EU het niks geleer nie

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Die president van die Europese Kommissie (EK) (in praktyk die Europese Unie (EU) se president), Jean-Claude Juncker, het in sy onlangse “State of the Union”-toespraak ʼn positiewe beeld van die huidige Europese Unie geskets. Dit moet natuurlik in die lig van die onderhandelinge oor Brexit, wat tans aan die gang is en die EU in die grootste krisis van sy bestaan gedompel het, gesien word.

Juncker se boodskap is: Brexit of nie, die EU gaan onverpoosd vorentoe (en wie ons wil verlaat, sal spyt wees). Behalwe vir allerhande mooiklinkende gemeenplase was daar ook stellings wat mekaar weerspreek, naamlik dat die EU sy grense beter teen onwettige immigrante moet beskerm, maar gelyktydig immigrante nodig het en dankbaar is vir almal wat hulle help integreer; dat die EU ʼn unie van vryheid en van gelykheid is en een wat meer verenig (wat beteken minder seggenskap vir die burgers en die lidlande) en meer demokraties wil wees. Wat die meeste reaksie uitgelok het, is sy voorneme dat die euro-geldeenheid in die toekoms vir die hele EU ingestel sal word. Tans het meeste Oos-Europese lidlande, asook Swede, Denemarke en Brittanje, nog hul eie geldeenhede.

Die EU is volgens sy leiers en pleitbesorgers soos ʼn fiets wat altyd vorentoe moet beweeg sodat dit nie omval nie. Daarom kan daar geen stappe agteruit wees nie en kan ʼn land wat die euro aanvaar het, nie meer daarvan afstand doen nie. Daar moet ook gedurig ander lande bygevoeg word.

Brittanje is in proses om die EU te verlaat en afgesien van die twee Skandinawiese lande wat ʼn klein bevolking het, is meeste lande wat die euro nog as geldeenheid nie het nie, relatief arm. Daarby was die fout juis dat arm lande soos Griekeland, wie se ekonomie amper op die vlak van ʼn derde wêreldland is, ʼn sterk geldeenheid soos die euro gekry het wat geskoei is op die Duitse mark en die Duitse ekonomie. Nou wil Juncker nog armer lande, soos Bulgarye en Roemenië, deel maak van die euro-sone. Nie genoeg daarmee nie: State in die Balkan wat nog nie lede van die EU is nie (omdat hulle arm en onstabiel is) soos Serwië, Albanië, Kosovo, Bosnië-Herzegovina en Masedonië moet ook vorentoe lede word.

Soos Juncker is talle EU-leiers ideoloë wat hulle droom van ʼn verenigde, vreedsame en voorspoedige Europa nie deur praktiese struikelblokke wil laat versteur nie. Die hele Europa met een geldeenheid beteken dan ook een minister van finansies met een begroting, wat ook deel van Juncker se toekomsplanne is. Die EU het reeds ʼn soort minister van buitelandse sake.

Dit wil op die oppervlak voorkom asof die euro-krisis opgelos is, maar dit is net uitgestel deur middel van die grootskaalse aankoop van effekte deur die Europese Sentrale Bank om die euro te stabiliseer. Dit kan egter nie onbepaald voortgaan nie. Die siekte se oorsaak is nie behandel nie, net die pyn is met pynstillers verlig.

Dit lyk asof die EK en die Europese elite niks geleer het uit die Griekse skuldkrisis en die Brexit-besluit nie. Eersgenoemde het gewys dat die euro as geldeenheid vir ʼn statebond met ʼn uiteenlopende ekonomie nie werk nie; laasgenoemde dat die burgery nie gediend is met al hoe groter, al hoe meer voorskriftelike en regulerende EU nie. Asof die oplossing vir die probleem meer van dieselfde, noodlottige medisyne is. As die euro in Griekeland en Ciprus (en eintlik ook in Italië, Spanje en Portugal) nie kan werk nie, waarom dan in ekonomies nog minder ontwikkelde lande?

Behalwe vir die euro, wat die EU se lidlande ten spyte van die retoriek eintlik ekonomies verswak, is die vlugtelingvraagstuk die ander groot verdeler binne die EU, veral tussen Oos- en Wes-Europa. Juncker het in sy toespraak ook weer daarop gewys dat die EU se lidlande in die naam van solidariteit almal ʼn sekere hoeveelheid vlugtelinge moet huisves. Talle Oos-Europese EU-lede, by name Hongarye, Slowakye, Pole en Tsjeggië (maar ook Bulgarye en Roemenië, al swyg hulle) maak beswaar daarteen. ʼn Onlangse uitspraak van die Europese hooggeregshof, spesifiek gemik op Hongarye en sy leier Victor Orban wat op die voorpunt van die verset staan, het egter bevestig dat alle lande verplig is om vlugtelinge in te neem, of hulle daarvan hou of nie.

