EU-verkiesing bevestig politieke diversiteit van Europa

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Die verkiesing van lede van die Europese Parlement het oor die afgelope paar dae tot angs, opgewondenheid en onsekerheid in Europa aanleiding gegee. Toe die stemme in die 28 lidlande Sondagaand getel is en die resultate aangekondig is, was dit egter duidelik dat geen enkele kwessie, tendens of beweging oor Europa waarneembaar was nie. Die diversiteit van volkere, lande en streke in Europa, elk met hul eie belange en kwelpunte, is bevestig.

Die stempersentasie was in die meeste lande besonder hoog en in elk geval hoër as tydens die vorige EU-verkiesing vyf jaar gelede. Terwyl die verkiesing in sommige lande vir verrassings gesorg het, het dit wel die tendense en politieke verskuiwings van die afgelope paar jaar grootliks herbevestig.

Hierdie verskuiwings is breedweg die wegkalwing van die politieke middegrond en die voortdurende agteruitgang van sentristiese partye. In Duitsland het die sosiaal-demokrate verder in duie gestort, terwyl Angela Merkel se sentrumregse Christen-Demokrate nog 5% steun verloor het. In die meeste ander EU-lande het dieselfde gebeur.

Die groot nuus van die verkiesingsaand was die sterk groei van die groenbeweging in Europa met partye wat ekologiese sake prioriseer, soos die Groenparty in Duitsland, wat enorme groei getoon het. In Duitsland is die Groenes vir die eerste keer ooit die tweede grootste party met meer as 20% van kiesers wat vir hulle gestem het. Ook in die Verenigde Koninkryk, België en Brittanje is hierdie tendens duidelik. Dit was egter nie orals die geval nie en in lande soos Spanje, Oostenryk en Swede het die Groenes steun verloor.

Die opkoms van sogenaamde regse en populistiese partye vertel dieselfde verhaal. Een van die groot verrassings van die verkiesing was die briljante vertoning van die Vlaams Belang in Vlaandere in België waar hul steun van 5% tot 18% toegeneem het. België het ook Sondag hul streeks- en nasionale verkiesings gehou en Vlaams Belang sal nou die tweede grootste party in Vlaandere wees.

In Frankryk het Marine Le Pen weer eens daarin geslaag om eerste te eindig. In Italië het Matteo Salvini se Lega-party ook uitstekend gedoen en eerste geëindig en in Brittanje het Nigel Farage se Brexit-party gemaklik eerste gekom en daardeur bevestig dat Brittanje in ʼn baie groot politieke krisis verkeer.

Tog het regse partye in ander lande soos Nederland weer baie steun verloor. Wat is die rede vir hierdie teenstrydige tendense? Die redes is eenvoudig dat Europa ʼn diverse kontinent met verskillende volkere en nasies met verskillende prioriteite is. Wat ook nie onderskat moet word nie, is die rol van sterk politieke figure. In Nederland het die sosiaal-demokraat Frans Timmermans sy arbeidersparty met ʼn sterk veldtog gered terwyl die flambojante Thierry Baudet met sy moderne populisme baie steun van die regse Partij voor de Vrijheid weggeneem het.

In Brittanje was Brexit en die swak hantering deur dié land se twee grootste partye van die Brexit-onderhandeling die hoofrede waarom ʼn nuwe party 35% van die steun kon wen. In Hongarye het Viktor Orban se regse Fidesz meer as 52% van die steun op hom verenig wat ʼn duidelike mandaat aan Orban gee om met sy kragdadige beskerming van die Hongaarse identiteit voort te gaan.

In Italië is die gewildheid van Matteo Salvini en sy “Italië Eerste”-beleid ook herbevestig met ʼn sterk eerste plek vir sy Lega-party. In Spanje, Swede, Tsjeggië, Slowakye en Litoue het politieke partye wat nasionale soewereiniteit bevorder en wat teen die burokrasie van die Europese Unie en massa-immigrasie gekant is, heelwat veld gewen.

