Europa, Suid-Afrika en identiteitspolitiek

verkiesing-5Twee onlangse belangwekkende verkiesings het weer eens die soeklig op identiteitspolitiek gewerp – ofskoon op verskillende maniere.

Na afloop van die nasionale verkiesing is daar uit vele oorde groot gewag gemaak van hoe identiteitspolitiek in Suid-Afrika skynbaar vernietig is. Hul vernaamste rasionaal hiervoor was dat partye soos die Vryheidsfront Plus (VF+) en IVP glo gestagneer of selfs gekrimp het en dat minderhede besef het dat hulle nou deel is van ’n groter prentjie en nie as minderhede behandel wil word nie.

In die verkiesing vir lede van die Europese parlement het Euro-skeptiese partye in sekere lande bot gevier.

Is identiteitspolitiek dus dood of selfs kwynend in Suid-Afrika, soos sommige beweer? Vir ’n antwoord hierop is dit raadsaam om hierdie twee verkiesings en ander politieke kwessies te bekyk omdat daar verbasende ooreenkomste is.

Europese kiesers sê nee vir sentralisering

Europa, en by uitstek Wes-Europa, word wyd beskou as ’n gedekultureerde streek waar die klem op identiteit en godsdiens as rassisme en ’n agterlike teruggryp na pre-Verligtingsbarbarisme geag word. Ten beste kan nasionalisme, wat per slot van sake tot bloedige oorloë op die vasteland gelei het, by sportbyeenkomste uiting kry.

Groot was die verstomming (en nuus!) toe ’n klomp anti-EU partye die establishment geskok en in belangrike Europese lande soos Groot-Brittanje en Frankryk meer stemme as die hoofstroompartye getrek het. Ook in Hongarye en Oostenryk het Euro-skeptiese partye goed gevaar.

In Frankryk het die Nasionale Front (NF) byvoorbeeld 25% van die stemme op hom verenig en daarmee die beste van enige party daar gevaar.

In die Verenigde Koninkryk het die charismatiese en welsprekende Nigel Farage se UK Independence Party (UKIP) die beste gevaar met 27%. Die Konserwatiewe Party, wat ook gekant is teen EU-inmenging in Brittanje se sake, het die tweede meeste, naamlik 25%, ontvang en daarom kan hierdie toedrag van sake as ’n meerderheidsverwerping van supranasionale gesag vertolk word.

Terselfdertyd het pro-EU partye in Frankryk en die Verenigde Koninkryk soos pres. Francois Hollande se Sosialiste en die Liberale Demokrate ’n bloedneus gekry.

Die NF-leier, Marine le Pen, en Farage het beide leedvermakerig en prontuit verklaar dat hul seges ’n luide boodskap aan die regerende partye in hul lande uitstuur dat die kiesers nie langer deur afgeleë burokrate in Brussel regeer wil word nie, maar deur verkose verteenwoordigers. Tog is beide partye oop vir samewerking en handel in Europa, maar nie as deel van die huidige unie nie.

Die regerende partye het begin luister en wil nou begin skielik beding oor afgeskaalde EU-bevoegdhede.

Enersyds het ’n groot aantal mense in hierdie lande – ’n meerderheid in Brittanje – hul eie identiteit bo ’n gemeenskaplike Europese identiteit geplaas. Hulle het dus onomwonde gesê hulle wil self oor hul politieke en ekonomiese lot besluit en beleide volg wat deur Britte of Franse uitgevaardig is.

Hulle het dus sentralisering die rug toegekeer asook hul eie identiteite bevestig en dit bo ’n groter identiteit gestel sonder om dit heeltemal af te sweer.

In September gaan die Skotte ook stem om te besluit of hulle deel van die Verenigde Koninkryk wil bly. Die Skotte het ’n unieke geskiedenis en tradisies, geniet reeds ’n groot mate van afwenteling van mag en het hul eie simbole soortgelyk aan dié van ’n onafhanklike staat.

Of die Skotte wel vir onafhanklikheid gaan stem, sal op 18 September beantwoord word. Een feit staan egter vas: Só ’n referendum sou nooit in 2014 plaasgevind het indien identiteitspolitiek nie meer bestaan het nie.

So ook is daar talle ander Westerse voorbeelde van identiteitspolitiek wat op groter desentralisering aandring: Quebec in Kanada, die Baskiese streek en Katalonië in Spanje, en die kantonstelsel in Switserland. Selfs die konflik oor die Krim-skiereiland en die weerspannigheid in die ooste van die Oekraïne gaan oor niks anders nie as identiteitspolitiek.

Kortom, identiteitspolitiek in Europa is springlewendig. Dit wil ook in een of ander soort vorm van desentralisering uiting kry – soms in ’n ekstreme vorm soos volledige onafhanklikheid (soos in Skotland en Katalonië se gevalle) of herwonne soewereiniteit (soos in Brittanje en Frankryk) en ander weer in iets kort daarvan soos die kantonstelsel (oftewel interne selfbeskikking). Tog sal min Europeërs ontken dat hulle onlosmaaklik deel is van die vasteland se ekonomie, kultuur en intellektuele tradisies.

Identiteitspolitiek in Suid-Afrika

Dan kom ons weer terug by die vraag of identiteitspolitiek dood is in Suid-Afrika.

Eerstens moet daar erken word dat die etniese minderhede wel oorwegend vir die DA gestem het en dus vir ’n party wat (ten minste oënskynlik) waardes bo identiteit stel. Maar hulle het ook teen die ANC se Afro-nasionalisme, kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging, regstellende aksie, die onsensitiewe verandering van stede en strate se name, rasbehepte grondhervorming, nasiebou waarvolgens Engels die enigste administratiewe taal geword het, die politieke druk op Afrikaanse skole om te verengels, sportkwotas, en les bes, die Nasionaal Demokratiese Rewolusie gestem.

