Europa, die oorlog in Oekraïne en die Duitsers?

Deur dr. Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder

Ek was die afgelope tyd vir ʼn week in Duitsland. Die land met die sterkste ekonomie in Europa. Baie mense verwag dat met die Russiese inval in Oekraïne, Duitsland die leiding in Europa moet neem.

Tog gebeur dit nie. Die teendeel is waar. Duitsland is dikwels die swakste skakel in die Weste en Europa se reaksie op die Russiese inval.

Hoe kan ek sê die Duitsers is swak en hulle sukkel? Ek het self gedink ek sal dit nooit sê nie. Ek praat natuurlik van die huidige na-oorlogse Duitsers. Nie die Duitsers van die twee Wêreldoorloë nie. Die mees gevorderde motors in die wêreld word deur die Duitsers gebou. Hulle is bekend vir gevorderde tegnologie, betroubaarheid en dissipline. Dit is duidelik dat hulle nie met motors sukkel nie −maar hulle sukkel om die Russiese inval in Oekraïne te verstaan en hulle sukkel hoe om daarop te reageer.

In gesprekke is ek telkens na die Amerikaanse politieke filosoof, Francis Fukuyama en sy boek The End of History, verwys. Die Duitsers het werklik geglo die groot ideologiese wêreldgevegte is vir altyd verby. Presies soos Fukuyama geskryf het. Die liberale demokrasie en vryemarkstelsel het met die val van die Berlynse muur in 1989 gewen en alle stryd is nou verby.

Die enkele oorblywende konflikte in die wêreld is maar die laaste stuiptrekkings voor almal by liberale demokrasie en ewige vrede eindig. Daarom is militêre mag ʼn uitgediende begrip as ʼn internasionale magsinstrument. Dit is, volgens die Duitsers, vervang met internasionale organisasies en die internasionale reg wat probleme sonder geweld tussen lande uitsorteer.

Ek was verder verbaas oor hoe trots die Duitsers op hulle militêre onvermoë is. Amper ʼn soort morele meerderwaardigheid bo ander lande wat nog baie geld aan wapens bestee. Natuurlik verstaan mens dit uit hulle Nazi- en Tweede Wêreldoorlog-verlede waar miljoene dood is. Die werklikheid is egter dat hulle hierdie luukse standpunt oor die afskaal van militêre begrotings en mag net kon hê omdat Amerika en Navo ʼn militêre veiligheid-sambreel oor hulle gehou het.

Die Russiese inval was teen hierdie agtergrond vir hulle ʼn yslike skok. Skielik het alles verander. Nog erger was die besef dat internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies (VN), die Europese Unie (EU) en Navo dit nie kan stop nie. Die internasionale reg en die internasionale howe kan ook nie die Russiese inval stop nie. Verder lyk dit of die dreigemente van internasionale verhore Russiese leiers soos Poetin glad nie afskrik nie.

Thomas Bagger, wat tot onlangs hoof van buitelandse beleidsbeplanning in Duitsland was, het geskryf: “Die einde van die geskiedenis, soos Fukuyama dit beskryf, was ʼn Amerikaanse idee, maar in Duitsland was dit ons werklikheid. Het ons dit na 1989 geleef en beleef”.

Die feite is dat ná 1989 al meer lande demokraties geword het en by die EU aangesluit het. Dit het die Fukuyama-werklikheid en voorspellings bevestig.

Duitsland se ontkenning dat magspolitiek steeds ʼn belangrike rol internasionaal speel, het onafwendbaar gelei tot swak strategiese denke op internasionale vlak. Daarom is Duitsland, nieteenstaande waarskuwings, 40% afhanklik van Russiese gas en energie. Dit maak hom ʼn swak skakel in Westerse sanksie-besluite teen Rusland.

Duitsland se trots op sy militêre onvermoë maak hom ʼn swak skakel in militêre hulpverlening aan Oekraïne. Die Duitse besluitnemers sukkel om besluite oor militêre hulp aan Oekraïne te neem en uit te voer.

Oekraïne se president, Wladimir Zelensky, het harde woorde vir die Duitsers gehad toe hy onlangs hulle parlement toegespreek het.