In lande waar die ou middegrond-partye wel goed gedoen het, was dit om unieke redes. In Oostenryk het die sentrumregse Volksparty uitstekend gedoen juis omdat die party oor die afgelope twee jaar baie sterk op Oostenryk se soewereiniteit gefokus het en baie gedoen is om massa-immigrasie na Oostenryk onder beheer te kry. In Spanje het die sosialiste hul opmars voortgesit, maar ook daar was dit weens unieke omstandighede en ʼn sterk, charismatiese leier wat hoop aan sy mense bied. In Griekeland het daar ʼn redelike groot verskuiwing van sentrumlinks na sentrumregs plaasgevind, maar dit was ook juis weens frustrasie met die huidige regering en juis omdat die sentrumregse party in Griekeland tans ʼn sterk, inspirerende leier het. In elk van hierdie gevalle gaan dit dus juis eerder oor plaaslike tendense en gebeure, as oor algemene Europese politieke bewegings.

Waarheen nou met Europa? Die boodskap wat kiesers die afgelope week aan die Europese Unie gestuur het, is dat een enkele politieke tendens in Europa nie bestaan nie en dat ʼn enkele politieke strategie vir die hele Europa eerder teenstand sal geniet. Kiesers wil sien dat die Europese Unie-lande, leiers en mense bymekaar bring om samewerking vir ʼn meer suksesvolle Europa te verseker. Daar was egter geen groot mandaat vir ʼn verdere uitbou van die burokrasie in Brussel nie en partye wat verdere sentralisering van mag in die Europese Unie wil bevorder, het byna nêrens groei getoon nie.

Die Europese Parlement sal ná hierdie verkiesing heelwat anders daar uitsien. Terwyl die middegrond kleiner raak sal die groenbeweging ʼn baie groter blok in die parlement kan vorm. Ander linkse en selfs ekstreemlinkse partye sal ook van hulle laat hoor terwyl die opmars van ʼn nuwe, dinamiese en energieke regse beweging tot die vorming van ʼn stewige blok in die parlement aanleiding sal gee. Hierdie groep sal veral fokus op die afwenteling van magte na lidlande van die EU en sal ʼn sterk stem teen massa-immigrasie wees.

Die uitslag van die verkiesing bevestig dat Europa besig is om te herskik en dat dit juis gebeur nie aan die hand van algemene tendense nie, maar juis volgens die unieke behoeftes van elke volk, nasie en streek. Die Europese Unie kan slegs oorleef indien die soewereiniteit van lidlande bevestig word en indien die leierskap van die EU die mandaat wat kiesers in lande soos Hongarye, Oostenryk en Italië aan leiers soos Orban, Kurz en Salvini gegee het, gerespekteer word.

Die boodskap van die verkiesing is eintlik tog duidelik: Laat elke land vir homself besluit en laat samewerking natuurlik, vrywillig en tot voordeel van almal wees. Anders gaan Brexit nie die laaste exit wees nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
ADT

Dankie vir die uitleg Jaco

Dries du Toit

Goeie artikel Jaco

Maartin

Dankie vir die duidelike uitleg. Ek wonder net, waarom sal sosialiste groei, wat motifeer mense om so te stem?

Dries du Toit

Daar het jy dit nou. Die wereld soek maar selfbeskikking. Elkeen op sy eie mishoop en vandaar sal ons goeie buurmanskap bevorder

John

Die plan met ‘n EU was die behoud van die eie deur samewerking, wat toe net die teendeel bewerkstellig het. Duitsland die moeder-van-alle-moeilikheid het ‘n mengelmoes van ‘n konkoksie begin brou waarvan die prop binnekort gaan afskiet. Die rykdom van Europa begin wegdribbel in ‘n poging om goeie burgers te maak van uitlandse parassiete om misdaad in te perk met smile-en-gee-nog. Skatte in geheime kluise kry nie regtig goue kleintjies nie… soos wat muise in kerke se kleintjies nie eintlik stroopsoet is nie. Soos ons wat nie 47 000 Eskom-bakhande kan bekostig nie, kan Europa ook nie meer sy uitgebreide… Lees meer »