Entstowwe – wat moet ek kies?

Dirk Hermann.

Die Solidariteit Beweging het pas ʼn verslag oor entstowwe bekendgemaak. Die verslag is deur die Solidariteit Navorsingsinstituut, onder leiding van Connie Mulder, opgestel. Baie mense gaan in die nabye toekoms moet besluit of hulle entstowwe gaan neem al dan nie. Dit is ʼn persoonlike saak en elkeen het die reg om ʼn keuse te maak.

Solidariteit se lede, soos baie ander Suid-Afrikaanse burgers, word tans ernstig deur die derde golf van die Covid-19-pandemie geraak. Baie van ons lede en hulle familielede word siek, word gehospitaliseer, en sterf selfs weens die siekte. Die sterftesyfer onder Solidariteit-lede is 49% hoër as 2019 se vergelykende syfer en dit sal waarskynlik nie anders onder nie-lede wees nie.

Ons is ook steeds baie bekommerd oor die ekonomiese impak van die pandemie en besef dat ons daagliks vir ons lede moet intree om te verseker dat hulle kan aanhou werk en ’n inkomste kan verdien, terwyl dit veilig moontlik moet wees.

Entstowwe en inperkings

Ons lede is moeg vir inperkings en wil daaruit. In ander lande is een van die veilige en doeltreffende paaie om uit inperkings te kom, entstowwe. Entstowwe bring egter ook nuwe vrae en onsekerheid. Ons lede smag na die regte inligting.

Wêreldwyd word entstowwe nou op groot skaal teen Covid-19 toegedien. Meer as 2,9 miljard dosisse is reeds in meer as 140 lande toegedien. Entstof-sukseslande is onder andere Israel, Engeland, Hongarye en die VSA. Baie inperkings is reeds in hierdie lande opgehef. Op sekere plekke word maskers nie meer gedra nie. Talle lande met klein bevolkings het ook reeds ’n groot deel van hulle bevolkings ingeënt.

Suid-Afrika se sukkelende entstofprogram begin stadig momentum kry. Vergeleke met ander lande het ons regering Suid-Afrikaanse burgers met sy swak hantering van entstowwe in die steek gelaat.

Betroubare navorsing

‘n Gesondheidsorgwerker word by die Chris Hani Baragwanath-hospitaal ingeënt. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die Solidariteit Beweging het die navorsers van die Solidariteit Navorsingsinstituut opdrag gegee om deeglike navorsing oor entstowwe te doen. ’n Omvattende ondersoek is na die ontwikkeling, verspreiding, veiligheid, risiko’s en ander faktore rakende inentings van stapel gestuur.

Aan die een kant ontvang mense voortdurend video’s, artikels, klankgrepe en ander boodskappe op sosiale media, en aan die ander kant kom daar internasionaal groepe voor – en ongelukkig ook die Suid-Afrikaanse regering – wat min vertroue skep. Baie van ons lede voel positief oor entstowwe, maar negatief oor die regering. Mense se wantroue is geregverdig, want die regering het ’n vrot rekord op bykans alle ander gebiede.

Vryheid van keuse

’n Kernbeginsel wat egter nie ondermyn mag word nie, is vryheid van keuse. Elkeen het die reg op liggaamlike integriteit, en Solidariteit sal dit beskerm. Geen regering en geen werkgewer mag iemand verplig om ingeënt te word nie.

Geen land met ’n suksesvolle inentingsprogram het mense in of buite die werksplek gedwing om die entstof te ontvang nie. Dwang skep weerstand.

In ’n land soos Hongarye was daar aanvanklik sterk weerstand teen inenting. Weens hulle regering se professionele aanbieding van die entstowwe, deursigtige kommunikasie en duidelike sukses, asook min newe-effekte wat mense ervaar het, het baie mense uiteindelik egter sélf besluit om ingeënt te word.

Om ’n ingeligte keuse te kan maak, is goeie en genoeg inligting nodig.

