EU stel strafmaatreëls teen Hongarye in

Hongaarse soldate marsjeer en hou die Hongaarse nasionale vlag omhoog buite die parlementsgebou in Boedapest, Hongarye, tydens ʼn seremonie wat dié land se nasionale vakansiedag vier. Dié dag is die 170ste herdenking van die uitbreek van die 1848-revolusie en die onafhanklikheidsoorlog teen die Habsburgs. Die banier op die verhoog lees “15 Maart – die vaderland bo alles”. (Foto: Darko Vojinovic, AP)

Hongarye is al lankal op die voorpunt van ʼn kulturele oorlog binne die Europese Unie tussen links-liberale en kosmopolitiese kragte aan die een kant, en behoudende, patriotiese kragte, aan die ander kant. Breedweg is dit amper ʼn verdeling tussen Oos- en Wes-Europa, maar natuurlik ook binne elke land. Die EU se parlement en kommissie word eintlik nog altyd deur eersgenoemde kragte oorheers en hulle probeer Europa volgens hulle paradigma omvorm.

Hongarye is nou in die Europese parlement aangekla dat die land se regering demokrasie ondermyn deur in die regstelsel in te meng, korrupsie bevorder en burgerlike regte minag. ʼn Twee derde-meerderheid is nodig vir die inwerkingstelling van artikel 7 van die EU-grondwet om ’n strafproses teen Hongarye te begin wat kan uitloop op die wegvat van die land se stemreg in die EU. Die aanklag teen Hongarye is gelei deur die Nederlandse Groenparty se lid, Judith Sargentini. Viktor Orban, Hongarye se eerste minister, het sy land passievol verdedig.

Dit was egter nie genoeg nie. Altesaam 448 lede het vir die strafmaatreëls gestem, 197 daarteen en 48 het buite stemming gebly. Soos verwag, het die faksies van verlinkses, sosiaal-demokrate, Groenes en Liberales almal vir die strafmaatreëls gestem, en die nasionalistiese en konserwatiewe faksies daarteen. Beslissend was die besluit van die Christen-Demokratiese Europese Volksparty (EVP), die grootste faksie binne die EU-parlement, om teen Hongarye te stem, alhoewel Orban se party Fidesz deel van hulle is. Enkeles uit dié faksie het wel vir Hongarye gestem.

Daar is nog ʼn lang proses wat voorlê en of dit op die wegneem van Hongarye se stem uitloop, is twyfelagtig. Dit is nietemin ʼn openbare vernedering vir die land en ʼn boodskap dat lande wat buite die links-liberale mantra van die EU beweeg, soos buitestaanders en tweedeklaslande behandel word. Hongarye betwyfel wel die wettigheid van die stemmery, omdat net twee derdes teen Hongarye gestem het indien dié wat buite stemming gebly het, nie getel word nie. Die saak kan na die Europese Hooggeregshof geneem word. Hongarye se bondgenote soos Pole kan altyd die wegneem van die stemreg veto. In sy eie land sal Orban se sterk opstaan vir sy land se soewereiniteit sy aansien waarskynlik eerder versterk. Die onlangse verkiesing het sy reeds sterk steun net vermeerder.

Hongarye onder Orban het homself omvorm in ʼn land wat sy geskiedenis, Christelike erfenis en tradisionele waardes hoog hou. Vir Orban kom Hongarye en sy bevolking se belange en hul wil eerste en dié van internasionale organisasies tweede. Om hierdie rede is internasionale nieregeringsorganisasies, onder meer, die Open Society Foundation van George Soros, aan bande gelê. Hongarye het ook sterk na vore gekom ten gunste van grensbeheer en teen massa-immigrasie, iets wat magtige leiers in die EU, by name Angela Merkel en Emanuel Macron, maar ook EU-president Juncker dwars in die krop steek. Die stap om Hongarye te straf, word dus deur Orban gesien as vergelding vir sy sterk standpunt teen immigrasie en die bou van ʼn alliansie van ander state wat eweneens daarteen gekant is en hulle gedurig versit teen die verdeling van die migrante tussen alle EU-lande.

