Erfenisdag vir Afrikaners en Suid-Afrikaners

Met Erfenisdag op 24 September* is dit nodig om te kyk of ons wel een Suid-Afrikaanse erfenis het en of ek die dag ook as Afrikaner kan vier.

Die voormalige redakteur van Beeld, Tim du Plessis, skryf vroeër vanjaar in sy weeklikse rubriek:

In ’n politiek/kulturele konteks is ek: Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaanse (daar is nogal ’n verskil) en Afrikaan. In daardie volgorde. Dié rangskikking het te doen met waarde. Suid-Afrikanerskap is die kosbaarste, die een waarop ek die trotsste is.

Die bogenoemde is dalk te eenvoudig gestel en word verskillende begrippe aangewend wat nie die huidige kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing in ag neem nie.  Ons Suid-Afrikaanse leuse is, !ke e: /xarra //ke, en beteken letterlik diverse mense verenig maar word amptelik gestel as eenheid in verskeidenheid. Hierby erken die Suid-Afrikaanse grondwet die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing in terme van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe.

In ʼn besprekingsdokument vir die Afrikanerbond – ‘Die status van minderheidsgemeenskappe in die Suid-Afrikaanse samelewing’ – skryf prof Deon Geldenhuys van die Universiteit van Johannesburg:

Ons, die mense van Suid-Afrika’, verklaar die aanhef tot die 1996-grondwet, ‘Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid’.

Die aanhef brei nie uit oor die aard van die verskeidenheid nie, maar in klousules van die grondwet word spesifiek erkenning gegee aan kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (artikels 31, 185 en 235). Hiermee gee die grondwet sekerlik nie te kenne dat alle Suid-Afrikaners aan een of meer van dié drie gemeenskappe behoort nie. Ons kan ook nie die afleiding maak dat die ‘verskeidenheid’ onder Suid-Afrikaners slegs in terme van kultuur, godsdiens en taal gedefinieer kan word nie.

Dis nietemin insiggewend dat die grondwet erken dat die Suid-Afrikaanse samelewing (‘society’) – deesdae nagenoeg 50-miljoen mense – onder meer ʼn verskeidenheid kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe (‘communities’) bevat.

Daarom is dit nodig om die verskillende begrippe soos deur Tim du Plessis verwoord verder te verstaan.

Die term Suid-Afrikaner is ʼn suiwer staatkundige begrip en kan nie verwar word met ʼn kultuurbegrip nie. Daar bestaan nie iets soos ʼn Suid-Afrikaanse kultuur nie, maar wel ʼn nasionaliteit. Dit word gedemonstreer in die sin dat daar nie ʼn Suid-Afrikaanse taal is, of homogene kulturele gebruike nie. Nog minder is ons gesamentlik gevorm deur historiese kragte. Wanneer Suid-Afrika egter op die sportveld optree of ons bevind onsself tussen mense van ander lande is ons Suid-Afrikaners. Dit is ons patriotisme en dit is ons lojaliteit. Uit ʼn staatkundige begrip is ek eerstens ʼn Suid-Afrikaner en sal my Suid-Afrikaanse vlag met trots vertoon. Ek is dus vanuit ʼn nasionaliteitskonteks ʼn Suid-Afrikaner. Dit onderskei my van ander nasionaliteite.

Die term Afrikaner verwys egter na kulturele identiteit. Kulturele identiteit verwys na die gebruikstaal, ʼn gedeelde historiese herkoms, vaste kulturele gebruike, en vele meer. In ʼn onlangse besprekingsdokument vir die Afrikanerbond – ‘Taal en Kultuur in die Suid-Afrikaanse grondwet’ – skryf prof Marinus Wiechers:

Die individu is die belangrikste  kultuurdraer, maar kultuur kry eers volledige lewenskrag en bekendheid as dit deur ʼn groep mense ervaar en bewaar word, met ander woorde, binne ʼn besondere kultuurgemeenskap beleef word. So ʼn kultuurgemeenskap word deur verskillende faktore geken, gewoonlik deur ʼn gemeenskaplike taal, godsdiens en geskiedenis.

Vanuit die kulturele perspektief is ek dus eerstens ʼn Afrikaner en sal ek verbete daarna strewe om my kultuur en identiteit te handhaaf uit te bou.

Selfs Unesco wat poog om ʼn internasionale handves van kulturele diversiteit daar te stel beskou kultuur as eiesoortige eienskappe wat geestelike, materiële, intellektuele en emosionele kenmerke van ʼn samelewing of ‘n sosiale groep omvat, en dat dit benewens kuns en letterkunde ook lewenstyle, maniere van saamleef, waardestelsels, tradisies en oortuigings insluit.