“Met Rusland se inval is julle weer agter ʼn Berlynse muur,” het hy gesê. “Hierdie keer loop dit in die middel van Europa.” “Tear down this wall” was Reagan se beroemde woorde oor die Berlynse muur aan Gorbachev tydens die Koue Oorlog. Zelensky het die Duitsers gevra om Oekraïne meer te help en meer betrokke te raak. Hy het sy toespraak geëindig met “tear down this wall”.

En Suid-Afrika? Ons glo ewe dapper ons is neutraal. Maar die ANC gebruik Poetin se woorde van “net ʼn militêre operasie” en stem in die VN teen mosies wat die Russiese inval veroordeel. Jy kan nie neutraal wees as ʼn land blatant die Verenigde Nasies se Handves oortree nie. Ons is aan die verkeerde kant van die nuwe muur in die wêreld. Pasop. Westerse lande het lang geheues.

En Afrikaners? Leer uit al hierdie gebeure weer president Paul Kruger se les tydens die Anglo-Boereoorlog toe almal baie simpatie met die Boere gehad het maar geen land kom help het nie. Hou die wêreld op hoogte met wat in Suid-Afrika gebeur. Ek het verskeie kere die VN se Menseregtekommissie en ander liggame in die buiteland toegespreek oor regstellende aksie, rassisme en onderdrukking in Suid-Afrika. Maar ons moet nie in ons beplanning staatmaak op buitelandse militêre hulp as alles hier verkeerd loop nie. Dit sal nie gebeur nie. As ons gelukkig is, kan ons ʼn Westerse protesnota en dalk ʼn mosie van veroordeling van die ANC-regering by die VN kry.

  • Pieter Mulder is ʼn voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

49 Kommentare

groenboer ·

Wat my nogal verbaas is die hoeveelheid steun wat Poetin onder Afrikaners geniet. Ek vind dit vreemd: Oekraïne bevind homself in ‘n soortgelyke posisie as die Boererepublieke in 1899: word binnegeval deur ‘n reusagtige mag wat dit ten doel het om die land, sy mense en hul taal en kultuur heeltemal te vernietig. Mens sou dink ons mense sou met die Oekraïniërs simpatiseer, maar nee, blykbaar toe nie.

In ieder geval, Mulder is reg: selfs as daar ‘n volskaalse volksmoord hier uitbreek teen ons, kan ons van die buiteland geen hulp verwag nie. En selfs nog minder van Afrikaanse emigrante, wat hulle straks sal verkneukel in die ondergang van ons spul potpaddas.

Anna-marie ·

Poetin word deur Afrikaners soos ek geondersteun oor die volgende redes:
1. Die Demokraties verkose regering van Oekraiene is dmv die Amerikaners in 2014 om ver gewerp en ‘n pro-Westerse regering is geinstalleer.
2. Daar was ‘n Minsk ooreenkoms aangegaan wat vrede en veiligheid sou gewaarborg het in Oekraiene vir die etnies Oekraiense burgers en die etnies Russiese burgers van Oekraiene. Hierdie ooreenkoms is geignoreer deur die Oekraiense regering (Amerika het waarskynlik vir hulle voorgeskryf om dit te ignoreer.
3. Putin het herhaaldelik gesê dat die aanvalle van die Oekraiense weermag op die Russiese inwoners van die Donbas streek moet stop, niemand het hulle aan hom gesteur nie. (14000 inwoners is gedood in hierdie aanvalle)
5. Amerika het hierdie Oekraiense soldate sowel as die Azov terroriste opgelei om die Russiese inwoners aan te val.
6. Amerika/ Navo is/was oral in die wêreld betrokke by ongeoorloofde oorloë: Libië Afganistan, Sirië, Viëtnam, Irak ens.

groenboer ·

En al hierdie sou dan verklaar waarom Oekraïniërs, insluitende Russiessprekendes, tans soos leeus veg om Poetin uit hul land te hou en hul onafhanklikheid te behou, eerder as om die bevryder binne te nooi, nie waar nie? En waarom hulle ewe vrolik hul lewens vir Zelensky en kie neerlê? En waarom Zelensky, toe hy kans gegee is om uit die land pad te gee, besluit het om eerder te bly al kos dit sy lewe?

Klink nie vir my na jou tipiese onwettige, ongewilde en onwelkome regering nie, maar kom ons kyk maar wat maak die Oekraïniërs op die langer duur…

Oekraïne is uit die bloute binnegeval deur ‘n land vir wie hy GEEN bedreiging van enige aard ingehou het nie, en sy binnelandse beleid het met Poetin niks uit te waai nie.

