Europa: Die omgekeerde Kruistogte

terreur-terrorisme

Argieffoto.

Die onlangse terreur-aanvalle in Frankryk het die persepsie gevestig dat Moslems uit Noord-Afrika en die Midde-Ooste nie net stelselmatig die Europese vasteland verswelg nie, maar ook toenemend “binneval”. In die jongste voorvalle in Parys het 130 mense gesterf in ongekende aanvalle teen Franse burgerlikes op straat en in teaters.

Dat die vredeliewende Europeërs oorbluf is dat ’n onbekende mag hulle aanval, blyk uit die magteloosheid van die Europese leiers om hierdie soort aanvalle te stuit. Ja, daar word daarna verwys dat die terroriste vernietig sal word en daar is grootpratery oor hoe addisionele aanvalle deur die koalisiemagte in Sirië die Islamitiese Staat (IS) gaan vernietig. Dit wil egter lyk of die Europeërs en veral hul Amerikaanse bondgenote nie hond haaraf maak teen die IS nie.

Europese lande het hulself in die hoek vasgeverf: Hulle is in ’n groot mate magteloos om die vyand in eie geledere te identifiseer of te neutraliseer. Dit is weer die gevolg van ʼn uitgebreide stelsel van menseregte, vlugtelingregte, sosiale toelae of verblyfregte wat die “invallers” onbelemmerd na die Europese lande laat stroom. Europese wette maak dit onwettig om hierteen op te tree en ten spyte van bravade blyk dit dat daar geen oplossing vir die probleem is nie. Inteendeel, ons kan verwag dat soortgelyke aanvalle kan toeneem.

Die Kruisvaarders

Die “invalle” in Europa deur Moslem-ekstremiste laat ʼn mens onwillekeurig terugdink aan die Kruisvaarders. Europese Kruisvaarders, eintlik maar adellikes met private weermagte, het die Moslem-lande veral in Sirië en Palestina vanaf die 11de tot die 13de eeue in ʼn reeks Kruistogte ingeval en wou die “Heilige Land”, spesifiek Jerusalem, bevry van die Moslem-oorheersing. Die Rooms-Katolieke Kerk en die pous van die tyd het die meestal bloeddorstige Kruistogte ondersteun.

Die Kruisvaarte was in reaksie op eweneens suksesvolle Moslem-invalle in Europa en veral Spanje, waar groot dele van dáárdie land deur die More beset en ingeneem is. Europa was ryp om in die Moslems se hande te val, maar Europese leiers het die oorlog na die Moslems geneem in vandag se Midde-Ooste. Die nege of so Kruistogte was egter nie baie suksesvol nie. Daar is wel somtyds groot stukke grondgebied ingeneem, maar ná 200 jaar moes die Europeërs maar weer die gebied verlaat sonder sukses.

Dit was veral die magte van die legendariese Moslem-leier, Saladin, wat die Kruisvaarders gestuit het. Saladin het ʼn Moslem-kalifaat oor Sirië, Palestina (ook genoem die Levant) en Egipte beheer en hy het oorwinnings oor die Kruisvaarders gelei. Dit is seker nie toevallig dat die IS vandag ʼn kalifaat in die Levant wil uitroep nie.

Die Kruistogte word vandag steeds (al is dit 700 jaar later) – tereg of nie – deur Moslems as ʼn gewelddadige aanslag op hul kultuur en godsdiens beskou. Die bekendste terroris van almal, nou oorlede Osama bin Laden, het byvoorbeeld gereeld uitgevaar teen die “Kruisvaarders” wat Moslemlande soos Irak en Afganistan aanval. Met ander woorde radikale Moslems het die VSA en ander Westerse state se inmenging en oorlogspogings in die Midde-Ooste as niks anders as hernieude Kruistogte gesien nie.

Dit bring ons terug na die hedendaagse aanvalle in Europese lande. Die jongste “fase” van ekstremistiese Moslem-aanvalle op die Weste is dramaties ingelei deur die 9/11-aanvalle in New York in 2001. Die vroeëre fases was anders: die 1970’s en 1980’s is gekenmerk deur Palestynse terreur en die 1980’s en 1990’s deur Iranse (Sjiitiese) terreur-aanvalle.

Die prominentste aanvalle sedert 9/11 in Europa was die 2004 aanvalle op Spaanse treine (191 dood), die 2005 Londen-bomme (56 dood), die Charlie Hebdo-aanvalle in Parys in Januarie 2015 (12 dood). Daar was natuurlik ook dosyne ander aanvalle wat dodelik, maar minder suksesvol was. Ek noem nie eers die aanvalle op Westerse teikens in tradisioneel Moslem-lande nie.

Feitlik al die aanvalle hierbo genoem is toegeskryf aan twee organisasies: Al-Kaïda en die IS. Dit word egter duidelik dat daar geen gekoördineerde terreuraanvalle deur hierdie “organisasies” gepleeg is nie. Die aanvalle is soms deur “plaaslike” Moslems gepleeg, ander kere deur “buitelandse” Moslems. Ons kan maar spekuleer oor die ware redes vir hierdie en ander aanvalle: demokrasie, liberalisme, Westerse waardes, inmenging in Moslem-lande se sake, aanvalle op Moslems in die Midde-Ooste, persoonlike weerwraak, ensovoorts.

