Euro-web van politiek en skynwinste raak ons ook

Baie lank gelede het ek as kind tydens die katkisasie geleer dat ons op aarde is om God te dien en daardeur in die hemel te kom.

In hierdie tye van wêreldwye finansiële en ekonomiese krisis sou dit ’n goeie ding gewees het as die banke ook katkisasie gehad en daar geleer het dat hulle op aarde is om die spaargeld van hul kliënte veilig te bewaar en om te belê in gesonde ondernemings en daardeur in die finansiële hemel te kom.

Helaas het hulle hierdie grondreël van gesonde finansiële beleid heeltemal vergeet en daardeur is die wêreld – en veral Amerika en Europa – tans in so ’n gemors.

Amerikaanse en Europese banke het soveel afgeleide en ingewikkelde produkte – meestal derivate, dit wil sê beleggingsinstrumente wat hul waarde ontleen aan ander produkte soos olie of aandele – verkoop dat hulle deur die bos nie langer die bome gesien het nie. En dit het almal vasgevang in ’n web van skynwinste en bonusse.

En as húlle dit nie meer gesien het, dan was hul kliënte sekerlik heeltemal blind. Die ergste is dat baie van daardie kliënte groot institusionele beleggers was soos woningkorporasies, munisipaliteite en ondernemings. Ook hulle het hulself laat verlei deur die sirenesang van vinnige winste. En as die seepbel gebars het, het bankrotskap gevolg.

So is selfs deeglike lande soos Nederland die laaste tyd skrik gemaak deur heelparty sulke bankrotskappe.

Maar oor die algemeen is Nederland se finansies nog gesond en is die bestuur nog genoeg oop en doeltreffend. Dit geld ook vir Duitsland, die Skandinawiese lande en in ’n mindere mate vir Brittanje en België.

Maar as jy hierdie soort van ontwikkelings verbind met slegte en ondeursigtige bestuur, nepotisme en korrupsie soos die geval is in lande soos Griekeland, Italië en Spanje, dan kan selfs state bankrot gaan.

In ’n land soos Griekeland wil almal aftree op 50 en tog asseblief nie belasting betaal nie. In Spanje het die provinsies soveel geld bestee aan prestigeprojekte dat hulle nou vir geldelike ondersteuning by die sentrale owerheid moet aanklop. Maar dié het self nie geld nie en die Spaanse banke moes onlangs met 100 miljard euro gehelp word deur die Europese Sentrale Bank.

En dit bring ons by die Europese Unie (EU). Europa het kort na die Tweede Wêreldoorlog besluit dat hy nooit meer tot aan die rand van die afgrond wou kom nie en dat dit noodsaaklik was vir die Europese lande om instrumente te skep om onderlinge konflikte te voorkom. Dit het uiteindelik uitgeloop op die huidige EU met 27 lidlande waarvan ’n deel lid is van ’n muntunie. Daardie lande het die euro as betaalmiddel.

Maar daar is fundamentele verskille in die politieke kultuur en ekonomiese ontwikkeling van die 27 lidstate. Dit is al ingewikkeld genoeg dat hierdie 27 soewereine state almal hul eie tale praat. Maar die groot ontwerpfout van die muntunie is dat, toe die Euro in 2002 ingestel is, daar nie met daardie verskille voldoende rekening gehou is nie.

En dus moet die Europese Sentrale Bank nou ongelooflike groot bedrae gee vir die swakker broers in die suide, of eintlik, die sterker lande in die noorde van Europa moes dit doen. Hierdie tweedeling voorspel nie veel goeds vir die toekoms van die EU nie.

Intussen is die “ou kontinent” gevang in ’n spiraal van lae groei en hoë werkloosheid. Streng owerheidsbesnoeiings lei tot sosiale en politieke onrus. Bowendien verouder die Europese bevolking vinnig wat ’n byna ondraaglike finansiële las plaas op die jonger geslag.

Die stagnasie en onsekerheid in die EU – wat tot onlangs die belangrikste ekonomiese gebied van die wêreld was – het uiteraard ’n negatiewe invloed op ekonomieë in die res van die wêreld. Ook op Suid-Afrika, want Europa is sy grootste handelsvennoot.

Maar daardie negatiewe invloed is minder groot as wat ’n mens sou verwag. Die opkomende ekonomieë soos China, Indië, Brasilië en ook Suid-Afrika, groei op die oomblik baie vinniger as dié van Europa of Amerika. Die vernaamste rede is dat die Weste vir die wêreldekonomie minder belangrik geword het. Die res van die wêreld het die Weste steeds minder nodig.

Veel gevaarliker is die feit dat die huidige politieke onsekerheid en onrus nie beperk bly tot Europa nie, maar oral in die wêreld kop opsteek, veral in die Midde-Ooste. Dink hier aan nie alleen aan die onlangse ”Arabiese Lente” nie, maar ook aan die burgeroorlog in Sirië en die spanning rondom Iran se atoomprogram. Dinge kan hier lelik skeef loop.

Wanneer Suid-Afrikaners dus verder kyk as net hul eie grense, sien hulle ’n wêreld wat dikwels die indruk maak dat dit sowel ekonomies as politiek die pad byster geraak het. Politieke leiers – van Barack Obama tot Angela Merkel – worstel tans met haas onoplosbare probleme. En niemand kan die afloop voorspel nie.

Die wêreld is aan die galop en die rit vorentoe gaan rof wees, ook vir Suid-Afrikaners.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Ingrid Scholtz

Meer oor die skrywer: Ingrid Scholtz

Ingrid Scholtz was redakteur van WêreldBurger, ʼn bylae van Die Burger. Sy en haar man, Leopold Scholtz, het in 2007 na Brussel verhuis waar hulle ʼn nuwe kantoor vir Media24 geopen het. Ingrid skryf dikwels vir wetenskaplike tydskrifte.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae