Erfenisdag

gemeenskappe

Argieffoto.

Eergister was Erfenisdag landswyd gevier. Die gedagte agter dié vakansiedag is dat Suid-Afrika se diverse gemeenskappe van die geleentheid gebruik moet maak om hul unieke kulture ten toon te stel. Intussen het die vakansiedag ʼn gedaanteverwisseling ondergaan en staan tans in die volksmond bekend as Nasionale Braaidag.

Hoewel braaivleis ʼn belangrike deel vorm van Suid-Afrikaanse kultuur kan daar geredeneer word dat die nuwe gedaante ʼn afgewaterde weergawe is van dit waarvoor Erfenisdag bedoel is. Daar kan egter ook geredeneer word dat die ander vakansiedae slegs vir laat slaap benut word en daar in elk geval minimale deelname is aan die geleentheid wat vir die dae gereël word.

Suid-Afrika beleef tans ʼn era waarbinne kulturele diversiteit as ʼn meulsteen eerder as ʼn geleentheid gesien word. Dit is so dat diverse kulture ʼn uitdaging kan bied en dat ʼn land met 11 amptelike tale strategies te werk moet gaan om te verseker dat elke taal sy regmatige plek kry. Wat ons egter tans sien is die marginalisering van inheemse tale, nie net Afrikaans nie, en die toenemende gebruik van Engels as amptelike taal. Dit is nie net by staatsdepartemente waar dit voorkom nie, maar ook by groot sakeondernemings wat Engels as die korporatiewe taal beskou.

Ons sien tans by universiteite dat sommige studente ʼn veldtog genaamd AfrikaansMustFall dryf. Hulle verwys graag na hulle rolmodelle as Steve Biko of Robert Sobukwe, maar hulle veg vir Engels as onderrigmedium. Hulle praat van ʼn stryd teen kolonialisme, maar wil sien dat die taal waar onder hierdie einste land gekolonialiseer is as enigste onderrigtaal op tersiêre vlak erken word.

Om die braaivleisvure word daar gereeld, met verwysing na die regering, gehoor: “Hulle gun ons niks nie.” Toe daar sprake was dat die standbeeld van Paul Kruger op Kerkplein verwyder gaan word was daar massahisterie op sosiale netwerke. Maar hoeveel keer was jy al daar? Hoeveel keer het jy jou kinders die standbeeld gaan wys en van Paul Kruger vertel.

ʼn Geskiedenisdosent vertel een jaar op Aardklop dat hy ʼn vraag aan sy eerstejaarsklas oor Paul Kruger se beleid stel. Die klas kan hom nie antwoord en later besef die dosent dat dit nie is omdat hulle nie Paul Kruger se beleid verstaan het nie – dit is omdat hulle nie weet wie Paul Kruger was nie.

“In vandag se skole leer jy mos nie meer van Kruger en De la Rey nie,” sal die verskoning kom. En dit is dalk waar, maar wat leer jy jou kinders van dié helde? Vertel jy vir hulle van die Groot Trek, die Slag van Bloedrivier, die oorwinning by Magersfontein en die nederlaag by Paardeberg?

Die vierde strofe van Die Stem van Suid-Afrika bevat twee baie belangrike reëltjies: “Dat die erwe van ons vadere / Vir ons kinders erwe bly.”

In daardie twee reëls word die wens uitgespreek dat ons kultuur en ons erfenis ook oorgedra word na ons nageslag. Of dit gebeur en of ons erfenis met tyd verdwyn berus by ons en ons alleen. Beplan môre byvoorbeeld ʼn uitstappie na die naaste monument of slagveld en vertel jou kinders van die heldedade van hulle voorgeslagte. Maar moenie wag vir die volgende Erfenisdag voor jy weer ʼn monument of slagveld besoek nie. Maak jou erfenis ʼn belangrike deel van jou daaglikse bestaan.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Disselboom ·

“Erfenisdag” is ongelukkig deel van die poging tot multi-kultuur, en dis nie waar die Afrikaner tuishoort om sy erfenis te gedenk nie. Ons het bande en tradisies met 6 April en 10 Oktober.

Stem saam met James Kemp dat mense baie vinniger op hulle perdjie is as hulle voel hulle regte word aangetas deur iets soos die voorstel om Paul Kruger se standbeeld te verwyder, as wat hulle moeite doen om regtig die geskiedenis te ken en iets te weet van hulle herkoms. Al is daar dan meningsverskil oor “Erfenisdag” as die regte tyd en forum vir bespreking van Afrikaner-erfenis, stem ons saam daar is noodsaak om meer moeite te doen met eie herkoms en geskiedenis.

