Eskom-herrie: Jy is streng, en dáárom ’n rassis!

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom. (Foto: Facebook)

Terwyl ek hier skryf, is ons weer besig om onder beurtkrag gebuk te gaan.

Fase 1- of 2-beurtkrag noem hulle dit, maar dit beteken gewoon dat Eskom nie krag kan verskaf soos hulle moet nie. Toenemend, en op legio maniere, begin mense planne te maak om van Eskom se probleme te ontsnap. Hoewel dit goed is vir die talle entrepreneurs wat begin het om geleenthede te ontgin, saai dit nietemin groot verwoesting in Suid-Afrika.

Dit speel boonop af teen die agtergrond van ’n ondersoek deur die Eskom-direksie na André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, oor beweerde rassisme. Hierdie aantygings kom nadat Solly Tshitangano, die kragvoorsiener se hoof van verkryging, briewe aan, onder andere, pres. Cyril Ramaphosa en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gerig het om oor De Ruyter en ander te kla. De Ruyter het Tshitangano geskors hangende ’n tugverhoor omdat hy nie uiters beskeie besparingsteikens kon haal nie.

Volgens Tshitangano gebruik hoëlui by Eskom hul velkleur (dus, wit bestuurders) om hom te ondermyn. LP’s van die EFF en ANC het ook gevra dat De Ruyter se beweerde rassisme ondersoek word. Die Eskom-direksie het ingestem om dit te ondersoek in weerwil daarvan dat die interne remedies nie naastenby uitgeput is nie en dit uiters onwaarskynlike bewerings is.

Ek kan weliswaar nie sê dat dit as ’n verrassing kom nie. De Ruyter sou as wit man in een of ander stadium, ten regte of onregte, weens rassisme in die spervuur beland. Die rassismekaart is ’n maklike en desperate poging om aandag van onbevoegdheid en korrupsie af te lei.

Maar dat Tshitangano, die EFF en ANC nou skielik aandring dat rassisme bekyk word toe Tshitango geskors word en die skip wil lyk of dit wel omgekeer word, is betekenisvol en verklap baie. Dit is ook hoogs verdag dat hulle vra vir ondersoeke na rassisme waarvoor daar nie eens oënskynlike bewyse is nie, maar nooit op ondersoeke oor die duidelike en klaarblyklike staatskaping en korrupsie aangedring het nie. Hulle het nooit gevra dat Brian Molefe, wat nou behoorlik by die kommissie van ondersoek na staatskaping moet bontstaan oor sy uitdagende termyn as uitvoerende hoof by Eskom, ondersoek moet word nie.

Van Molefe se goedkeuring van ’n vooruitbetaling aan die Gupta-beheerde Tegeta, tot sy twyfelagtige en buitensporige pensioenuitbetalings by Eskom wat ook op hofsake uitgeloop het, is dit moeilik om te dink wat hy juis reg gedoen het terwyl hy Eskom gelei het en as verweer kan gebruik. Om bloot aan te voer dat jy niks verkeerd doen nie terwyl die bewyse en getuienis die teenoorgestelde toon, verontskuldig jou geensins. Eskom is wel tans besig met siviele gedinge teen Molefe om die groot som geld terug te kry wat deur staatskaping verlore gegaan het en dít kan bydra daartoe dat die staatskapers hul medestaatskapers se behandeling wil wreek.

Voorts is daar nog ander bewyse ook. Dit sluit in Tshitangano se uiters onreëlmatige aankope. Hy het byvoorbeeld omtrent vyf keer soveel vir toiletpapier betaal as wat ’n mens dit teen die kleinhandelsprys in ’n winkel kan gaan koop. Hy het R80 000 vir een knieskerm betaal. Dis om jou oë te laat traan. As De Ruyter ’n onreg gepleeg het, was dit om nie al lankal van hom ontslae te raak nie. De Ruyter het daarbenewens ook talle swart bestuurders aangestel sedert hy die tuig opgeneem het. En moenie vergeet van Eskom se skuld wat snel R500 miljard nader nie. Hierdie gegewens is nie bewerings nie. Dit is harde en onomstootlike feite en dít is die ware onreg jeens die hele samelewing.

Die EFF, ANC en Tshitangano se antiwit verwyte en klakkelose beskuldigings, gebeur te dikwels vir ons om nog enigsins daaroor te tob. Maar hul kru ongeërgdheid oor wat met Eskom gebeur het en dwarsboming van die taak om dit reg te stel, is onvergeeflik. Vir die onbevoegdes en korruptes sal enige vorm van meriete, strengheid en dissipline altyd ’n rassismekwessie word. Maar dit raak nou al te dik vir ’n daalder en moet met volslae minagting verwerp word.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is die strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Veronica

goeie berig

MakersMark

Stem 100% saam uiteindelik sal streng leierskap resultate verwag en resultate word nie gelewer deur onbevoegde, lui en korrupte werkers nie. En onmiddelik word die ras kaart gespeel.

Adriana

Dis tyd dat iemand hierdie klomp onbevoegde, korrupte regering begin aanvat, hul moet almal uitgedryf word dat ons mense inkry wat die werk kan doen en die land kan regruk en terug bring na wat dit eens was.

Vrijburger

Al wat my verbaas is dat die raskaart nou eers teen De Ruyter gebruik word.

Jaada

Gebeur huidiglik by die meeste firmas, sodra ‘n comrade aangespreek word vir swak prestasie is jy as wit bestuurder rassisties.