogenaamde “globale herset” wat verdag baie lyk soos ʼn projek om vryheid in te perk onder die dekmantel van noodmagte vir die stryd teen pandemies, omgewingsake en ongelykheid. Derdens het ons eie regering se vrot hantering van die Covid-19-pandemie die krisis in ʼn ramp verander. Dit het gou geblyk dat hulle dit wil gebruik om hul beheer, rassebeleid en sosialistiese planne soos die Nasionale Gesondheidsversekeringstelsel af te dwing. Soos die Nobelprys-ekonoom Milton Friedman dit gestel het, daar is niks so permanent soos tydelike regeringsprogramme nie.

Skei die kaf van die koring

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die derduisende sosialemediaboodskappe en video’s het mense ook net verder verwar. Daarom het ons by Solidariteit kenners ingekry om die kaf van die koring te skei en by die waarheid uit te kom. Dit het baie gehelp dat byna 3 miljard van die mensdom reeds ingeënt was, en dat ons baie kon leer van die gevolge van die entstowwe vir die bykans 200 miljoen mense in Amerika wat reeds ingespuit is.

Ons kon uiteindelik drie gevolgtrekkings begin maak. Die eerste is dat Covid-19 wel ʼn baie gevaarlike virus is, en dat die golwe nie gaan ophou voordat daar ʼn antwoord gevind is nie. Baie meer mense is al aan Covid-19 as weens plaasaanvalle dood! Die tweede is dat ivermektien moontlik kan help met vroeë behandeling vir Covid-19. Dit is egter nie die antwoord op alles nie, maar dis beslis beter as niks. Die regerings en mediese owerhede sal nog baie moet verduidelik oor hoekom hulle dit probeer keer het toe daar niks anders was nie.

Derdens wys alle statistieke dat die entstowwe waarmee miljarde mense al ingeënt is, wel tot ʼn drastiese afname in hospitaliserings en sterftes gelei het. Dit is nie volmaak nie, die rekordtyd waarin dit ontwikkel is laat nog vrae, die langertermyngevolge kon nog nie genoegsaam bestudeer word nie, maar dit red lewens. Dit is so dat ʼn klein persentasie mense wat ingeënt is, wel kan siek word, maar daar is genoeg bewyse dat Covid-19 veel gevaarliker is. Studies wys dat 2 500 mense uit ʼn miljoen wat ingeënt is, newe-effekte kan ontwikkkel, maar van diegene wat Covid-19 opdoen, word meer as ʼn 100 000 per miljoen gehospitaliseer en duisende sterf.

Dit beteken nog nie dat mense verplig moet word om ingeënt te word nie – veral nie kinders wat nie ʼn hoërisikogroep is nie. Elkeen moet die gevolge van sy of haar keuses net duidelik verstaan, en nie ander mense daardeur benadeel nie. Moeilike tye vereis moeilike keuses, maar ons mag nie dat ons verstaanbare wantroue in korrupte politici ons alle entstof laat wantrou nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kattebol ·

Baie goed gestel, Flip, maar waar is die getalle van die mense wat siek word en sterf aan covid ná hulle die entstof ontvang het?

Wilhelm ·

Baie goeie skrywe, inderdaad so dat ons wantroue van die entstof spruit uit die feit dat daar so baie vir ons gelieg word. Ek vertrou wel vir Solidariteit. Net een punt wat nie hier aangeraak word nie, waaroor ek meer sal wil weet: Daar word hier verwys na ‘die entstof’, maar daar is heelwat verskillende entstowwe, uit heelwat verskillende oorde. Ek kan nie dink dat almal ewe goed is nie (in terme van effektiwiteit of newe-effekte). Ek sal byvoorbeeld nie ‘n chinese entstof in my lyf wil kry nie, maar dit is goedgekeur in SA, en so ver ek verstaan van die regering se uitrol, het ons nie ‘n keuse oor watter entstof hulle ons mee inspuit nie. Ek weet ook byvoorbeeld dat sommige entstowwe nie erken word in Europa nie, so hulle sal jou nogsteeds nie daar toelaat nie, selfs al is jy inge-ent). Het julle dalk navorsing gedoen oor die verskillende tipes ent stowwe ?

Elmarie ·

Báie dankie vir goeie beriggewing. Mense doen asb als in jul vermoë om julself te beskerm. Ek weet van heelwat mense wat ten spyte van Invermektien steeds siek geword het. Daar is géén “guarantees” op die stadium maar gebruik entstof en Invermektien as jul kan. Om te sê nie genoeg navorsing is gedoen oor entstof… Wel Invermektien se uitwerking spesifiek op mense is ook nog nie al jare lank nagevors nie. Asb mense dínk en beskerm julself en hul geliefdes

Andrew ·

Niemand het ivermectin as die oplossing voorgele nie, dis as hulp middel voorgele. Dan bestaan ivermectin sedered die laat 1970’s, so nee. daar is al heelwat navorsing gedoen oor die uitwerking op mense en dit is veilig. Dink weer

Cherokee ·

My vrou en ek het besluit ‘nee’ vir die entstof en ‘ja’ vir ivermektien. En ons het nie mekaar oortuig nie, maar elk van ons het so besluit uit eie oortuiging.

Andrew ·

En in amerika praat hulle al van 3de entings wat benodig word. Waar los dit die klomp hier wat nog net een gekry het.

Andrew ·

As daar net meer van ons was. Ek dink wel dit is te laat om die wereld te red en gaan hy homself nou vinnig opvreet.

annie ·

My brakkie word toe ook skielik siek en toe sè die veearts vir my: Hierdie hondekoekies is baie smaaklik, neem 1 driemaal per dag vir twee weke en kom sien my weer. Laat ek net gou jou koors neem. Nee, nie daar nie. Daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.