Europa by ‘n kruispad na Eurabië?

Die onlangse skietery in Parys het weer die groeiende vraagstuk van Moslem emigrasie na Europa uitgelig. Die Europeërs het vanaf die goue groeijare van die sestigers emigrasie vanuit hulle voormalige kolonies om veral twee redes aangemoedig: Europa het meer werkers nodig gekry as gevolg van hul dalende geboortekoerse, en tweedens moes hierdie werkers hulle omvattende welsynstelsels volhoubaar help maak.

Die Europese politieke- en sake elite het hul bevolking se aanvaarding van die emigrante tweeledig verseker. Eerstens het hulle besorgdes gerusgestel dat hierdie werkers gou weer na hul lande van herkoms sal terugkeer. Tweedens het hulle die na-oorlogse liberale oortuiging verkondig dat die Moslems vinnig by die meerderheid sal inskakel. Die aanname was dat die Moslem emigrante vinnig volbloed Europeërs sou word, vanweë die liberale siening dat kultuur- en godsdiensverskille in die moderne era nie meer saak maak nie en vinnig sou verdwyn. Dit was as die beste van twee wêrelde gesien: broodnodige werkers wat dankbaar die Europese kultuur sou aanneem. Die emigrasie was as ʼn wen-wen verkondig. Arm Derdewêreldlande se probleem van ʼn bevolkingsontploffing sou die antwoord op die bevolkingsínploffing van Europa wees. Europese sakelui was bly oor die werkers, en sosialistiese politici het gehoop dat die nuwe aankomelinge die politieke oorlewing van linkse partye sou aanhelp omdat die Europese politiek destyds rondom klassekonflik gegaan het.

Werkers word mense
Maar die Europeërs het hulself misreken. Hulle wou tydelike werkers hê, maar het permanente mense gekry. Dit was nie net ʼn emigrasie van enkelinge soos die liberales gedink het nie, maar ook ʼn migrasie van kulture, godsdienste en waardestelsels. Uiteindelik sou dit ook ʼn migrasie van Moslem-mag beteken, het die Britse politikus en redakteur van die Londense Times, Lord William Rees-Mogg geskryf. Bevolkingskundiges het gewaarsku dat hierdie invloei terselfdertyd die invloei van die probleme van hierdie bevolkings sal meebring. Daarmee saam kon die verandering van die Europese bevolkingsamestelling ook lei tot die ondermyning van lande se nasionale eenheid en selfs kultuurbotsings so eie aan baie multi-etniese gemeenskappe.

Rees-Mogg het gewaarsku dat as die inlywing van die Moslem emigrante nie werk nie, ʼn groeiende bevolking van miljoene ongelukkige Moslems na die jaar 2000 die “skoktroepe van verandering” in Europa kon wees. Europa het na die Tweede Wêreldoorlog in ʼn “post-Christelike” era inbeweeg, en volgens Rees-Mogg is nasies sonder geloof weerloos teen nasies met geloof. Hierdie sienings is as Nazi-agtige rassisme afgeskryf, en die verregse partye se ekstremisme en skril politiek het die geloofwaardigheid van hierdie waarskuwings verder ondermyn.

Onderskat en oorskat
Die Europeërs het die gevolge van die groeiende aantal Moslem emigrante probeer hanteer deur te verklaar dat hulle lande nie meer op die onderskeie Europese kulture baseer is nie, maar nou “multikultureel” en dus oop is vir almal. Die emigrasiebeleid se doel was egter steeds dat die Moslems Europeërs moes word deur inlywing by die meerderheid. Daar is geglo dat die nuwelinge vinnig die Westerse liberaal-individualistiese waardes sou aanvaar en soos die Europeërs besef dat godsdiens tot die bygelowe van die verlede behoort.

Hulle het geglo dat (liberale) ideologie sterker as godsdiens en kultuur is. Gematigde opposisiestemme is in al die Europese lande telkens gesmoor vanaf die sewentigers tot die negentigers. Die Nederlandse liberale partyleier, Frits Bolkestein, is heftig veroordeel toe hy gewaarsku het dat die migrasie tot probleme sou lei. Ander kritici het hulle werk verloor, is soms voor die hof gedaag ingevolge anti-diskriminasiewette, of deur linkse aksiegroepe aangeval en die mond gesnoer.