Marthinus W ·

groenboer, elke woord wat Zelenski uiter, elke aksie is vooraf geoefen deur n span spindokters. [kyk mintpress vir net een voorbeeld]. Alle info uit Oekraine word streng beheer; alle negatiewes word toegesmeer. Der Spiegel het die afgelope week n video van n persoon wat uit die Azovstal-fabriek losgelaat is geskrap, want sy noem die ding by die naam. SkyNews het n insetsel met n Russiese ambassadeur halfpad afgesny toe hy beelde van die werklikhied wys.

groenboer ·

So wat jy sê is dat die Oekrainiërs NIE eintlik besig is om te veg vir hul onafhanklikheid nie, en bly is die Russe is daar? Nou ja, dan sal Poetin se tenks straks binne ‘n week of twee in Lviv wees, waar hulle met ope arms verwelkom sal word.

Anna-marie ·

Amerika is besig om ‘n proxy war te veg teen Rusland. Die Amerikaners gebruik die Oekraiense soldate as “usefull idiots” Die soldate wat vasgekeer is in die Asovstal kelders is kwaad en ontnugter omdat hulle geen hulp van Kiev/Zelensky kry nie. Die Amerikaners voel NIKS vir die mense van Oekraiene of sy soldate nie.

Kalmkop ·

Dit was nooit Poetin se doel nie, dis Westerse aannames… Wys een keer waar hy gesê het hulle wil Kiev vat…

Cherokee ·

Iemand sê dit is groen en ‘n ander sê dit is blou. Jou reaksie… STEM (met spul uitroeptekens). Wel ek STEM (met net soveel uitroeptekens) vir die redenasie van groenboer.

Phil ·

1. Weet jy enigiets van daardie “demokraties verkose regering” wat deur die Oekraïners (nie dmv die Amerikaners nie) omver gewerp is? Nie so gedink nie.
2. Die Minsk ooreenkoms was nie die papier werd waarop dit geskryf was nie. Dit het jou buddy Putin mooi bewys.
3. Die hele Donbas-kwessie is begin deur Russies-gewerfte en -gesteunde “separatiste” onder die voorwendsel dat hulle namens die etniese Russe praat en wil afstig om deel te word van Rusland. Dis alles maar net weereens deel van die diktator in die Kremlin se plan gewees om te begin wegkalwe aan die Oekraïnse oosterse grondgebied vir eie gewin (verskeie redes).
4. ?
5. Nie om die Russies inwoners aan te val nie, maar om die separatiste-terroriste aan te val.
6. Ja, maar oorwegend met geldige wyer-kringende redes.

Ek het baie jare in beide Rusland en Oekraïne gewoon. Ek probeer nie voorgee dat Oekraïne die reinheid vanself is nie, maar dis nie Oekraïne wat ‘n ander soewereine land binne geval het nie.

Marthinus W ·

Phil, oor pnt 1: lees bietjie op oor Victoria Nuland, en haar gesprek met Geoffrey Pyatt, die Amerikaanse ambassadeur in Kief. Kyk ook na Obama se gesprek met Fareed Zakaria, waarin hy spog dat hy “facilitated” a regime change. Dit was n Westerse coup d’etat. Kyk na die videos oor die CIA wat kantore open, helikopters wat wit geverf is met die letters UN daarop, wat skielik op die Donbas begin skiet, ens.
2]Een van die ondertekenaars van die Minsk 2 was Alexander Zakharchenko; hy is deur Kief met n bom opgeblaas op 31 Augustus 2018.
3] Poetin was nog nooit eintlik ten gunste van die Donbas as deel van Rusland, of as onafhankilke state nie. (As jy die moeite wil doen om dit na te slaan, sal jy die bewyse kry.) Die Russiese volk het druk op hom gesit om die Donbas te erken, en die mense daar te beskerm.
5] Petro Porosjenko het almal in die Donbas wat Russies praat geklassifiseer as “terroriste”, wat hom daarom die reg gegee het om hulle aan te val.