Die doeltreffendheid van entstowwe

Die verslag bevind, deur ’n behoorlike internasionale studie, dat entstowwe wel doeltreffend is. In lande soos Israel, Engeland en Hongarye is daar ’n direkte verband tussen die toediening van entstowwe en ’n afname van infeksies, maar veral ook hospitalisasie en sterftes. Pfizer, Moderna, AstraZeneca en Johnson & Johnson is effektief. Ons kan nie met vrymoedigheid sê dat SinoVac, die Chinese entstof, asook die Russiese Sputnik V-entstof, hangende die beskikbaarheid van regtewêrelddata, doeltreffend is nie.

Geen van die effektiewe entstowwe bied totale beskerming teen infeksie met Covid-19 nie, maar dit bied wel omvattende beskerming teen ernstige simptome en sterftes, volgens kliniese studies wat bevestig is uit die data van uiteindelike inentings self. Volledige inligting hieroor kan in die verslag self gevind word.

Die veiligheid van entstowwe

(Argieffoto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die tweede vraag is of entstowwe veilig is. Die studie het die data van aanmeldings van newe-effekte in diepte ondersoek. Daar is doelbewus nie gepoog om bloot al die aansprake op sosiale media te ondersoek nie. Oorspronklike data is gebruik sodat afleidings waterdig is. Daar is bevind dat die entstowwe wel in groot mate veilig is. Soos ander medikasie is daar newe-effekte, maar die risiko van Covid-19 is baie hoër as die risiko van entstowwe.

Aansprake dat groot getalle mense as gevolg van entstof doodgaan, is eenvoudig volgens die data nie waar nie. Die risiko vir bloedklonte en hartverwante newe-effekte is klein. Die meeste newe-effekte wat aangemeld is, is lig en stem met enige ander entstof ooreen.

Ons navorsers het bevind dat dit belangrik is dat individue wat reeds gesondheidsprobleme het, wat tans siek is en voorheen newe-effekte met entstowwe ondervind het, éérs met hulle dokter moet skakel om seker te maak of dit veilig is om ingeënt te word.

’n Entstof soos dié wat Pfizer vervaardig, moet twee keer toegedien word. Mense word wel steeds siek na die eerste dosis. Dit is egter nie as gevolg van die entstof nie, maar as gevolg van Covid-19. ʼn Verdere bevinding wys dat die entstowwe nie Covid-19 kan veroorsaak of oordra nie.

Entstowwe waarborg nie dat jy nie Covid-19 sal kry nie, maar dit bied radikaal afwaartse bestuur van die risiko om dit op te doen, siek te word of dood te gaan. Alles gaan oor die opweeg van risiko’s.

Die verslag wys ook dat ivermektien deel van die behandelingsprotokol van Covid-19 kan wees en dat entstowwe en ivermektien nie teenoor mekaar gestel moet word nie.

Die data wys dat daar een risiko is wat baie groter is as entstowwe, en dit is om nie entstowwe te gebruik nie.

Die regering se swak hantering en die beskikbaarheid van entstowwe

(Argieffoto: GCIS)

Indien mense ’n keuse wil maak vir entstowwe, moet dit beskikbaar wees. Die werklikheid is dat entstowwe lank reeds beskikbaar moes wees. Die regering se hantering van die entstofproses is eenvoudig skandalig. Suid-Afrika is steeds onder die swakste entstoflande ter wêreld. Een van die grootste redes daarvoor is dat ons oneffektiewe regering die proses sentraliseer. In die Suid-Afrikaanse omstandighede kan dit nie werk nie. Solidariteit en AfriForum veg tans in die hof teen die nasionalisering van entstowwe.

Ons móét die staatsentralisasie van entstowwe stop. Die staat is die bottelnek in die entstofproses. Daar is min vertroue in hulle en hulle vermoëns is net so min.

Die regering het tydens die inperking sy mag misbruik, vryhede weggekalwe en ’n teelaarde vir skeptisisme oor entstowwe geskep. Dis nie, soos die minister sê, fopnuus wat die wantroue oor entstof geskep het nie, maar wel die regering se magsmisbruik wat wantroue in die regering geskep het. Daar is ’n fyn lyn tussen wantroue in die regering en wantroue in entstof.