Dalk tog weer tyd om te dink om die staatsonderwys te verlaat en skole te bedryf waar jy nie net ‘n robotjie vir die industrie word nie, maar ‘n mens met ‘n herkoms. Anderdag laerskoolgeskiedenishandboeke in Centurion gesien wat modern en blink is, terwyl dit die westerse en Afrikaner-herkoms pragtig behandel. Laerskool Raslouw, as Disselboom reg gehoor het. Lyk of daar ‘n kern oor is in Afrikanergeledere wat moeite doen hiervoor.

Johan Neuteman ·

Nie bedoel as kritiek nie, maar ondersteuning van wat Disselboom sê deur op te merk dat 6 April en 10 Oktober geleenthede vir Afrikaner-erfenis is, maar 16 Desember belangrik in die lys van datums is.

rassie ·

Ek stem heelhartig saam met James Kemp dat ons as ouer geslag die verantwoordelikheid het om ons Afrikaner geskiedenis aan ons nageslag oor te dra.

Ons staan egter voor twee groot uitdagings.

Eerstens word ons geskiedenis tans deur andere namens ons herskryf uit ‘n gesigshoek wat heel dikwels daarop gemik is om slegs die minder goeie of slegte dele daarvan uit te lig en voor te hou asof dit die hele Afrikaner geskiedenis is. Dit is ongelukkig nie die ware verhaal nie.

Aan die ander kant het die destydse Afrikaner geskiedskrywers ons geskiedenis vanuit ‘n sterk nasionalistiese oogpunt benader en die voortreflike daarin oorbeklemtoon terwyl die minder goeie skaars vermeld is, of selfs verswyg is. Die Afrikaner geskiedenis was in skole en selfs op universiteit voorgehou asof dit die hele Suid-Afrikaanse geskiedenis was. Die ander kant het hoofsaaklik slegs in die prentjie gekom in gevalle waar hulle die Afrikaner benadeel of bedreig het. Dit was dus ook nie die ware verhaal nie.

Die vraag is dus of ons nie, binne eie geledere, as Afrikaners, eers weer eerlik en opreg en met ‘n oop gemoed self oor ons geskiedenis moet herbesin, voordat ons dit aan die jonger geslag oordra nie. Die blote oordrag van die uiters subjektiewe nasionalistiese weergawe daarvan gaan hulle ongelukkig nie bevoordeel as hulle as volwassenes met ander kultuurdraers in gesprek gaan tree oor die Afrikaner se geskiedenis in groter Suid-Afrikaanse verband nie.

Moontlik bied erfenisdag geleentheid vir so ‘n Afrikaner gesprek oor Afrikaner geskiedenis.

Eish ·

Ek dink tog jy het n punt beet oor herbesinning. Die enigste probleem gaan wees eenstemmigheid. Net soos FW se nalatenskap deel van die geskiedenis is wat direk gelei het tot die helhoolskap van die blanke bevolking, gaan die uitbeelding van sy persoon as held of verraaier deur persoonlike siening getemper word. Dalk moet al die voorgeslagte se optrede slegs feitelik weergegee word in afwesigheid van die toedigting van status, hetsy held of verraaier. Dit skep neutrale grond en forseer niemand in n denkpatroon wat skeptisisme tot gevolg het nie. Dit het waarde lê daarin dat in soverre individuele oplees of navorsing dan objektief en sonder vooroordeel kan geskied en die oordeel van goed of kwaad dan verskuif word na die oordeel van die leser of navorser.

Henry ·

Stem allie pad saam rassie!
‘n Subjektiewe klankie en”vertolking” is soos Eish ook uitwys, dikwels ‘n probleem met geskiedskrywery. Nietemin dink ek dat daar wel Afrikaanse ouens is wat reeds bewys het dat hul skrywes grootliks aan die objektiwiteitsvereistes voldoen, wat van ‘n wetenskaplike werk verwag kan word.
Hermann Giliomee, FJ Pretorius?

rassie ·

Eish en Henry,

Dankie vir jul opmerkings.

Eish, jy is korrek dat daar nie noodwendig eenstemmigheid gaan wees nie. Jy is ook reg dat die jeug self moet besluite neem oor die status van ‘n persoon en ‘n oordeel moet vorm oor gebeure en self ook moet besluit watter opinie oor gebeure en persoonlikhede na hul mening korrek is. Daarvoor het hulle egter alle feite oor persone, gebeure en die verskillende opinies daaroor nodig. Dit is ten minste iets anders as blote indoktrinasie vanuit bloot een gesigspunt gebasseer op selektiewe feite.

Henry, ek stem saam dat Giliomee en Pretorius goeie historici is. Pretorius het onlangs sterk kritiek ontlok toe hy ‘n meer objektiewe blik op sekere mites wat oor die Anglo-Boereoorlog bestaan gewerp het. Blykbaar moet geen geskiedskrywer dit waag om met nuwe bronne enige nuwe feite aan die lig te bring wat die ou aanvaarde aannames of vertolkings verkeerd bewys nie. So word hy blykbaar dadelik ‘n Liberalis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.