Eskom: Staat en ANC die ‘mamparras’

(Foto: Skermskoot/Sunday Times/Twitter)

Ek en my kollega, Deon Reyneke, ry verlede week Witbank toe vir ʼn Solidariteit-vergadering. Hy het vroeër by Eskom gewerk en ken die sukkelende onderneming baie goed.

Sy pa het ook by Eskom gewerk. Net na 2000 het Eskom miljarde rande betaal om van wittes ontslae te raak. Sy pa is só by Eskom weg. Hulle het dit “plekmaakpakkette” genoem. Die regering se rasideologie het hul só blind gemaak dat hul bereid was om miljarde te betaal om van die maatskappy se institusionele kennis ontslae te raak. Daarna is daar fluks met hierdie selfmoordstrategie voortgegaan deur die leier te wees as dit by raskwotas kom.

Vandag het ons beurtkrag.

Ons ry verby die indrukwekkende en teleurstellende Kusile. Deon vertel my dat Kusile naby steenkoolvelde geleë is. Vervoerbande kon die steenkool bekostigbaar na die kragstasie vervoer. Dit kan egter nie ontgin word nie, weens BEE-vereistes. Nou moet steenkool ten duurste deur swart bemagtigde maatskappye teen ʼn prémie met vrágmotors aangery word. Hy vertel my van aankoopprosesse wat enorme premies vir korrupsie onder die dekmantel van swart bemagtiging moes betaal.

Vandag het ons beurtkrag.

Deon vertel van korrupsie selfs tot op kragstasievlak. Ons praat oor hoe Eskom nie net as ʼn kragopwekker bestuur moet word nie, maar as ʼn teen-misdaadoperasie. Ons praat oor die Zondo-kommissie. Die skrikwekkende getuienis oor Eskom. Ons praat oor geen vervolging van plunderaars. Ons praat oor ons eie klag teen Molefe en die stilte van die vervolgingsgesag. Ons praat oor die druk op die topbestuur omdat hulle op die boewe se korrupsiesuurstofpype staan.

Vandag het ons beurtkrag.

Ons praat oor die oproepe dat De Ruyter en Oberholzer moet gaan. Baie daarvan aangevuur deur diegene wat korrupsiesuurstofnood begin ervaar. As hulle gaan, wat dan?

Die staat is die aandeelhouer, maar dis dieselfde staat waaruit die korrupte nes en verstikkende rasideologie vir soveel jare gevoed word.

Ek sien in die Sunday Times André de Ruyter is hulle “Mamparra van die week”. Nee, Sunday Times, as dit by Eskom kom, is die sentrale staat en die regerende ANC die mamparras van die dekade!

Raak eerder van die spul ontslae en bevry vir De Ruyter en al die duisende goeie mense wat steeds vir Eskom werk. Laat hulle toe om te doen wat hulle moet doen.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leon

Stem. Dit is hkm so baie organisasies het besighede gevou het agv plekmaakpakkette.

Biltong

In 1994 (eintlik al in 1992) het ons, ten spyt van wat elders in Afrika gebeur het, gedink dis nou sommer n bakgat idee om die land sonder slag of stoot vir hulle te gee.

Vandag het ons beurtkrag.

Maar wag, daar is meer.
Binnekort het julle ook nie meer n pensioen nie.

My R0.02

Eskom is onredbaar. Hou op om teen die prikkels te skop en aanvaar dit nou maar. Interne sabotasie verseker dat selfs die beste CEO ter wêreld niks sal regkry nie. Die beste wat enige ou kan doen, is om vir n paar jaar daai vet salaris te skep, te bedank en iewers by die see of op n Karooplaas af te tree.

MT

Plekmaakpakkette het gelei tot die ontplooing van rowersbendes in ALLE staatsorganisasies, vanaf Eskom regdeur tot Denel. Die tragedie wat op ‘n uurlikse basis in Suid-Afrika die afgelope amper 30 jaar afspeel, het geen gelyke in die geskiedenis van menswees nie. Ons word op ‘n daaglikse basis aan dinge blootgestel wat onmoontlik is om te verstaan of suksesvol te verwerk! Dis ‘n moderne Griekse tragedie. Dit bevat elemente van volskaalse oorlog, ekonomiese sabotasie en verwoesting, die vertrapping van kultuur, taal en leefwyses, die vernietiging van mense se reg op voortbestaan, en die ont-neem van mense se kanse op indiensneming, bevordering en… Lees meer »

Samuel

Die regering luister tog nie na Dirk Hermann nie. De Ruyter is ‘n staatmaker.