Iets wat aanvanklik soos ’n plaaslike opstand gelyk het wat gou onderdruk sal word, dreig intussen om in ʼn burgeroorlog te ontaard.
Die klein Tigray-volk uit die noorde van Ethiopië veg teen die res van die land, maar veral teen die meerderheidsvolk van die Omoro (sowat ’n derde van die bevolking), wat aan die president, Abiy Ahmed, behoort. Die konflik strek al oor meer as ʼn jaar, toe die regering die streeksverkiesing in Tigray onwettig verklaar het en die streeksregering se magte ingeperk het.
Die Tigray het dit nie aanvaar nie en begin met pogings om hulle streek doeltreffend af te skei, waarop die regering oorlog teen hulle verklaar het. Na aanvanklike suksesse van die Ethiopiese weermag en die besetting van Tigray se hoofstad Mekelle het die Tigray-rebelle teruggeveg en in die laaste tyd merkwaardige suksesse behaal. Hulle marsjeer tans na die hoofstad Addis Abeba.
Alhoewel die Tigray ʼn klein volk is (slegs 6% van die Ethiopiese bevolking van 116 miljoen), was hulle onder Meles Zenawi, langtermyn- eerste minister, die elite volk van die land. Met die dood van Meles Zenawi en veral sedert die Omoro Ahmed aan bewind is, voel hulle afgeskeep.
Die Tigray kan sukses in dié oorlog behaal as hulle ander volke as bondgenote kan bekom, of ten minste as groot dele van die bevolking neutraal bly. Die Somali-bevolkte deelstaat, self gedugte vegters en tot relatief onlangs nog teen die sentrale regering in opstand, het hulle egter reeds aan die kant van die sentrale regering geskaar. Ook die buurland Eritrea speel ʼn sleutelrol: Dié land en volk en die Tigray is bure en ou vyande en daar was reeds militêre aanvalle op die Tigray-streek vanaf Eritrea. Sowel die Tigray, Eritreërs en Somali’s is ervare vegters, terwyl die Omoro eerder ʼn reputasie as vreedsame volk het.
Ethiopië is etnies en godsdienstig taamlik heterogeen en oorloë – intern of teen sy buurlande – kom dikwels in sy geskiedenis voor. Tye van vrede en relatiewe voorspoed het altyd met ʼn sterk, soms diktatoriale leier gepaardgegaan wat die verskillende volke teen mekaar kon balanseer, om nie te sê “af te speel” nie. Een deelvolk wat gedurig teen die sentrale regering in opstand was, was die Eritreërs wat, anders as die res van die land, vir ʼn tydjie onder Italiaanse koloniale beheer was en dus ʼn ander politieke entiteit gevorm het.
Ook die Somali’s in die oostelike Ogaden-streek het vir baie jare vir afskeiding van Ethiopië en aansluiting by Somalië geveg. Na die relatief stabiele tydperk na die Tweede Wêreldoorlog onder keiser Haile Selassie is sy bewind in 1974 deur die kommunis Mengistu Haile Mariam omvergewerp, wat Ethiopië brutaal op die pad na sosialisme gedwing het, hongersnood en gruwelike onderdrukking inkluis. Na die militêre verwydering van Mengistu in 1991 deur ʼn rebelle-alliansie waarin die Eritreërs en Tigray ʼn sleutelrol gespeel het, het die onrustige Eritreërs afgeskei, net om kort daarna in ʼn oorlog met die eertydse moederland oor die grensverloop betrokke te raak. Die konflik was hewig maar kort, alhoewel die twee lande eers twee jaar gelede formeel vrede gesluit het.
Binne-in Ethiopië was daar relatiewe vrede tussen sy volke, te danke aan ʼn grondwet wat aan die etniese groepe selfbestuur gegee het, en alles onder die wakende oog van die sterk leierskap van eerste minister Meles Zenawi. Onder sy bewind was Ethiopië selfs ʼn bondgenoot van die Weste in die stryd teen terrorisme en ʼn baken van stabiliteit en merkwaardige ekonomiese groei in ʼn andersins onstuimige streek.
Dit is snaaks dat onafhanklikheid nou oor die wereld n uitdaging word.