Westerse analise misluk

Die Russiese president, Wladimir Poetin, is onlangs op die G20-beraad in Turkye aangehaal dat hy nie weet wat die terroriste wil hê nie omdat hy nie Arabies praat nie. Sy verduideliking het egter met vertaling verlore geraak. Hy verduidelik eintlik dat hy nie die psige van die Arabiere/Moslems verstaan nie en dus nie wil bespiegel oor die redes vir hul aanvalle nie. In hierdie dae waar elke TV-nuusstasie en politikus in die Weste uitbasuin dat die IS wêreldvrede bedreig, toon Poetin goeie insig. Ons verstaan nie werklik die verskille tussen die Sjiïete en die Soenniete nie, laat staan nog die Salafiste, die Wahhabis, die Moslem Broers, die Ismaeliete en die “mistieke” Sufi’s. Al hierdie groepe bestaan! Al hierdie “splintergroepe” staan een of ander vorm van Islam voor. Verstaan ons of die Westerse media/politici dit werklik? Nee, sekerlik nie.

Hoe slimmer Westerse ontleders probeer klink oor waarom die IS die Weste aanval, hoe meer skepties word ʼn mens. Die feit is, die Westerse regerings en media wil graag ʼn fisieke vyand teenstaan (IS), een wat in ʼn oorlog vernietig kan word. Die probleem is egter dat die vyand eerder die radikale godsdienstige ideologie is wat die IS en ʼn swetterjoel ander Moslem-groepe en individue aanhang.

Het die Moslems dus werklik begin om Europa binne te val? In 1529 het ʼn Ottomaanse (Turkse) militêre leier, Suleiman, probeer om Europa binne te val. Hy het amper daarin geslaag. Wene (destyds was Oostenryk een van dié Europese moondhede) is onder beleg geplaas, maar die Moslem-inval het op die ou einde misluk. Sedert die 1980’s het die nuwe Moslem-“inval” egter begin. Honderde duisende Moslems het as ekonomiese en politieke vlugtelinge Europa binnegestroom. Die EU, wat ook in die 1990’s die tradisionele staatsgrense oopgestel het, kon maar net toekyk hoe die Moslems instroom.

Gewoonlik probeer nuwe immigrante assimileer en so gou moontlik inskakel en deel vorm van die plaaslike bevolking. Die nuwe “Europeërs” het egter nie ʼn groot behoefte om Europeërs te wees nie. In ʼn groot mate behou hulle hul taal, godsdiens en kultuur en vorm groot enklawes in die meeste Europese stede waarin hulle amper onafhanklik optree.

Die Moslems in Wes-Europa is tans ongeveer 5% van die Europese bevolking (so 18-20 miljoen mense). Teen 2030 gaan hul getalle en persentasie meer as verdubbel. Daar is reeds 5 miljoen plus Moslems in Frankryk en Duitsland, ongeveer 3 miljoen in Brittanje, 1,5 tot 2 miljoen in Italië en meer as ’n miljoen in Spanje. Dit is groot bevolkings. Hulle is ook meestal arm en, ten spyte van sosiale ondersteuning deur hul nuwe state, ongelukkig met die status quo en die Europese regerings.

Die aanvalle in Europa vergestalt hierdie ongelukkigheid met die Westerse leefwyse en beginsels, begrippe en vryheid. Hierdie leefwyse en lewensuitkyk word aangeval. Ja, natuurlik is die aanvallers ongelukkig oor Europese betrokkenheid by onstabiliteit in die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Ironies genoeg vlug hulle reeds in honderde duisende van hierdie chaos wat deur die Weste geskep word.

Europa het sy bed opgemaak, maar sal dit toenemend moet deel met die inkomelinge. Dit gaan sosiale, politieke en ekonomiese ontwrigting veroorsaak. Asook … meer terreuraanvalle. Die omgekeerde Kruistogte (sekeltogte?) het nuwe aansporing verkry.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Nico Stegmann

Nico Stegman is ’n onafhanklike skrywer met 30 jaar ondervinding in navorsing en analise oor diplomatieke en internasionale aangeleenthede.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

George in Bloem ·

Europa het sy bedjie self gemaak so hy moet nou maar op hom slaap. Hulle liberale slap leierskap het hierdie euwel oor sy mense gebring. Ek is bevrees daar is absoluut niks wat hulle nou meer daaraan kan doen nie,al wil hulle hoe graag. Dis te laat. Europa soos ons hom ken se dae is getel.

neelsie ·

Die kortsigtigheid van die Europese leiers is verbasend. Die eerstewereldlande gaan die gevolge moet dra.
Swede , die sterkste ekonomie in die streek, laat toe dat miljoene Moslems instroom.
Byt maar vas in RSA, Europa is glad nie meer so veilig nie.

Lies ·

Of die Europese bevolking is erg naief, gebreinspoel of net plain kortsigtig en stupid!!! Waarom sien ons, van ‘n afstand, hoe hierdie werklik inmekaar steek en hulle nie?

Loeis ·

So bietjie tong in die kies. Hoekom sien Suid-Afrikaners sien nie hoe dinge hier werklik in mekaar steek nie?

Waarom stem mense vir ‘n bewese onbevoegde regering, of vir ‘n party wat baie hard geveg het om daardie regering aan bewind te bring?
Waarom is mense apaties oor sake soos ons taal en ander regte?

Ons situasie is nie so anders as Europa s’n nie: dit is dieselfde denkwyse wat die probleme toelaat om te ontwikkel.

Johan 2 ·

Hoekom soek die VSA (en NAVO) altyd verskoning om midde ooste te ontwrig, is dit nie dan waar die vlugtelinge vandaan kom nie?
Ek is ook nie meer so seker van 9/11 nie begin baie verdag klink na net nog n verskining om mense te gaan vermoor… Ek sê nou anderdag dat EU maar vir hul moet kry waarvoor hul soek (i.e. moet maar in die bed slaap wat hul opgemaak het) en is toe baie gekritiseer deur presies sulke naiwe westerse denkers.

Ek bly net hier in SA dankie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.