Erken gerus ons subjektiewe belewenisse

“You and I do not see things as they are. We see things how we are” ~ Herb Cohen (1933 – ), Amerikaanse platemaatskappybestuurder

Hierdie is wyse woorde met ‘n sleutel tot beter begrip van ons eie samelewing en omstandighede. Die filters van onder andere kultuur, waardes, geloof, opvoeding en persoonlikheid is bepalend in hoe jy die wêreld sien.

Mense deel bepaalde sienings van hoe hulle die wêreld beskou en daarom is ons onder andere in staat om die Weste te onderskei van die Ooste en die Ooste van Afrika. Dit gaan so aan tot ons by Suid Afrika kom en ook hier verskillende sienings van die verlede, hede en toekoms het. Daar is ʼn klomp sienings en idees wat ʼn invloed op die samelewing het – hierdie sienings of idees is in ʼn stille sowel as aktiewe spanning en die idees wen wat deur die meeste verteenwoordig en hardste verkondig word. Karl Marx het al gesê dat die meerderheid die betekenis van kontekste in ‘n samelewing bepaal. Daarom is dit moontlik om sosialistiese idees binne ʼn liberale grondwet te implementeer.

Die punt is dat die wêreld ʼn subjektiewe plek is. Die enigste wyse waarop jy ʼn wêreld kan skep soos jy dit sien, is deur aktiewe deelname. Indien jy onaktief is in jou samelewing gaan die toekoms met jou gebeur sonder dat jy enigsins invloed daaroor uitgeoefen het. Ek glo nie in die keuse van neutraliteit nie – jy kan kies om passief of aktief te wees. Wees gereed vir die gevolge van beide.

Die uitdaging aan my en jou is om te verstaan hoe andersdenkendes se werklikheid lyk en terselfdertyd ons eie idees van die wêreld uit te brei en te ontwikkel. Dit doen ons deur te luister na ander en oor hulle idees te lees en leer. Dit is net so belangrik om jou eie idees te verstaan deur daaroor te lees en leer.

Die wonderlike van Maroela Media en Die Groot Debat is dat dit vir die Afrikaanse gemeenskap ʼn platform is waar ons kan werk na groter begrip vir mekaar, ʼn uitgebreide kan idee ontwikkel oor ons beskouing van die werklikheid en aktief deel kan neem aan die daarstel van ʼn samelewing wat ons identiteit verteenwoordig. Sodoende sal ons verhoed dat ons passiewe slagoffers word van ʼn vreemde werklikheid wat met ons gebeur.

My deelname is vanuit ʼn hoek – ek is subjektief en dit is deel van my identiteit. Ek is ʼn Christen, ʼn Afrikaner, ʼn Afrikaanse, ‘n Suid Afrikaner, ʼn Westerling en ek is trots daarop. Ek gun almal hulle plek en sienings in Suid Afrika en werk elke dag daaraan om vir die Afrikaner en Afrikaanse gemeenskap ʼn plek in Suid Afrika te bou. My subjektiewe bydrae is om te bou aan Instellings wat my identiteit en idee verteenwoordig. Wat is jou bydrae?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Henk Schalekamp

Henk Schalekamp is voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy en dien op die rade van Akademia, Sol-Tech, Solidariteit Eiendomme en Solidariteit Finansiële Dienste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jahni Cowley ·

Ek glo dat ‘n subjektiewe beskouiing van ‘n stel feite juis waarde toevoeg:  Al ons ervarings bymekaargetel kan ons tog net versterk?  Stem ook heeltemal saam dat die krag van Maroela juis hierin gaan wees!

Anoniem ·

In ietwat van ‘n ander konteks het die filosoof Ludwig Wittgenstein gesê: “Selfs al kon jy ‘n leeu Engels leer, sou hy jou nog steeds nie verstaan nie.” Hiermee het hy bedoel dat selfs al sou die kommunikasiegaping oorbrug wees, die leefwêreld van ‘n leeu en van ‘n mens so totaal verskillend is dat die leeu nooit werklik die ware betekenis van die woorde wat hy geleer het, sal kan begryp nie.
Dit is hierby ook van toepassing. Dit is baie moeilik om jouself in ‘n ander se skoene te plaas en te probeer verstaan waarom hulle dink soos hulle dink indien hulle ‘n ander ideologiese, kulturele of sosiale agtergrond het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.