Kalmkop ·

Jammer Phil, my ervaring van al dié goed wat jy nou noem was weer anders… Ek deel meer Graham Phillips se siening, ń Brit wat self al baie jare in beide Rusland en Oëkraine was. Volg hom gerus op YouTube, hy is onafhanklik en gee net die feite soos dit gebeur deur.

annie ·

..? Hulp van Duitsland of van Rusland of van wie? Ons zituasie is totaal verskillend van destyds. Duitsland het Rusland ingeval en wil steeds via Navo. Neo-Nazi’s is Zelensky se vriende. Ons groenboere droom steeds oor die Bosoorlog. Breingetrain. Dankie tog dat ek nooit vir die VFPluz gestem het nie.

Thom ·

@groenboer __ Dankie tog dat ek nie die ENIGSTE persoon hier is met gesonde, werkende verstand nie ! Mense soos ” Phil ” wat jare lank in Ukraïene gewoon het word tot leuenaar gemaak en stories word opgemaak oor die sg verdrukking van die mense in die Donbas. Poetin het hierdie inval jare gelede al begin beplan en die weste wou nie luister vir mense wat dit raakgesien het nie. Die ooste van Oekraïene is gedestabiliseer deur Rusland ___ word wakker voordat dit te laat is.

annie ·

Duitsland het verval weens Joodse-brein-afwesigheid en is direk verantwoordelik vir die vorming van EU en Navo. Lg om Rusland terug te kry via ‘ompaaie’ bv Ukraïene. SA se betrokkenheid in SWA as ‘n soort Navo, die Bosoorlog in anderland, is deur ons slinkse weer’mag’/wapenvervaardigers aangeblaas tot Duitsland se voordeel. Ons troepe moes vir nonsens sterf. En na onafhanklikheid val dieselfde VN SA aan om aan die ANC oor te gee. Rusland/ Kuba was destyds die bangmaakdinge en tot nou rook Afrikaners steeds net 007-twak. Ons vyande is Europa, Brittanje en die VSA. Vergeet Zollywood en dink aan die skades hier sedert 1994 en die VSA/Weste se gruwels sedert 1945.

Autobahn ·

Hierdie meningstuk is vir my ´n openbaring oor Dr Pieter Mulder.
Ja die Duitsers het blykbaar nie die krag om hulself van die VSA te bevry nie. Die huiwering om teen Putin op te tree is definitief ´n teken van sterkte en eerder goed deurgedink.
Duitsland was nooit afhanklik van Russiese energie nie. Afhanklik is iemand wat afgepers kan word, wat die Russe ivm energie nooit met Duitsland gedoen het nie. Duitsland is gedwing om afhanklik van die VSA te wees.

Marthinus W ·

Die Marshallplan het Duitsland op hulle voete gehelp. Ek mag verkeerd wees, maar omdat beide Merkel en Poetin Russies en Duits praat, kon hulle openlik wees en dinge openlik en eerlik bespreek,

Autobahn ·

Marthinus, die artikel The Marshall Plan Myth deur Jeffrey A. Tucker mag dalk vir jou interessant wees. (Alhoewel ek nie kan oordeel tot watter mate die artikel akkuraat is nie.)

Marthinus W ·

Dankie. Ek het die artikel met ander skrywes vergelyk, en dit stem ooreen. Amptelik is die Marshallplan gebruik om Europa op hul voete te help, maar eintlik was dit om Amerikaanse maatskappye en invloed in Europa te kry en te hou. Die artikel noem dat die lande wat die minste gekry het [Duitsland, Italie] se ekonomie vinniger gegroei het as die wie die meeste gekry het [Engeland, Griekeland]. Die artikel stem ooreen met hoe ek Amerika vandag sien.

MT ·

Daar is nie veel verkeerd met Pieter se meningstuk nie, maar dan ook bygese, daar is nie veel goed daaraan nie.

En terloops, die VN se handves van menseregte en die Suid-Afrikaanse Grondwet is ewe nutteloos en uitgedien.

Marthinus W ·

Dis Rusland wat die VN se Handves nakom; artikel 51 is genoem vir hulle militere aksie (in die ou dae het ons dit hakkejagoperasies genoem); Poetin het nie oorlog verklaar nie, hy tree op omdat die Weste wapens ingepomp het vir n aanval deur die Azofbataljon op die Donbas. Poetin se fout is dat hy proaktief opgetree het; hy moes wag totdat die aanval gedoen is, maar dit sou menselwens kos. Dis Amerika en haar bondgenote wat praat van n “rules-based order” waar hulle die reels maak, nie die VN nie. Hoeveel VN resolusie het Amerika geweier om te teken? Biologiese oorlogvoering, landmynoorlogvoering, hulle is in 1992 uit die menseregteraad geskop, ens.