Dit is ook veelseggend dat die veldtog teen Hongarye en die aanklag in die parlement gevoer is deur ʼn lid van die Groenparty, ʼn party wat in alles die teendeel van Hongarye se beleid verteenwoordig. Van die kritiek teen Hongarye is nie heeltemal ongegrond nie, soos dié van korrupsie en sentralisasie van mag, maar dan sou talle van die EU se lede gestraf moes word. Roemenië se korrupsie en die regerende party se manipulasie is veel erger, maar hulle het ’n linkse regering en kom dus ongeskore weg. Dit wil voorkom asof die aanvalle teen Hongarye in die eerste plek gemik is teen hul polities afwykende standpunte.

Volgende jaar is die verkiesing vir die Europese Parlement. ʼn Moontlike reaksie kan nou wees dat Fidesz die EVP-faksie verlaat (of uitgeskop word) en dan deel word van ʼn nuwe faksie patriotiese en regse partye, iets waaraan verskeie politici soos Italië se vise- eerste minister Salvini werk. So ʼn faksie het die potensiaal om die derde grootste faksie in die EU-parlement te word naas die EVP en die Sosiaal-Demokrate.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

nico k ·

Ek lees darem jy sê dat van die klagtes is nie ongegrond, soos die van korrupsie. So ons moet oppas om altyd aan diegene se kant te wees net omdat hulle dieselfde ideologie as ons het. In SA baklei julle baie omdat die regering korrup is. Maar as dit ‘n konserwatiewe regering is, dat is dit nie so erg nie. My mening is dat min van die ou kommunistiese lande regtig oorgeslaan het na demokrasie. Daar is in amper almal van hulle nog ‘n klein groepie wat die mag hou.

ZAR ·

“Hongarye onder Orban het homself omvorm in ‘n land wat sy geskiedenis, Christelike erfenis en tradisionele waardes hoog hou.”
Hierdie sin sê vir my alles en ook hoekom die EU en mense soos George Soros hulle teen Hongarye verset.

Oudste ·

Puik dat George Soros en sy meelopers se bedrywighede aan bande gele word. Hulle is die argitekte van chaos en anargie op baie plekke want vir die goggas is die huidige klimaat in Hongarye waar die inwoners eerste gestel word ‘n euwel. Ek haal my hoed af vir ‘n man soos Viktor Orban.

Dries ·

Veels geluk aan Hongarye! Staan sterk, moet julle nie laat intimideer nie.

Liberaal ·

Nuwe links liberale waardes dult geen diversiteit nie, ons wil self voorskryf wat die kultuur en taal moet wees, en geen geloof nie asseblief, glo net in ons liberale supperrykes as julle gode.

Charles ·

Liberaal, het ek jou al ooit vertel hoe baie ek jou skerp en op- die- man- af kommentaar waardeer?

Hou so aan, en dankie!

Charles ·

Die globaliste, sosiale ingenieurs en self- haters sal nie regkom nie.

Die feit dat hulle reeds hul mag moet ge(mis)bruik (soos duidelik te siene is in hul skynheilige dweperigheid te wete hul duidelike vooroordeel in hul versuim om op te tree teen Roemenie vanwee die se linkse politiek) teen Hongarye dui REEDS daarop dat die “Europese Unie van Sowjet-Sosialistiese Republieke” en hul “globalist paymasters” besig is om die stryd te verloor. Inteendeel; die begin van die einde is reeds in sig…

Lank leef die Christendom, Hongarye en Viktor Orban!

Staan vas ·

TEN MINSTE HOU HONGARYE SY BURGERS VEIlig .. HULLE MOET SOMMER die EU koebaai roep. Dit is die skoonste land met die oulikste mense, jy kan tot 11 uur in die aand nog langs die riviere stap . so weet jy .. MOENIE ingee op die druk van LIBERALE wat gemors in julle lande wil invoer nie .. STAAN VAS

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.