Erfreg en erflatings: Edele voorstelle, maar …

testament

Foto: Asesoria-marbella.com

Deur adv. Corneel Pelser

Prof. Pierre de Vos het op 10 Junie 2020 ’n opinie gepubliseer getiteld: “Privilege and inheritance:  Time to disrupt intergenerational transfers of wealth” waarin hy beweer dat die oordrag van welvaart tussen geslagte ongelykheid bevorder en veral “white privilege” voortsit ten koste van die swart meerderheid.  Hy haal Cory Collins aan wat gesê het: “The ability to accumulate wealth has long been a white privilege, a privilege created by overt, systematic racism in both the public and private sectors”.  Collins beweer verder: “The gap, instead, relies largely on inheritance – wealth passed from one generation to the next.  And that wealth often comes in the form of inherited homes with value. When white families are able to accumulate wealth because of their earning power or home value, they are more likely to support their children into early adulthood.”  Hy haal ook die (nou) gunstelingekonoom van veral sosialistiese politici, Thomas Piketty aan wat beweer dat die toelating van intergenerasie welvaartsoordrag ongelykheid bevorder.

Ek wil graag eers die vertrekpunt van De Vos se artikel bevraagteken en daarna ook die oplossings wat hy voorstel.

Hy erken wel dat hy begin dink het aan die voorstel van oplossings terwyl hy die nuus en opinies rondom die Black Lives Matter-protes, en dit wat daartoe aanleiding gegee het, dopgehou het.

Wat my ’n effense krieweling gee, is dat die voorstel weer eens ten doel het om ’n spesifieke ras in die land te herinner aan hul verpligte skuldgevoel oor die voordeel wat hulle histories – en klaarblyklik steeds vandag – geniet en dat die voorstel eintlik meer te doen het met die wegneem van die een ras se voorregte en die herverdeling daarvan na die ander benadeelde ras. Dit sou dan ’n oplossing bied om ongelykheid die hoof te bied.

Die probleem wat ek hiermee het is andermaal die veralgemening wat skynbaar gemaak word deur hom en Collins en soveel volgelinge van die BLM-beweging, naamlik dat alle wit mense ryk en bevoordeel is en alle swart mense arm en benadeel.

Indien ons egter die professor se bona fides aanvaar en argumenteer dat sy voorstelle edel is en oor kleurgrense heen bedoel word, moet ons mos dan sekerlik ook aanvaar dat ryk en bevoordeling nie meer kleur ken nie. Ek sou ten minste vir Piketty gelyk moet gee dat hy met sy voorstel nie ras in gedagte gehad het nie, maar werklike ongelykheid en gepoog het om oplossings hiervoor te bied. Sy voorstelle het myns insiens meer gehandel oor die eweredige verspreiding van inkomste en verdienstevermoë as die herverdeling van kapitaal – ’n probleem wat wel op Suid-Afrika van toepassing is as ’n mens die verhouding in inkomstevlakke van direkteure en werknemers byvoorbeeld as grondslag gebruik.

Dit bring my by die oplossings wat voorgestel word:

  • Eerstens ’n verbod op erflatings, behalwe vir huisinhoud en goed van persoonlike waarde. Hierdie voorstel ruik sterk na Marxisme, wat al soveel keer as ’n mislukte ideologie bewys is en ek gaan nie verder hieroor uitbrei nie, tensy die agbare professor dalk suksesverhale het wat hy kan deel.

Die algemene verbod op erflatings se gevolge is, onder meer, die onderdrukking van entrepreneurskap en werkskepping wat daarmee gepaard gaan, die uitwissing van produktiwiteit, grootskaalse migrasie van vaardighede en, laastens, verhoogde misdaad soos belastingontduiking en bedrog. Na my mening sal ons solank moet dink wie ons gaan blameer vir ons benadeling in die toekoms, want hierdie voorstel gaan vir seker lei tot ’n land vol “have nots”.

  • Die tweede voorstel is om erflatings op ’n progressiewe skaal te belas tot op ’n spesifieke monetêre waarde waarna dit 100% belas moet word. Om dié voorstel se meriete te bepaal, moet mens begin by ’n ontleding van die Suid-Afrikaanse belastingbasis, om vas te stel wie ons moet belas om die land se ongelykheidskrisis op te los.

Volgens die Wêreldbank was daar ongeveer 57,78 miljoen mense in die land in 2018.  Volgens die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) was daar verlede jaar slegs 7,15 miljoen aktiewe belastingbetalers en 2,2 miljoen van hulle (3,8% van die bevolking) was verantwoordelik vir 82,4% van die totale persoonlike inkomstebelasting deur die SAID ingevorder.

As mens kyk na die inkomste van Suid-Afrikaners is die situasie nog meer beroerd met slegs 1% van Suid-Afrikaners wat ’n huishoudelike inkomste van meer as R48 753 per maand verdien, volgens ’n studie wat deur The Southern Africa Labour and Development Research Unit (SALDRU) gepubliseer is. Hiervolgens bevind jy jouself deel van slegs 10% Suid-Afrikaners indien die huishouding waarvan jy deel is, meer as R7 313 per maand verdien.  Hou verder in gedagte dat 17 miljoen mense in die land (30% van die bevolking), tans maatskaplike toelae ontvang ten bedrae van R10 miljard rand per maand. Ongelykheid inderdaad.