Laasgenoemde, net om die oningewydes in te lig, is die ANC se ideologiese noordster wat kortom bepaal dat etniese swart mense (“black Africans”) se belange voorop gestel moet word en minderhede moet assimileer en onderhewig aan regstellende aksie en grondhervorming wees. Wat is dit en die ANC se ander nasiebou-inisiatiewe anders as identiteits(rasse?)politiek en die sentralisering van mag?

Prof. Roger Southall, sosioloog van Wits, skryf vervolgens in sy boek Liberation Movements in Power: Party & State in Southern Africa die volgende: “Elections take on the character of a ‘racial census’, with the overwhelming black majority of the electorate regularly pledging their support to the ANC . . . Although the transitional 1994 constitution provided for a distribution of power between the national state and nine provinces, the ANC has pursued a goal of greater centralization . . . the ANC has delegitimized opposition by asserting a crude majoritarianism which results in the alienation of minorities.”

Net omdat Afrikaans uit die staatsdiens, groot maatskappye, talle universiteite en die openbare sfeer verdwyn het, beteken nie mense is nie hoogs ontevrede daaroor nie. Hulle voel bloot magteloos om dié toedrag van sake as indiwidue te verander en stig en ondersteun daarom velerlei instellings in die burgerlike sfeer om desentralisering te bewerkstellig, gesamentlike druk uit te oefen om veranderinge teweeg te bring en hul identiteit só te laat vergestalt.

Die politiek van identiteit word derhalwe beslis nie net deur politieke partye in verkiesingstyd bevorder nie, maar deurentyd in onder meer die media, die openbare diskoers, in die howe, in die parlement en selfs op die strate en in buurte en stede. Die teenreaksie elke keer as Pretoria se naamsverandering op die spits gedryf word, die hewige reaksie en ongelukkigheid in wit en bruin geledere oor regstellende aksie en die druk op Afrikaanse skole, die groei van die Solidariteit Beweging se onderskeie bene en die minderhede se oorweldigende steun vir opposisiepartye wat sentralisering teenstaan, wys baie mense in die land heg groot politieke waarde aan identiteit. Die minderhede wil egter beslis deel wees van Suid-Afrika en koester veelvuldige identiteite (dis immers ’n rede hoekom hulle hier bly), maar die bedryf van identiteitspolitiek teen hulle in die vorm van kru diskriminasie, kulturele vandalisme, ’n openbare agenda wat hulle doelbewus uitsluit en die sentralisering van mag, maak ’n bespotting van ware versoening.

Kortom, so lank as wat regerings teen mense en groepe diskrimineer op grond van wie hulle is, aan hulle voorskryf wie hulle mag aanstel en waar hulle mag werk en burokrate honderde kilometers weg wil besluit wat die beste vir mense in hul eie buurte en streke is, sal identiteitspolitiek aanloklik en ’n groot werklikheid bly – net soveel in Suid-Afrika as in die res van die wêreld.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is ’n strateeg en politieke ontleder.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Andries

Hierdie was nou sommer n lekker Maroela om te eet. Dit is nou baie insiggewend, en al wat ek nou vra is dat die twee Partye wat leiding kan gee juis met hierdie identiteitspolitiek nou behoorlik inklim en begin werkmaak hiervan. Daar moet nie gewag word tot die volgende verkiesing nie. Dan is dit te laat. Die kiesers moet lank reeds bewus gemaak word hiervan en voorberei word. Kom dit by stem val hulle nie rond tussen ,wil ek blou of rooi of geel wees nie .

Hanno

Kulturele en volksverskeidenheid Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die… Lees meer »

Flip

Eugene, baie goeie en ewewigtige ontleding. Mag ironies klink, maar Kovsie filosoof Johan Rossouw reken dat die Afrikaners se oorweldigende steun vir die DA ook op ‘n uitdrukking van Identiteitspolitiek dui. Hanno, ek ken jou nie en dis nie my styl om iemand in die gesig te vat nie- maar dis sulke standpunte soos wat jy daar stel wat 99% Afrikaners laat wegdeins van enige vorm van identiteitspolitiek af. Dis hoekom jou standpunt op ‘n ironiese manier die linkses en die liberales help om enige moontlikheid van ‘n Europees-tipe opkoms van gesonde identiteitspolitiek te vernietig. Hierdie Europese heropkoms het eers… Lees meer »

Frik Lotz

Die VF Plus staan sterk op belangepolitiek en minderheidsregte.Die DA gaan nie opstaan vir minderhede nie. Minderhede se stemme is net goed genoeg met verkiesings vir die DA,daarna word minderhede geïgnoreer. Vir die DA gaan dit nie oor identiteit nie,slegs oor die najaag van swart stemme ten koste vd Afrikaner en ander minderhede. Te veel mense val nog vir die DA se propaganda wat spesifiek gemik is teen die VF+. Dis mos beter om vir n party soos die VF+ te stem wat anti- ANC is,maar ook gaan veg vir jou belange,spesifiek minderheidsregte. Na n verkiesing kan partye mos n… Lees meer »

Quintin Diederichs

Genade Eugene… die VF+ is dan een van slegs 3 partye wat gegroei het in die afgelope verkiesing. Ek sou juis hierdie feit inspan om uit te beeld dat identiteitspolitiek meer steun geniet onder Afrikaanssprekendes, veral Afrikaners, aangesien dit die kern van die VF+ se beleid en missie uitmaak. Jy is reg wanneer dit by die IVP kom, maar hoekom jy die VF+ oor dieselfde kam probeer skeer met etikette soos stagneer en krimp, weet nugter alleen.