Fukuyama is n neocon, en het al erken sy “end of history” is nie akkuraat nie. Die neocons is gestig deur n vetroueling van Hitler, by die Universiteit van Chicago, en dis hulle wat die wereld vol neo-Nazis maak. Neocons onder Biden is Victoria Nuland, haar man, Robert Kagan, feitlik die hele Council on Foreign Relations.

Anna-marie ·

Die Coup d’etat in 2014 in Oekraiene is uitgevoer/ondersteun deur Amerika. Die koste daarvan is aangekondig deur Victoria Nuland: ” We invested $ 5 Billion in the revolution on the Maidan”

Treurwilger ·

Anna-marie, die hoofstroom berig nie oor agter-die-skerm-konkelaars soos Victoria Nuland nie.
Poetin en Rusland is Vyand no 1 volgens die Weste, en só sal dit bly.

Dooierus ·

Reken jy dan die oorlog(inval) is geregverdig? wat van die vorige”invalle”. Dit kos reeds duisende lewens – van watter lewens praat jy? Ek bly al 19 jaar in Finland en kan getuig dat as daar iemand is wat die russe ken ,dan is dit hulle. Ongelukkig kan ek soos die Finne nie saam met jou stem nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Dankie dr. Mulder vir al u insette ter bevordering van groter geregtigheid. Lesers kan gerus op YouTube die baie onlangse aanbieding van Rafe Heydel-Mankoo volg: “Britain’s Segregation, Multiculturalism, & Mass Immigration Crisis Threatens U All. What Solutions?” Wees deeglik bewus van die “Woke-virus” se verlammende impak op die Eurosentries-Westerse lande se kulture en waardestelsels.

Manie ·

Duitsland se militêre agteruitgang het onder andere onder Merkel se bewind plaasgevind. Dis geen geheim dat sy ‘n geswore kommunis is nie… Die toestroom en aanneem van miljoene vlugtelinge het ook onder haar bewind plaasgevind…. ook Duitsland se afhanklikheid van Russiese gas…en so kan ons aangaan met etlike negatiewe veranderings wat onder haar bewind plaasgevind het.

Anna-marie ·

Die Duitsers is vreeslik trots daarop dat hulle van hul weermag en wapens onstlae geraak het. Hulle probeer (na WW2) super ordentlik, eties, moreel hoogwaardig wees. Hulle besef nie dat mens partykeer maar hard moet wees om jou eie te beskerm nie. Hierdie houding van hulle gaan hulle nog duur te staan kom.

Marthinus W ·

Duitsland kan tans nie sonder gas en olie van die buiteland nie. Indien hulle hulself speen van Russiese olie en gas, gaan hulle hulself verbind aan n volgende land se olie en gas. Ten minste is Rusland betroubaar, en die Duitsers erken dit. Kief dreig juis nou om die gas van Rusland deur die Donbas na Europa af te sny.

Manie ·

Jy is reg, ek verstaan egter nie hoe Duitsland en veral onder die Merkel bewind hulself as groot moontheid tot afhanklike bestuur het nie.

Andrew ·

“Maar ons moet nie in ons beplanning staatmaak op buitelandse militêre hulp as alles hier verkeerd loop nie. Dit sal nie gebeur nie. As ons gelukkig is, kan ons ʼn Westerse protesnota en dalk ʼn mosie van veroordeling van die ANC-regering by die VN kry”.
Self doen is enigste uitweg.

Dries ·

As ek so met ontsteltenis moet lees van die pro Putin mense se kommentare wonder ek wat het van ons ou volkie geword. Ons is al so oorweldig met sameswerings teorieë dat ons nie meer ons eie oë glo nie. Hierdie oorlog is n oorlog van n magsbehepte mal man wat sy grond gebied wil vergroot om sy diktatorskap te versterk en dit is n feit. Soos dr Mulder SA is nou aan die verkeerde kant van die muur

Ou Baardbek ·

Vriend Dries, hier is sekere “kommentators” wat skynbaar ongelooflik ingelig is oor alles en almal, en wat skynbaar selfs in ons eie bosoorlog gewikkel was. Die kommentare van sodanige “kundiges” is walglik, want hulle het seker nie mede vegters se stukke langs hulle moes optel wat deur landmyne en RPG’s aan stukke geskiet is nie. Steur jou asseblief nie aan sulke ………. Beskrywende terme ontbreek my ongelukkig!