Dit het nietemin gou duidelik geword dat die Europeërs die “vanselfsprekende meerderwaardigheid” van hul eie kultuur en waardes oorskat, en die Moslems se verbintenis tot hul godsdiens en kultuur onderskat het. Toe die Moslems nog nuwe emigrante en ʼn klein minderheid was, het hulle die mag en gesag van Europese waardes aanvaar. Maar met die toename in hulle getalle en lengte van verblyf, het Moslems hulself al meer laat geld. Talle Europese lande het begin agterkom dat hierdie bevolkings nie integreer soos verwag is nie, en selfs hulle gewoontes en tradisies voortsit. In stede soos Parys, Rotterdam, Londen en Berlyn het buurte ontstaan waar die straatbeeld begin lyk het soos dele van Noord-Afrika of die Midde-Ooste. Daar is selfs al woongebiede in lande soos Brittanje en Nederland waar Moslems informeel die Sharia wette probeer afdwing, en waar etniese Nederlanders nie meer veilig voel nie.

Gevolge van beleid
Dit is te begrype dat Moslems as permanente burgers nou begin aandring het op respek vir en akkommodering van hulle godsdiens en kultuur, en nie net meer by die meerderheid ingelyf word nie. Namate die samestelling van Europese lande verander het, het dit al moeiliker geword om die noodwendige gevolge van die grootskaalse emigrasie te aanvaar. Talle Europeërs het begin voel dat hul regerings sonder demokratiese mandate hul lande verander het. Dit het bygedra tot die vervreemding van groot dele van die kieserskorps van die politieke elite in Europa.

Die ironie was dat dieselfde liberale beleidsrigtings wat ook emigrasie bevorder het, terselfdertyd tot konflik aanleiding gegee het. Liberale heilige koeie soos spraakvryheid het tot ʼn woedende teenreaksie by baie Moslems gelei as hulle geloof die teiken daarvan was, soos met spotprente oor die Profeet Mohammed. Dis asof Europeërs nie die gevolge van hulle eie beleid wou aanvaar nie. Die Moslems kon Europa toe kom, maar hulle moes hulle kultuur en godsdiens in die Midde-Ooste en Noord-Afrika agterlaat.

Terselfdertyd het talle Europeërs begin kla oor beweerde Moslem misbruike van die welsynstelsel en hulle betrokkenheid by misdaad, terwyl ander bekommerd oor hulle lande se identiteit geword het in die lig van die groter bevolkingsaanwas van emigrante. Die opkoms van ʼn militante en verpolitiseerde Islam het daarby vrese oor veiligheid laat toeneem, veral na die 11 September tragedie in die VSA. Hierdie aanvalle is gevolg deur aanvalle in Madrid en Londen, die moord op die Nederlandse satirikus Theo van Gogh, terwyl ander aanvalle betyds gekeer is. Vrae het ontstaan oor waar die eintlike lojaliteit van baie van die Moslems lê. Europese lande was veral geskok toe betreklik groot getalle Europees gebore Moslems vir die radikale ISIS in Irak en Sirië gaan veg het.

Die nasionale eenheid en binding van baie Europese lande het stadigaan krakies begin toon namate dit al duideliker geword het dat groot getalle emigrante nie gladweg gaan integreer nie. In talle gebiede in Frankryk en Nederland wil die nuwe inwoners nie meer die owerhede se gesag aanvaar nie, en waag selfs die polisie en brandweer dit maar langtand daar. Dit alles het selfs liberale Europeërs bekommer dat hulle oop verdraagsame samelewings nog die slagoffer kan word van hulle eie openheid en verdraagsaamheid.

Nuwe regse partye
Hierdie ontwikkelings het gelei tot die opkoms van meer gematigde regse partye, wat baie meer suksesvol by die stembus was as hulle verregse voorgangers. Die beste voorbeeld hiervan is sekerlik die Franse Front Nasionaal. Die leier, Marine le Pen en dogter van die stigter van die party Jean Marie le Pen, moes haar eers van haar eie pa en van sy stellings distansieer en die party van ekstremiste suiwer voordat sy massasteun by die stembus kon wen. Terselfdertyd het die nuwe gematigder partye ook in Brittanje (Ukip), België (Nuwe Vlaamse alliansie) en in die meeste ander Europese lande sowat ʼn kwart van die kiesersteun gekry. In lande soos Switserland het hulle ook belangrike referendums gewen.

