Ethiopië: leier bedank, land in onsekerheid gedompel

ethiopië

Die vlag van Ethiopië. Foto: GDJ/Pixabay.com

Die president van Ethiopië, Hailemariam Desalegn, het onlangs bedank te midde van onluste in groot dele van die land. Kort na sy bedanking is ʼn noodtoestand afgekondig in reaksie op die volgehoue onrus. Onrus is veral sterk in die sentrale Oromia-streek.

Daar was reeds verlede jaar ʼn noodtoestand wat geen uitwerking op die betogings gehad het nie en dit is weer opgehef, maar nou weer ingestel. Reeds vir sowat twee jaar lank is daar nou onrus in Ethiopië met honderde lewensverliese. Dit is teen die regering gerig en het sterk etniese ondertone. Dit is ongewoon vir die land, wat sedert 1991 streng beheer word en ekonomies merkwaardig vooruitgegaan het.

Hailemariam (in Ethiopië word die familienaam vooraangestel) het in 2012 die langtermyn-president en sterkman, Meles Zenawi, wat aan kanker oorlede is, opgevolg. Hailemariam was Meles se vise-president, maar kon nie die almagtige oud-president se skoene volstaan nie. Sedert 1991, ná die omverwerping van die kommunistiese diktator Mengistu, regeer die Ethiopiese Revolusionêre Demokratiese Volksfront (ERDPF). Terloops, die naam “revolusionêr” dui op die kommunistiese oorsprong van die eertydse bevrydingsbeweging en die term “demokraties” beteken niks nie. Amper elke party en beweging in Afrika noem homself demokraties, omdat dit goed klink.

Die ERDPF is ʼn streng hiërargiese party en Ethiopië is vir alle praktiese doeleindes ʼn eenpartystaat. Dit moet egter erken word dat Meles die land en sy mense ʼn groot guns gedoen het om Mengistu, ʼn Sowjet-Unie-vasal wat sy land wanbestuur en die mense uitgehonger en uitgemoor het (en wat nie toevallig in ballingskap in Harare woon nie), omvêr te werp. Al is die party oorspronklik kommunisties en funksioneer intern ook nog só, het Meles van Ethiopië in die konteks van Afrika ʼn merkwaardige sukses daarvan gemaak, met hoë ekonomiese groei van tussen 8% en 10% per jaar (wel vanaf ʼn lae basis), ʼn relatief vrye mark en politieke stabiliteit. Ethiopië kon dit selfs regkry om in ʼn uiters onstabiele streek ʼn eiland van relatiewe vrede en funksionering te wees en is ook ʼn bondgenoot van die VSA in die stryd teen Islam-terrorisme in Somalië.

Onder Hailemariam het dinge eers op die stoom van die verlede aangegaan, want die Meles-stelsel was goed gevestig. Omdat hy egter nie dieselfde “greater than life”-status as sy voorganger gehad het nie en nie bo sy party kon uitstyg nie, is sy gesag geleidelik ondermyn, sowel intern asook ekstern. Dit het ʼn geleentheid geskep vir die etniese spanning, wat al lank in die veelvolkige staat opgebou het, om uit te bars. Die ERDPF was ʼn koalisie van verskeie etnies gebaseerde rebellegroepe, waarvan die Tigre, Meles se etniese groep, ten spyte van hulle klein getalle (6% van die land se bevolking) dominant was en nog steeds is. Die grootste etniese groep is egter die Oromo (sowat 34% van die bevolking) en hulle eis nou die leierskap van die land. Hulle voormalige rebellegroep, die Oromo Demokratiese Volksorganisasie, is nog steeds deel van die ERDPF, maar in praktyk is hulle met hulle charismatiese leier Lemma Megersa reeds in opposisie.

