Turkye het Sondag ’n stap weg van demokrasie gegee toe die outoritêre leier, Recep Tayyip Erdoğan tot ’n vyfjaartermyn as president verkies is. Erdoğan, wat reeds vyftien jaar Turkye regeer, het verlede jaar in ’n referendum daarin geslaag om die Turkse grondwet te laat wysig sodat meer mag in die president gesetel sal word.
Die posisie van eerste minister sal nou afgeskaf word en Erdoğan sal wye magte hê om adjunkpresidente, ministers en senior regeringsbeamptes sonder enige konsultasie met die parlement aan te stel. Hy sal ook in die land se regstelsel kan inmeng en sal sonder enige konsultasie ’n noodtoestand kan afkondig.
Erdoğan het daarin geslaag om net meer as 50% van die stemme in Sondag se verkiesing op hom te verenig, wat beteken dat ’n tweede ronde tussen die twee sterkste presidentskandidate nie nodig is nie. Die opposisiepartye in Turkye het almal gehoop dat Erdoğan se steun tot minder as 50% beperk kon word sodat sy opposisie in ’n tweede ronde agter een kandidaat kon verenig.
Die verkiesings en selfs die veldtog wat dit voorafgegaan het, is in omstredenheid gehul en opposisiegroepe het Maandagoggend die verkiesingskommissie van verskeie bedenklike praktyke tydens die tel van stemme beskuldig. In aanloop tot die verkiesing was dit ook duidelik dat Erdoğan die openbare uitsaaidiens volledig vir sy veldtog ingespan het en dat opposisiepartye bitter min tyd sou kry om deur die media met kiesers te kommunikeer.
Sedert die mislukte staatsgreeppoging in 2016 in Turkye, het Erdoğan ’n noodtoestand afgekondig, is die meeste onafhanklike media gesluit of deur pro-Erdoğan-groepe oorgeneem en is meer as 160 000 mense wat, volgens Erdoğan, deel van die staatsgreeppoging uitgemaak het of wat een of ander bedreiging vir die regering inhou, in die tronk gegooi. Selfs die leier van die grootste Koerdiese politieke party is tans in die tronk.
Kiesers in Turkye het ook Sondag vir die eerste keer in een verkiesing vir ’n president en parlementslede gestem. Dit blyk uit die verkiesingsuitslae dat Erdoğan se Regs- en Ontwikkelingsparty 42% van die setels in die parlement gewen het en dat hulle saam met hul streng Islamitiese koalisievennoot, die Nasionalistiese Beweging ’n meerderheid in die parlement sal hê. Erdoğan sal dus kan voortgaan om met groot gemak sy outoritêre magsgreep op Turkye te versterk en verder enige partye en organisasies wat burgerlike weerstand daarteen bied, teen te staan.
Erdoğan se oorwinning is deel van ’n politieke verskuiwing wat oor die afgelope twee dekades in Turkye begin plaasvind het. Die politieke verandering het heelwat te make met die toenemende krag van Islamitiese politici in Turkye en die swak posisie van sekulêre beweging soos die hoofopposisieparty, die Republikeinse Volksparty.
Turkye was oor die afgelope dekades ’n getroue bondgenoot van die Weste, maar die land se mislukte poging om by die Europese Unie aan te sluit, saam met die opkoms van Islamitiese en outoritêre leiers soos Erdoğan, het die land verder weg van die Weste en van Westerse demokrasie laat beweeg.
Erdoğan is uitgesproke vyandig teenoor die meeste huidige Westerse leiers en sy verkiesing tot president van Turkye vir nog vyf jaar gaan Westerse lande van heelwat uitdagings voorsien.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Wel, die westerse leiers het hulle kredietwaardigheid verloor aangesien hulle na die pype van die nuwe wereldorde dans. Die nuwe wereldorde en verlinkses is besig om die weste ‘n slegte naam te gee.
Dieselfde probleem as ons.
En Turkye bly steeds lid van Navo.