Met bogenoemde as agtergrond moet ons gaan kyk wat die totale belastinginkomste is wat ingevorder word deur die 20%-boedelbelasting op die eerste R30 miljoen netto batewaarde en 25% op batewaardes bo R30 miljoen van elke individu.

Volgens die bevindinge van die Davis-kommissie in 2015, het die bydrae wat boedelbelasting in daardie stadium gemaak het, op slegs 0,1% gestaan. Indien ons hierdie persentasie dieselfde laat bly en dit toepas op die totale belasting geïn gedurende die 2018-belastingjaar, beteken dit dat ’n totaal van slegs R1,2 miljard afkomstig was uit boedelbelasting. Dit is ’n toevoeging van slegs 1% tot die maatskapliketoelaagrekening per jaar.

Indien ons dus die professor se voorstel sou aanvaar, maar alle boedels teen 100% te belas, sal die bydrae vanuit die boedelbelastingbeursie ongeveer R6 miljard beloop, nie eens genoeg vir een maand se sosiale toelae nie.

Ek is dus bevrees dat hierdie voorstel geen wesenlike bydra gaan maak in die lewe van talle Suid-Afrikaners wat onder die broodlyn lewe nie, veral nie as die eerste ontvanger van dié soort belasting boonop ’n korrupte regering ook is nie.

Die probleem met die twee voorstelle blyk dus te wees dat ons nie die groot hoeveelhede ryk bevoordeelde mense in die land oor het waarop ons gereken het om die voorstelle te laat werk nie. Of dat herverdeling van rykdom oor 26 jaar nie hier gewerk het nie – soos ook in talle ander lande.

Daar is ongelukkig nie ’n kitsoplossing vir die werklike probleem van ongelykheid wat beslis in hierdie land bestaan nie. Die getoetste oplossing op die langer termyn bly egter ’n regering wat in die eerste plek nie R1 triljoen laat wegraak nie (aldus ons eie president in ’n toespraak by ’n Financial Times-beraad in London op 15 Oktober 2019).

Nee, dit moet ’n regering wees wat erns maak met en hom beywer vir die opgradering van primêre, sekondêre en tersiêre opleiding, die skep van infrastruktuur en dienslewering, die ondersteuning van entrepreneurskap en die aanvaarding van privaat sektor-betrokkenheid.

’n Regering kan nie werk skep nie, hy kan slegs die paaie na werkskepping gelykmaak en as mense eers begin werk, kom welvaartskepping vanself.  Dan hoef niemand te wag vir aalmoese van die ryk bevoordeeldes nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

Puik, logiese uiteensetting!
Tans is dit vir my onmoontlik om de Vos se voorstelle as altruïsties of goedbedoeld te beskou. Ongelukkig lyk sy benadering na nog ‘n liberalistiese sienswyse van ‘n persoon wat self nie die kerngesin en alles wat daarmee gepaard gaan, omarm of voorstaan nie.
Hopelik word hierdie nie nog ‘n instrument in die hande van ‘n korrupte regering, waarmee onteiening sonder vergoeding bewerkstellig kan word nie.

AndrewL

Dat een geleerde man sulke twak kan kwytraak!! Witmense word oral uitgewerk, kry nie werk of bevordering nie. Nou vertel die agbare Prof dat dit wat ons met harde werk, swoeg en sweet, lang ure, laat nagte probeer bymekaarmaak vir ons nageslag net so aan die swartmense moet oordra(Skenk, weggee ) sodat hul dit kan vermors. Erfreg is ‘n Bybelse beginsel en is vir my as Christen uiters belangrik. Ons familie mors nie. Ons help waar ons kan, spaar vir ons oudag en om ons kinders te kan help. My ouers het niks geërf nie, daar was weinig oor –… Lees meer »

Mieke

Daardie geld wat jy erf, word in elk geval so swaar belas, en wanneer alles klaar is kry jy maar omtrent net die helfte van die geldjies wat aan jou bemaak was….

Elize

Ek wonder of de Vos al geerf het. Indien wel kan hy dit alles skenk vir die ANC. Ons kan dan daarna hoor of hy nog dieselfde opinie het.

Hennie

Ek hoef nie groot , tegniese redenasies te ontlont oor hierdie saak nie . Slegs die volgende : Hou julle lang vingers uit beursie uit van mense, ouers, wat jare lank hard gewerk het om die èèndag vir hulle kinders of erfgename makliker te maak! Dis nie julle geld nie en het geen reg daaroor om die testateur se laaste wil en wense te wil wysig of anders bestuur as sy uitsluitlike en laaste wens soos vervat in die testament nie. Selfs nie eens deur moedswillige en drakoniese wette wat sekere reèls bevat wat die staat nou ‘n begunstigde in… Lees meer »