Gevolgtrekking

Ons gevolgtrekking is dus dat entstowwe veilig en doeltreffend is vir diegene wat besluit om dit te gebruik. Elkeen moet egter volgens sy of haar eie unieke omstandighede ’n verantwoordelike besluit neem. Entstowwe skakel nie die gebruik van belangrike medikasie, insluitende ivermektien, in die behandeling van Covid-19 uit nie. Dit skakel ook nie voortgesette goeie beginsels ten opsigte van higiëne, fisiese afstande en die handhawing van goeie eetgewoontes en ander maniere om jou gesondheid goed in stand te hou, uit nie. Saam moet en sal ons die pandemie te bowe kom. Te veel van ons mense het reeds siek geraak. Te veel is dood. Te veel het hulle inkomste, bates en hoop verloor. Ons moet dit saam beveg en verby die pandemie tree.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Niemand kan sê of daar op langtermyn newe-effekte gaan wees nie want navorsing kon dit nie bepaal nie. M.a.w. ons bly proefkonyne? Dit is baie wys dat elkeen nog steeds ‘n keuse het om in te ent of nie.

Lourens CFG ·

Die heel eerste verslag wat ek gelees het verlede jaar van die deurbraak wat gemaak is met ‘n entstof vir die covid, en die wetenskaplike trots verduidelik het hoe dit werk deur mens se DNA “trappies” los te maak, en die entstof dan homself daar “inskakel”, het ek my vrou gesê dat ek glad nie iets in mý liggaam gaan toelaat wat krap aan my DNS nie.
So, hou maar verby dankie.

Marianna ·

Wat ek wil weet, hoekom word die mense en instanses wat die virus ontwikkel en vrygelaat het nie gearresteer nie? Hoekom word niks hieraan gedoen nie? Hoeveel jare en variante moet ons nog beleef en die skuldiges loop skotvry.

annie ·

Daar bestaan genoeg bewyse dat van die entstowwe sekere mense negatief raak of higiène tydens toediening hetsy hospitaaltoestande in oorvol sale dalk probleme kan vererger, maar diegene wat ingeènt wil word of is, plaas gewetensdruk op huiweriges en laat die gevoel gedy dat sommiges maar hul lewens op die spel moet plaas, vir die redding van die mensdom… too bad as jy sterf… en geld in die sak van vervaardigers. Daar word reeds gewerk aan Pfizer3 weens nuwe variante. ‘n Nog sterker dosis?

Sluier ·

Dit is nie die mRNA wat my pla nie, want die mRNA is minder as 1% van die inhoud. Ek worry oor die 99,13% Graphene Oxide Toksiene wat ingespuit word. Hierdie Graphene Oxide is nie net toksies nie, waar is ook magneties en elektromagneties manipuleerbaar met radio frekwensie. Wanneer baie sterfdes aan die kom is, gaan hulle die Delta variant van die virus die skuld gee. Merk my woorde. Daar sal beslis geen Graphene Oxide wat tot 119 volt elktromagnetiese bastraling in my arm gaan opwek en wat my are onder ultra violet beligting gaan laat gloei en metaal magneties aan my arm laat vassit en wat my n storm van inflammasie deur my hele liggaam kan gee, in my liggaam toelaat nie. Oor my dooie liggaam sal ek dit toelaat. Ek sterf eerder aan Corona infeksie as watek myself in n robot verander wat inelkgeval die risiko loop om weens komplikasies te sterf. Nee dankie.

Rian ·

En hiermee erken jy dat jy n wetenskaplike is en die pfizer enstof getoets het en gevind het dat dit 99,13% graphene oxide bevat? Indien nie, moenie syrooi praat en fopnuus vetsprei nie.

soosekditsien ·

Ek vind die aanvalle op die (let wel) meningsvormers t.o.v. die hele inentingsprgram interessant… In dié artikel (en soortgelyk) word daar nie voete gestamp of bevele uitgeskree nie, bloot ‘n mening gegee.
Ek waardeer die moeite met die skryf van hierdie artikel om meer inligting (nagevors) deur te gee.

Gerhard ·

Stem saam. Dit is elkeen se reg om te besluit. EK kies om ingeent te word en as iemand anders n geldige rede het om nie n inenting te kry nie aanvaar ek dit solank as wat dit gebasseer is op feite.

Berigte soos die moet sigbaar bly want alles verdwyn na n dag of twee en dan stry ons almal maar weer van voor af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.