Wicus ·

Moet ek met jou saamstem, as jy nie self in ‘n oorlog was nie is dit maklik om dit te veromantiseer. Ek het gelukkig met nie te veel letsels deurgekom, my een broer dra ongelukkig nog die letsels, presies wat jy s-e, optel van sy vriend se stukke….

MT ·

As Suid-Afrikaanse troep het jy oa teen die USSR geveg, wat op daardie stadium ook die Oekraiene ingesluit het. Oekraiense intelligensiepersoneel is ook in Angola ontplooi.

Marthinus W ·

Jan Smuts was n bittereinder in die Boereoorlog, maar toe die 1ste WO uitbreek, het hy gevoel die Duitsers was die aggressors, en het aan Britse kant gestaan; dieselfde met die 2deWO. [My familie in Clarens/Bethlehem was Ossewabrandwagters wat geweier het om aan Britse kant te veg. Ek is n Smuts-ondersteuner.] Amerika is die groot aggressor [lees asb William Blum, Noam Chomsky, Stephen F Cohen, John Mearsheimer, ens.] Die Rusland van 2022 is kapitalisties, Christelik, wat glo aan n wereld waar die reg geskied “rule of law” soos deur die VN. Amerika glo aan haar eie “rules-based order” waar sy dikteer hoe die werled moet wees. En Zelenski is een van Amerika se marionette. Indien die rolle omgekeerd was, indien dit wat Amerika/Navo/Oekraine vandag doen deur Rusland gedoen was, sou ek teen Rusland wees. Dit gaan nie hier om emosie nie, maar rasionele denke.

Wicus ·

So my Oupa-grootjie was ‘n rebelle leier, my oupa ook ‘n rebel, Bethlehem/Fouriesburg wereld. Ek weer beslis nie ‘n Smuts ondersteuner nie, al was hy briljant. Ek is geneig om met die Franse saam te stem oor die Britte, hulle manier om ander te ondergrawe is net minder openlik. Europa het toegegee dat WWI nie Duitsland alleen se skuld is nie, dit kon totaal anders deur hulle hanteer gewees het wat WWI en gevolglik ook WWII kon voorkom het.

Dit laat my dink aan die outjie wat ‘n ander outjie oor en oor treiter, en toe die uiteindelik reageer word hy beskuldig as die aggressor.

Marthinus W ·

Alhoewel Smuts n Britse generaal was, is hy in 1919 by Versailles ongenadiglik deur die Franse bygekom – hulle het gese hy is n ondersteuner van Duitsland. Smuts het geglo dat Duitsland ekonomies en militer sterk moet wees om die kommuniste uit Europa te hou. Hy wou nie die Verdrag teken nie, omdat dit Duitsland sou vernietig, en, het hy gewaarsku: iemand gaan in Duitsland opstaan om Versailles se vernedering te vergeld. Hy is uitgelag. Toe Lady Astor gevra is of sy weet waar Hitler gebore is, (bedoelende Oostenryk), het sy gese “Versailles”.

My steun vir Rusland is omdat hulle nie hulle taal en kultuur op almla wil afdwing nie. Amerika wil almal slawe van hulle morele korrupte kultuur maak. Nie vir my nie, dankie.

Dries ·

AMERIKA IS DIE AGGRESOR. HZoe op aarde werk n mens dit uit ??????

Dries ·

Ramaphosa en die ANC hou van Putin se manier om saam met sy oligarge Mafia sy land te regeer. Daai selfse Oligarges finansier die ANC op hierdie oomblik nog. Vandaar die liefde vir hierdie diktatoriale Rusland. Ons is op daardie selfse pad. Word wakker mense asb tog

Dries ·

Hoe is dit moontlik dat soveel Afrikaners kan verskil van dr Pieter Mulder wat n Staatkundige kenner is wat die wereld politiek beter as enig iemand in SA ken

MT ·

Ek vind dit vreemd dat jy Pieter Mulder se meningstuk so verkeerd verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.