Die term Afrikaans verwys na taalverband. In die verband en binne die konteks deel ons die taal met miljoene gebruikers van die taal en moet ons verenig om die taal Afrikaans tot sy reg te laat kom. Veel eerder moet die term Afrikaanssprekende gebruik word as die term Afrikaanse wat soms verkeerdelik as ʼn kultuurbegrip aangewend word.  Die Afrikaanse taalgemeenskap van Suid-Afrika kan en moet gesamentlik optree om bepaalde uitdagings die hoof te bied. Dit sluit in:

  • Gelykberegtiging vir tale maar dan spesifiek vir Afrikaans binne die Suid-Afrikaanse grondwet;
  • Die wesenlike gevaar van verengelsing;
  • Die noodsaak vir moedertaalonderrig in Afrikaans en daarmee saamlopend tersiêre onderrig in Afrikaans.

Wanneer die bogenoemde begrippe in daardie konteks gesien word kan dit nie teenoor mekaar gestel word of self geprioritiseer word nie. In ʼn onderhoud met Beeld sê president Jacob Zuma:

Dit maak my nie minder van ’n Zoeloe omdat ek ’n Suid-Afrikaner is nie. Net so maak dit my nie minder van ’n Suid-Afrikaner omdat ek ’n Zoeloe is nie.

Wanneer die kulturele begrip van Zoeloe met Afrikaner vervang word versterk dit die argument dat die kulturele begrip nooit met die staatkundige begrip verwar moet word of selfs ondergeskik moet wees aan ʼn ander nie. Die gevolgtrekking is dus redelik eenvoudig: Staatkundig is ek ʼn Suid-Afrikaner eerste, kultureel is ek ʼn Afrikaner eerste, taalkundig is ek Afrikaans eerste. Die begrippe staan nie teenoor mekaar nie en is die een nie afhanklik van die ander of ondergeskik nie.

Indien Afrikaners verantwoordelik omgaan met hulle kultuur en identiteit sal dit nie nodig wees om die begrippe teenoor mekaar te stel en soos sommige selfs te bedank uit hulle Afrikanerskap nie. Eweneens moet die regering ook sy grondwetlike plig en verantwoordelikheid teenoor die taal- geloof- en kultuurverskeidenheid nakom. Wat duidelik na vore moet kom is die balans tussen kultuurbegrip en die staatkundige begrip. Indien een benadeel word ten koste van ʼn ander kan dit lei tot wrywing en konflik.

Laastens dalk ʼn bietjie stof tot nadenke vir diegene wat Suid-Afrika se kulturele diversiteit ontken. Unesco sien kulture diversiteit as ʼn onmisbare faktor in ontwikkeling. In artikel 3 van die voorgestelde Handves van Kulturele Diversiteit word dit soos volg gestel:

Kulturele diversiteit open die verskeidenheid van opsies vir almal, dit is een van die grondslae van ontwikkeling, wat nie net verstaan moet word in terme van ekonomiese groei nie, maar ook as ‘n wyse waarop ʼn meer bevredigende intellektuele, emosionele, morele en geestelike bestaan bereik kan word.

Erfenisdag beteken vir my dat ons sorg moet dra dat ons Afrikaner monumente en erfenisterreine versorg en in stand gehou word. Erfenisdag beteken dat ons as Afrikaanse taalgemeenskap onder die vaandel van die Afrikaanse Taalraad saam moet besin oor Afrikaans en uitnemende onderwys. Na 17 jaar van ons demokrasie is daar nog steeds nie een Suid-Afrikaanse kultuur nie en is daar nog steeds nie ʼn Suid-Afrikaanse eenheid nie. Veel eerder is daar ʼn Suid-Afrikaanse samehorigheid rondom bepaalde gebeurtenisse en ʼn Suid-Afrikaanse patriotisme wat gevorm word rondom sport. Die geskiedenis sal leer of ons ʼn Suid-Afrikaanse erfenis het wat in stand gehou moet word.

Op hierdie Erfenisdag sal ek saam met die Voortrekkers die nodige doen om ons plaaslike erfenis in Linden, Johannesburg op te knap en te vier en sal ek ook gepas saam met vriende in Afrikaans om ʼn braaivleisvuur kuier. Dit is my Erfenis – dit is my trots!

*Dié artikel is ‘n aangepaste weergawe van ‘n skrywe wat vroeër in ‘n AB-nuusbrief verskyn het.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Anoniem ·

Ek weet nie waarom ek die benoudheid van Suid-Afrikanerskap behoort te aanvaar nie.

Afrikanerskap gee vir my toegang tot hedendaagse wyd-uiteenlopende landskappe soos Namibië, Nieu-Seeland, Australië en histories tot plekke soos Nederland, Frankryk en Duitsland.

Waarom wil jy jouself ondergeskik stel aan ‘n geografiese orde (soos “Suid-Afrika”) wat niks in ruil bied nie?

Leef jouself eerder uit as Afrikaner en geniet die verskeidenheid en vryheid wat dit meebring, eerder as die onderdrukkende eendimensionele geskiedskrywing van die ANC se “Suid-Afrika”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.