Hongarye het ten spyte van die oordeel van die Europese hooggeregshof geweier om die uitspraak te eerbiedig. Die nakoming sou beteken dat die land een van die hoekstene van sy soewereiniteit, naamlik grensbeheer, gaan prysgee, en verder, dat Hongarye gedwing sou word om nie meer ʼn land van die Hongare te wees nie, maar ʼn multi-etniese en multigodsdienstige staat. Laasgenoemde is die onverklaarde einddoel van die EU en sy leiers, maar word veral in Oos-Europa, met Hongarye op die voorpunt, teengestaan. Dié land en die EU stuur nou onvermydelik op ʼn konfrontasie af.

Die EU kan nou so ver gaan om ʼn proses van uitsluiting uit die EU teen Hongarye aanhangig te maak en kan ook beslag lê op buitelandse eiendom van Hongarye. Indien die EU egter wel so sou optree, word Hongarye die martelaar vir al die lande wat self skepties is oor die gedwonge opname van vlugtelinge spesifiek, en in die algemeen oor die inmenging in lande se interne sake.

Die EU het meer as agteroor gebuig om Griekeland elke moontlike oortreding op finansiële gebied te vergewe sodat hulle ten alle koste in die euro-sone kan aanbly. Vir Hongarye geld egter geen spesiale reëls nie, want Orban met sy uitgesproke nasionalisme is vir Juncker, Angela Merkel en ander EU-leiers lankal ʼn doring in die vlees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

John ·

Het Duitsland as ‘n geheel ‘n genetiese oorplanting gehad sedert 1945? Wie beheer die EU en skryf soos stoere Nazi’s voor presies wie, wat en hoe. Hoekom sou ‘n mens wat deur ‘n slang gepik is en by die dood omgedraai het, sy naaste smeek om die diertjie te vergewe en hom knus in huis blyplek te gee, want die liewe onderdrukte dingetjie moet mos sekerlik ook goeie hoedanighede he. Ons moet hom net beter behandel. Baie liefde en onderdanigheid sal sy gif verminder… Waar is ons sielkundige, die een met die baie handgebare. Sy is duur maar saam kan ons handevat en aanstap… die verlede agterlaat… Help!

Sebastiaan ·

Die Duitse elite se denke is min of meer volgends die lyne: nasionalisme het ontsettende skade berokken (die oordrewe vorm in Duitsland altans) en die antwoord is om deur die saamvoeging van state tot ‘n groot eenheid, en vermenging van volke en godsdienste eens en vir altyd te keer dat daar ooit weer nasionalisme en eng nasionale belang, met die rampspoedige gevolge soos die Eerste en Tweede Wêreldoorlog, herrys. Omdat Duitsland vir so lank voorspoedig was, en nog steeds is, blyk dit asof die redenasie werk. Die instroming van vlugtelinge word as hanteerbaar gesien omdat Duitsers nog min ondervinding met die skadukante van ‘n “multi-kulturele samelewing” het. Frankryk, VSA, Brittanje, Italië ens. kom al ‘n langer pad daarmee saam en is daarom ook meer skepties daaroor. Oos-Europese lande het weer, op hulle beurt, lank onder die juk van kommunisme gestaan en wil nie hulle hard verworwe vryheid en soewereiniteit opoffer nie. Omdat Duitsland egter grootliks die EU finansieer, dans die ander maar volgens sy pype.

Richard ·

Duitsland het (in moderne tye) reeds sedert die 1960s groot ondervinding met, soos wat jy dit noem, ‘n multikulturele samelewing. Dit is toe dat groot migrasie van mense uit Turkye na Duitsland plaasgevind het. Daar woon reeds vir etlike dekades lank miljoene mense van Turkse afkoms regoor Duitsland.

Dit verskil van Frankryk, wat veel langer reeds immigrasie uit die Franse Noord-Afrikaanse state gehad het, maar hoe verskil dit dan van Brittanje. Die groot immigrante-groep in Brittanje is mense uit Indië en Pakistan. Hulle het rondom dieselfde tyd as wat Duitsland ‘n groot Turkse bevolking begin kry het, op groot skaal na Brittanje begin verhuis.

Mis ek iets?

Pietman ·

Word deel van EU en verloor jou reg om as nasie te bestaan en deur jou eie mense bestuur te word.

Merkur ·

´n Akkurate samevatting van die huidige EUdSSR.

Hoe vinniger die EU uitmekaar val, hoe beter, is hoe al hoe meer Europeërs dink. Want soos die opskrif reg aandui, het die eurokrate niks geleer, en is nie bereid vir hervormings nie.
Volgens die meeste ekonome sal Griekeland inderdaad ekonomies baie beter doen sonder die euro. Die buitegrense van die EU word nie beskerm nie. En die morele afpersing van die EU burgers, in oos en wes, deur die toonaangewendes in Wes Europa, het groteske vorm aangeneem.

Gister het die handelsooreenkoms tussen Kanada en die EU (CETA) voorlopig in werking getree. Die meeste EU burgers is daarteen maar dit word op almal afgedwing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.