Hierdie partye het in Duitsland weens die verlede gesukkel om steun te werf, maar dit lyk of die toestand nou selfs daar so ver ontwikkel het dat die dwang van politieke korrektheid die Nazi-teerkwas nie meer genoeg is om groeiende groepe soos Pegida af te skrik nie. Een van die snellers wat tot die opkoms van Pegida gelei het, was toe Turkse en Koerdiese migrante in Dresden met mekaar in straatgevegte betrokke geraak het. Baie Duitsers protesteer teen wat hulle as die invoer van godsdiens- en etniese oorloë in ander lande sien.

Eurabië-verdeeldheid
Dit lyk of Moslem emigrasie en die posisie van Moslem gemeenskappe vinnig besig is om die grootse verdelingsfaktor in die Europese politiek te word. Terwyl die meeste Europeërs nog ontken dat dit ʼn probleem is, voel al groter getalle dat die groeiende Moslem bevolking ʼn bedreiging vir hulle tradisionele leefwyse inhou. Daar is selfs groepe wat waarsku dat Europa “Eurabië” kan word en die emigrasie beskryf as “demografiese kolonisasie”. Dit blyk wel ʼn groot oordrywing van die situasie te wees, omdat Europese Moslems se aanwas vinnig besig is om af te neem. Dit sou ook verkeerd wees om alle Moslems oor dieselfde kam te skeer, omdat baie van hulle bloot hulself wil bly maar net as goeie burgers wil leef.

Maar dit lei geen twyfel dat daar nog groot uitdagings op Europa wag nie, veral as gekyk word na die “skepe van die dood” wat duisende vlugtelinge van konflikgebiede in lande soos Sirië na Europa vervoer. Die Fransman Jean-Claude Chesnais het die kommer van baie Europeërs verwoord, met sy stelling dat “Europa deur Islamisering of Afrikanisering bedreig word namate die demografiese en ekonomiese gaping tussen die twee walle van die Middellandse see al wyer word en die mense van die suide na die noorde beweeg”. Sy landgenoot en Franse demograaf Albert Sauvy, het betekenisvol opgemerk dat “as welvaart nie na die mense gaan nie, gaan die mense na die welvaart”.

Die Britse historikus Arnold Toynbee het dekades gelede gesê dat Suid-Afrika se bevolkingsamestelling ʼn mikrokosmos van die Weste in die wêreld is. Miskien kan die Weste hierdie keer van Suid-Afrika leer hoe hierdie uitdagings beter hanteer kan word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hanno Visagie

Lees gerus ook die artikel Postmoderne Dekonstruksie op ’n Wêreldwye Skaal – http://bibleguidance.co.za/Afrartikels/Dekonstruksie.htm

Aardskip

Dit baie belangrik om nie te vergeet wat in Parys gebeur het is ook deel van die totale verval van die westerse moraal. Wie van julle het al die moeite gedoen om te kyk hoe lyk die Charlie Hepdo tydskrif en waarvoor staan #JeSuisCharlie.

Die tydskrif walglik (ook vir Christene, sien Google) en volgens die tydskrif self staan #JeSuisCharlie vir die reg om godslasterlik mag wees (sien BBC artikel).

Verder is die vraag ook wie sit regtig agter die inval by die walglike tydskrif. In elke geval is die tydskrif en die aanvallers is beide terroriste.

Hennie Louw

Soos menigte meerderwaardige liberales in ons land ook al agtergekom het hoe die winde eintlik waai. Ons wat meer behoudend in denle is kon intuitief aanvoel dat ons land hierdie destruktiewe pad sou volg. Selfs al was Mandela nog met ons. Slim vang sy baas. Die Chinese in ons land gaan nog ons ondergang wees. Ons praat weer oor so ‘ n paar jaar.

Gawie

Die Chinese intog wek kommer maar het u al opgelet hoeveel Pakistane winkels open in plattelandse gebiede met geen hoop om finansieel suksesvol te wees. Die logiese afleiding is iemand finansier hulle. Ek het al gesien hoe Pakistanies met splinternuwe bakkies voorrade aflewer.

Martyn du Plessis

Die onnoselheid van die mensdom en spesifiek die liberale in alle lande het geen einde nie.
Hier in Suid Afrika sal die onnoselheid van die liberale die grootste gemors nog veroorsaak.
Godsdiens en etnisiteit is van die sterkste komponente waaraan die mensdom vasklou, daarom is leberale se propoganda en optredes `n gemors.