Proteste van die Oromo teen hulle marginalisering het al die afgelope paar jaar prominente aandag in die media gekry en hulle simbool van protes teen onderdrukking, die twee gekruisde arms, is internasionaal wyd bekend sedert die atleet Feyisa Lelisa dit in 2016 by die Rio Olimpiese Spele vertoon het toe hy oor die wenstreep gehardloop het. ʼn Ander prominente etniese groep, die Amhara (Ethiopië se eertydse “herrenvolk” met sowat 27% van die bevolking), soek ook groter seggenskap. By die Oromo en die Amhara was die sneller vir die onluste beplande veranderings van hulle streeksgrense, maar die frustrasie kom al ʼn lang pad. Ons kan ook die parallelle met Suid-Afrika sien, met die Xhosa wat die ANC en die regering lank oorheers het, tot met Jacob Zuma toe dit die Zoeloes, die grootste volk, se beurt geword het om te regeer. Hoe hulle die verlies van mag hanteer moet nog gesien word. Ook in Suid-Afrika het al verskeie onluste uitgebreek oor die verandering van provinsiale en munisipale grense.

Hailemariam het eers in 2017 met ʼn noodtoestand gereageer en meer onlangs met ʼn grootskaalse vrylating van politieke gevangenes toe hy sy teenstanders probeer tegemoet kom, maar dit het nie die gewenste kalmerende uitwerking gehad nie. Daar is ook geen natuurlike opvolger vir mnr. Hailemariam nie en die regering is swakker as ooit die afgelope sowat 20 jaar. Dit beteken egter nog lank nie dat die val van die regering naby is nie.

Ethiopië se stelsel is deur Meles gevestig en kan as “diep staat” beskryf word: ten spyte van die federale indeling van die land is daar sterk sentrale beheer oor die hoekstene van die staat. Die veiligheidsmagte en burokrasie is lojaal aan die regering en in die parlement is daar nie ʼn enkele opposisieverteenwoordiger nie. Ook die media word beheer. Terwyl Ethiopië onder Mengistu ʼn totalitêre staat was, is dit nou ʼn sterk outoritêre staat.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ampie ·

Interessante stuk Sebastiaan. Die bevolking van Ethiopie neem natuurlik so toe dat geen regeerder (selfs al is hy eerlik) veel hond-haaraf gaan maak nie. Die bevolking het toegeneem van 18 miljoen in 1950 tot 100 miljoen plus tans! Natuurlik stroom daar hope Ethiopiers na SA saam met mense van Eritrea en Somalie.

Sebastiaan ·

Dit is waar, oorbevolking is altyd ‘n versneller van enige soort konflik. Ethiopië se oppervlak is kleiner as Suid-Afrika s’n en die bevolking is dubbeld so groot. Ethiopië het ook groot dele van die land wat woestyn of berge is, wat maak dat in die vrugbare dele en veral in die hoofstad Addis Abeba mense nog meer saamdrom. Die uitkring van Addis Abeba in die stamgebied van die Oromo was een van die oorsake vir die opstande.

Casper Labuschagne ·

Mens sou dink dat wat in Ethiopië gebeur min invloed op Suid Afrika sal hê, maar dit is nie so nie. Hier in die middedorp van Kroonstad kan ek verskeie winkels en eetplekke uitwys wat deur Ethiopiërs bedryf word. Meeste van hulle bly nie lank in die dorp nie, ek vermoed hulle wyk na die stede toe en is slegs op die platteland totdat hulle vlugtelingstatus (of dalk omkoopgeld) deur Binnelandse Sake geprosesseer word. Saam met die Ethiopiërs is burgers van Sjina, Pakistan, Bangladesj en Somalië, Nigerië asook Zimbabwe dik gesaai op die strate van ons klein dorpie.

Casper Labuschagne ·

Hier is ook die element van etniese konflik te bespeur wat algemeen is in Marxistiese lande wat oorgaan na ‘n ander bedeling. Onder die kommunistiese ideologie word alle minderheidsgroepe en identiteite gelyk geag en daar vind daar ‘n geografiese vermenging plaas van etniese gemeenskappe. Maar as die kommunistiese bedeling tot ‘n val kom, vind etniese konflik plaas soos daardie groepe terugkeer na ‘n etniese nasionalisme. Die verskynsel kom voor vanaf Joego-Slawië, Oekraïne, die Baltiese lande wat onder die Sowjet Unie geval het asook nou in Burma waar die strydpunt nou tussen Islam en Boeddhiste is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.